Herontdek Van Riebeeck se skatkis

Jan van Riebeeck

Argieffoto.

Dit is 6 April 1652. Die 33-jarige Jan van Riebeeck staan op die strand en kyk hoe die matrose die paar stukkies gereedskap, landboubenodigdhede en die karige persoonlike besittings van die 90 aankomelinge aflaai. Hy sug hardop. Hoe verwag die VOC hy moet met net 82 mans en 8 vroue ʼn verversingspos oprig om die grootste handelsvloot ter wêreld van voorrade te voorsien? Hierdie paar hopies goed op die strand lyk nie eens genoeg vir die groepie pioniers nie.

Maar net toe hy dink dat hulle byna met leë hande hier aangeland het, sien hy die skatkis raak wat die VOC se direksie met groot sorg aan hom oorhandig het. Die opdrag was dat hy persoonlik daarna moes omsien, en dit eers by hulle aankoms mag oopmaak. Die voorsitter het vertroulik aan hom gefluister dat die skatkis die geheime bestanddele bevat wat nodig is om ʼn moderne ontwikkeling in donker Afrika te begin.

Hy weet dat almal tydens die maande lange seereis nuuskierig gewonder het wat in daardie skatkis is. Hy moes op ʼn keer selfs vir Maria aanspreek om nie heeltyd onder die bed in te loer waar hy dit weggesteek het nie. Boonop het hy seker gemaak dat ʼn betroubare soldaat voor sy kajuit waghou wanneer hy met ander take op die skippie besig was. Selfs die kapteins van die drie skepies kon nie hulle nuuskierigheid bedwing wanneer hulle gesamentlik kajuitraad gehou het nie. Hy kon sien hulle het hom nie geglo toe hy sê dat hy nie weet of dit goud, silwer of ander skatte bevat nie. Die VOC was in 1652 immers die grootste en rykste maatskappy ter wêreld.

Maar nou besef Van Riebeeck dat hy nie die geheim langer kan hou nie. In doodse stilte buk hy af en sluit die kissie versigtig oop. Hy sukkel effens met die slotte wat al begin roes het. Die deksel is ook maar stram, en Jan moet al sy krag gebruik om dit stadig oop te beur. Die groepie omstanders se oë is op die kassie vasgenael, en Maria en een van die skeepskapteins is skoon in die pad van nuuskierige hulpvaardigheid.

Skatkis

Skielik is die deksel oop. Van Riebeeck staar verstom na die inhoud. Hy kan sy oë nie glo nie, en knik woordeloos toestemming na die offisiere om te kom kyk. Hy sien die verbasing en teleurstelling in hulle oë, en voel hoe hulle vraend na hom kyk. In plaas van die goue skatte wat hulle verwag het, lê daar net twee hande vol sakkies saad in die kissie, met ʼn byna vergeelde brief langsaan. Hy maak die brief versigtig oop, maar toe hy begin lees, sien hy nie eens die verstomde gesigte of hoor die verbaasde vrae van die seemanne nie.

Stadig verdwyn Van Riebeeck se frons en verander in ʼn stralende uitdrukking op sy gesig. Dan begin die jong kommandeur praat, en hy verduidelik aan die klein skaretjie die inhoud van die skatkis. En stadigaan besef almal dat wat Van Riebeeck daar in sy hande hou, oneindig meer werd is as ʼn skeepsvrag vol goud. Want die saadjies wat hy daar vashou, is simbolies van die Westerse kultuurskatte wat hy saamgebring het.

Die omstanders luister aandagtig na sy woorde, en begryp stadigaan dat hierdie skatte hulle 90 mense in staat gaan stel om baie meer as ʼn verversingspos op te bou. Die inhoud van daardie skatkis het die Weste teen 1652 reeds in staat gestel om die gevorderdste beskawing in die geskiedenis te ontwikkel. Maar die Westerse sukses was nie as gevolg van Westerlinge se innerlike meerderwaardigheid soos gereeld in Van Riebeeck se tyd aanvaar is nie.

