Brief van ʼn pa aan sy kinders

vaderskap

Foto: Keelco23/Pixabay.com

Môre, my kinders

Ek hoop dat julle eendag hierdie briewe kan lees. Ek dink hierdie is seker die 20ste brief wat ek skryf. Ek hoop julle het internet, miskien sien julle die brief raak.

Hoe gaan met julle?

Hoe gaan die skool aan? Soms wens ek julle kan my by kom bly. Ons het ʼn lekker groot huis en dit is naby aan alles.

Ek mis julle baie. Was gister weer so down gewees. Ek wens net ek kan met julle praat, julle net sien, julle net vashou. Ek het julle so lanklaas vasgehou. Die laaste keer wat ek julle elkeen ʼn drukkie kon gee was op 26 Januarie 2014. Dit is so lank terug.

Die slegste ding in hierdie lewe is as ʼn pa en ma skei en daar is kinders betrokke. Ek wens so dat ons ʼn normale egskeiding gehad het, ek wens so dat ek julle kon sien wanneer ek julle moes sien. Ek wens daar was nie lang en uitgerekte hofsake nie.

Johan*, my oudste seun, hoe gaan met jou? Ek mis jou smile. Hoe gaan met jou Dewald*? Ek raak soms so hartseer. Ek mis ʼn baie belangrike deel van jul lewe. Seker die mooiste deel. Elke dag is daar iets wat ek mis. En ek gaan dit nooit weer terugkry nie.

My mooiste dogter, Marie*. Sjoe, hoe wens ek nie ek kon jou net weer sien nie. Jy het so mooi geword. Die laaste keer by die sielkundige, op 23 April 2015, kon ek nie ophou na jou kyk nie. Dit was so styf daardie dag. Geen drukkies, geen glimlag nie, niks!

Ja, die beslissing was dat ek die sielkundige moes sien, vir ʼn paar sessies, maar ek het alles verloor, ek het amper nie eers genoeg petrolgeld vir die maand nie.

Ek wens ons kon die proses van berading afhandel en aangaan met ons lewens, maar dit kos alles geld my kinders, wat ek nie nou het nie. En volgens die beskermingsbevel moet dit eers afgehandel word en dan moet die verslag na die hof toe gaan en dan moet ʼn regter besluit of ek julle mag sien en bel en WhatsApp en Facebook en alles wat ʼn normale pa met sy normale kinders kan doen.

Ek hoop julle geniet vandag, ek hoop julle skool is lekker en ek hoop nie julle vergeet my ooit nie, ek hoop iewers in julle harte is daar ʼn plek met my naam op, met al die goeie herinneringe van toe julle klein was, die visvang, die fietsry deur die modder, die lawwigheid by die huis, die kere wat julle siek was en ek by julle in die hospitaal geslaap het. Ek hoop dinge loop só dat ek julle weer kan vashou. Ek hoop.

Ek mis julle en is baie lief vir julle.

* Skuilname is gebruik

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

So onnodig ·

Absoluut hartseer en so onnodige! Liewe man of vrou, jou kind is n gedeelte van jou en jou gewese man/vrou. As jy hierdie goed aan jou eks doen, slaag jy dalk om jou eks te straf/terug te kry, wat ookal, maar jy slaag ook om jou eie kind se siel stuk vir stuk te vernietig dood te maak. Dit is selfde skade as om jou kind nek om te draai, onherstelbare emosionele skade!

VL ·

Sterkte aan die Pa. Ek was oppad daarnatoe, het ‘n biref geskryf uit my kind se perspektief en by kleuterskool laat publiseer, dit was in 2011. My seuntjie is vandag die gelukkigste 6 jarige wat ek ken. My kind se Ma moes dit gelees het want anders was ek seker op dieselfde plek as jy. Hy sien beide sy ouers steeds elke dag. Weet nie of my hart dit sou kon hou nie. Bid vir jou.

