Duitsers dol gelukkig met vervelige politiek

Angela Merkel, kanselier van Duitsland

Die Amerikaners het pres. Donald Trump en sy onvoorspelbaarheid, populisme en selfvoldane grootsheid. In Brittanje is Brexit besig om die politieke landskap lekker deurmekaar te krap. Emmanuel Macron wil ’n ekonomies sukkelende Frankryk herstruktureer en skep meer onsekerheid as sekerheid vir Franse wat wonder of die land dieselfde pad as ander Suid-Europese lande gaan volg. Nederlandse politieke partye sukkel al sedert Maart om ’n nuwe regerende koalisie bymekaar te skraap. In Spanje, Italië en Griekeland is die politieke terrein om die minste te sê onseker en onstuimig.

Duitsland die groot uitsondering. Die huidige Duitse verkiesingsveldtog is nie net vervelig nie, dit is grootliks irrelevant. Die boodskap van een politieke party kan nie behoorlik van ’n ander onderskei word nie. Niemand behalwe die media praat oor die verkiesing nie. Daar is vir die meeste mense belangriker goed om op te fokus.

Die rede is eenvoudig. Duitsers is tevrede. Die wêreld smag na meer Duitse motors, masjinerie en toerusting. Die land se handelsoorskotte bewys dit. Werkloosheid bestaan byna nie en die welsynstaat beskik oor genoeg kapasiteit om daar waar nood bestaan dit vinnig en doeltreffend op te los. Belasting kan verlaag word terwyl staatsbesteding op infrastruktuur, onderwys en maatskaplike dienste styg. Die immigrante-kraantjie is byna heeltemal toegedraai.

Na al die aksie en drama van die 20ste eeu is Duitsers tevrede met ’n vervelige, aksielose Duitsland. Die Duitse filosoof Friedrich Engels sou tevrede gewees het met die Duitsland van 2017. Josef Joffe, redakteur van die Duitse weekblad Die Zeit beskryf die toestand in Duitsland as die einde van politiek en in wese ’n toestand waarin die proses om oor mense te regeer deur die administrasie van dinge vervang word. Marx en Engels sou lekker hieroor glimlag.

Angela Merkel is ’n onindrukwekkende politikus. Haar liggaamshouding, voorkoms, kleredrag en stemtoon staan in kontras met dié van sterk regeringsleiers. Terwyl Westerse lande na sterk leiers smag, is die Duitsers net te dankbaar vir ’n vervelige politieke leier. Terwyl Merkel fisiek onindrukwekkend voorkom is sy en haar regering briljante administrateurs en burokrate.

Wanneer Duitsers kan fokus, is hulle meestal briljant. Dit het die geskiedenis bewys. Die afgelope paar dekades se fokus op ekonomiese eerder as politieke kwessies deur innovasie, gehalte, presisie en produktiwiteit het ’n omgewing geskep waarin ekonomiese groei die nodige ruimte vir ’n leier soos Merkel kon skep om vir elke Duitser iets van alles te gee. Vryemarkgesinde Duitsers kry minder regulasies, laer belasting en robuuste vryhandel. Sosialiste kry ’n sterker welsynstaat en beskerming vir die werkersklas. Groenes kry enorme investering in sonkrag, die sluiting van steenkoolkragstasies en die beskerming van die omgewing. Duitsland is vandag ’n sentristiese staat waar ekonomiese welvaart min ruimte vir politiekery in die sentrum laat. Selfs die partye aan die meer linkse en regse kant van die spektrum sukkel om met die konsensus van ’n netjiese burokrasie stry te kry.

Die uitslag van die Duitse verkiesing op 24 September is redelik irrelevant. Merkel sal aan bewind bly en Duitsland sal vir die volgende vier jaar goed bestuur word. Oor die langtermyn sal lae bevolkingsaanwas, arbeidstekorte, toenemende kulturele diversiteit en die probleme van die res van Europa en die wêreld egter vir politieke oplossings vra. Vir nou wil die meeste Duitsers egter nie te ver in die toekoms probeer kyk nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Merkur ·

Die verveligheid van die Duitse verkiesing kan onder andere met ´n tevredenheid verduidelik word: ´n gevoelde 50 % (of bietjie meer) van die Duitsers is meer of minder tevrede. Nóg. Maar definitief nie dol gelukkig nie. Talle Duitsers (ongelukkig nog te veel), verkies ook om nie met die werklikheid gekonfronteer te word nie.

Die huidige tevredenheidstoestand, en ook byvoorbeeld die afnygig teenoor die AfD, word deur ´n hoogs effektiewe en aggresiewe staatspropaganda bewerkstellig. (Staatsmedia soos ARD, ZDF en die Dritte Programme asook radio stasies.)

Ook die die twee grootse private media korporasies met talle televisie en radio nuus stasies en print- en internet-media, naamlik die Bertelsmann Gruppe en Springer Verlag, oorvloed die Duitsers met Merkel-ondersteunende propaganda. Die eienaars van Bertelsmann en Springer, Liz Mohn en Friede Springer, is engste vriendinne van Merkel. So gesien kan nie van ´n vrye verkiesing gepraat word nie. Staatsmedia soos die ARD, wat deur belastingbetalers (onvrywilliglik) subvenseer word, raak ontslae van joernaliste wat krities oor bv die massa immigrasie berig.

Dit is inderdaad so dat die politieke partye (met uitsondering van die AfD en miskien ook die Links Partei) nie behoorlik van mekaar meer onderskei kan word nie. Maar as Merkel aan bewind bly, sal Duitsland definitief nie vir die volgende vier jaar goed bestuur word nie. Duitsland funksioneer nog, ten spyte van Merkel. Daar is meer as genoeg voorbeelde wat ek kan noem vir haar se slegte bestuur.

Merkur ·

(laaste paragraaf)
Merkel se regverdiging, dat haar besluite in baie gebiede alternatiefloos is, is heel waarskynlik niks anders as ´n poging om ´n sleg-vir-Duitsland-en-Europa, of om onbekende agendas te vorder nie. Hierdie logika dat sy geen keuse het nie, is deurskoubaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.