Die Stockdale-paradoks en Afrikaners

godsdiens-bybel-gebed-unsplash-pexels

Foto: Unsplash/Pexels.com

Deur Christoff van Wyk

Om in geloof te glo dat ‘n mens ‘n uitdaging uiteindelik te bowe sal kom ongeag wat gebeur, maar steeds die moed aan die dag te lê om die harde feite in die gesig te staar, is ’n rare verskynsel, veral – so wil dit voorkom – onder sekere Afrikaners en Afrikanerorganisasies.

Admiraal James Stockdale was ʼn offisier in die Amerikaanse weermag wat tydens die Viëtnam-oorlog gevange geneem is en vir byna agt jaar lank aangehou is. Stockdale, wat tydens sy gevangenskap meer as 20 keer gemartel is, skryf in sy boek oor hierdie ervaring dat hy nooit getwyfel het dat hy sal vrykom nie, maar ook dat hy geweet het dat dié ervaring hom sou verryk vir die res van sy lewe.

Die bekende Amerikaanse besigheidskonsultant, Jim Collins het tydens sy navorsing vir sy boek, Good to Great, met Stockdale ʼn onderhoud gevoer en na aanleiding hiervan die sogenaamde Stockdale-paradoks neergepen. Collins het tydens sy onderhoud vir Stockdale gevra wie van sy medegevangenes nie oorleef het nie en sy antwoord was eenvoudig: die optimiste. Stockdale verduidelik dat die optimiste aanhou glo het dat hulle vrygelaat sou word teen ‘n sekere tyd, en wanneer dit nie gebeur nie, hulle teleurgesteld was. In sy eie woorde: “And they died of a broken heart.” Hul geloof was daar, maar nie hul vermoë om die harde feite van hul situasie in die gesig te staar nie.

Wat kan ons as Afrikaners hieruit leer?

Eerstens dat geloof die kern moet vorm van ons plan om in Suid-Afrika te oorleef. In dié verband is Afrikaners bevoorreg omdat ons ‘n ryk Christelike tradisie het waarop ons kan voortbou en nie nodig het om geloofspronge in die onbekende in te maak nie. Ons kan nooit hierdie geloof verloor nie, want dit sal die einde van Afrikaners beteken.

Tweedens sal Afrikaners die vermoë moet aanleer om die harde feite in die gesig te staar en dan, ten spyte daarvan ‘n vaste geloof te hê in ‘n positiewe uitkoms, al is die spesifieke tyd wanneer dit gaan gebeur nie seker nie.

Dit blyk toenemend moeilik te wees. Ons sus onsself gedurig deur ons hoop te plaas op verkiesings of hofsake of selfs politieke leiers en hul partye. Dié verskynsels kom en gaan, maar dit is die mense wat hul hoop hierop plaas wat uiteindelik moed verloor en as’t ware doodgaan van ‘n gebroke hart.

Ons sit tans in die gevangenekamp met geen vooruitsig oor wanneer ons hier gaan uitkom nie. Ons het politieke mag verloor. Ons is besig om teen ‘n geweldige tempo ekonomiese mag te verloor. Ons is ook besig om ons mense te verloor deur emigrasie, lae aanwas en ook as gevolg van assimilasie, veral onder die jeug.

Stockdale en sy medegevangenes het egter nie ledig rondgesit tydens hul gevangenskap nie. Hulle het onder meer hul eie morsekode ontwikkel om ongemerk te kommunikeer en mekaar moed in te praat, maar ook ‘n gedragskode ontwikkel wat toegepas is wanneer hulle gemartel is om sodoende die marteling so goed as moontlik te deurstaan. Hierdie en vele ander klein handelinge tesame met hul geloof het uiteindelik die momentum verskaf wat nodig was vir hierdie mans om aan te hou en uit te hou.

Uiteindelik is daar twee goed wat ons voor oë moet hou:

  1. ‘n Vaste geloof in die drie-enige God en dat dit sy wil is vir Afrikaners om in Suid-Afrika te oorleef; en
  2. Dat ons nie ledig kan rondsit nie, maar betrokke moet wees by aktiwiteite en organisasies soos die Solidariteit Beweging om sodoende elke dag positief by te dra tot ons einddoelwit.
  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

A ·

Ek stem saam. Ek het hierdie bemoediging nodig gehad. Baie dankie.

MCH ·

Objektiewe berig. Weerkaatsende katogies op die donker snelweg waarop ons, ons bevind. Mag ons in Sy lig voortwandel met n onwrikbare geloof in Sy plan vir ons. “Die Here het gegee en die Here het geneem: Prys die Naam van die Here. Job1:21 (b)

Zebra ·

Fantastiese opsomming van wat baie in ons Harte voel maar nog nienkon verwoord nie: ons God sal ons bevry in sy sowereine wil en tyd, en intussen moet ons vasklou aan Hom en sy Woord gehoorsaam en werk vir Sy koninkryk.

Ou Agiele Afrikaner Erdvark ·

Sien jou hier, sien jou daar, kul jou hier, kul jou daar, ….

Afrikaners is agiel en aanpasbaar by veranderde omstandighede. Hulle kan swem, boomklim, hardloop, vlieg, geldmaak, vleis braai, lekker gesels en musiek maak. Ek het baie hoop vir my volksgenote, volk en die Afrikaanse taal. En ek het hoop vir almal in Suid-Afrika wat glo in reg en geregtigheid. Die wiel van ongeregtigheid draai! Viva Afrikaners!

John ·

Aanpassing kan ook verkeerd geskied want alles is nie maar net ok en ons swem lekker saam met die stroom nie. Miskien het ons ook taktiese kennis van hoe om te oorleef nodig en hoe om ons godsdienstige/morele waardes te behou tussendeur dit wat teen die grein skuur. Groot uitdagings wag en aanvalle op ons moraliteit neem toe wat groot druk op ons jeug plaas. Die nuwe haatveldtog teen die Chistendom in skole sal deursettingsvermoe vra en ouers moet hul verantwoordelikhede ernstiger opneem. Kennis van ander ideologiee help om die gedagtegang van sulke aanhangers te verstaan. Onderwysers en ouers moet kennis opdoen om te keer dat vatbare kinders geindoktrineer word. Ons is nie lappoppe in die hande van die verkeerde nie. Die Bybel dui die wapenrusting vir die gelowige aan.

Ou Agiele Afrikaner Erdvark ·

Hoe word goud getoets vir suiwerheid? In die smeltkroes! Ons waardestelsels word getoets! Ons geloof word getoets! Ons visie word getoets! Ons agiele strategië word getoets. Ons kreatiwiteit en aanpasbaarheid word getoets! Ons denkprosesse word getoets! Ons ingeligtheid word getoets! Ons mense-verhoudings word getoets! Ons liefde vir ons kultuurgoedere word getoets! Ons liefde vir ons taal word getoets! Ons begeerte om met mense wat streef na reg en geregtigheid saam te werk word getoets! Ons kennis van ons familiegeskiedenis en volksgeskiedenis word getoets! Ons bereidheid om mekaar te vergewe en verdraagsaamheid en geduld te beoefen word getoets!

Ons as Afrikaners moet vir onsself besluit wat in ons lewens is onderhandelbaar al dan nie. Ingeligtheid is ‘n uiters belangrike drywer ter oorlewing. Ek verwelkom al die getoets!

Dries Theunissen ·

Amen! Baie dankie, voorwaar ‘n riem onder die hart. Prys die Here.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.