Lila ·

Ek is ‘ prokureur en het al met baie van hierdie soort sake gewerk.. ek weet nie hoekom jy en jou vrou geskei het en wat die rede daarvoor was.. dit maak ook nie saak of jy die “skuldige” of “verkeerde een was of nie..

Jy is nie al een wat hierdeur gestraf word nie.. jou arme kinders kry ook swaar sonder jou.. en ek is seker hul mis jou!!

Hul ma sal hul nie viraltyd van jou kan weghou.. die dag gaan kom dat hul met jou gaan praat en besef dat hul ma hul in een groot leuen grootgemaak het.. en dan sal slegs jy deel wees van die tweede helfte van hul lewe.. hou aan skryf en poog om steeds die briewe by hul uit te kry.. al print jy dit en maak flyers die hele stad vol.. met hulle regte name! En hou die bewyse! Onthou jy is en bly hul pa!

Karma ·

@Lila, wat jy sê is SO, SO waar!!! My broer en sy eks is 18 jaar gelede geskei en in die proses is hul kinders wat toe 6, 4, en 2 was stukkend geskeur. Vir jare lank het my broer geen kontak met sy kinders gehad nie, al het hy gedeelde toesig oor hulle gekry (elke 2de naweek en 2de vakansie). Hy het self ook nie reg gemaak deur nie altyd onderhoud te betaal nie. ‘n Ruk lank het sy middelste seun by hom kom woon en daarna het hy sy pa heeltemal uit sy lewe geskuif. Januarie hierdie jaar is hierdie 22-jarige seun dood sonder om ooit weer met sy pa te praat. Ná hierdie kind se dood het my broer se oudste seun en jongste dogter darem weer kontak met hom opgebou. Wat ek vir mense wil sê deur hierdie te deel is om elke dag te leef asof dit jou laaste is, want jy weet nie wanneer dit wel jou laaste dag gaan wees nie. Die arme kinders is altyd dié wat die swaarste kry in ‘n egskeiding saak, want dikwels is hulle die pionne wat heen-en-weer tussen ma en pa geskuif word.

Lizette Potgieter ·

Die omgekeerde is ook waar, my seun , die pappa het toesig oor sy 2 jarige gekry, mamma kan hom nie op hou misbruik nie, en hy is te sag , ry die madam rond net sodat sy haar kind kan sien. hy probeer so hard om haar deel te maak van die kindjie se lewe

Christa Botha ·

Ai hoe wens ek dat alle pappas hulle kiddies wat hulle so weggooi soos die papa kan voel. Ons kinders is soos juwele vir ons maar sommige mans vat hulle “For Granted”. Ek glo in my hart dat jou kinders jou net so mis. Ek is so trots op jou vir die efford wat jy insit. open n g-mail account en stuur elke dag n e-pos vir hulle en as die tyd aanbreek dat julle weer versoen raak maak jy die e-pos oop vir hulle
dan kan hulle sien jy het hulle nooit vergeet nie. Sterkte vir jou

Linda ·

Sjoe!! dis so hartseer… dan is daar Pa’s wat niks met hul kinders te doen wil hê nie. Kinders vra vrae en droom stories op oor hul Pappa…net hartseer. Ouers moet net leer om saam te werk en te veel keer word ‘n kind as ‘n wapen gebruik om die ander ouer te straf. En ouers wat probleme het…kry hulp asb.

Net ek... ·

Dis so hartseer, my ouers is geskei toe ons klein was. Omdat ek baie soos my pa gelyk het, het my ma my emosioneel mishandel. Ek is vakansietye na my ouma gestuur, my sussies en boeties het baie min met my gesels, gespeel, ens. Ek was maar die eenkantkind, alleen met my eie gedagtegang daagliks by die huis. My ma moes altyd al haar frustrasies op my uit gehaal het, my verneder om teen die kop te klap, ens. Het altyd so gewens my pa kom my haal… As tiener het dit vererger, ek het die huis verlaat en gaan werk. Die ergste altyd was as ek my min geld gebruik het om naweek by ouerhuis te gaan kuier, dan vra sy “wat soek ek daar?”. Daar is soveel hoekoms, en waaroms? Eers met my ma se begrafnis het ek hom die eerste keer gesien, hy is later oorlede en ek is so spyt ek het hom nooit geken nie… Ouers jul moet ‘seblief mooi dink wat jul aan jul kinders doen. Jul is daar om hul veilig en geliefd te laat voel.

