Die Trump-era: Rede tot hoop of nie?

Donald Trump

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Deur Ebert Terblanche

Donald Trump het op 8 November 2016 die linksgesinde wêreld, wat die meeste nuusinstellings insluit, geskok met sy oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing. Ná die oorwinning van Barack Obama in 2008, het menige linksgesinde intellektuele in Amerika gereken dat die koalisie van Amerikaanse linkses, minderheidsgroepe en immigrante dit vir die Republikeinse Party onmoontlik sou maak om weer in die afsienbare toekoms ’n presidentsverkiesing te wen.

Trump se opponent, Hillary Clinton, het egter byna 5 miljoen stemme minder gekry as wat Obama in 2012 gekry het. Dit dui duidelik aan hoe uiters ongewild sy as vasaal-kandidaat was wat bloot Obama se beleidskeuses sou voortsit. Haar ongewildheid het wel in Trump se guns getel, maar die uitklophou is geplant deur die koalisie wat hy tussen Amerika se werkersklas, Christene en konserwatiewes kon vorm. Hierdie koalisie het aan Trump ’n strategiese meerderheid in die kieserskollege gegee ten spyte van sy gebrek aan steun in New York en Kalifornië, wat vir Clinton die meeste algehele getal stemme (en veelbesproke populêre steun) in die verkiesing gegee het.

Die Trump-koalisie het rondom sy banier (Maak Amerika weer Groot) versamel wat aan die hand van die volgende punte hul veldtog gevoer het:

  • Behoud van werksgeleenthede in Amerika
  • Beëindiging van onwettige immigrasie uit Latyns-Amerika
  • Verbreking van drukgroepe (veral voormalige politici en politieke amptenare) se invloed op Washington, en
  • Herstel van wet en orde

Trump se veldtog het uitermate goed presteer onder Christene. Hy het 61% meer steun as Clinton gekry by die sogenaamde Evangelies Protestantse Christene, 11% meer by Histories Protestantse Christene en 4% meer by Rooms-Katolieke Christene. Die enigste Christen-groepe waar Clinton beter sou vaar, is met die minderheidsgroepe (swart Protestantse Christene en Spaans Katolieke Christene).

Trump se persoonlike aantrekkingskrag was egter nie deurslaggewend hiervoor nie, aangesien meer as 55% van hierdie Christene volgens meningspeilings ontevrede met hul kandidaat was. Dit kan daaraan toegeskryf word dat Trump nooit ’n kampvegter vir sake na aan Christene se harte was nie, soos die reg op lewe of godsdiensvryheid. Hillary Clinton, daarteenoor, was ’n groot ondersteuner van aborsie-wetgewing en haar beleidstellings het die vryheid van Christene om hul geloof en oortuigings ten volle uit te leef, ernstig bedreig. Trump was in hierdie opsig ’n neutrale keuse teenoor ’n vyandige keuse.

Trump se keuse vir vise-president, Mike Pence, was egter ’n deurslaggewende trekpleister vir Amerikaanse Christene. Pence is gebore in ’n Rooms-Katolieke gesin van Ierse oorsprong en het as student ’n wedergebore Christen geword en by ’n Evangelies Protestantse gemeente aangesluit. Hy is ’n ervare politikus wat al 10 jaar in die Huis van Verteenwoordigers gedien het en later ’n baie suksesvolle goewerneur van Indiana geword het, waar hy die ekonomie met laer belastingkoerse verbeter het en ook stappe gedoen het om Christene se regte te beskerm. Hy is bekend as ’n kampvegter vir die reg op lewe en ’n beskermer van tradisionele huwelike.

Pence het sedert die verkiesing die voorsitter geword van Trump se oorgangskomitee. Hierdie komitee was verantwoordelik vir die aanstelling van die nuwe kabinetslede wat Trump se verkiesingsbeloftes moet uitvoer. Die komitee het die werkywer van Trump en Pence tydens die verkiesing voortgesit en het ná vyf weke reeds 12 poste gevul. Op dieselfde tydstip het Barack Obama slegs sewe poste gevul gehad en George W. Bush en Bill Clinton geen.

