Lephalale-plaasmoord: ‘Iets in ons gemeenskap het gesterf’

Drs. Werner en Mariette Emslie. Foto: Via Facebook

Dr. Werner Emslie (55), ʼn geliefde algemene praktisyn van Lephalale (Ellisras) in Limpopo, is Woensdagaand op sy plaas buite die dorp doodgeskiet. Sy vrou, Mariëtte, is ook geskiet en in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem.

 Danie Stander, ʼn lid van die gemeenskap, het hierdie brief geskryf na aanleiding van die voorval. Dit word met sy vergunning op Maroela Media gepubliseer.

My seuns het vanaand vir die tweede agtereenvolgende aand hul matrasse voor ons bed kom neergooi – hierdie twee wilde, ontembare, onverskrokke laaities wat al vir ses, sewe jaar in hul eie kamer slaap. Twee bulle wat saam met my jag, tussen buffels en renosters deur loop op die spoor, wat met beeste werk sonder die minste vrees. Uiteindelik kom dit uit: “Ons is bang, Pappa, want hulle het dan vir oom Werner doodgeskiet en tannie Mariëtte is ook amper dood!”

Oom Werner Emslie. Oom Werner wat hulle so gereeld “gelift” het met sy Landrover wanneer hulle by die rivier gespeel het; oom Werner met sy groot stem wat altyd grappe gemaak het; oom Werner wat hulle sommer enige plek waar hy hulle gesien het, oor een of ander klein dingetjie sou terg. Oom Werner is sinneloos doodgeskiet.

Tannie Mariëtte wat saam met Mamma werk. Die ander dokter-tannie wat soveel babatjies vang. Tannie Mariëtte wat kanker gehad het en Jesus het haar gesond gemaak en nou kom skiet iemand haar net en laat haar vir dood agter.

My seuns is bang.

En as pa kan ek hulle nie antwoord op die vrae wat hulle my vra nie. Hoe verduidelik jy vir ʼn  kind van agt en tien jaar oud, dat daar “mense” is wat iemand oor en oor en oor met messe kan steek en sny omdat dit vir hulle lekker is? Dêmmit, ek self verstaan dit nie eens nie! Vier volwasse mans teen een petit klein vroutjie, wat geen weerstand bied nie, en hulle vermorsel haar so? Hoekom? Ek wil ten hemele skree.

Werner en Mariëtte was nie die uitsondering op die reël nie. Wat met hulle gebeur het, gebeur met duisende ander van my volksgenote.

Ons hoede hang laag oor ons oë in die Bosveld hierdie week. Ons hoede hang laag, want ons steek die emosies weg… ons is bang om te wys wat in ons siele aangaan: pyn, verlies, hartseer, moedeloosheid … woede.

Ek staan by groot mans gister langs die skool se swembad. Ons kinders neem deel aan die interhuis-swemgala. Niemand praat oor boerdery nie, kom ek agter. Niemand wonder wanneer dit gaan reën nie. NUM staak by Exxaro, al vir langer as ʼn week, maar selfs dié onderwerp kom skaars op. En ek besef skielik, niemand is eintlik regtig besig om enigsins te praat nie! Dis gewoonlik een van ons lekkerste dae by die skool, die kinders wat swem en sing en raas en almal wat uitbundig is. Gister was dit egter soos ʼn begrafnis.

Saam met Dok Werner het iets in ons gemeenskap gesterf. Dit voel of ons hoop begrawe het. Hoop op ʼn beter toekoms. Hoop dat plaasmoorde sal einde kry. Hoop dat ons kinders nie aan hierdie geweld hoef blootgestel te word nie.

Saam met Dok Werner se dood is daar iets nuuts in ons gemeenskap gebore. Vrees het vastrapplek gekry. Vrees dat een van ons volgende gaan wees. Vrees vir ons families se veiligheid.

Maar die vrees wat gebore is, se tweeling het ek vandag ook gesien. Dit sit in ʼn trek om die mond. Dit sit in twee skouers wat breed agtertoe getrek word. Dit sit in hande wat aangaan met vandag se werk. En wanneer iemand kop optel om onder die lae rand van die hoed uit jou in die oë te kyk, sien jy die vlam. Dit wat my volk nog altyd onderskei het: geloof. Nie ʼn geloof van Gods water oor Gods akker nie, maar driftige geloof … boeregeloof. Ons-sal-oorwin-geloof.

Ja, ons hoede hang laag oor ons oë, ons kyk binnetoe. Ons hoef nie vir mekaar te sê wat ons voel nie. Die band wat ons aan mekaar bind, die band van ons erfenis en ons geloof … van presies wie ons is, daardie band maak dat ons onder die lae rande van ons hoede uit vir mekaar kan kyk en woordeloos kan sê: Ons sal oorwin. Ons hou begrafnis, maar ons sal weer ploeg.

Totsiens, Dok Werner. Jou plek is leeg. Maar jy sal nie vergeet word nie.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

11 Kommentare

Sarie ·

So mooi gestel bring trane in my oë hier waar ek met vakansie is in Ierland. God sal oorwinning bring vir die wat in hom glo. Ons harte is saam seer oor die sinnelose geweld.

Sjo! ·

Wat verstaan Jy nie? Zuma en malema se dan bring my masjien geweer,jaag hul die blankes af van hul plase sonder vergoeding, die honeymoon is verby vir die blankes! Die is wat hul openlik se!
Wat verstaan Jy nie?

Chris ·

Ek het nie die mandaat om namens enige iemand te praat nie. Ek het allermins die mandaat om namens God te praat. Ek is ook nie ‘n siener of waarsêer nie. Alles wat tans in die land gebeur gaan nie ongesiens verby nie. Ons leef in “moeilike ” tye. God beproef niemand nie, Hy sal net toelaat dat ons nie bo ons vermoëns beproef word nie. Ek sê nie dat ons met die Israeliete vergelyk moet word nie, maar wat maak ons beter as ander nasies om nie swaar te kry nie. Kyk hoe leef ons in die land. Leef ons werklik soos ons Hemelse Vader wil hê ons moet leef, om Hom te behaag?. Ek dink ons moet hande in eie boesem steek. Ons moet onself verootmoedig, smeek vir vergifnis, genade en Sy barmhartigheid. Sy oor is nie te doof om te hoor en Sy arm nie te kort om te help nie. Dit is nie te laat nie.

Toekoms ·

Met Elke traan wat vloei oor die Seer, word die stukkende gees van elk van SY kinders,gelawe en gesuiwer. Gevoelens van verloor is nie belangrik dis die OORWINNG IN GELOOF wat soet in SY NAAM sal weeklink.

Katja Potgieter ·

Lewe na Plaas aanval sal nooit weer dieselfde wees nie.
My Pa was vermoor in Witbank , glo my die mens wat agter bly is . Nooit weer dieselfde nie ; as jy lees van n aanval op please . Glo my gaan jy ook deur dieselfde emosie .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.