Nic ·

Die wat daar die leuen glo van die kinders sal later na jou toe kom en jy kan jou Kant van die storie vertel, leef voort in jou droom wereld. Ek het dit geglo vir 30jaar. My hartseer wense gaan nog steeds voort. Elke dag van my lewe wens ek nog steeds hierdie spesifieke wense. Elke dag vir 30 jaar.

Harold ·

Dis so ironies hoe die alles altyd die man se skuld is. Niemand sal ooit vinger wys na die ma nie. Nee die is altyd onskuldig. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is getroud met n wonderlike vrou en 3 pragtige kinders, maar weet van plekke waar die ma die kinders by die pa los en ront roer nie daar word nie veel gese behalwe sy is n slegte vrou en ma nie. Maar as sy terug hartloop huis toe keer niemand dit nie. Laat n man nou net iets verkeerd doen dan kry hulle hof interdik teen hom. Nie dat hulle bang is nie maar om te wys ek kan maak wat ek wil. Ek sien mos hoe praat vrouens met hulle mans asof hulle n stuk vloer lap is wat net goed genoeg is om geld in te bring. Daar moet gekyk word na die hele reg stelsel. Want hoekom mag daar teen mans gediskrimeneer word en dis fine.

Joel ·

Wat jy se is baie waar. ‘n Mens hoor altyd net die een kant van so situasie, en die arme vrou is altyd onskuldig.

EBeste ·

Soms gebeur daar seker goed wat veroorsaak dat mense moet skei maar vandag is dit te maklik om te skei….. te veel invloede van oral. Ja die kinders kan ‘twee’ huise het en ‘twee’ mammas en twee dit en dat…… Nou sit n pa wat dalk n “monster” was in die huwelik, alleen sonder kind….
Mag ons bid dat dit ons nooit oorkom nie. Soms verander mense maar dan is dit te laat….

Vrede ·

Die brief bring darem ongename herinneringe terug. Vandag, 5 jaar later, gaan alles goed. Tyd het meeste wonde genees. Ek sien my kinders nou elke dag. Daardie tyd het dit my twee jaar en ‘n internasionale jaagtog gekos om weer by my kinders uit te kom. My jongste kind het vergeet wie ek is. Sy het op ‘n stadium verby my geloop op straat sonder om my te herken. Ek onthou daardie dae en nagte van verlange en bid. Sterkte aan al die ouers wat deur so iets gaan.

BekommerdeMa ·

Julle is almal vinnig om te se die ma is verkeerd. Het julle al gaan sit en dink hoekom die hof gese het hy moet eers gaan vir berading? Vir al wat ons weet is dit ten voordeel van die kinders dat die pa hulle nie sien nie. Hoekom wil jy ‘n kind blootstel aan iets wat hom / haar ‘n knou gaan gee? Dat hy hulle mis, stry ek nie. Maar daaraan moes hy gedink het voor hy dit gedoen het wat die hof laat se het hy moet eers gaan vir berading.