Die voorgestelde kabinet (wat nog deur die wetgewende gesag bekragtig moet word), word gekenmerk deur die groot getal voormalige generaals (4) en suksesvolle sakereuse (4) en natuurlik ook strydrosse uit die Republikeinse Party. Baie lede is egter ook bekend vir hul openlike Christelike oortuigings. Dink maar aan Betsy de Vos (sekretaris van onderwys), dr. Ben Carson (sekretaris van behuising en stedelike ontwikkeling), Jeff Sessions (prokureur-generaal), dr. Tom Price (sekretaris van gesondheidsdienste), Rex Tillerson (sekretaris van buitelandse sake/staat) en Rick Perry (sekretaris van energie).

Die Trump-kabinet bestaan uit mense met ’n voorkeur vir aksie. Uit sy aanstellings is dit duidelik dat die volgende aktiwiteite voorkeur sal geniet tydens sy eerste ampstermyn:

  • Vervanging van die huidige universele gesondheidsversekering (Obamacare) – soortgelyk aan die nasionale gesondheidsversekering wat vir Suid-Afrika beplan word – met ’n alternatief wat meer kompetisie en verbruikerskeuse toelaat (en daardeur ’n aansporing sal skep om koste laag te hou);
  • Belegging in reuse-infrastruktuurprojekte, insluitend die versterking van die grens met Mexiko;
  • Ondersteuning van onafhanklike skole en tuisskole asook die herstel van ouers se invloed in skole ten koste van die onderwysvakbond;
  • Normalisering van internasionale betrekkinge met Rusland en ’n buitelandse beleid wat minder inmeng in internasionale gebeure;
  • Inperking van die uitbreiding van “sosiale regte”, soos aborsieregte en die wegdoen van tradisionele huwelike;
  • Groter steun vir die VSA se veiligheidsmagte om wet en orde te handhaaf;
  • Inwerkingstelling van ’n omkeerstrategie om vervaardiging en die sakesektor in Amerika te steun. Dit sluit in die verlaging van belasting, die verslapping van strafmaatreëls wat dit moontlik maak om geld wat in die buiteland verdien is, terug te bring na die VSA vir belegging, die verwydering van burokratiese rompslomp met betrekking tot omgewingsregulasies en die moontlike bestraffing van maatskappye wat hul vervaardiging na lande met lae arbeidskoste verskuif deur die instel van invoertariewe.

Hierdie beleidsrigtings skep meer ruimte vir die private sektor en die burgerlike sektor, insluitend kerke, om ’n groter rol in die alledaagse samelewing te speel teenoor die rol wat die regeringsektor vir homself toe-eien. Hierdie balans tussen die gesag van die staat en die vermoë van die private en burgerlike samelewing is in die verlede bewys as ’n belangrike voorwaarde vir volhoubare vooruitgang. Die inperking van die staat sal ook vir Christene meer ruimte skep om hul roeping sonder vrees vir vervolging uit te leef.

Daar is egter ook ’n meer spesifieke belofte wat deur Trump en Pence gemaak is tydens die verkiesing wat verreikende gevolge vir Christene sal inhou indien die belofte uitgevoer sou word.

Kerke is van inkomstebelasting vrygestel in die VSA terwyl skenkers hul skenkings van hul inkomstebelasting kan aftrek. Hierdie reëling het egter in 1956 daaraan onderhewig geword dat kerke nie voorspraak of teenspraak mag maak vir enige politieke kandidaat tydens ’n verkiesing nie. Dit beteken dat kerke hulself sedertdien moes weerhou om direk aan die demokratiese prosesse deel te neem uit vrees dat hulle moontlik sonder inkomste gelaat sal word wat hul ander aktiwiteite sou raak. Hierdie reëling is deur die voormalige Demokratiese president, Lyndon Johnson, ingevoer gedurende sy termyn as senator en het kerke se invloed in die politieke sfeer geknak. Dit is ook opmerklik dat hierdie reël nie vir alle soortgelyke organisasies geld nie. Vakbonde geniet byvoorbeeld dieselfde belastingvoordele, maar is vry om aktief aan die politiek deel te neem, wat hulle ook met groot ywer doen, veral om linksgesinde agendas te bevorder. Dit  bots dikwels met die belange van Christene, soos byvoorbeeld die inhoud van die onderwyskurrikulum.

