Die reg om ʼn Afrikaner in Suid-Afrika te wees

SAvlag

Suid-Afrikaanse vlag. Argieffoto.

Met drie verkiesings wat in die volgende paar maande in Europa voorlê (Nederland, Frankryk en Duitsland), is ’n belangrike ideologiese vraag aan die orde: Wie is deel van die volk?

Dis ’n vraag wat swanger is aan implikasies vir die wittes se toekoms in Suid-Afrika.

Wanneer die regse ekstremiste in Duitsland betoog, dreunsing hulle graag: Wir sind das Volk! (“Ons is die volk!”)

Die frase is ’n eggo van wat demokratiese betogers in die laaste weke van die ou kommunistiese Oos-Duitsland se bestaan geroep het. Destyds het hulle bedoel dat húlle die gewone burgers is, die mense wie se wense en belange by die leiers deurslaggewend behoort te wees. Immers, die kommunistiese diktatuur het die “volk” in die praktyk totaal geïgnoreer.

Deesdae gebruik die regses dit in ’n etniese sin. Hulle bedoel die gebore (wit) Duitsers is die “volk”. Die nuutkommers uit die Midde-Ooste en die Derde Wêreld vorm nie deel daarvan nie en hoort nie in Duitsland nie.

Vir sulke mense het bondskanselier Angela Merkel die naweek op ’n byeenkoms van haar Christen-Demokrate in die stadjie Stralsund ’n antwoord gehad: “Daar is geen regverdiging vir die kwessie dat klein groepe in ons samelewing hulle die reg aanmatig om te definieer wie die volk is nie. Die volk is elkeen wat in hierdie land leef.”

Dieselfde vraag – wie is die “volk” – word ook in talle Westerse lande, van Nederland en Frankryk tot Swede, Oostenryk en veral Amerika, gestel.

Anders gestel, wie bepaal die karakter van ’n land? Die oorspronklike bevolking? Mag immigrante eise wat met hul identiteit verband hou, stel? En wanneer hou mense op om immigrant te wees? Wanneer – indien ooit – word hulle deel van die “volk”?

Dié vraag is van meer as net akademiese belang vir Suid-Afrika en sy heterogene bevolking. Is die wittes, en dan veral die Afrikaners, deel van die “volk”, soos hierbo gedefinieer? Is hulle nog steeds maar setlaars, of het hulle inheems geword?

Afrikaners hou daarvan om hulself as inheems te sien. Hul naam, en dié van hul taal, weerspieël hul verknogtheid aan Afrika. Sonder die band met Afrika sal die nakomelinge van diegene wat hulle – dikwels om verstaanbare redes – elders in die wêreld gevestig het, binne ’n geslag of dalk twee ophou om Afrikaners te wees.

My eie voorsate het in 1720 uit die weste van Pruise in die Kaap aangekom. Ek is die negende geslag in Suid-Afrika, en ondertussen is daar al klein mensies van die elfde geslag.

As afgetredene woon ek ter wille van my Nederlandse vrou in haar land, maar ek sal nooit in der ewigheid iets anders as ’n Afrikaner kan wees nie.

Ek beskou myself dus as inheems, as deel van die “volk” (waarmee ek dit wyer as net die “Afrikanervolk” definieer).

Maar dié gevoel, wat 99% van die Afrikaners waarskynlik met my deel, weerklink nie in die hart van sommige swart Suid-Afrikaners nie. En dan bedoel ek veral die EFF, maar ook die Afrikanistiese vleuel van die ANC.

In die Weste word daar druk gedebatteer oor die inkommers uit ander wêrelddele. Mag Moslem-vroue in hul Midde-Oosterse gewade, wat hulle van kop tot tone bedek, rondloop? Wat van sluiers wat net die oë ooplaat, soos in Saoedi-Arabië?