Voorspelbaar ·

BekommendeMa dis die voorspelbaarste pad van ‘n egskeidingsgeding… beraders en kontak onder toesig … beskermingsbevele … ongelukkig faal die regstelsel die meeste pappas hier liederlik. Gegewe daar is uitsonderlike gevalle MAAR ek laat my nie vertel dat ‘n gesonde verhouding met ‘n liefdevolle pappa nou net tot niet verklaar kan word deur ‘n venynige eksvrou en ‘n gemanipuleerde sielkundige verslag nie. Die skade aan die kinders is enorm! Tot en met die dag dat Parental Alienation erken en gestraf kan word in die SA howe …

Pierre van Zyl ·

Sit in dieselfde booitjie. n Ma wat uithaar pad gaan vir al die jare om my kinders weg te hou.. Net die lewe is kort en as dit te laat is dan is daar vewyte om mee saam te leef. Jy werk hard om hulle groot te maak en offer baie op net vir n Ma om hulle teen jou te draai

Surf ·

Ek is ñ geskeide ouer al vir 15 jaar met 2 tieners. My kinders was maar 1 jaar en 2 jaar oud toe ons geskei is. Hierdie brief is ñ pleitdooi aan ouers wat in ñ proses is om te skei.
ñ Saak het altyd twee kante.
Die begin is altyd moeilik en die seer lê vlak.
Gun die ander persoon tyd saam met sy kinders.
Moet nie mekaar afkraak nie,veral nie voor die kinders nie.
My kinders het 1200km weg getrek met hul ma met die enigste rede om dit vir my moeilik te maak om hulle gereeld te sien. Die ouers vertrou nie mekaar nie,dink altyd daar is een of ander agenda. Ek het aangehou om my kinders te bel en te sien,al was dit finansieël moeilik. Oor tyd word die pyn en seer meer draaglik vir almal.My kinders was albei die hoofleiers in hulle laerskool en top presteerders akademies en baie sportief met liefde en respek vir albei ouers.
ASSEBLIEF OUERS,gun die kinders tyd met albei ouers. Almal baat daarby in die toekoms.

maria ·

EK wonder baie male wat is die nut vir trou kinders kry en dan na met soveel harteer en verwyte sit as julle besluit om te skei. Waar is die tyd van uithou vermoe en nie net die easy way out te vat nie. Ek wil die eerste een wees wat die huwelik beloftes kan verander na probeer en belowe nie. Ek voel elke ma en pa se pyn saam die kinders of kind wat daar onderlei mens probeer maar jou beste maar wanneer is dig ooit genoeg. Daar is baie pappas wat bitter graag deel wil wees maar ons vroue spesies is baie male net aspris.

Daisy ·

Dit is versriklik hartseer. My broer het kontak met sy seun verloor na die mamma en haar man geemigreer het. Hy het die seun opgespoor en ‘n brief aan hom geskryf. Die seun het ‘n prokureursbrief aan my broer geskryf wat dit stel dat hy geen kontak met sy pa of enige van sy familie wil he nie. Die seun(16) het sy van verander. “Parental alienation syndrome” word in sommige lande as ‘n vorm van kindermishandeling beskou en ‘n ouer wat hieraan skuldig is kan krimineel vervolg word. Die kinders kry altyd die swaarste

Stormrider ·

Vriende, dis ‘n baie emosionele kwessie en ek is baie dankbaar om al baie jare gelukkig getroud te wees. Maar een ding het ek onomwonde uit my vriende se egskeidings geleer – dis baie naief om te glo dat een ouer telkemale die victim is en die ander ouer ‘n draak. Ons het nie die insigte, die agtergrondfeite, die gesinsdinamika of die aanloop tot hierdie tragiese situasie tot ons beskikking nie. Ons verstaan nie hoekom een ouer so verskriklik optree nie. Miskien sal die ander kant van die storie dalk meer verstaan bring in ‘n gebroke, hartseer wereld. Grootste groet

