Brexit, Trump en nou ʼn nee in Italië

vittoriano-rome-italie

Foto: Juliacasado1/Pixabay.com

Kiesers in Westerse lande is in opmars teen die ou gevestigde politieke belange wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog die politieke instellings in Amerika en Europa beheer. Oor die afgelope maande het ons gesien hoe kiesers in Brittanje vir uittrede uit die Europese Unie stem. Onlangs het die Amerikaners ʼn politieke revolusie gekies deur Donald Trump tot president te verkies.

Die afgelope Sondag se referendum in Italië kan as ʼn direkte opvolger van die gebeure in Brittanje en Amerika beskryf word. Italië se eerste minister, Matteo Renzi, se poging om die land se politieke stelsel te hervorm, deur mag by die senaat en verskillende streke weg te neem, het lelik by die stembus misluk. Die referendum het uiteindelik Sondag min oor die politieke hervormings gegaan en was eerder ʼn stem vir of teen Renzi se regering. Uiteindelik het ʼn oorgrote meerderheid van Italianers teen die gevestigde politieke belange in Rome gestem.

Aan die spits van hierdie poging was die komediant Beppe Grillo en sy Vyf Ster-beweging, ʼn sentrumregse populistiese politieke party wat skepties teenoor Italië se verdere deelname aan die Europese Unie en die Eurosone staan. ʼn Breë front van linkse en regse populistiese partye en instellings het die nee-stem tot ʼn reuse oorwinning gedryf.

Wat lê nou vir Italië voor? Die land se ekonomie verkeer reeds onder groot druk met talle banke wat binnekort kan vou, staatskuld wat buite beheer is, lae produktiwiteit, hoë vlakke van korrupsie, werkloosheid wat van die hoogste in Europa is en infrastruktuur wat verkrummel. Net soos in Brittanje en Amerika het kiesers ʼn berekende besluit geneem deur te sê veilige politiek is nie meer ʼn opsie nie. Die nee-stem Sondag was ʼn risiko wat Italianers bereid was om te neem omdat die ou gevestigde politieke partye oor die afgelope paar jaar die land se probleme eerder vererger as verbeter het.

ʼn Nuwe regering sal nou in Italië aangewys moet word. Indien ʼn regering nie gevorm kan word nie, sal ʼn vroeë verkiesing uitgeroep word. Die land is veronderstel om eers weer in 2018 ʼn nuwe regering te verkies, maar Italië is bekend daarvoor dat dié land se regerings byna nooit vir ʼn hele termyn uithou nie.

Die opmars van populistiese partye in Italië sal waarskynlik voortduur. In die noorde van Italië sal die party, Lega Nord, wat wil hê die noordelike state moet losbreek van die res van Italië, nou met meer selfvertroue hul saak dryf. Die kanse dat Italië uit die Europese Unie kan tree, het na Sondag se referendum sterk toegeneem. Die moontlikheid van referendums oor EU-lidmaatskap in talle Europese lande is nou baie groot.

Pole en Hongarye het reeds populistiese regse regerings wat skepties staan teenoor die Europese magte in Brussel. In Denemarke, Nederland, Switserland, Oostenryk en Finland loop populistiese, regse partye gereeld in peilings voor. Die skuif na regs en weg van gesentraliseerde politieke mag in Europa is nou onstuitbaar.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Loeis ·

Dit lyk of mense in hul belang begin stem. Kom ons hoop maar Suid-Afrikaners is nie soos gewoonlik tien jaar agter nie.

JC ·

Goeie kommentaar Loeis. Die “populistiese” etiket irriteer my ietwat omdat dit weereens iets is wat deur die hoofstroom polities korrekte media “thought police” uitgevind en op ons afgedruk word. Dit is veel eerder bloot net ‘n sterk skuif terug na konserwatisme (gesonde en eerlike waardes met erkenning van gemeenskaps-, kultuur-, identiteitsregte en nasionalistiese belange) en na regs (jy kan se ietwat reaksioner as jy dit dan wil etiketeer) maar NIE POPULISTIES nie, gmmf!!

JC ·

Goeie kommentaar Loeis. Die “populistiese” etiket irriteer my ietwat omdat dit weereens iets is wat deur die hoofstroom polities korrekte media “thought police” uitgevind en op ons afgedruk word. Dit is veel eerder bloot net ‘n sterk skuif terug na konserwatisme (gesonde en eerlike waardes met erkenning van gemeenskaps-, kultuur-, identiteitsregte en nasionalistiese belange) en na regs (jy kan se ietwat reaksioner as jy dit dan wil etiketeer) maar NIE POPULISTIES nie, gmmf!!!!!!

skorra ·

Sekondeer JC! Die populiste probeer beginsel-gedrewe politiek nou ‘populisties’ maak.

Populis ·

JC, ek stem saam oor die pupuliste ettiket. Eintlik per definisie is die tradisionele hoofstroom (die liberales) die populiste (hoofstroom = populer). Hoofstroom libs beskou ook die liberale siening as populer en die konseratiewe siening onpopuler. So die bibrards raak verstrengel in hulle breinspoel terminologie.

Johann ·

Ek sien nou in Duitsland het Angela Merkel ook betreffende die vlugtelinge ‘n omkeer begin maak.

jean ·

Angela Merkel moes gedink het voordat sy met ope arms die vlugtelinge ontvang het……nou sit hulle en die res van die wêreld met die papaw wat deur die fan gestrike is….. Too little too late……

Danie ·

Suid-Afrika is eerder 20 jaar agter. Ek weet nou net nie of dit agter Amerika en Europa is of agter Zimbabwe nie.

Mooi so ·

Love dit . weg met liberalisme en in met regse menings .. op ‘n stadium was dit mode om links te wees, dit was vreeslik snaaks en almal het ge-comrade en ge-brother en mekaar omarm en vasgehou .. Ons almal weet dit het nerens gewerk nie, die gebrek aan dissipline was orals sigbaar, die onwettige immigrante wat lande ingestroom het want almal is ons ‘brothers and sisters’ .. Ongelukkig is SA werklik 20 jaar agter as dit nie langer is nie . en AFRIKA leer nooit die les om van links weer na regs te val nie, hulle val links tot hulle omval en die UN hulle moet kosgee.

Louwrens ·

Ek verstaan wat met die terme “links” & “regs” bedoel word. Wat my egter bekommer is dat dit wat ek as “links” beskou, vanuit my swart buurman se perspektief , weer as regs beskou word. M.a.w. hy beskou n persoon soos Malema in die selfde lig as wat ek bv. Steve Hofmeyer sou beskou nl. “regs”. As die wereld dus na regse politiek beweeg, is dit die regse politiek van my as blanke Afrikaner, of die regse politiek van my Swart buurman…?

Merkur ·

Loeis, die Duitsers is maar net so agter die tyd as dit om hulle eie belange gaan. Een van die redes kan dalk wees dat dit, o.a. finansiëel, nog nie sleg genoeg met hulle gaan nie . Maar die tyd dat dit baie sleg, in vele opsigte, met hulle sal gaan kom definitief. (As hulle nie regtydig wakker word nie.) Hoop maar almal daar en hier kom gou genoeg tot insig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.