Donald Trump en Mike Pence het tydens hul veldtog beloof om hierdie Johnson-wysiging aan die belastingwet ongedaan te maak.[1] Indien dit gebeur, sal gemeentes in elke dorp en stad hul stemme terugvind om hul profetiese roeping na te kom deur hul deelname aan die prosesse wat openbare beleid in Amerika bepaal. Dit is dikwels juis hierdie beleid wat aandui wat aanvaarbaar in ’n gemeenskap is en wat nie.

Die tyd sal leer of Trump se sekretaris van die Tesourie, die bankier Steve Mnuchin, die belofte om die Johnson-wysiging van die wetboek te verwyder, gestand sal doen. Dit is onwaarskynlik dat hy dit uit persoonlike oortuiging sal doen, maar dit mag dalk deur druk vanaf Mike Pence gebeur.

Amerika is weens sy reuse-uitset aan boeke, films, musiek en televisiereekse steeds die sentrum wat die vorming van Westerse denke betref. Daarom sal die verwydering van die Johnson-wysiging ook ’n wêreldwye verandering meebring in die wyse waarop Christene en hul kerke aan die stryd om idees meedoen.

  • Hierdie artikel is deur die AP Kerk verskaf.

[1] https://www.youtube.com/watch?v=04Gapm-ugkE

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

groenewaldt ·

Mooi Trump!!!
Ek hoop hy sien ons korrupte land raak en dat hy iets daaromtrent kan doen.
Sterkte en alle voorspoed vir jou!

Koos ·

Ek is nou so ‘n bietjie deurmekaar. Trump het op 8 November 2015 die Amerikaanse verkiesing gewen, volgens die berig? Hy word op 20 Januarie 2017 as President ingehuldig.
Wat het van die verkiesing in 2016 geword?

Henry ·

Jip Koos
En so gly die dae en maande verby, sonder dat mens dit agter kom…
:-)

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Koos

Baie dankie vir die terugvoer.
Ons het nou die datum in die berig reggestel.

Groetnis
Esté nms Maroela Media

Piet ·

Trump is die beste ding wat nog met Amerika gebeur het wens ons kon ‘n leier soos hy kry

JC ·

Beslis gaan tye BAIE beter wees onder President Donald Trump en is daar rede tot hoop!!
Die wereld het hom so, SO nodig gehad!! En hou is hy die nuwe president van die VSA. Halleluja!!

mc ·

En hieroor gaan ek nou met klippe dood gegooi word, maar as vrou is ek bitter jammer, hy mag dalk die 8ste wonder van die wereld wees, en almal mag hom dalk nodig gehad het en hy gaan dalk die wereld red, (en verstaan my baie mooi, dit beteken nie ek steun enige ander kandidaat of ek sluit my oe vir ons eie situasie in Suid-Afrika nie), maar dit het bitter laat in die dag geword as ons Suid-Afrikaanse mans Donald Trump en sy arrogansie as ‘n voorbeeld begin voorhou vir ons kinders. Behoede ons jong mans as hulle ooit dink dit is hoe vrouens behandel moet word. Maar nouja, hier kom die kommentaar, bla, bla, bla, bla, ek wag daarvoor.

Loeis ·

Kom ons hoop dat Marine le Pen van Frankryk, ‘n vrou, en een wie respek afdwing, daar verkies gaan word.

Piet Snot ·

Nee MC, jy’s reg. Dis bitter laat in die dag. Terwyl ek ‘n Trump ondersteuner is, is dit vir my uiters tragies om myself hierdie woorde te sien skryf. Hy’s objektief gesproke nie geskik om president te wees nie. Geen voorbeeld vir my kinders nie. Maar hy was die beste van die 2 opsies.
Ek het net gister vir my kinders verduidelik dis wonderlik om te sien hoe die Here ongelowiges (soos Trump) gebruik om Sy doelstellings te bereik.

Johan ·

Ek soek nie ‘n rolmodel vir my kinders nie. Ek soek iemand wat die gemors wat in die wêreld aangang kan uitsorteer. En wat nie na iemand se pype dans nie.

Gemsbok ·

Ek dink nie enigeen voer aan dat Trump ‘n rolmodel is vir hoe mans en kinders behoort op te tree nie.

Nel ·

mc – ek kan onthou dat in een van die Tv debatte voor die verkiesing daar van die twee kandidate – Hillary en Trump – gevra is om iets positiefs van mekaar te se, Hillary het gese dat sy Trump se kinders respekteer vir hulle bekwaamheid en toegewydheid en dat dit baie van Trump self as mens se…
Nouja dan kan die ou seker nie ‘n te sleg vaar as voorbeeld nie.

