Amerikaanse verkiesingsdebat: Trump se verspilde kanse

donald-trump-vs-hillary-clinton

Foto: Youtube.com

Ek kan allermins op die titel modekenner aanspraak maak (ek laat dit vir Simon Rademan en Gert-Johan Coetzee), maar moet tog inleidend verwys na die twee kandidate se keuse van kleredrag.

Dit is lank reeds bekend dat politici deur hulle kleredrag poog om ʼn bepaalde beeld by kykers te skep. So sal ʼn rooi das gedra word wanneer ʼn politikus sterk wil oorkom en ʼn blou das wanneer die persoon ʼn sagter beeld wil skep. Donald Trump, wat veral in die Republikeine se kandidaatstryd baie aanvallend en soms beledigend oorgekom het, het met ʼn blou das die verhoog opgestap. Hillary Clinton, wie se gesondheid die afgelope tyd vir hoofopskrifte gesorg het, het geklee in ʼn rooi broekpak die verhoog opgestap.

Trump het duidelik die debat betree met die doel om Amerikaanse kiesers te wys hy kan oor kwessies praat sonder om sy gesig te trek of persoonlik te raak. Hy het persoonlike aanvalle op Clinton vermy en probeer koelkop bly. Clinton het egter presies geweet watter knoppies om te druk en sommer aan die begin van die debat na die lening van etlike miljoene dollars verwys wat Trump by sy pa gekry het om sy onderneming te begin. Clinton se doel was duidelik om Trump as sakeman te probeer diskrediteer aangesien dit al is waarop hy kan aanspraak maak. Hy het immers nie Clinton se politieke ervaring nie.

Verskeie ander kere het Clinton aas gegooi wat Trump sonder skroom opgeraap het. Dit het daartoe gelei dat hy deurlopend tussenwerpsels gebruik het terwyl Clinton praat, en oor die algemeen onvoorbereid en emosioneel oorgekom het. Een van Clinton se strategieë was om Trump se sakepraktyke verdag te maak en te bespiegel waarom hy nog nie sy belastingopgawes openbaar gemaak het nie. “Miskien,” het sy hardop gewonder, “is hy nie so ryk soos hy sê hy is nie. Miskien is hy nie so vrygewig soos hy beweer nie. Of miskien wil hy nie hê die Amerikaanse bevolking moet sien dat hy nie sy belasting betaal nie.”

Clinton is allermins iemand met ʼn onkreukbare reputasie. Gedurende die segment oor staatsveiligheidskwessies het Trump die perfekte geleentheid gehad om haar hantering van die terreuraanval in Benghazi en die onveilige bediener waardeur sy vertroulike e-posse gestuur het in die tydperk toe sy met buitelandse sake belas was uit te lig. Buiten ʼn kort verwysing na die e-posskandaal het hy nie daarin geslaag om haar in ʼn hoek te dryf daaroor nie. Inteendeel, Clinton het daarin geslaag om baie sterker oor te kom toe daar oor internasionale veiligheidskwessies gesels is.

Trump het verskeie internasionale ooreenkomste, byvoorbeeld dié met Japan, bevraagteken. Clinton het, in reaksie hierop, reguit na die kamera gekyk en gesê sy weet dat dié verkiesing baie internasionale aandag geniet en wil graag Amerika se bondgenote gerusstel: Amerika sal nie teruggaan op sy woord nie. In daardie oomblik het Clinton volle beheer van die debat oor internasionale aangeleenthede geneem en Trump se vrae, wat nie onbillike vrae was nie, afgemaak as onbenullighede. Sy het, soos verskeie ontleders beaam, presidensieel oorgekom.

Tydens die ekonomiese segment van die debat het Clinton gesê sy sal graag wil sien dat meer geld in die sakke van Amerika se werkersklas beland en dat almal in ʼn maatskappy se wins moet deel – nie net, soos sy dit stel, die ryk direkteure nie. ʼn Duidelike poging om haar by die Amerikaanse werkersklas te posisioneer en afstand tussen hulle en Trump te skep. In dié segment was Clinton ook ʼn sterk kampvegter vir hoër belasting van die hoër inkomstegroep terwyl Trump baie sterk opgekom het vir minder staatsregulering van sakeondernemings en belastingkorting vir maatskappye wat hy aanvoer eerder vir werkskepping aangewend kan word.

