Cyril Ramaphosa is gʼn messias

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Deesdae stroom die doodsberigte oor die ANC met reëlmaat in. Die politieke ekonoom Moeletsi Mbeki, iemand wat nie veel liefde vir die ANC of as’t ware enige politieke elites in Afrika koester nie, het onlangs aangevoer die ANC se tyd is verby. Volgens hom het die party gedoen wat hy kon om die ekonomie te laat groei, maar moet hulle nou die leisels aan meer innoverende leierskap oorhandig. Hy glo nie die ANC kan verder bou op dit wat die party reeds reggekry het nie.

Daarbenewens het Mathews Phosa ook die stelling gemaak dat die ANC aan’t sterf is, hoewel hy egter ʼn rol wil speel om dit te red. Genl. Siphiwe Nyanda, bestuurslid van die MK-raad se bestuurskomitee, en Joel Netshitenzhe, voormalige beleidshoof in die presidensie, het desgelyks soortgelyke onlangse uitsprake gemaak. Netshitenzhe het aangedui dat die ANC nie meer die leier van die samelewing is nie en dat sy beleid van kaderontplooiing hom nou aan die agterstewe byt, soos gesien met die herrie oor Brian Molefe se heraanstelling as Eskom se uitvoerende hoof.

Wat opval van hierdie groep kritici is dat hulle almal – behoudens dalk Moeletsi Mbeki, maar sy broer was al president van die ANC en land – swart mense met huidige of voormalige bande met die ANC is. Hul kritiek kan daarom nie sonder meer verwerp word nie, want hulle is mense met binne-kennis asook ʼn historiese perspektief op, en liefde vir, die party. Daar is nog nooit in sulke strak negatiewe terme oor die ANC se voortbestaan of selfs net voortgesette leierskap van die land gepraat nie.

Cyril vir president?

Die vraag is: Indien hierdie mense ʼn punt beet het, wat sê dit van al die mense wat tans die ANC probeer lei? Dr. Nkosasana Dlamini-Zuma het reeds baie mense skepties oor haar bande met haar eksman en sy sal ongetwyfeld net die party se ondergang voortsit. Maar wat van die ander gunsteling, adj.pres. Cyril Ramaphosa?

Ek het hom in 2005 as jong joernalis ontmoet by ʼn mediageleentheid en hy is inderdaad ʼn baie sjarmante en innemende man. Baie kommentators en gewone mense, asook die media, is deesdae net te bly dat Ramaphosa hom nou sterker teen die korrupsie en verval begin uitspreek. Mens moet seker erkentlik wees oor sy nederigheid en uitgesproke kommer vergeleke met pres. Jacob Zuma se hubris en ongeërgdheid. Hy is ook een van die grondleggers van die demokratiese orde.

Hy het selfs onlangs die ANC se 3 miljoen “verlore” kiesers probeer teruglok deur om verskoning te vra vir die party se optrede. Hoewel mens deur ʼn politikus se geveinsdheid moet sien – selfs al kom hy onweerstaanbaar sjarmant voor (en ek dink hy eerder die kiesers wat wel nog vir die party stem om verskoning moet vra) – is sy nederigheid en opregtheid eerlikwaar verfrissend en selfs effens vreemd.

Afgesien van hierdie interpersoonlike deugde, skort daar egter iets dieperliggends by hom om die land op die regte spoor te plaas. Die probleem is dat hy so ingebed is in die ANC dat hy maar net weer, die mooi beloftes ten spyt, die land in die steek gaan laat en sy party bo die land stel.

Sy toespraak in April by die Black Business Council bewys dat hy bloot dieselfde ou retoriek en mislukte beleidstellings herhaal wat voorheen deur die ANC, en mnr. Zuma in die besonder, gepropageer is. Dit was ʼn omvattende toespraak wat gesien kan word as ʼn soort verhandeling oor sy bedoelinge as presidentskandidaat. Hy het uitdruklik sy steun vir radikale ekonomiese transformasie uitgespreek en gesê meer sistematiese optrede deur die regering word benodig om dit tot uitvoer te bring. Die tempo en omvang van die intervensies moet vermeerder word, aldus Ramaphosa.

Hy het wel in hierdie toespraak melding gemaak van samewerking met ander sosiale vennote (soos die burgerlike samelewing en die private sektor) asook die etiese bestuur van openbare hulpbronne, maar dit is grootliks dieselfde boodskap wat Zuma in elkeen van sy staatsredes oor die afgelope agt jaar gegee het. En daar het, om eerlik te wees, dadels van gekom. Die rede hiervoor is omdat die ANC nog nooit die oorgang van ʼn bevrydingsbeweging na ʼn moderne politieke party gemaak het nie en daarom nie oor die operasionele vermoë en wil beskik om die ekonomie ordentlike stukrag te gee nie.