JC ·

Hy Loeis, KOM ONS HOOP LE PEN WEN!! Kom ons hoop ook die Partij Voor de Vrijheid in Nederland wen! Hallelujah, God (Jehovah) is Groot en slaap beslis nie!!
In Frankryk is daar ‘n Katolieke herlewing, en ek voorspel ‘n christelike en europese renaissance vir die westerse wereld en westerlinge!! God het na ons gebede geluister!!
Nou wonder ek net oor daai Merkel…mmm…hoe gaan sy tot ‘n val kom…kan nie wag om uit te vind nie!!!!! Hallelujah!

Kobus ·

Einde laaste het die Amerikaners darem nou weer HOOP. Hou baie van Trump!

Therese van Schalkwyk ·

Baie dankie, Ebert Terblanche, vir hierdie interessante stuk oor seker die opspraakwekkendste gebeurtenis van 2016. Insiggewende detail nog nie voorheen raakgelees nie!

Daar is beslis “rede tot hoop” wanneer na die samestelling van die Trump-kabinet en hulle doelstellings gekyk word. Alle nuwe maatreëls sal seker nie noodwendig internasionaal gewild wees nie, maar dat Trump die VSA en sy mense eerste gaan stel, maak hom ‘n vars bries tussen ander muwwe, polities korrekte wêreldleiers.

(Bekommerde Trump-beswaardes, soos “mc” hierbo, kan moed skep, want ‘n persoon soos Mike Pence sou hom kwalik bemoei met ‘n werklik aaklige molesteerder van vroue.)

Maria Van Dieweeck ·

Werksverskaffing aan die Amerikaners! Hallo anc?

Dirk Breytenbach ·

Veels geluk president Trump. Liberale moet maar begin hardloop ook in SA. Kom ons maak ook SA weer groot!

JC ·

Dankie Dirk!
MAG GOD MET PRESIDENT DONALD TRUMP WEES! LOOF DIE HERE!!

Ja ja ·

Die wereld het nou lank genoeg aan LINKSGESINDES behoort, dit is hoekom daar oral burgeroorloe en gemors is. Hoekom is links REG en REGS verkeerd? As jy vir jou eie geloof en eie kultuur opstaan, hoekom is dit verkeerd as een groep dit doen en reg as ‘n ander groep dit doen? Hoekom word minderhede in SA onderdruk maar in ander lande het hulle gelyke seggenskap? WEG MET LINKSGESINDES< en begin sommer om die media se monde ook toe te plak met hulle menings. Laat hulle net die waarheid publiseer en ophou stories opmaak wat mense emosioneel opwerk.

HEVW ·

MC ek dink jy eet te veel op vir soetkoek. Onthou in die politiek is daar altyd n vuilspel. n Vuispel wat veral daarop gerig is om dit wat konserwatief en christelik is te kelder, en die massakommunikasiemedia in die hande van die lberaliste word oordadig ingespan. Dink maar aan die vuilspel wat aanleiding gegee het tot die oorgawe waarin ons vandag vasgevang is.

mc ·

Nee HEVW, ek praat nie van die politiek of sy skielike toetrede tot die politiek nie. Trump was baie lank voor dit al in die openbare oog en het hy homself ooglopend self ongewild gemaak met sy swak optredes en uitsprake.

Johann ·

Met ‘n man soos die kan ou ‘n ver pad stap, so ver dat ou weer ‘n lus ontwikkel vir die lewe. Suid-Afrika het so mens nodig om weer die spoor te kry

Die regte keuse ·

Ek hou sommer baie van Donald Trump. Hy volg nie die massas vir populariteit nie (die bree weg), hy sien die Christene en gee hulle ook ‘n plekkie in die son. Hy is daar vir ‘n doel.

hans ·

Hy het gese as hy president word gaan hy mugabe in die tronk gooi,sal maar sien of hy woord by daad sit.Sal graag wil sien hoe ou mugabe sy laaste jare in die tronk deurbring.