Wat moet ’n mens dink van die moskees in talle stede? (Dit juis in ’n tyd dat die Europeërs, ook die regse ekstremiste, al hoe minder kerk toe gaan, en talle kerke hul deure moet sluit.)

Die inkommers bondel om verstaanbare redes – soort soek mos maar soort – saam in sekere buurte in die stede, meestal agterbuurte. Dit gee ’n mens soms verkeerdelik die idee dat die Moslems Europa se karakter aan die oorneem is.

En dus vrees talle Europeërs dat hulle deur die Moslems ondergeploeg word, dat hulle vreemdelinge in hul eie land word. Dit is een van die redes waarom regse partye vorder, al is dié ver van ’n egte deurbraak.

Streng objektief beskou, is die vrees oordrewe – volgens die gerespekteerde Pew-navorsingsentrum het Moslems in 2010 6% van die Europese bevolking gevorm. Die studie se projeksie is dat dit teen 2030 tot 8% en in 2050 tot 10,2% sal toeneem.

Dit is lank nie genoeg om die vasteland te ondergrawe nie. Maar dié koue statistieke en objektiewe waarheid neem nie die subjektiewe vrees weg as mense ’n klomp Moslem-gewade op straat sien nie. En dus word dié subjektiewe vrees, veral in verkiesingstyd wanneer populistiese politici die werklikheid oordryf om stemme te wen, ’n objektiewe politieke feit.

Die punt is dat sommige mense nie die Moslems as deel van die “volk” sien nie, al sê Merkel ook wat. “Hulle” is nie deel van “ons” nie, en daar is ’n onoorbrugbare kloof tussen “ons” en “hulle”.

Die vraag is nie hier wie reg of verkeerd is nie; die doel is bloot om die verskillende persepsies te ontleed.

Op ons eie situasie in Suid-Afrika toegepas: Ons Afrikaners beskou onsself as inheems, as deel van die “volk”, om maar dié begrip op dié manier te bly gebruik. Ons is permanent in Suid-Afrika, wat net soveel ons vaderland is as van wie ook al.

Maar Malema en die Afrikaniste in die ANC sien dit anders. Hulle sien ons min of meer in dieselfde lig as wat die Europese regses die Moslems daar beskou – indringers wat elders tuishoort.

Die Moslems moet maar weer padgee na die Midde-Ooste. Die Latyns-Amerikaners in Amerika moet terug na waar hulle vandaan gekom het. Die wittes in Suid-Afrika moet terug na Europa.

Wat moet ’n mens van dit alles maak? Sommige Afrikaners simpatiseer begryplikerwys met die Europese regses. Maar hulle besef nie mooi dat daardie regses se standpunt in beginsel ooreenstem met dié van die Afrikaniste in Suid-Afrika nie.

Is die antwoord nie dat ons moet aanvaar dat ’n etnies en kultureel homogene samelewing, vir sover dit ooit regtig bestaan het, vir altyd verby is nie? En dat mense mekaar dus – soos die Christelike godsdiens trouens vereis – met respek moet verdra nie?

Bowenal, moet ons nie mekaar die reg om ánders te wees gun nie? Soos dat ek as Afrikaner met ’n Wes-Europese kulturele agtergrond die wêreld nou eenmaal anders sien as ’n gemiddelde swarte?

Gee my as Afrikaner die reg om ’n Afrikaner in Suid-Afrika te wees. Is dit te veel gevra?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leendert ·

Malema en die ANC haat die wit mense se sukses verhale en hul westerse waardes wat hulle nastreef. Wit mense hoort volgens die sienswyses wat hulle pas (Malema en die ANC) nie in Afrika nie, want die wit mense is meerderwaardig. Dan is dit maklik vir hulle om die wit mense etikette om die nek te hang, die geskiedenis te verdraai en die wit mense ongewens en as settelaars uit te kryt. As hulle dit laat vaar, stort hul politieke kaarthuis in duie.

