Teddiebeer-liefdadigheid versus kospakkie-liefdadigheid

teddiebeer-liefdadigheid

Foto: Verskaf.

Dis Donderdagoggend en Bybelstudietyd. Die plek: die gemeenskapsaal van ’n ouerige munisipale woonstelblok in ’n minder gegoede deel van een van ons land se groot stede. Die vroue voor my: gewone mense van vlees en bloed wat saam met die meeste ander aardbewoners daagliks stoei teen die aaklige gevolge van die sondeval.

Tussen die vroue sit Lelanie (skuilnaam). Dis vandag die eerste keer dat sy die Bybelstudie bywoon. Soos so baie van die ander vroue om die tafel, is daar nie altyd geld in die huis om die gulsige voorafbetaalde elektrisiteitsmetertjie in haar woonstel te voer sodat daar krag kan wees om vannaand kos te maak nie. En soos die meeste ander lede van die groepie weet sy wat dit beteken om half skaam, maar tog dankbaar ’n kospakkie te ontvang vir vanaand se kos.

Aangesien sy nou ook deel is van die Bybelstudiegroepie, kry sy ook geleentheid om iets te maak vir die vlooimark. Ek verduidelik vir haar kortliks waaroor die vlooimark gaan. Dan vra ek die groot vraag: “Wat kan jy doen?”

Haar reaksie is letterlik binne ’n oogwink! Die skouers kom trots regop, die oë begin blink, ’n glimlag speel om die mondhoeke. “Ek kan teddiebere brei.” ’n Oomblik se aarseling. “Ja, ek wil graag teddiebere brei!”

Ons spreek dus af dat ek so gou moontlik vir haar die wol en ander benodigdhede sal bring sodat sy kan begin …

Dié hoofstuk in die verhaal het teen die einde van verlede jaar afgespeel, so twee weke voor díe spesifieke vlooimark – my tuisgemeente se “liefdadigheidsprojek” wat gehou is in die plek van die jaarlikse sopoggend. Die idee was dat ons hierdie groepie mense sou aanmoedig om produkte te maak en op die vlooimark vir ons tuisgemeente se mense aan te bied, sodat my gemeente se mense weer Kersinkopies kon kom doen.

So het Lelanie dan ook die Saterdagoggend borrelend van trots by haar vlooimarktafel gesit. Die teddiebere wat sy verkoop het, was pragtig, maar dit was steeds gewone teddiebere. Ná afloop van die vlooimark het sy egter begin eksperimenteer: Eers het van haar skeppings skoene gekry. Later het hare (en besonderse, byderwetse haarstyle) bygekom. Sommige het selfs oorbelle gekry.

So ongeveer ’n maand gelede bel Lelanie my: “Ons krag is amper op en ek het nie geld om te koop nie. Maar ek het drie teddiebere klaar. Wil jy dit nie by my kom koop nie?”

So beland ek die middag by haar woonstel om die teddiebere te koop, en my mond hang oop: Dit is nie drie teddiebere nie … dit is drie KUNSWERKE! En hier is geen vorm van liefdadigheid meer aan die gang nie, want Lelanie kyk my trots in die oë terwyl ons die saketransaksie afhandel.

Wanneer ek sien hoe Lelanie met nuwe lewenslus en trots leef, en besef dat dit regtig nie onmoontlik is dat sy binnekort finansieel op haar eie voete sal kan staan deur haar talente uit te leef nie, wonder ek: Sal dit nie baie meer sin maak om die hulpbronne (wat tans in die vorm van groot hoeveelhede kospakkies uitgedeel word) eerder te gebruik as betaling vir produkte wat mense maak deur hul talente uit te leef nie? Ek wonder tog in hoeveel gevalle mense net daardie enkele kreatiewe hupstoot, daardie enkele stukkie selfvertroue, nodig het om weer finansieel op hul eie voete te kan staan.

Wie weet watter invloed ons op mense kan hê as ons kies om hierdie soort “teddiebeer-liefdadigheid” toe te pas, in plaas van “kospakkie-liefdadigheid”?

Lana Hitge

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gesiggie ·

Wat n mooi storie.. en so waar… daar is soveel mense met Talente,maar het nie altyd die geleentheid om dit uit te leef… N mens kan hoe arm wees… maar met net n bietjie hulp van ander kan jy dit maak werk. Ek onderteun eerder iemand wat met hul eie hande iets maak om n paar sente te verdien, as iemand wat net wil bedel. En kyk nou net hoe Trots voel die Lelanie oor net die 3 Teddies wat sy self gemaak het. Liefde is meer werd as goud.

pauline ·

Gesiggie ek stem ten volle saam met jou, daar is soveel armoede en talent daar buite, maar hoeveel mense met talente om mooi goed te maak is vasgevang in n verslawing, dan maak hulle staat op die kos wat hulle by die groepies kry om te oorleef.

Sarie ·

Miskien kan iemand foto’s neem van die verskillende variasies van teddiebere wat sy maak en dit aanlyn publiseer met aanwysings vir ‘n ekstra geldjie vir haar en ook ander mense wat die patrone kan gebruik om vir hulle ‘n geldjie op die verskillende kunsmark te in die res van die land te maak.

John ·

Wat my baie bekommer is dat niemand veg vir die regte van ons ongekwalifiseerde wit vroue/mans nie wat geraak is deur die veranderinge sedet 1994. Vroue wat bv in winkels gewerk het en mans in werkswinkels, weermag of spoorwee, is nou sonder inkomste/medies. Daar is min wit vroue by supermark-betaalpunte. Ondernemings stel net anderskleuriges aan. Baie arm swartes betaal nie hul lisensies, rekeninge of huishuur nie maar witmense word gou vervolg omdat dit makliker is om by hulle uit te kom. Daar is ‘n jarelange agtstand in Alexandra, maar niemand waag dit om die gebied binne te gaan nie. Dit is werklik erg dat ons elke witmens wat verslete voorkom van drankmisbruik/slegtigheid verdink. Na my mening is daar meer ryk witmense ea wat hul vergryp aan drank, doofmiddels en voorskrifpille of drink oor persoonlike probleme. Die Bybel waarsku juis omdat dit so moeilik om die naaste te help en makliker ons ‘verste’ want dan voel ons tog so meerderwaardig en heilig.

Gesiggie ·

Ek stem 100% saam jou Sarie, dit n goeie manier, ek sal beslis een van die Teddies wil bestel, om die Tannie te help” en so as dit versprei word… gaan sy nie kan voorbly met bestellings, wat dan mooier as n gebreide , hand gemaakte Teddy”’ en so help ons haar ook om n exstra geldjie te verdien, wat sy so nodig het. Laat weet indien enige inligting aangaande die berig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.