Wynand ·

Daar is hopeloos te veel sulke gevalle daar buite. Mans word summier deur die regstelsel gekruisig as hulle enige voet verkeerd sit met onderhoud. Hordes vroue kom weg met die sielkundige moord van kinders deur hulle van Pa’s weg te hou. EN hulle leuen word vir soet koek opgevreet deur welsynwerkers, maatskaplike workers, prokureur, regters en al hulle Mede trawante wat so opstaan vir vroue regte. As die regte van kinders n duit beteken het sou hierdie Pa gereelde toegang tot sy kinders gehad het al was dit onder toesig. Duidelik is iemand hier baie gevrek in die uitvoering van hulle pligte. EN waar is die kerkleiers van die Ma (As sy ooit enige kerkbande het) .EN die skool (want beslis moet dit n effek op hulle skoolwerk en hulle gedrag he). Hierdie vrou is duidelik sielsiek en vergiftig haar kinders. Watse tipe vrou is sy? Sy stel baie duidelik nie haar kinders eerste nie. En hulle word uit due aard ook van die Pa se familie weerhou, wat beteken daar is grootouers wat ook met pyn sit. Wie gaan iets doen on hierdie verskoning van n ma tot geregtigheid te bring?

Mamma ·

Harold jy is sooooo verkeerd dat dit altyd die man se skuld is. Eknis die vroulike weergawe van hierdie briefskrywer. Ek het die afgelope vyf jaar my kinders die minimum gesien. Dansky hul verbitterde pa. Die verlange raak nie minder nie – dit raak elke dag erger!

pearl robson ·

agge nee gaan nie nou weer die elle lange brief tik nie

Lalla ·

Ek voel so jammer vir hierdie pappa. My ouers is geskei toe ek in st 9 was. As ek by my pa wou gaan kuier, was my ma se woorde “hoekom gaan bly jy nie sommer daar nie”. My broer was alles in haar oe, sy sou die son, maan en sterre vir hom gaan haal. Nou moet ek met haar opgeskeep sit en na haar omsien. En ek het geen goeie verhouding met haar nie. As jy skei, weet jou kinders het ‘n Ma EN ‘n Pa. Hulle het altwee in hulle lewens nodig. Dit is nie nodig dat die een die ander een sleg maak by die kinders nie. JULLE as ouers het besluit om kinders te he, hulle het nie gevra om daar te wees nie. So dink wat julle doen. As julle mekaar wil verskeur, doen dit waar die kinders nie naby is nie. Kinders hoef nie met volwassenes se probleme te worstel nie. Dit is hoekom hulle kinders is.

Grietjie ·

En dan kry jy Ma’s soos ek wat by die hof gaan kla dat die Pa nie kontak met sy kind (seun) wil maak nie, hy wil hom nie kom haal vir naweke nie, en ook nie vakansies nie……. Daar was gesê, mevrou, jy mag nie jou eksman dwing om sy kind te kom haal of kontak met hom te hê nie…. Nou na 18 jaar, wil hy instap en ‘n Pa wees (want sy seun preseteer met alles wat hy aanpak) wat nou gemaak? My seun is emosioneel sterk, ek moes hom grootmaak dat hy dan maar nie sy Pa nodig het om iewers te kom nie. Seun en Pa moet mekaar maar nou uitsorteer, ek het al te lank hieroor baklei. Gelukkig hoor ek nou “Ma, moet nie worry nie, hy kan my nou bel, ek sal hom hanteer, ma het genoeg baklei…….Seun jy is ‘n wenner!!!!!!!

My Mening ·

Grietjie, I salute you. Jou kommentaar het trane in my oe gesit en ‘n knop in my keel. My seun is 15, ek verstaan waarvan jy praat, nooit onderhoud, besoeke of niks. Nou is hy 15 en nou wil hy instap en se ek is di pa en het ook regte. My seun doen goed, hy het nie sy pa nodig nie want hy is sterk en onafhanklik, is presteer in rugby en doen regtig goed ek kan nie kl oor sy gedrag of niks nie. Hy se ook, ma jy het lank genoeg baklei, dis nou ek en my pa. Selfs sy vriende se hy praat glad nie oor sy pa nie, net altyd oor my.