Ampie ·

Die Moslems wat uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika na Europa stroom is maar ‘n jaar of twee jaar, Afrikaners reeds 350 jaar. Daar is nogal ‘n verskil. Sommige radikale Moslems in Europa blaas mense met bomme op, skiet hulle soos rondloperbrakke dood en jaag hulle met vragmotors om. In Suid-Afrika lees ons daagliks (net op Maroela Media) van ou witmense wat gemartel en vermoor word – deur swart rowers. Dis ‘n reuse verskil. Die argument maak dis nie sin nie.

SkarrelKind ·

Ampie – ek het nie so daaraan gedink nie; en ek het die artikel geniet, maar ek moet met jou saam stem – wat nou in die wêreld gebeur met Moslem ens. is nie dieselfde as hier by ons nie. Ons storie is honderde jare oud, hulle het die ander dag oor grense heen begin oorstroom.

Leopold Scholtz ·

Beste Ampie, Natuurlik is jy reg, daar is ‘n groot verskil in die situasies. Maar jy sien nie raak wat ek probeer aantoon nie. Ek het immers uitdruklik geskryf dit gaan nie hier om wie reg of verkeerd is nie; dit gaan om die verskillende persepsies. Die Moslems is nou eenmaal in Europa – en die eerstes het al in die laat vyftigs daar begin aankom; dis nie net van die laaste jaar of twee nie. Hulle is daar, en daar gaan hulle bly. Teen daardie agtergrond is die vraag wat gestel word: Is hulle deel van “die volk”? Daar is talle mense wat, reg of verkeerd meen van nee, omdat hulle vreemdelinge is. Net so word ons ook, reg of verkeerd, as vreemdelinge en indringers deur die Afrikaniste ervaar. My gevolgtrekking, wat jy blykbaar heeltemal misgekyk het, is dat ons almal mekaar die reg moet gun om anders – jouself – te wees. Daaroor kan ek en jy tog saamstem, of hoe? Lekker dag.

JC ·

Die EFF en ANC vergeet gerieflikheidshalwe dat swartmense ook koloniste is in SA!
Intussen word Boere Afrikaners wreed vermoor op plase!! Hulle kan vergeet om ons grond te vat. Ons sal klou soos neute verewig want SA IS ONS LAND!(ook)

Anoniem ·

Leendert, ek sou eerder sê die NC en Malema is JALOERS op wit mense se suksesverhale. Omdat hulle egter die wittes se westerse waardes haat wat die wit sukesverhale tot gevolg het, sal hulle nooit hulle eie suksesverhale kan skryf nie. Daarom dat hulle summier wil hê die wittes moet hul sukses met die swartes deel (gee). En die wittes wil nie, want wie wil iets waarvoor hy hard gewerk het, sommer net weggee?

LW: ek gebruik growwe, growwe veralgemenings.

chrisp ·

Wie is deel van ‘n volk?
As jy praat van die Afrikaner,Zoeloe,Duitse, ens volk wat sien jy?Die gedagte om volke te verwoes of te verander is maar deel van die liberale wereld.Wat uiters kommerwekkend is,is dat juis die westerse volke die is wat hulle volkswees moet herdefinieer.

Wat die setlaar storie aanbetref is die wereld vol van verskillende volke as setlaars.Almal is dus volgens my setlaars.In die RSA oa die Afrikaner,Zoeloe en al die res.Die setlaars het hulself gevestig in homogene groepe in gebiede ,hierdie gebiede is deur liberale leiers en denkers verander in een reenboogland en nou word die vraag gevra wie is die volk, want hulle wil mos nou een skep omrede hulle nou die “land” geskep het.Hoe kan die mense ‘n hetrogene land skep an dan nog se wie is die of daai volk na aanleiding van hul eie skepping?Dit is volksmoord.Indien ‘n mens die oefening tot sy uiterste vat in stappe is die plan mos duidelik.’n Suid-Afrika volk(soos dit blyk die skrywer wil),dan hoekom nie ‘n Suiderlike Afrika en dan Afrika om weer verder ‘n wereld volk te propageer nie. Waar gaan die skrywer se vraag oor wie is die volk nou eintlik stop ? By ‘n wereld volk?Indien nie waar dan?