Die nasionale demokratiese rewolusie as ideologiese leier vir die ANC is ʼn dwaas-idealistiese stuk uitgediende kommunisme en het, onder die dekmantel om die swart armes op te hef en armoede te bestry, bloot die ANC as roofdier in die staat en samelewing vastrapplek gegee. Dit is iets waarin geen moderne politieke party of leier behoort te glo nie. Maar te oordeel na Ramaphosa se onlangse opmerkings daaroor in Colesberg in die Noord-Kaap, is hy net so verknog daaraan soos Zuma en Gwede Mantashe. “Die ANC is vandag ’n breë kerk omdat dit ’n groot verskeidenheid van mense byeenbring in nastrewing van die doelwitte van die nasionale demokratiese rewolusie,” het hy volgens Rapport gesê. Hy het soortgelyke aanmerkings telkens oor die afgelope paar maande herhaal en sy huidige gedrag herinner aan die Jacob Zuma van tien jaar gelede.

Radikale nuwe idees

Deur oënskynlik goeie doelwitte te identifiseer beteken nie jy het die regte middele om daarby uit te kom nie. Ons het al gesien hoe die ANC se middele heeltemal ander gevolge het as wat sy verklaarde doelwitte beoog het. Wat Suid-Afrika nou nodig het, is vars nuwe idees en ʼn konsekwente toepassing daarvan om ons huidige trajek aanmerklik te wysig. Ek is jammer, maar ek sien niks in Ramaphosa se uitlatings wat hom radikaal van Zuma en die res van die ANC onderskei nie. Ek sien net meer gemeenplase oor swart bemagtiging (wat in praktyk net op kornuit-kapitalisme en korrupsie neerkom en meer goed as kwaad doen), verskerpte staatsinmenging en regulasies, en pypdrome oor radikale ekonomiese transformasie en herverdeling. As jy ware ekonomiese transformasie teweeg wil bring, benodig jy radikale nuwe idees. Daardie idees is nie deel van die DNS van die ANC nie en klaarblyklik ook nie van Ramaphosa sʼn nie.

Ek sien nie dat hy van plan is om die Cosatu-vakbonde (wat tans een van sy sentrale steunbasisse is) en veral Sadou in die bek te ruk sodat die skoolstelsel reggeruk kan word nie. Hy is die man wat die nasionale minimum loon bewerkstellig het wat duisende werkers se werk in die gedrang gaan bring en klein besighede se deure sal laat sluit. Ek sien niks oor versoening, die bevordering van die vrye mark of belastinghervorming nie. Die feit staan vas dat hy al vir lank deel van die ANC is en dus die party se plunder en korrupsie al vir ʼn wyle geduld het. Hy is trouens Zuma se adjunkpresident en moes lankal bewus gewees het van die onregte en probleme in die regering, land en ANC. Maar hy het gewag tot groot dele van die publiek kwaad genoeg was en toe besluit om behoedsame kritiek uit te deel terwyl hy nie aandui watter moedige en taai besluite hy gaan neem om die skip om te keer nie.

Die ANC kan vir homself dalk nog tyd koop deur vir Ramaphosa as sy leier in Desember aan te wys, maar Suid-Afrika met enige ANC-leier aan die stuur gaan die verloorder wees. Ramaphosa is geen uitsondering nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

janneman ·

Stem 100% saam. Die probleem, vir elke kieser in hierdie land, is dat elke ander party die foute van die ANC kritiseer, maar niemand stel voor hoe om ding anders te doen nie. Elkeen van die opposisie partye het so afgewaterde beleid van wat hulle NIE sal doen nie, maar geneen gee n goeie riglyn van wat hul wel gaan doen om die land op te hef nie. Dit is wat nodig is om kiesers te swaai.

Nico K ·

Die vraag is wie anders. Hy sal minstens beter wees as Zuma. Die kans dat die ANC ‘n verkiesing gaan verloor kan julle maar van vergeet. Die groot massas, armes, plakkers en mense op die platteland sal steeds vir die ANC stem of dan vir die EFF, wat nog erger is. Iamand waarmee ons tevrede gaan wees sal ons nie kry nie.

Basson ·

Korrek – daar is veral ‘n seker groepering onder ons wat al sy heil besing van 1995 af, min wetende hoe hy Roelf, Dawie ens totaal ore aangesit en basies van die kaart (en by implikasie ek en jy) afgevee het.
Hy is ‘n ANC Comrade in murg en been – hou dit maar in gedagte vir die toekoms.

Hendrik ·

Soos ek gister genoem het is die probleem by die grondwet wat te veel magte gee aan die president. Vra maar vir grondwet kenners soos Prof Koos Malan. Die minderhede word nie beskerm in die grondwet nie en moet gebruik maak van burgerregte groepe soos Afriforum, OUTA, Right to know campaign, ens om hulself te beskerm teen die regeerders. Die grondwethof is gekaap deur die elite. Die gewone minderheids kiesers kan net by die stembus hul mening lig en soek gedurig hulp orals om hulle te red. Hulle identifiseer mense soos, Angus, Steve, Zille, Moesie en slef Trump om te red wat te red is. Hulle dink aan Ramaposa en nou onlangs wou die mense die burgemeester van Pretoria (naam vergeet) as president kry net omdat hy ‘n normale ding gedoen het soos om nie die spul BMW’s vir die politici te gee nie maar wel aan die Metro polisie.