Vir die mans se comments wat so hard is, sit julle self in my skoene., Single ma vir 2 seuns wat wil he di pa moet da wees, wat wil he hy moet deel met alles. Nie oor ek gevoelens het nie, net sodat hy kan deel wees, maar raai wat? Hy stel nie belang nie oor vrouens vir hom belangriker is as sy kinders. Dis hoe dit is al vandat ek geskei is, en in al die jare het dit nog nooit verander nie.

Grietjie, I salute your boy as well, for being a MAN in every sense of the word.

Louis. ·

Môre,wat my dronkslaan is die feit dat twee mense trou ,ñ kindjie kry en dan binne jaar of twee uitmekaar gaan. Julle het mos geweet die huwelik gaan nie werk nie want niemand verander jou lewenstyl en manier van doen net omdat jy nou skielik getroud is nie. Mense moet altyd onthou jy kan nie kind of kinders as hefboom gebruik net om iemand te straf nie.

neelsie ·

Aan almal wat so maklik na die skeihof hardloop.
“Kom tot julle sinne en DINK aan dit wat jy aan jou kind doen.
*Los wereldse begeertes
*tree op met selfbeheersing
*respek vir mekaar
*vergifnis
*liefde vir mekaar
Egskeiding is nie die oplossing nie”

Wiebo ·

Ek is ook geskei so paar jaar gelede. My vrou het my 14 keer aangerand in 13 jaar se huwelik. Sy wou my 2 keer skiet. Net die tipe mens wat sy was. Ek het haar nogtans na die beste van my vermoe bygestaan en haar probeer ondersteun, want ek was bewus daarvan dat sy n “probleem” gehad het. Ek het haar op heter daad in ons huis betrap met n man. My dogtertjie was 2 jaar oud. Sy het my toe gedagvaar vir n egskeiding, en wou met die ander man trou nadat sy hom n week lank geken het! Gelukkig kon hy sy sien wat sy was, en sy het hom so kwaad gemaak, dat hy 8 skote op haar en my kind geskiet het. Gelukkig nie raak geskiet nie.
My punt is net, NIEMAND het ooit vir my gevra wat of waarom wil ons skei nie. Die vrou en die minderjarige kind is alles, alles, alles. Gee simpatie vir die man nie. Vrouens kom weg met alles in n skeisaak. Daarom het dit my gemaak dat ek vrouens haat. Sal nooit weer n vrou kan vertrou nie. My kind het maar moeilike tye saam met die ma, maar is ok, en sy is more 17 jaar oud, en sy is alles in my lewe!!

Joyce ·

Ai mense kan julle vir een oomblik indink as jy n alegte pa of ma het is jy ook sleg want jou bloed en gene vloei in daardie klein aartjies in jou geliefde mensie moenie jou kind vernietig nie jy gan eendag daarvoor moet rapporteer ons het almal swaar tye in ons lewens gehad maar het nie weggehol daarvoor nie dit kan werk dit moet werk met liefde want jou kind is tog uit liefde verwek of was dit wellus! Vra dit vir jouself af dan doen jy wat reg is. Nie een van ons is perfek nie en niemand hoef te wees nie poleer die goeie en mooi dat dit die verkeerd en lelik oordonder.

Enkelma van Centurion ·

As ouer is jou grootste bekommernis jou kinders se welstand en of hulle veilig en ordentlik versorg is. My eks man het nooit vreeslik belanggestel om die kinders vir naweke te kom haal nie totdat hy iemand anders ontmoet het. Nou wil hy hulle elke tweede naweek kom haal. Ek het hulle nog nooit van hom weggehou nie, maar ons idees van kinders grootmaak het hemelsbreed verskil en ek is redelik bekommerd oor my kinders se emosionele welstand weg van my en ook nog onder ‘n ander vrou se dak wat glad nie dieselfde waardes as jy het nie. Dit sluit aan by die skrywer se brief, hy verlang na sy kinders, maar kan hy hulle hanteer en is hulle veilig in sy sorg? Vat jy die kans of baklei jy vir jou kinders se veiligheid al sal jy nie in ‘n hof kan bewys dat hulle nie veilig is nie, want die hof werk nie op “what iff’s” nie. En die kinders wil ook daar wees omdat hulle enigiets sal doen om hom te sien!!!

