Deur Petro Struwig
Ons plaashuis is op ʼn bult gebou en net soos dit gaan met die hoë bome, vang ons huisie ook al die winde wat heen en weer hierlangs deur see toe trek en weer terug. En met vanjaar se Augustuswinde wat tot in Oktober aangehou het, het die wind ons genadeloos uitmekaar gewaai.
Ek het dikwels met verlange na die bure se gevestigde ou plaaswerf gekyk. Hulle ou statige plaashuis is effens in ʼn laagte gebou en die werf is goed beskut met reuse-akkerbome. Hulle wasgoed hang normaal af ondertoe – dit wapper nie gedurig horisontaal en heeltemal verstrengel in die wasgoeddrade nie. By ons moet ʼn mens ʼn laken eers so twee maal losdraai voor jy weer by die wasgoedpennetjies uitkom.
Ons kombuiswasbak is reg voor die venster. En so kom dit dat ons ʼn tyd gelede sien die mossies begin ʼn deurmekaar mossienes in ʼn mik van die witstinkhoutboom voor die venster bou. Mossies kan mos ʼn vreeslike deurmekaar nes bou. Hulle steur hulle glad nie aan die netjiese gewewery van die vinke langs hulle nie. Hulle gebruik ook sommer enige herwinningsmateriaal wat hulle in die hande kan kry. As jy ʼn string kweekgras uittrek uit die groentebedding, dan raap die mossies dit op. En as jy ʼn verestoffer-veer uitvee by die kombuisdeur, dan het hulle dadelik ʼn nut daarvoor.
Maar die mossies het nie rekening gehou met daardie mik in die boom en die vreeslike winde vanjaar nie. En so van voor die kombuiswasbak sien ons hoe die wind hulle nes heen en weer rondpluk en gereeld uitmekaar waai. Nou wag ons maar en kyk wanneer gaan die mossies moed opgee en eerder na ʼn mooi beskutte plekkie soek om vir hulle nes te bou en kleintjies in groot te maak. ʼn Veilige plek soos in een van die groot ou akkerbome op die bure se windstil werf.
Maar maak nie saak hoe die wind hulle nes heen en weer ruk en pluk nie, die volgende môre is die mossies maar weer aan die regtrek en oorbou. En nou, een agtermiddag ná ʼn allemintige windstorm, staan ek juis en wonder hoe lank die mossies se moed nog gaan hou.
Maar toe ek die volgende môre voor die wasbak inskuif, is die mossies ver van moed opgee. Vanmôre wapper daar ʼn vrolike string geel baaltou by hulle nes uit. Dit was toe hulle plan teen die wilde winde, dink ek verbaas, om ʼn stukkie geel baaltou in hulle struktuur in te bou. Nou kyk, almal op ʼn plaas weet, daar is min dinge wat baaltou nie al aan mekaar moes vashou nie. Soos die plaaslike gesegde lui: Dis omtrent net ʼn gebroke huwelik wat baaltou nie meer kan bind nie.
En toe ek ʼn rukkie later effens windverwaaid met my handsak en die motorsleutels die kombuisdeur agter my toedruk en ʼn oomblik staan en moed bymekaarskraap vir die veeleisende dag wat voorlê, toe vang my oog weer die mossienes.
“Abba, dan vra ek maar asseblief vandag net vir ʼn vrolike stukkie geel baaltou om die spulletjie van my lewe mooi bymekaar te hou.”
Pragtig! Ek hou ook ‘n mossie mannetjie dop wat elke dag vir hom ‘n stukkie van my tamatie plantjies kom afpluk. Die energie en positiwiteit (by gebrek aan ‘n beter beskrywing) is inspirerend. En daar ‘s genoeg tamatieplantjies..
Petro, lees gerus die boek “Twee Vir ‘n Stuiwer”deur WA Hickey.
Petro, dankie.
Jou laaste paragraaf som alles so mooi op.
Van toepassing op ons almal se daaglikse lewens.
Ai dis so pragtig geskryf! Ek sien eintlik die mossies hier voor my werk. Dit is ook waar van ons lewens. Al is ons “nessies” hoé verplunder, sal die Here altyd vir ons ‘n ‘baaltou” uithou. Ons moet dit net raaksien, aanvat en gebruik. Dan sal dinge in ons lewens weer stabiliseer.