Oudste ·

Die ou gesegde wat se dat voels van eenderse vere…… My opinie is dat, nadat ek gelees het van die ANC Jeugliga wat nou weer spoegspat vry na Julias en se kom terug huis toe ons verlore broer, niks, maar niks die ANC gaan keer in hulle pogings om aan bewind te bly nie. so, ‘n koalisie tussen die EFF en ANC is glad nie so vergesog soos wat sekeres dit probeer uitmaak nie.

pieter ·

STEM SAAM KEN HOM VANUIT MYJARE IN DIE MYNBEDRYF.HIERDIE SKIP GAAN EERS SINK DIT HET BEGIN BY DE KLERK EN SY NP BROERS,EK SE WEER BUITELANDSE SANKSIES IS AL WAT ONS KAN RED.

Henry ·

Dankie Eugene Brink!
Pitkos soos gewoonlik.
Kenmerkend dat vanuit Afriforum en Solidariteit geledere sinvolle skryfsels gelewer word oor die werklikhede wat ons in die gesig staar.

Bangbroek ·

Ons in die algemene publiek-geledere, die stille minderheid, het destyds gevoel dat Mandela met die verkeerde man voortgaan toe Mbeki oorgeneem het. Ons het Ramaphosa as die “lesser of two evils” gesien.
Dit is maar steeds so.
‘n Slim vrou het vir my gesê sy en haar familie ondersteun nou die DA, want hulle is almal ryk mense, hulle het nie nodig om SA se geld te steel nie.
Mens kan dit miskien van Ramaphosa ook kan sê?

cjm ·

Sy uitlatings is kommerwekkend. Onlangs het hy ZanuPF se lofgesange in Zim gesing. Hy wil grond terugee aan die regmatige eienaars (waar was hy toe die grondwet onderhandel is?). Hy staan egter nie ‘n kans om verkies te word as hy te gematig voorkom nie. Miskien is alles ‘n slim plan om president te word en alles dan reg te ruk. Hy is diep by die mynbase en die Afrikaner establishment ingekruip via Roelf. Ek kan nie dink dat hulle nie hom van raad en strategie sal bedien nie. ‘n Mens moet gevolglik maar in gedagte hou dat sy hart moontlik nie in sy uitsprake is nie. Of sy presidentskap die land sal red, weet ek nie. Ek dink nie die Engel Gabriël self sal veel kan vermag teen die populiste wat die ANC gekaap het nie. Dit moontlikheid bestaan seker dat die land in so ‘n finansiële gemors sal wees dat voorwaardes deur die IMF noodgedwonge gevolg sal moet word. Zim key dit egter reg om voort te ploeter selfs onder haglike omstandighede sonder ‘n merkbare verbetering. Nie baie lig op die horison nie.

Heinrich ·

Die een ding wat ek raak gelees het was was die ‘liefde’ wat mense het vir politieke partye. Dit is hier waar die probleem inkom, want demokrasie is nie ‘n hart-saak nie maar ‘n kop-saak. Met elke verkiesing is die kieser veronderstel om ‘n evaluasie te maak van die rigting waarop die party is waarvoor hy vantevore gestem het, is dit nog in die rigting wat hy as kieser die land wil sien beweeg. Het die party al sy vorige verkiesingsbeloftes nagekom? Indien wel, stem weer vir die party. Indien nie, stem vir ‘n ander party met ‘n beter visie. Dit is tog die doel van demokrasie; kies met feite en nie met gevoel nie. Tog word die kiesers in Suid-Afrika met allerhande bollie stories gevoer en wanpersepsies is aan die orde van die dag. Met ‘n gemiddelde IK van 77 in Suid-Afrika kan daar daarom moeilik verwag word dat kiesers ‘n intelegente kop besluit kan maak in plaas van ‘n emosionele hartsbesluit. Voeg hierby in dat ‘n groot gros nie die luukse het van ingelig te wees deur die internet en uitstekende artikels soos hierdie nie, data is onbekostigbaar. Hulle word gedryf deur emosionele retoriek en hoop op ‘n gratis t-hemp en pakkie kos (en vrees vir voorvadergeeste). Gepraat van voorvadergeeste; dit staan lynreg teenoor Christelike waardes waarop ons regsboeke gegrond is. Punt is: as jy nie intelligent genoeg, ingelig genoeg, met ‘n gevestigde beskaafde waardestelsel is nie, gaan jy maar met jou hart ipv kop moet stem.

Jacobus Kotze ·

Cyril het geen harde werk vir sy miljarde gedoen, net lekker die BEE-perd gery, hy en swaer Patrice Motsepe. Hy het “wettig” gesteel, en behoort nog genoeg te hê.

wil net sê ·

Jacobus, dit is presies wat ek wou sê! Dit sê baie!!!

Gideon ·

As ek aan Ramaphosa dink, dink ek dadelik aan Roelf Meyer. Ramaphosa ‘n redder? Jy moet of dom of naief wees om dit te glo. Hy is waarskynlik strate beter as Zuma. Vra vir Roelf, dalk weet hy (hang net af met watter deel van sy tong hy praat).

Vierkleur ·

Net die herstel van die Boere Republieke sal aanvaarbaar wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.