roshama ·

ek is al 21 jaar geskei. my dogter is nou 25 jaar oud. sy sukkel nog steeds om oor goed te kom. ek glo wat n Egskeiding die Ergste maak vir n kind of kinders is Nr 1. die Haat van Beide Ouers, vir mekaar, Nr 2, Onvergifnis, Nr 3, Die Ouers Maak mekaar sleg by die Kind/Kinders , hulle hoor dit en sien dit. Vandag wens ek net al is dit soveel Jare gelede, Dat my Kind se Pa net met my kon Praat. Dit sou dit soveel makliker gemaak het vir Haar. dit was Vir haar wat ek dit wou he, nie vir my nie. Maar my kind moes Groot word met die Wete dat Ma en Pa “Haat mekaar. ek blameer nie haar Pa in my Egskeiding nie, dit Is net n Prys wat n Mens aan die einde van die Dag betaal op die ou End. n Groot Prys. en dan moet n mens weer daardeur ook gaan Wanneer hulle , jou Kinders Besluite moet maak vir die toekoms.

Rina Kotze ·

Ek was gelukkig as kind so iets gespaar en is deur die Genade van Bo in ‘n redelik gesonde huwelik.
Ek gaan nie oordeel of klippe gooi nie, want dit is nie my plek om dit te doen nie.
Elke situasie is uniek, moontlik het die Pappa wat die brief geskryf het tot besinning gekom en besef wat verkeerd is. Moontlik is die berading al klaar. Berading is selde ‘n mors van tyd.
Moontlik moet die Mamma ook dinge verwerk (moontlik gaan sy ook vir berading) en die hof tree in belang van die kinders op.
Die kinders bly die lydende partye altyd!

Ek hoop en bid dat jy, Pappa, by die Heer uitgekom het in hierdie woestyntyd in jou lewe.

Want van hier af, gaan jy heel word, ander kan begin vergewe, asook jouself kan vergewe.
Die Heer laat alles ten goede meewerk.

Ek is seker jou kinders verlang na jou ook en dat julle hereniging om die draai is!

Mag God jou seën met wysheid en insig en ‘n nuwe toekoms saam met jou kinders.

nakkie ·

Ek is getroud met ‘n pappa wat baie lief is vir sy kinders by sy eerste vrou. Hulle kom elke tweede naweek en -vakansie na ons toe. Die verhoudings is gestrem. Niemand wen in ‘n egskeiding nie. Niemand

Seer ·

Ek weet PRESIES hoe die skrywer voel, want ek is in PRESIES dieselfde bootjie.

Wil so graag die brief by my kinders uitkry:

My liefste dogtertjies
Ek skryf vir julle hierdie briefie want ek weet nie hoe anders om met julle te praat nie.
Ek is jammer as julle seergekry het terwyl en en mamma baklei het. Ek is verskriklik lief vir julle en hoop julle kan my eendag vergewe omdat ek weggeraak het. So baie dinge het gebeur wat ek nie wou he nie, en ek was bang julle kry so seer dat julle nooit weer vir my kan lief wees nie.
Ek het so uitgesien daarna om julle te sien grootword, om alles saam met julle te deel, maar dit kan ongelukkig nie gebeur nie. Ek het so gehoop ek kan die heel beste pappa vir julle wees, maar met al die bakleiery kon dit nie uitwerk nie.
Al wat ek wil he, is dat julle moet weet hoe verskriklik lief ek is vir julle. Hierdie was die heel moeilikste besluit van my lewe, maar ek doen dit vir julle hartjies. Eendag as julle groot is en wil weet wat alles gebeur het, hoop ek ek kan julle vertel en weer julle pappa wees.
Ek bid elke liewe dag dat die Here julle hartjies sal beskerm en julle my sal onthou en vergewe.
Julle enigste pappa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.