Westerse suksesresep

Jare later sou die beroemde ekonomiese historikus van die universiteite van Oxford en Standford, Niall Ferguson, die Westerse voorsprong beskryf as die gevolg van beter instellings as dié van ander beskawings. Die Weste se opkoms het gespruit uit beter politieke, ekonomiese, wetenskaplike, militêre, tegnologiese en burgerlike instellings. Die oorsprong hiervan lê in die Westerse kultuur, en nie in die Westerlinge se ras nie. Die opkoms van beskawings soos Japan, China en Indië nadat hulle van die Westerse stelsels oorgeneem het, wys dit duidelik. In vandag se taal, sukses spruit uit menslike sagteware, eerder as menslike hardeware.

Dit beteken hoegenaamd nie dat die Westerse kultuur en instellings foutloos was nie. Inteendeel, die Weste het soos ander beskawings gruwels soos slawerny, gewelddadige onderwerping, oorheersing en uitbuiting toegepas en deur kolonialisme uitgevoer. Maar dieselfde kultuur het oor die eeue die Weste in staat gestel om homself te hervorm en aan te pas. Met hierdie deurlopende vernuwing gegrond op beproefde waardes, kon die Weste die vrotste dele mettertyd uitsny en daardeur steeds aan die voorpunt in die wêreld bly.

Kultuur is die moeder, en die instellings die kinders, het Daniel Patrick Moynihan gesê. Maar die probleem is dat kultuur so vanselfsprekend vir mense is dat hulle dit self nie kan beskryf nie. Almal aanvaar hulle eie kultuur as “logies”, as die standaard waaraan ander moet voldoen, sonder om eens te dink aan die onderliggende verwaandheid daarvan en die vernedering wat dit vir ander kulture meebring. Westerse instellings soos demokrasie, die markekonomie, liberale sosiale waardes en die oppergesag van die reg moet op die Moslems, Chinese, Russe en Afrika afgewing word, al is hierdie beskawings se kulture nie altyd vatbaar vir die oorplanting van alle Westerse instellings nie.

Maar wat presies behels hierdie Westerse kultuur, wat 356 jare gelede eers met Van Riebeeck se kulturele skatkis hier aangeland het, en daarna met die Groot Trek in elke wakis verder die binneland ingedra is? Hierdie vraag is belangrik omdat dit die Westerlinge in staat gestel het om die voorste land in Afrika op te bou. Die foute wat in die proses gemaak is, doen nie afbreuk daaraan dat dit ʼn buitengewone prestasie was nie.

Protestantse waardestelsel

Die Protestantse Hervorming van vyf eeue gelede het tot ʼn algehele ommekeer in die destydse wêreld gelei. Die opkoms van die (Protestantse) Weste as oorheersende wêreldmoondhede, was die belangrikste gevolg van die Hervorming. Holland se “Goue Eeu” in die 1600’s is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Belangrik vir ons geskiedenis was dat Calvyn en ander Hervormers die Katolieke oorheersing van die samelewing verbreek het. So is die Katolieke verbod of stremming op kapitaalvorming, winsgerigtheid, en wetenskap en tegnologiese vooruitgang beëindig. Dit het gelei  tot die ontstaan van die wêreld se eerste multinasionale aandelemaatskappy, die VOC. Dit was die grootste en rykste maatskappy ooit in die geskiedenis, met bates van $7,4 triljoen in vandag se dollarwaarde!

Harvard-professore soos David Landes het aangetoon dat die Westerse kultuur met Calvinistiese waardes soos roeping, ondernemingsgees, werksetiek, tydsbewustheid, spaarsamigheid, verantwoordelikheid, gelykheid vir vroue en die bemeestering van kennis, gelei het tot die opkoms van die Weste. Kultuur was die suksesresep. So het die Protestantse Weste ʼn voorsprong gekry bo ander beskawings en -kulture, wat ander of net sekere van hierdie waardes gedeel het. Hy skryf ook dat die huidige Westerse insinking te doen het met hulle afwatering van hierdie waardes wat hulle histories suksesvol gemaak het. Daarby spruit die opkoms van lande soos Japan, China en andere tot belangrike mate uit die oorneem van sekere Westerse waardes en stelsels soos die vryemarkstelsel. Groot dele van die Afrikanerkultuur kan duidelik herken word uit die sukseswaardes wat hierdie kundiges genoem het. Daarom is dit vandag steeds hoogs toepaslik en noodsaaklik. Natuurlik het al Van Riebeeck se saadjies nie dadelik, volmaak en eweredig ontkiem en tot mooi en groot bome gegroei nie, en was daar ook knoetse en dorings in die pakkie. Maar die saad van toekomstige sukses was terugskouend al daar op die strand teenwoordig in 1652.