Hoewel Clinton oor die algemeen die debat oorheers het, was daar oomblikke waarin Trump sterk na vore getree het. Een voorbeeld was die hantering van verdagtes waar hy die polisie se reg om verdagtes voor te keer en te deursoek verdedig het. Hy het verwys na die gebrek aan wet en orde in verskeie dele van Amerika. Indien Trump meermale so oortuig was van sy saak en so goed met feite toegerus was, het die meningspeiling dalk anders gelyk.

Daar is egter nog twee presidensële debatte oor wat Trump die geleentheid bied om te wys dat hy van presidensiële stoffasie aanmekaargesit is. Daar gaan egter gou ʼn paar veranderinge moet intree. Vroegoggend stuur Ernst Roets van AfriForum, wat ook na die debat gekyk het, vir my ʼn WhatsApp-boodskap: “Miskien moet Trump se spanlede hulle huidige strategie van ‘Let Trump be Trump’ eerder laat vaar.” Ek stem saam. Dit het gewerk vir die Republikeinse voorverkiesing, maar ek kan nie insien dat in die presidentsverkiesing gaan slaag nie.

Clinton was self nie uitsonderlik goed nie, maar met jare lange politieke ondervinding het sy ʼn voorsprong bo Trump. Aan die ander kant is dit juis die feit dat Trump nie polities “besmet” is nie wat hom vir talle kiesers aanloklik maak. Maar hierdie buiteperd se grootste sterkpunt is ook sy grootste swakpunt. Trump is miskien polities ongeskonde maar dus ook polities onervare. Trump gaan moet kalm bly as Clinton aas gooi en sy antwoorde, veral oor internasionale kwessies, beter begrond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Liewe heksie ·

Go Trump gogogo
Hillary kan net koukoukou…………. na sy gehoes het

Hendrik ·

Dit gaan my verstand te bowe dat so baie mense ‘n buffel soos Trump ondersteun. Dis nou ‘n man wat daarop roem dat hy ‘n biljoenêr is. In die proses om daar te kom, het hy sy maatskappye al 6 keer bankrot verklaar en nie mense betaal wat vir hom werk gedoen het nie. As hy dan nou soveel geld het, en as hy integriteit het, waarom betaal hy nie daardie mense wat hy verneuk het toe hy bankrot gespeel het nie? Verder, enige persoon wat van ander, baie armer mense as hy verwag om belasting te betaal, maar dink hy is is slim om nie belasting te betaal nie, verdien niemand se steun nie. Die enigste twee belastingopgawes van Trump beskikbaar is, wys hy het geen belasting betaal nie. Die man is moreel korrup.

Gerhard ·

Hendrik, dink jy rerig DonaldTrump sou daar gestaan het gisteraand as hy “moreel korrup” was…die man is baie slimmer as wat jy dink.

Cilla ·

Trump is ‘n Engel teen korrupte Hillary. Daar is SOVEEL inligting oor die vrou – ‘n loopbaan krimineel – op die internet. Gaan vergewis jouself gerus.

Anti regering ·

Hendrik ek respekteer jou opinie maar stem nie saam Donald Trump neem standpunt en se genoeg is genoeg die meeste mense is al so gebreinspoel hulle is te bang om te kla hulle aanvaar net en meestal om polities korrek te wees……Trump vir President

Amerikaner ·

Die media is eensydig en pro-Demokraat. Trump spreek tot die frustreerde bevolking wie nie gehoor word deur die politici nie – veral na 8 jaar van Demokraat slap leierskap. ‘N kulturele en sosiale neiging is om konflik en dissipline te vermy ten einde samewerking en vredesdoelwitte na te jaag. Dis een van die redes waarom Trump afgekraak word deur die liberale media (BBC) inkluis. Sterkte leierskap en reels word afgekraak vir ‘n lalaland beleid. Nugter denkende Amerikaners waar ek woon stem vir Trump – ‘n no brainer!

John ·

Trump is ‘n ongeslypte diamant, maar Clinton ‘n geslypte klippie.’n Tipies katterige tannie. Haar rooi pakkie se alles. Gevaarlik, sonder styl, aandagsoekend, oorheersend/baasspelerig. Om almal alles te beloof om te wen is onnosel verby. Diegene met slinkse planne hoop sy wen. As ons die wereld in chaos wil sien moet hulle daardie vrou instem. Haar kommunikasie-styl gaan wereldleiers die harnas injaag. Ek sal nie verbaas wees as haar ou man in skaamte die hasepad kies nie … en ook al haar withuispersoneel.