Paul ·

Nee. Trump het dit nooit gesê nie. Dis maar net nog ‘n voorbeeld van die “fake news” wat mense so maklik met ‘n slap riem vang.
Die bron van die kastige belofte van Trump was die Keniaanse webwerf “The Spectator”. Gaan kyk maar gerus na die “gehalte” van daardie webwerf.

aaijaaijaai ·

mc jy is heeltemal reg. Trump is op geen terrein ‘n voorbeeld. Selfs finansieel is sy verlede donker en het hy baie jare laas enige belasting betaal. Heilig die doel (konserwatisme en kragdadigheid) in hierdie geval die middele (Trump)? Ek glo nie.
Die Amerikaners het ‘n wilde perd opgesaal wat hulle gaan laat les opse. Dit is een ding om die liberales te ‘haat’ maar ‘n ander ding om jou elke dag vir jou president te skaam. Ons weet mos hoe dit voel. Trump gaan nie die wereld, konserwatiewes, Amerikaners of Afrikaners red nie. Hou dop.

Vir my was die groot les uit Trump se verkiesing dat dit die bewys is dat Afrika en Amerika nie soooveel van mekaar verskil. In SA het die meerderheid van minder geletterdes Zuma verkies. In die VSA het hulle Trump verkies. Dit bewys dat demokrasie nie altyd in die beste belang van ‘n land is nie! Demokrasie werk nie in lande met te groot geletterheids gapings.

JC ·

Waar is die bewyse vir al die ongegronde feite aannames/liberaal deurweekte opinies wat jy maak. Ek wil dit sien groot asseblief…

Joe Hall ·

@JC
Siende dat jou inleidende sin dit duidelik maak dat aaijaaijaai se “liberaal deurweekte opinies” verkeerd is, waarom vra jy nog dat hy bewyse lewer???
Waarom motiveer jy nie jou mening nie?

miv ·

Dank die Here Trump het gewen. Mag God hom en sy parlement seën en ook die inhuldiging môre bewaar van al die bose oproeri.ges

aaijaaijaai ·

jc : watter van my ‘ongegronde feite’ of liberale aannames verwys jy na ? Dat die Amerikaners hulle vir Trump gaan skaam? Dat Trump steeds weier om sy belastingopgawes van die afgelope 15 jaar bekend te maak? Of dat demokrasie nie altyd en oral (en veral nie in Afrika) die beste resultate lewer nie. Ek hoor graag van jou wat van bg sg ongegrond of liberaal is.

John ·

Maak my Suid Afrika se president en julle sal sien hoe die land oornag verander.

Ebert Terblanche ·

Vriende, ek wil net enkele opmerkings maak na aanleiding van my artikel en die kommentare wat daarop gevolg het.

Die eerste is dat die artikel vir ‘n kerkblad geskryf is vanuit ‘n perspektief wat vra of die komende presidentskap van Donald Trump vir Christene rede tot hoop of wanhoop is.

Hierdie konteks is belangrik, want Christene wat erns maak met hul Bybels weet dat ons gewaarsku word om nie op konings en prinse te verou nie. Mense kan ons nie red nie, hul bied nie heil nie, en hul liggame, planne en dade word uiteindelik alles stof.

Daarom was dit ook vir my belangrik om uit te wys dat hoewel die meeste Christene vir Trump gestem het, hulle nie vir hom as persoon gestem het nie, maar eerder die beleide wat hy en sy span aan hulle voorgehou het, as slegs een van twee keuses, met die ander keuse wat ‘n voortsetting was van die beleide van president Obama. Tewens, Trump as persoon is steeds uiters ongewild in die VSA ten spyte van sy strategiese oorwinning in die verkiesing.

Ebert Terblanche ·

Anders as baie plekke in die wêreld, is die VSA se kiesers nie geneig om vir persoonlikheidskultusse te val nie. Dit was die Amerikaanse skrywer Mark Twain wat geskryf het dat politieke leiers, soos babadoeke, dikwels omgeruil moet word en vir dieselfde rede. Die Amerikaners doen dit ook. Dit sal slegs een misstap van Trump verg vir die Demokrate en Republikeine wat ‘n afkeur in hom het om hom in ‘n staat van beskuldiging te plaas en van hom ontslae te raak. Trump se toekoms is nou in die hande van die kabinet wat hy gekies het om die maandaat uit te voer wat hy van sy kiesers gekry het. Slaag hy ie daarin nie, sal hy baie vinnig deur sy kiesers tot verantwoording geroep word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.