Maar daar is nog ander dele van die Afrikanerkultuur wat uit Van Riebeeck se skatkis gegroei en verder ontwikkel het:

Republikeinse strewe

Ons voorouers se vryheidsin het geblyk uit hulle historiese stryd teen Britse Imperialisme, en hulle strewe na onafhanklikheid en selfstandigheid teenoor onderdanigheid en afhanklikheid. Dit blyk ook duidelik uit die Afrikaner se “stigtingsdokumente” soos Retief se manifes en die grondwet van die Zuid-Afrikaanse Republiek. Soos die Romeinse denker Sallust tereg gesê het, wou Afrikaners ook nie net regverdige heersers hê nie, maar vry wees. Dit sluit aan by die wêreldwye neiging dat die volwasse mens vir hom- of haarself wil besluit, en die beheer oor hulle lewe nie aan sentralistiese burokrate wil oorlaat nie.

Vryemarkstelsel

Afrikaners het taamlik stadig die Westerse markekonomie aanvaar omdat dit so verweef met Britse imperiale kapitalisme was. Maar terselfdertyd was ons voorouers nooit sosialiste wat verwag het dat ander vir hulle moes sorg nie. Met rolmodelle soos dr. Anton Rupert wat op 25-jarige ouderdom sy voorbrand-takbakmaatskappy gestig het as voorloper van ʼn wêreldwye sakeryk, het Afrikaners ʼn ondernemingskultuur ontwikkel. Die ekonomiese groei en goeie moedertaalonderrig wat daaruit voortgepruit het, het Afrikaners uit armoede gelig, veel meer as net die latere politieke mag.

Oppergesag van die reg

Die Boererepublieke se grondwette en regstelsels was van die eerste moderne regsordes in Afrika.

Verteenwoordigende regering

Die Boererepublieke was deel van die vyfde geslag republieke in die wêreld, naas die antieke Griekse stadstate, die eertydse Romeinse republiek, die Franse republiek en die Amerikaanse republiek. Dit was merkwaardig in ʼn tyd toe ons stamlande nog deur koningshuise regeer is. Die eerste demokratiese verkiesing in Afrika was sover vasgestel kon word die Voortrekkers se verkiesing van leiers in Winburg tydens die Groot Trek.

Taal, kultuur en geskiedenis

Anders as die meeste Europees gekoloniseerde groepe het die Afrikaners nie ons stamlande se tale goedsmoeds oorgeneem nie. Afrikaans se modernisering het die Afrikaner se modernisering moontlik gemaak. So het Afrikaans deel van Afrikaners se identiteit geword, en nie net ʼn kommunikasiemiddel gebly nie.

Gesonde gesinne

Die opkoms van die gesin ná die Protestantse hervorming het in die Weste die besef laat posvat dat gesonde gesinne die grondslag van ʼn gesonde land is.

Wetenskap en tegnologie

Die Westerse wetenskap en tegnologie het veral ná die Hervorming ontwikkel en ook die topkennis van ander beskawings oorgeneem en verder uitgebou.

Gemeenskapsingesteldheid

Afrikaners se sterk gemeenskapsingesteldheid was skerp in teenstelling met die Britse individualisme, en het meer gemeen met Afrika se gemeenskapsbeskouing gehad. Daaruit is instellings soos die Helpmekaarbeweging gebou, en is besef dat politieke magloosheid nie noodwendig magteloosheid is nie. Afrikaners het geleer dat gemeenskapskrag meer kan bereik as staatsmag.

Sosiale waardes

Suid-Afrika het die sestigers se sosiale rewolusie in die Weste vrygespring, en deel meer tradisionele waardes met die ander bevolkingsgroepe in die land.

