Die presidensie ʼn strategiese magsentrum?

Pres. Zuma. Foto: Chester Makana/ANA

Pres. Zuma. Foto: Chester Makana/ANA

Deur Jeannette Gnade

Een van die voorstelle wat op die ANC se beleidskonferensie in Junie bespreek sal word, is om die presidensie in ʼn strategiese magsentrum te omskep wat beleidsrigtings en die toekenning van hulpbronne beheer.

Dit is waarskynlik die duidelikste aanduiding nóg dat geldbeheer uit die Nasionale Tesourie se hande geneem en na die president en sy uitgebreide kantoorkorps oorgeplaas moet word. Die ANC se beleidshoof, Jeff Radebe, sê die voorstel moet vertolk word teen die agtergrond van die Nasionale Ontwikkelingsplan wat nie kan vorder as daar nie ruimskoots voor begroot word nie.

Pres. Jacob Zuma het al ʼn paar keer gekla dat die Tesourie ʼn struikelblok in die pad van radikale ekonomiese transformasie is. Radebe meen die NOP sal ʼn illusie bly as daar nie drasties ʼn begrotingshervorming plaasvind nie. Hy sê die Tesourie kan steeds die begrotings toewys, maar die president se kantoor moet ʼn mandaat hê om oor die vernaamste prioriteite te besluit. Die presidensie moet ook die reg hê om die staatsdiens in ooreenstemming met die kernprioriteite van die staat te bring en alle sfere van die regering – wat staatsinstellings insluit – te koördineer. Dit sal glo ʼn einde bring aan swak leierskap en bestuur in staatsentiteite soos die SAL, Eskom, Transnet en die SABC.

Die bekende Romeinse satirikus, Juvenalis, het die uitdrukking “en wie pas die wagters op” beroemd gemaak. Dit is wat elkeen in die land ook wil weet. Wie gaan toesig hou oor ʼn president as sy kantoor ʼn magsentrum word? Aan wie gaan hy verslag lewer as sake ernstig verkeerd loop?

Die huidige president was al soveel keer by skandale en onreëlmatighede betrek dat die blote gedagte aan ʼn presidensie met ekonomiese oppergesag verbysterend is. Gedurende die Zuma-administrasie kon selfs die onafhanklikste gesagsowerheid hom nie in toom hou nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke is lankal onder sy beheer en sy lojaliste is blind vir sy optrede – solank hulle ook daarby baat. Voeg daarby die Nkandla-sage, die Guptas se inmenging in staatsake, die ondeurdagte afdanking van ʼn bekwame minister van finansies, die vroeë vrylating op mediese parool van Zuma se eertydse finansiële adviseur, Schabir Shaik, die regering se omstrede wapenaankope, die nie-verklaring van bates en die wydverspreide korrupsie op al drie regeringsvlakke.

Die president en sy poligame huishouding leef soos die adelstand. Een van die Zuma-vroue word met blink swart motors en polisiemanne op motorfietse na ʼn hospitaal begelei net om plastiese chirurgie te ondergaan. ʼn Mens wonder hoekom die president nog enigsins die moeite doen om die magsentrum waaroor hy reeds beskik, amptelik te maak. Of is daar ander sogenaamde prioriteite ingevolge die Nasionale Ontwikkelingsplan waarvan ons nie weet nie – soos ʼn Russiese kernkragstasie op eie bodem?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Miskien moet ons geagte keiser-in-wording genoeg papiergeld druk en baie goudmunte (terwyl daar nog ‘n paar steentjies in die reserwe-kluise oor is) want groot eise kom van boere wie oa grondbelasting betaal het op grond en lenings afbetaal het aan die nou glo skielike staatsgrond en veral baie verbeteringe daarop aangebring het oor die afgelope 350+ jaar. Indien dit dan nou glo eintlik aan die ANC behoort maar dat die boere gerieflikerwys in die duister gehou is sedert 1652, ook sedert 1910 maar veral die afgelope 22 jaar en die staat nou eers as die eienaar uitgewys word. Volgens die huurwet betaal die eienaar die grondbelasting en verbeteringe en die regering moet dus uithaal-en-wys vir al die eeue se bydraes van die kamma-eienaars. Verder moet ‘n eiendom terugbesorg word aan die regte eienaar in die toestand wat dit gekry is. Hiervolgens moet die boere die bestaande geboue, lande ens gelyk maak met die aarde veral omdat die geheime eienaar ook nie geken is of kon word tov verbeteringe nie. ‘n Wilde wereld sal terug besorg moet word met ‘n paar honger leeus en Boesmans met gifpyle (die boere sal wel iewers die eintlike base van die grond opspoor). In laasgenoemde geval sal ‘n paar goudstawe dalk net help om die aarde soos dit in 1652 was, terug te ruil. Ons hoop nie die keiser stap kaal uit na sy planne vir grondgrype sonder vergoeding nie…

arie ·

Nou dat ek daaroor dink is dit duidelik dat Pravin Gordhan n uitstekende begroting opgestel het, maar wat slegs probeer om die status quo te handhaaf.
Hy kon ook nie anders nie, want daar bestaan GEEN geloofwaardig plan om die land vooruit te neem, in ooreenstemming met vereistes soos beskryf in die Grondwet, nie.
Die planne wat wel bestaan is duidelik daarop geskoei om die soustrein te befonds en dit het Gordhan duidelik ingesien en nie daarvoor begroot nie.
Vanwee die korrupte houding van Namawhan kan daar geen wisselwerking tussen hom en Dept van Finansies wees nie. Geen wonder die staat se ontwikkeling is besig om te stagneer.
Die amptenare in RSA kom dood-
eenvoudig nie hul ampseed na nie.
Sou daar n beter begrip, aanvaarding en pligsbesef by die amptenary bestaan teenoor vereistes van die Grondwet dan sou hierdie land gegrens het aan n staat van Utopia.

Johannes Meintjes ·

‘n Enkele Kleptokratiese Roofdierstaat-magsentrum is na mening van min demokratiese waarde en gaan allermins die Nuwe SA beter vir almal maak. Inteendeel. Maar dit kan moontlik as voorbeeld en motivering dien waarom minderheids-kultuurgroepe in SA wie die selfbeskikkingskeuse wil uitoefen dan geregtig sou wees om ook hulle eie magsentrums, insluitende belastings vir hulle selfbeskikkingsadministrasie, skole, universiteite, hospitale, infrastruktuur en dienste te beheer.

Rynhardt ·

Belastingbetalers (julle wat onderdruk word) se geld word gebruik om Zuma se vroue ens. in deftige swart motors te begelei na hospitale en winkelsentrums.Te veel plaaslike-en internasionale maatskappye ondersteun die Anc finansieel om sy onderdrukking te handhaaf.Niemand hou wag wanneer dit kom by Anc nie, terwyl daar vinnig na n polisie-staat beweeg word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.