Cherokee ·

Donald Trump is ‘n regstelling waar so baie dinge verkeerd is. Vir die eerste keer in vele dekades gaan Amerika ‘n president hê wat konserwatief dink – wat gaan keer dat die VSA ‘n moslem-land word. Ek hoop net dat sy sekuriteit gereed is om hom te beskerm teen ‘n Tsafendas. Ek is soort van opgewonde oor die Amerikaanse verkiesing… om Trump in die stoel te sien.

Koos ·

Met Trump as president sal Amerika weer sy regmatige plek in die wereld inneem. Ek volg die verkiesing al van die “primaries” af en kan met groot sekerheid se: Met Hillary in die stoel is Amerika op dieselfde glybaan as Europa. Dankie tog die Engelse het betyds wakker geskrik. Maar – die liberaliste, soos oor die hele wereld, gaan nie so maklik prysgee wat hulle sedert die tweede wereldoorlog verower het nie. Kyk maar na die media soos Clinton News Network (CNN) en ‘n hele klomp ander wat in hulle sak is. So dit gaan ‘n taai en harde stryd wees.

DewaldS ·

Ag nee wat. Donald Trump gaan sonmer baie ver wen. En al die NWO lakeie (ook die in Suid-Afrika) se broeke bewe sommer lekker. As dit nie Brexit is nie dan is dit Putin en as dit nie Le Pen is nie is dit Trump. Wegkruipplek raak skaars en wanneer al die ou dingetjies eers oopgevlek gaan word….

Adoons ·

Die een kandidaat is vrotter en meer korrup as die ander – red nou ‘n nasie wat met niks beter as hierdie twee vorendag kan kom nie!

E ·

Weet jy Hendrik ek weet nie veel van Amerika se politiek nie, maar as ek moet stem dan stem ek vir Hillary. Ek glo daar sal baie geweld wees as hy wel verkies word, en moet nie die moslem gemeenskap onderskat nie. Hulle is baie invloedryk in die sakewêreld. So ja, ek hou geensins van hom sou hy in daardie posisie wees nie. Dit sal wees soos apartyd hernu, en baie akteurs en celebs het alreeds hul teenkanting oor hom uitgespreek.

Ben Prinsloo ·

Trump die “idioot” wat op n keer gesê het dat slegs 2 lande in Afrika was welvarend voordat die wereld hulle neuse in die lande kom steek het sonder om te weet hoe die sogenaamde Afrikaan nou eintlik dink en kyk waar is daardie lande vandag. Ek sal eerder sê mense wat hom kritiseer weet nie mooi waarvan hulle praat nie. Hillary moet liewers haar man en haar e – posse oppas.

Peet J ·

Hillary se gemoeidheid by die bloedige mense slagtings in Libya, Irak en Benhazi kan beslis nie voordelig beskou word as politieke ondervinding nie. Gedurende die debat het dit duidelik na vore gekom dat haar belange meer by die presidentskap lê as by die probleme wat die kiesers van Amerika tans mee te kampe het. Om Amerika van ondergang te red op finansiele gebied en op die gebied van leierskap is Trump die aangewese persoon.

suster sêra ·

Amerika verdien Donald Trump. Terloops, ek wonder of die Kardashiens gaan stem. Hulle gaan dit seker op hulle selfone doen terwyl hulle selfies neem met Rob wat ineenstort oor sy gewig … *sug*. Janee, die VSA verdien Donald Trump vir president.

Knikkebollen ·

Trump waarsku al van die vroee 80’s af presies net soos wat hy nou doen. As Trump is wat hy beweer hy is, dan is hy die eerste kandidaat in moderne politiek, wat die einde van die politieke-klas kan wees. Sy impak le nie in sy politieke vaardigheid nie, inteendeel: die bevolking is moeg vir polities-vaardige beroeps-politici wat vir dekades hul teater ten koste van gewone mense uitspeel.

gatiep ·

Mag Trump tog wen asb.
Die clintons laat vir Zuma soos n baba skelm lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.