Westerse uitdagings

Die Weste is op die kruin van sy mag meer kwesbaar vanweë diepgaande kulturele veranderings wat ingetree het. Kulturele verskuiwings soos ontkerstening, sosialisme, materialisme, gemeenskapsverbrokkeling, sosiale waardes wat die gesin ondermyn en kinders benadeel, verlies aan kulturele selfvertroue, lae geboortekoerse, ʼn verswakte werksetiek en verruiling van verantwoordelikheid vir regte is soms ook onder Afrikaners sigbaar.

Prof. Niall Ferguson van Oxford eindig sy onlangse boek, Civilization – the West and the Rest, deur te sê dat die Westerse beskawing steeds die beste pakket aan die mensdom bied, ongeag die foute wat gemaak is. Die vraag is egter – volgens hom – of die Weste self die blywende waarde van sy eie kultuurskatte besef. Dieselfde geld vir Afrikaners in Suid-Afrika – ons historiese kultuurskatte en -waardes is nog steeds deel van die jongste suksesresepte in die wêreld. Natuurlik leef ons nie meer in Van Riebeeck se tyd nie en het van die toepassing van daardie waardes verander.

Maar dis tyd dat ons die kultuurskat wat Jan van Riebeeck 365 jaar gelede hier aangebring en verder ontwikkel het, weer moet herontdek en bewaar; dis steeds meer werd as skeepsvragte vol goud. Deur skeppende vernuwing gegrond op hierdie beproefde kultuurwaardes kan ons blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika voortbestaan.

Daarom sê ek ten spyte van al die omwentelings in die land steeds saam met Hendrik Biebouw: Ik ben een Afrikaander!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Kassie ·

Die westerse waardes wat ons onderbring is ons skies dat ek lewe houding en terugstaan en toekyk as mense wat ons waardes teenstaan ons wil oorneem. Nog n swakheid is dat ons nie sterk saamstaan nie.

SkarrelKind ·

Kassie, ek stem saam oor ons swakheid. Waarmee ek nie saamstem nie, is of ons iets aan on lot kan verander. Afrika is Afrika. Ons is in die minderheid, en die land gaan regeer word soos ‘n koning ‘n stam regeer. Hy maak net soos hy wil, of dit jou waardes beinvloed of my of jou goedkeuring wegdra, beteken nie dit gaan verander nie. Ons moet gaan werk soek in Namibië en Botswana, ens. Of in Europa, as die geleetntheid daar is. Dis die oplossing.

JC ·

Baie dankie Flip. ‘n Groot fout wat ingeglip het in Westerse kultuur was die geleidelike vervanging van die gesag (en as’t ware liefde vir) van die boodskap wat in die Bybel aan ons voorouers gegee is, en die vervanging daarvan deur die sogenaamde 4de Stand, d.i. die verfoeilike, manipulerende en onbetroubare Hoofstroom media. Erken ons weer in verootmoedigheid die Grote van God en dat ons SLEGS bestaan en voorsprong kan maak deur Sy WIL en genade; sal die Weste herstel. In my opinie is dit AL wat ons nodig het om ons weer op die regte spoor te neem, d.i. ‘n hernieude geloof in God, die Bybel en die Heilige boodskap. Mens is reeds besig om waar te neem noemenswaardige terugkerende belang na dit wat belangrik en sielvoedend is in bv. die VSA. Westerlinge moet dringend afsien van hul verbruikers en materialistiese fobie/beheptheid en terugkeer na gesonde en kern familiewaardes soos die Bybel en die Nuwe Testament vir ons voorskryf. Dit is duidelik, uit die artikel dat daar ook ontslae geraak moet word van die versmorende en sieldodende oikofobie van Westerlinge en die onverdedigbare en valse “skuldgevoeloens” en ook die onlangse skuif na links en onverdiende ophemeling van sosialisme. Ek is dankbaar vir die nalatenskap wat die Weste MY gegee het en wil graag daarop voortbou as Afrikaner in my geliefde vaderland, Suid-Afrika en “ik ben een Afrikaander”! #EK IS JAN, 365 jaar oud! ONS HET SOVEEL OM DANKBAAR VOOR TE WEES TEENOOR ONS VADER