Volgens my het volke deur die geskiedenis grond bekom hetsy deur oorlog of ooreenkomste. Deur grond( grense) weg te vat ontneem jy die volk grootliks van sy volkswees.

Francois Fouche ·

Dr L. Dit is n interessante onderwerp. Ek dink U oorvereenvoudig dit heeltemal. Daar baie ander vrae wat gevra kan word en dit word tans deur die Weste gevra. Snaaks dat die Afrikaner die wereld voor is op die gebied (ons vra die vrae al oor 320 jaar). As jy n Afrikaner slegs op grond v minderheid status wil skuif dan kan wit konserwatiewes mos dieselfde doen met swart amerikaners, want die kwessie gaan nie daaroor of jy n uitlander is of nie. Waaroor dit gaan, daardie kwessies sal spoedig na die oppervlak kom. Wat is die waarde wat daardie persoon tot die land, gemeenskap en ander gemeenskappe bydra. Dit is waar kulture misluk. As jou kultuur (velkleur het geen invloed) goed afbreek en misdaad veroorsaak soos wat dit was waar jy vandaan kom dan gaan niemand van jou hou nie. Sien die vraag is wat jou waardesisteem is en dit is subjektief? Miskien is jy vrot want jy kom uit n vrot omgewing omrede jou kultuur sleg is. Die gevolge is objektief vir almal om resultate te sien. Daar is reg en verkeerd, die res is leuens. Teleurgesteld dat Dr L in Nederland bly. Hopelik nie weens makliker opsies nie. Die res van ons Afrikaners bly in n land verswelg met n kultuur van misdaad en korrupsie.

Leopold Scholtz ·

Beste Francois, lees ook my antwoord hier bo op Ampie se bydrae. Jy belig ‘n element van die situasie wat nie ontken kan word nie, maar dis darem alte eenvoudig geformuleer. Die punt is dat immigrante dikwels om welke rede ook al permanent as indringers beskou word – dis hoe Malema, reg of verkeerd, ons sien. En hoe jy die saak ook al wil bekyk, die Moslem-minderheid is nou permanent ‘n deel van Europa. Dis hoekom my gevolgtrekking is dat ons mekaar se reg moet erken om anders – onsself – te wees. Groetnis

Elizabeth ·

As die ravyn tussen mense se waardestelsels te diep gaap , word saamleef onverteerbaar.

Leopold Scholtz ·

Beste Elizabeth, jy het ‘n punt beet in soverre saamleef uiters moeilik word waar die waardestelsels baie verskil. Dis hoekom ‘n belangrike deel van die openbare debat in Europa draai om die noodsaak dat die Moslems hulle aan die Europese norme en waardes moet aanpas. Maar sowel in Europa as by ons woon daar nou eenmaal meer as een groep. As ons nie mekaar se regte erken nie, is die alternatief oorlog. Ek neem aan dis ook nie wat jy soek nie.

Johann ·

Dr Leopold, en die dag as praat nie meer help nie, juis waar ons ‘mekaar’ se regte nie erken nie, wat dan, as dit onafwedbaar geword het. Op hierdie stadium kom al die erkenning net van een kant af. die anderkant verguis dit, nou bykans vir 20 jaar.

Magda ·

Ek is trots Afrikaans en n AFRIKANER. Malema en sy volgelinge sal nooit Afrikaners wees nie. Ek is n AFRIKANER deur geboorte, agv my eiesoortige kultuur wat insluit.. kultuur, taal en godsdiens en as jy dit nie aanvaar nie, kan jy nie n AFRIKANER wees nie. Mens word so gebore, dis nie iets wat jy word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.