Hoe hanteer ek ʼn arrestasie by ʼn padblokkade?

boeie

Foto: SAPD/Facebook

Deur Hein Gonzales

AfriForum ontvang verskeie navrae van lede van die publiek oor hul regte sou hulle by ‘n padblokkade in hegtenis geneem word, en wat die proses behels. AfriForum gaan oor die volgende paar weke verskeie regsmenings publiseer wat jou kan bemagtig ten opsigte van jou regte.

Die vertrekpunt vir hierdie gesprek is onomwonde dat jy altyd jou samewerking vir die wetstoepassingsbeampte moet gee. Al is jy van mening dat hy of sy ongrondwetlik optree, gee jou samewerking en maak seker jy notuleer hierdie defekte in die proses. Hoe meer foute, hoe groter is die skade wat jy kan terugeis deur middel van ʼn siviele eis.

Hoewel daar baie bevoegde wetstoepassingsbeamptes binne die wetstoepassingstrukture funksioneer, is daar ook terselfdertyd beamptes wat nie noodwendig verseker dat jou grondwetlike regte beskerm en verwesenlik word nie.

Die goue “ruggraat” van die strafprosesstelsel vind ons in art. 35 van die Grondwet. Lede van wetstoepassingstrukture is entiteite wat gereguleer word deur wetgewing. Dit beteken in effek hulle moet binne die raamwerk van die wet optree, by gebreke waarvan jou grondwetlikeregte geskend word.

Jou vyfpuntplan

Jy is op pad huis toe nadat jy by ʼn sake-ete was. Jy is omgekrap want ʼn dronk persoon het jou aangeval in die parkeergebied op pad huis toe. Jy het die aanval afgeweer binne die grense van wetgewing, en in jou voertuig geklim en gery. Die SAPD trek jou by ʼn padblokkade af, wat nou?

1. Indien jy by ʼn padblokkade afgetrek word, gee jou samewerking.
Kry jou voertuiglisensie en vuurwapenlisensiekaart reg indien van toepassing. Bly kalm en draai jou ruit af en gesels met die beampte. Onthou, wees altyd hoflik en gee jou samewerking. In terme van art. 35 van die Grondwet is dit jou grondwetlike reg om te swyg. Dit beteken dat jy nie verplig is om enige verklarings en/of erkennings af te lê nie. Voorbeeld: “Goeienaand meneer, ons het inligting ontvang dat u vanaand iemand by ʼn kroeg in ʼn kuierplek na bewering aangeval het. Dra u kennis van die voorval? Jou antwoord: Ek wil eers met my prokureur konsulteer voordat ek ʼn verklaring aflê.”

2. Jy word nou gearresteer, wat nou?
Indien die beampte jou arresteer, het hy of sy die verpligting in terme van art. 35 om jou in te lig van jou reg om te swyg. Indien jy voortgaan met die aflê van ʼn verklaring, kan dit later teen jou as getuienis in die hof gebruik word. Jy is in hierdie stadium geregtig om jou prokureur telefonies te kontak ten einde jou te kom bystaan. Kontak dalk jou eggenoot of beste vriend om vir jou te reël vir ʼn goeie prokureur. Goue reël hier is dat jy GEEN dokumente teken en verklarings aflê voordat jou prokureur nie by jou was nie. Hou asseblief die volgende in gedagte:

Indien jy afgetrek word deur ʼn wetstoepassingsbeampte, is jy verplig kragtens art. 41 van die Strafproseswet om jou volle name en adres te voorsien. Indien jy weier en/of vals inligting verskaf, is die beampte geregtig om jou onmiddellik te arresteer sonder ʼn lasbrief en vir jou tot en met 12 uur in aanhouding te hou, en wel totdat jou adres en naam bevestig is. Laasgenoemde kan lei tot kriminele vervolging en skuldigbevinding met ʼn boete wat nie R300 of drie maande gevangenisstraf oorskry nie.