PvZ ·

Ek lees vanoggend al die Afrikaner “leiers” se artikels oor Riebeeck dag. Daar is regtig manne met insig en verstand wat in leiersposisies is. ‘n Mens kan amper nie eers probeer ‘n vergelyking tref tussen Zuma en iemand soos Flip Buys nie. Tog sukkel ek om die verskil te sien tussen FW de Klerk se beloftes vir ons, en dit wat oranisasies soos Solidariteit en Afriforum vir ons bied. As hulle vir my gesê het dat die planne tydelik is, maar Selfbeskikking die einddoel, dan het ek beter verstaan. Ek lees die artikels van ons “leiers” en ek hoor hoe sug hulle na ‘n onafhanklike Republiek, maar onafhanklikheid word nie as oplossing gebied nie. Ons moet hoor dat Vryheid ‘n gedagte is, wat binne ons moet wees. Tog was dit nie goed genoeg vir die Voortrekkers, of die Boere van ZAR en die Vrystaat nie. As Zuma more weggaan, sal hy net vervang word. Statistiek SA het reeds voorspel dat oor 14 jaar daar slegs een blanke sal wees vir elke 100 Suid-Afrikaners. Wat sou Jan van Riebeeck, Paul Kruger en al die ander gedoen het as hulle nou gelewe het. Wat sou my oupa grootjie gedoen het. Eintlik weet ek wat hulle gedoen het, ons is dalk net te papbroekig.

PvZ ·

Ek hoop mense verstaan my reg. Flip Buys sou ‘n baie beter president gemaak het Jacob Zuma. Flip Buys sou ‘n baie beter president gewees het as Cyril Ramaphosa. Tog hoop ons vir Cyril. Hoekom? Het ons regtig geleer om met so min tevrede te wees. Ek wens net dat onafhanklikheid as ‘n werklike oplossing bespreek word in plaas van ‘n “eendag” oplossing

JC ·

Dankie PvZ, uitstekende kommentaar, en jy draai nie doekies om nie, maar vra bitter belangrike vrae. Wanneer gaan Afrikaners ‘n eie onafhanklike staat kry???????
Die huidige situasie is onhoudbaar op die lange duur. Afrikaners moet ook ophou met hul hiper-individualisme en hulself (weer) sien en eien (‘n identiteits-koppeling) as deel van ‘n groter gemeenskapsgeheel. Ons nommers sal beslis moet groei, hoe ons dit gaan regkry weet ek nie, want ons bevolkingsaanwas is so te se nul. Wat gaan aan? Is die redes hiervoor nie die verval/afbreuk van die familie/gesinsmodel, die verval van tradisionele (en gesonde) sosiale waardes en verbintenis aan familie, en ‘n vorm van hiper onafhanklikheid van familiewaardes, met gepaardgaande modernisering en sekularisering nie? DIT MOET STOP! (VRYWILLIGLIK NATUURLIK)

GERTJIE ·

Die strewe na onafhanklikheid le in eenheid. Daar moet n platform wees van waar af gewerk kan word.Mense moet bymekaar kan kom om besluite te neem,asvoorbeeld Orania. Waar gaan ons die leiers vandaan kry, gaan mense bereid wees om so n besluit te neem. daar word deur ntyd gevra wanneer gaan iets gebeur. wie gaan volg.

John ·

Filosowe praat van die post-heroiese tydvak, waarin mense wegskram van alles wat hom kompromitteer tov verantwoordelikheid en ondernemingsgees in teenstelling met die verlede waar die geweer, die graaf en waagmoed gevra is. Die uitdra van die Woord het baie grootse aksies aangevuur. Handearbeid is nou byna ‘n vloekwoord. Kultuur word as ‘n gelykmakende faktor aangedui en oor ras mag niks gese word nie. Hoekom? Wat seker is, is dat kultuur, ideologie en godsdiens verwant is. Sonder godsdiens is etiek afwesig. Die VOC het onder Joodse bestuur gestaan en die godsdienstige riglyne wat die Israeliete te duurste geleer is, was die eerste sinvolle rig van die mens se denke, verantwoordelikhede en gedrag. In der mate wat ateisme toeneem, soos onder kommunisme en sosialisme, sal barbarisme en verval weer gedy en bogenoemde skatkis op die ashoop beland.

