Ekonomiese uitskieter die teiken

kalf-bees-plaas-landbou

Foto: Pixabay.com

Deur TLU SA

Dis natuurlik nie juis meer nuus dat die land in ekonomiese ellende verkeer nie.

Twee van die drie grootste graderingsinstellings het die land reeds op die rommelhoop gegooi, en die derde een huiwer nog ʼn bietjie, hoewel Moody’s reeds ʼn afgradering gedoen het wat Suid-Afrika net bokant rommelstatus laat huiwer.

Moody’s het egter nie hier geëindig nie en sy afgraderingsmes nog verder ingelê. Die grootste banke is afgegradeer en ʼn hele aantal ander instellings, waaronder MTN, Sanral, en verskeie munisipaliteite, waaronder selfs dié van Kaapstad en Johannesburg, wat deur die opposisie beheer word.

Intussen het die land weer in ʼn resessie beland nadat twee agtereenvolgende kwartale ʼn negatiewe groei getoon het. Dit is volgens syfers van Statistieke Suid-Afrika, oor wie se betroubaarheid daar voorheen reeds vrae was.

Wat egter opmerklik is, was dat twee sektore van die ekonomie egter gegroei het. Dit was mynbou, wat ʼn groei van sowat 13% getoon het, ten spyte van talle arbeidsprobleme in dié sektor. Die groot uitblinker was egter die landbousektor, wat met ʼn formidabele 22,2% gestyg het, ten spyte van knellende droogtes en ander wispelturige natuurverskynsels.

Dit is die landboubedryf, wat daagliks kos op die tafel voorsien, wat steeds presteer. Maar dit is ook dié bedryf wat op die oomblik die meeste geteiken word deur die ANC-bewind om sogenaamd getransformeer te word.

Praatjies van grondonteiening sonder vergoeding, vanuit radikale geledere, maar deesdae selfs vanuit die presidensie, is nie meer vreemd nie, en die onsekerheid wat daardeur gekweek word blyk duidelik uit die feit dat daar meer as 20 000 plase in die mark is. Grondeienaars is van mening dat hulle nou eerder moet vat wat hulle nog kan kry voordat die grond net gevat word sonder dat ʼn sent in ruil daarvoor gekry gaan word. Dit is immers in effek dieselfde wat in Zimbabwe gebeur het.

Die argument wat vir die onteiening gevoer word, is dat “die mense” grondhonger is omdat die boere die grond sou gesteel het.

Die feit is egter dat in meer as 90% van die gevalle waar grondeise ingestel is, die eisers eerder die kontantvergoeding verkies eerder as om die grond te neem.

Tereg sê TLU SA dat daar geen grondhonger is nie, maar wel ʼn geldhonger. Dis makliker om ʼn sak vol geld te kry as om grond te kry waarop oor dekades heen hard gewerk moet word, in die hoop om dan uiteindelik wel ʼn sak vol geld te kan hê.

Dit is juis wat die Suid-Afrikaanse boere doen. Hulle boer oor dekades heen, kundigheid is van geslag tot geslag oorgedra, hulle ken die klimaat en die boerderytoestande. En terwyl die res van die land geleidelik na die rommelhoop gly, blink die boere uit en toon die grootste enkele groei in die ekonomie. Hulle skep dus werk, op plase en indirek in die verwerkingsektor wat uit die primêre landbou voortspruit. Maar dit is daardie boere, die ganse wat die enkele skaars goue eiers lê, wat vermoor word en op wie se grond jag gemaak word onder valse voorwendsels.

Geen wonder nie dat TLU SA verlede week nog in ʼn verklaring kon sê: “Los ons uit: Ons doen ten minste ons werk om kos op jou tafel te kry.”

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Hier is opstokers agteraf aan die werk wat die eens boereplase vir niks van die lui nuwelingbure gaan koop en uitgebreide boerderye en sonplase sal oprig… buiten natuurlik vir myne wat op elke hoek en draai gaan oppop. Die sluwes gebruik hierdie nuwe emosionele set om hul plan vir totale kaping uit te bou en die tragedie is dat die voorbokke vir besettings nie besef hulle werk eintlik vir die saak van vreemde base nie. Die ontnugtering gaan te laat kom en dis wanneer die pappot sonder water en pap aanbrand.

Afbraak ·

Die ANC kan net afbreek, en sal als in hul vermoe doen om tot die laaste groeiende industrie obsessief ook af te wil druk. Ons moet onsself eerder regeer, ons kan nie meer deel van die land wees nie. Ons sal met selfbeskikking onderhandelinge moet begin.

Henk Stander ·

Jy sê die waarheid reguit en sonder omdoekies om te draai. Welgedaan.

John ·

Ons kan nie meer agtertoe kyk nie. Die goue geleentheid is deur De Klerk se bende verspeel en die Afrikaners is geflous. Ons kan nerens heen vlug nie. Die bul moet by die horings gepak word. ‘n Zilleaanse rondomtalie en vlug is presies wat die dominerende massa sluwe grypers soek. Veg in die grondwethof totdat die rook by die regters se ore uittrek. Boere moet selfbeheersing toepas en lewendig bly; hoeveel is ‘n dooie man werd? Laat hulle die plaas oorneem indien so. Al verval alles, is die grond nog wettiglik joue en kan weer opgebou word. ‘n Leuen wil nou tot waarheid verhef word. Wie is die alsiende Regter oor die saak? Onthou die saak voor Salomo oor die baba en hoe dit verloop het? Hierdie is nie ‘n rugbywedstryd nie. Ons Hemelvader, ‘Ek is’, se Arm is nie te kort om te help nie… maar ons moet terugkeer en vra vir Hulp en Raad. En sou dit Sy wil wees dat dinge anders volgens Sy raadsplan moet verloop is ‘n arm pa steeds beter as geen pa… Luister tog pa’s!

GAB ·

Kyk n bietjie na alles wat in die land gebeur het, sodra iets geld maak, vat die staat oor. Hulle is behep met geld. Daarom die SOE. Skiet my oor die stelling maar dit is hoe hulle geldgierig raak en wil geld maak n besigheid maak, eerder om te ‘Govern’. Ek sit in n werk waar die staat hulle ook vergryp het oor ons geld gemaak het en hulle reken dit kan hulle nou toekom. Sodra a sektor held maak, wil die staat dit hê en dit is die kruks van die saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.