Paul ·

Jan van Riebeeck, en niemand van sy ekspidisie, het op 6 April 1652 op die strand gestaan nie. Lees Van Riebeeck se dagboek – dis bitter interessant om te lees!

Hy beskryf hoe hulle op die 5de Tafelberg gewaar het, en hoe die manne op sy skip die oggend van die 6de reeds Tafelbaai wou binnevaar. Hy het egter geoordeel dat hulle versigtig eers met ‘n klein bootjie moes gaan verken, om te sien of daar enige gevaarlike Engelse vrybuiterskepe in die baai was.
Die verkenning het geen skepe gevind nie, maar die verkenners het ook nie aan wal gegaan nie. Eers die aand van die 6de het twee van die skepe die baai binnegevaar. Die Reijger het eers later aangekom.
Op die 7de het die skipper Konink en ‘n paar manne aan wal gegaan. Hulle het in die baai vis gevang en ook ‘n aantal briewe teruggebring wat hulle op die land gevind het, waarin ‘n vorige Nederlandse skip gesê het dat hulle perde by Engelssprekende “Ottentoo” agtergelaat het. (Voor Van Riebeeck was daar reeds langdurige kontak met die mense wat rondom Tafelbaai gewoon het.)
Die vroegaand van die 7de het Van Riebeeck self aan wal gegaan, om ‘n goeie plek vir die fort uit te soek.

Daar was meer as 90 mense. Daar was 181 man op die drie skepe, en nog meer op die Olifant en Walvis wat op 7 Mei aangekom het. Tussendeur het ‘n ander skip, die Salmander, op 15 April by hulle aangesluit.

Paul ·

Ek sien die stelling oor die “90 mense” en talle ander foutiewe dinge, staan op die Afrikaanse Wikipedia oor Van Riebeeck, en ook op talle ander webwerwe aanlyn.

Ek herhaal, lees eerder Van Riebeeck se dagboek. Dis vryelik op die internet beskikbaar, en hoewel die outydse Nederlands plek-plek moeilik is om te volg, is dit wel heel verstaanbaar. Op 8 April 1652 beskryf hy hoe hulle 100 manne aan wal gestuur het. Dit was nie eers die volle groep wat op die aanvanklike drie skepe was nie.

Daar is vreeslik baie interessante ware inligting in die dagboek. Soos hoedat Jan Blancq op 8 Julie weens “stoute moedswilligheid” en “petulansie” teenoor Jan van Riebeeck, daartoe gevonnis is om van die skip se mas gegooi te word met sy arms agter sy rug aan ‘n tou vasgemaak, sodat dit sy skouers sou uit lit uit ruk en waarskynlik sy arms breek. Hy moes boonop ook 50 slae te dra. Dit was wrede tye daardie!

n ·

paul, het jy dalk ‘n link van die dagboek? sal dit baie graag wil lees

Paul ·

n, jy kan dit maklik opsoek op Google deur eenvoudig vir “Jan van Riebeeck dagboek” te soek of ook die woorde “dagverhaal” of “joernaal” te gebruik in plaas van “dagboek”. Aangesien Maroela nie “copy” en “paste” toelaat nie, vind ek dit moeilik om ‘n skakel hier te plaas.

Die dagboek is regtig vreeslik interessant. Om die ware verhaal van al die gebeure en ontberinge te lees sonder enige stertjies en mites wat later bygelas is, hoofsaaklik in die middel-1900s, nie.

Paul ·

Ook sou dit interessant wees om in so ‘n artikel in te sluit, dat Van Riebeeck reeds op 21 April in sy dagboek geskryf het hoedat hulle vrugbare grond in ‘n vallei teen die hang van Tafelberg gevind het, sowat tweel myl van die fort se ligging af, maar dat hulle dit nie sou kon bewerk nie en dat hulle “eenige laboreuse Chinesen” sal moet bring om die grond te bewerk.

Op die 27ste April skryf hy ook weer hoedat hulle “Chinesen” of “Mardijkers” (‘n sekere groep mense afkomstig van vrygestelde slawe in Batavië) “of ook wel Nederlanders” sal moet bring om die grond te bewerk.

Op die 29ste, die dag wat die eerste saad wat uit Nederland saamgebring word as eksperiment in ‘n paar potte grond geplant word, skryf Van Riebeeck weer dat “eene menigte van Chinezen of andere laboreusen menschen of huisgezinnen” daarheen gebring moet word om genoeg grond te kan bewerk.

Joe Hall ·

So die ding dat Afrikaners ‘bediendes’ betaal om in hul tuine te werk en om hul huise skoon te maak, kom reeds van Van Riebeeck se dae af.

Paul ·

Die volledige verhaal rondom Hendrik Biebouw (waarna verwys word in die laaste paragraaf) word ook bitter min vertel.
Hy is inderdaad hier op Afrikabodem gebore, van ‘n pa wat uit Duitsland geimmigreer het en ‘n ma wat uit Nederland as weeskind geimmigreer het.

Die deel van die storie wat gewoonlik aangehaal word, is dat Hendrik en ‘n paar vriende dronk en oproerig was by die meule, wat deur ‘n immigrant besit is, in Stellenbosch. ‘n Deel wat gewoonlik uitgelaat word, is dat hulle ‘n plaaslike skrywer en immigrant, Drik Simons, se vrou vir ‘n hoer uitgeskel het. Uiteindelik het die landdros Starrenburg, ‘n immigrant uit Duitsland, en heemraad Jan Botma aangekom en die oproerige jonge mans met ‘n rottang weggejaag. Almal behalwe Hendrik Biebouw het op vlug geslaan. Hendrik het die landdros toegesnou “Ik wil niet loopen! Ik ben een Africaander! Al slaat de landdrost mijn dood, of al zetten hij mijn in de tronk, ik zal nog wil niet stil swijgen!”

Gewoonlik word die verhaal daar geëindig, op die trotse nooit van Afrikanerskapverkondiging, sonder om te vertel wat Hendrik Biebouw uiteindelik wel gedoen het. Hy het in diens van die VOC getree en het in 1716 na Batavië gevaar en is in 1719 daar oorlede.
Hendrik Biebouw, die eerste “Afrikaner” wat “niet wou loopen” het dus wel geloop.

JC ·

Dankie vir jou “verfrissende en patriotiese” boodskap. Die feit dat hy wel toe “geloop” het soos jy dit noem , het niks daarmee uit te maak dat hy homself as Afrikaner verklaar het nie, het dit? Natuurlik het onregstreekse omstandighede hom daartoe gelei om ‘n heenkome en werk te soek EN VIND, maar dit doen nie afbreuk aan sy verkondiging nie. Hy het nie sy verkondiging herroep nie, of hom daarvan distansieer nie, of hoe? HENDRIK BIEBOUW BLY ‘N AFRIKANER.

Paul ·

Die sarkastiese reaksie nieteenstaande, die rede waarom ek die aandag op hierdie detail vestig, is aangesien die twee uitsprake van Biebouw, naamlik dat hy nie wil loop nie en dat hy ‘n Afrikaner is, dikwels deur kontemporêre skrywers aan mekaar gekoppel word, asof hy sou gesê het dat hy nie uit Afrika wil weggaan nie. Die skrywers wat daardie koppelling maak, swyg gewoonlik egter oor die feit dat Biebouw wel uit Afrika weggegaan het.

Ou Genealoog Vlakvark ·

Hoeveel Suid-Afrikaners het al ‘n studie gemaak van hul voorgeslagte se familiegeskiedenis? Die studie van mens se familiegeskiedenis gee nuwe betekenis aan argeologie, geskiedenis, aardrykskunde, genetika, godsdiens en vele meer.

“Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en trag om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik” – ZAR Staatspresident P Kruger.

“Looking ahead, ignoring the past, we see not the future” – Chen Ziang (661 – 702 nC)

So, wat het ons geleer uit die foute van ons voorgeslagte? En wat gaan ons verbeter of anders doen vir ‘n beter toekoms?

Frikkie ·

Paul, mooi man! Jy’s reg met die detail, maar verkeerd met die groot prentjie. Biebouw se verhaal het ek al op skool gehoor, maar jy’s reg- mens moet weer die negatiewe ophaal sodat almal weer skaam kan voel. Die ANC hamer ons heeltemal te min. Biebouw was nie eerste met sy uitroep nie, maar (tot sover) die eerste wat opgeteken is agv die hofrekord. Maar jy’s reg. Kom ons vat die lelikste uit die verlede en breek die toekoms daarmee af.

Paul ·

Wat van: “Onthou al die dele van die verlede, goed en sleg, maar onthou ook dat dit in die verlede is.” ?

Ek dink dis beter as om net die mooi dinge uit die verlede te wil onthou en om oor die leliker dinge te swyg. Sulke optrede is nie juis anders as om sprokiesverhaaltjies te vertel nie.

As mens oor die leliker dinge swyg, word dit vergeet, en dan is mens gedoem om dit te herhaal uit onkunde.

André Badenhorst ·

6 April
365 jaar gelede het dit begin,
volgens Zuma verkeerd,
volgens Zille nie alles te versmaai nie
en volgens gewone ouens soos ek,
as heemlose vryburger en patriot,
verbonde in bloed en liefde,
as mens, Afrikaner, Afrikaanssprekende, wit Afrikaan,
aan Suid-Afrika:
#RedSuidAfrika van die neo-Mfecane!

Frikkie ·

Paul, ek bedoel nie mens moet net die mooi onthou nie, maar dat mens die mooie uit die verlede moet neem. Moenie teen die lelike vlieg vaskyk en die mooi skildery miskyk nie.- of dan die vlieg so hard slaan dat jy die skildery verwoes nie. Moenie te vinnig antwoord nie- dink eers of jy nie in ‘n groef van ‘klein kritiek’ beland en die hoofpunt vd artikel- nl die Westerse kultuur gemis het nie.

Paul ·

Iets anders wat min mense weet, is dat Jan van Riebeeck eintlik vroeg in Maart 1948 vir die eerste keer aan die Kaap aan wal gegaan het. Hy het vir 18 dae daar aan die Kaap vertoef.

Hy het op die skip “Koninck van Polen” gevaar en was deel van die groep wat vir Leendert Janszen en die sestig ander skipbreukelinge van die skip Haerlem, wat in Maart 1647 in Tafelbaai gestrand het, kom optel het. Die Haerlem het in 1947 daar gestrand, en van die vrag en bemanning is deur die twee ander skepe wat saam daar was, asook deur Engelse skepe wat daar aangekom het, na Europa teruggeneem. Daar was egter nie genoeg plek vir al die vrag en manskappe nie, so 61 van hulle moes daar agterbly en die oorblywende vrag beskerm. Hulle is gedurig deur talle skepe besoek, maar moes ‘n jaar wag tot Maart 1648 vir reelings om getref te word dat ‘n groep Hollandse skepe, waaronder die “Koninck van Polen” met Jan van Riebeeck daarop, hulle daar kon kom red.
Van Riebeeck was op pad terug uit die Ooste om verantwoording te doen vir sy verbreking van VOC-reëls, naamlik dat hy in sy persoonlike hoedanigheid handel gedryf het in die Ooste. Eers in 1651, toe hy opdrag gekry het om Kaap toe te gaan, is sy naam in ere herstel. Sy tien jaar aan die Kaap, wat eintlik net vyf jaar moes wees, kan dus as ‘n soort boetedoening gesien word.

Paul ·

Natuurlik is die eerste verwysing na “1948” ‘n tikfout, asook die verwysing na “1947” later.

Van Riebeeck was ‘n interessante ou, maar hy het darem nie meer as 300 jaar geleef nie!

Barnard ·

Toemaar ouens alles gaan regkom.Ek glo vas daaraan.Ons gaan die enigste Christelike land in die wereld word met ons eie Afrikaanse leiers.Dit gaan net nog n tydjie neem en wat ons ongelukkig nie gaan vryspring nie is n burgeroorlog. Ons sal egter oorwin.

Therese van Schalkwyk ·

Pragtige, inspirerende artikel deur Flip Buys oor “Van Riebeeck se skatkis”!
(As president Zuma en die ANC-regering dit tog net só wou sien.)

Paul se interessante detail o.a. oor “eenige laboreuse Chinesen” is veelseggend. Waarom, o waarom, het die liewe Jan nie eerder onmiddellik gedink aan meer van sy landgenote om te kom help met die aanplantings nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.