3. Die onderliggende beginsel hier is dat die verpligting op die staat lê om te bewys dat jy skuldig is aan ʼn betrokke misdryf. Jy as gearresteerde het nie die verpligting om jouself onskuldig te bewys nie. Hiermee geniet jy die vermoede van onskuld soos vervat in die art. 35(3)(h) van die Grondwet. Die versuim deur die beampte om hierdie regte aan jou te verduidelik, kan lei tot die uitsluiting van ongrondwetlike getuienis kragtens art. 35(5) van die Grondwet. Hierdie artikel moet nie as absoluut beskou word nie, aangesien die hof steeds geregtig is om sy diskresie hierin uit te oefen.

4. By jou aankoms by die polisiestasie sal die polisiebeampte jou in die aanhoudingselle aanhou totdat jou prokureur arriveer. Tydens jou konsultasie met jou prokureur moet jy 100% eerlik wees en vir hom of haar al die feite vertel. Indien jy twyfel, vertel dit vir hom of haar. Die gesprekke tussen jou en jou prokureur is onderhewig aan regsprivilegie. Dit beteken dat alles wat jy vir jou prokureur sê, net tussen julle as vertroulik sal bly. Hierdie is jou beste vriend in jou stryd vir geregtigheid.

5. Ná die konsultasie kan jou prokureur jou help met die opstel van ʼn beëdigde verklaring oor die ware gebeure van die aangeleentheid en om jou verweer te openbaar. Hierdie dokument sal deur jou prokureur opgestel word waarna jy dit sal onderteken. Jou prokureur kan besluit om hierdie dokument in die polisiedossier te liasseer vir doeleindes om jou verweer te openbaar, meer spesifiek om die klaer (die persoon wat die saak gemaak het) se getuienis te weerlê.

Na bovermelde sal die staat besluit of hy jou gaan aankla of nie. In hierdie verband sal jou prokureur jou bystaan en die proses begin vir aansoek om borgtog indien die situasie dit verlang. Die volgende bespreking sal handel oor die borgtogproses. Die uitganspunt is dat geregtigheid in dié proses moet seëvier, ongeag jy die misdryf gepleeg het of nie. Ek sluit af met die volgende aanhaling uit S v Jaipal 2005 (1) SACR 215 (CC):

The right of an accused to a fair trial requires fairness to the accused, as well as fairness to the public as represented by the state. It has to instil confidence in the criminal justice system with the public, including those close to the accused, as well as those distressed by the audacity and horror of crime.

Laastens, tref nou al voorsorg deur die nommer van ʼn goeie strafregprokureur in jou omgewing op jou foon te stoor. Doen navorsing oor die prokureur en maak seker hy of sy is ʼn strafregspesialis.

  • Hein Gonzales is risiko- en ondersteuningbestuurder by die burgerregte-organisasie AfriForum se afdeling vir gemeenskapveiligheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adriaan Schultz ·

Hi. In my beskeie mening sou dit beter gewees het om die huidige verkeers padblokkades as n voorbeeld te gebruik aangesien dit baie meer relevant is. Die voorbeeld wat julle gebruik is nie iets wat sommer gaan gebeur nie en indien dit sou gebeur dat die polisie jou aftrek of stop dit nie in n volwaardige padblokkade gaan wees nie maar eerder omdat iemand hulle inligting gegee het en hulle spesifiek op soek is na jou. In verkeers padblokkades word mense links en regs gearresteer vir sogenaamde lasbriewe. Dit sal baie meer van hulp wees as julle bogeneomde voorbeeld. Groete. Adriaan

JWM ·

Insiggewende artikel, dankie. Wat is die korrekte prosedure mbt toon van bestuurderslisensie en identiteitskaart? Moet ek dit fisies uit my besit laat gaan en oorhandig aan die beampte? Mag hy dit verwyder uit my teenwoordigheid? Behels sy inspeksie dat hy dit bv nie slegs van agter my motor se ruit soos die voertuiglisensie mag inspekteer nie?

Latham Dixon ·

Baie korrekte opsomming. 0ns firma hanteer na-ure borgaansoeke en arrestasies, en deel ek graag besonderhede indien lede sou belangstel.

Johan v d BERG ·

Lig ons asseblief in hoe om n ongenooide gas in jou eiendom te hanteer – dit is OOK n oortreding en doen jy iets aan die gas dan is jy in die moeilikheid – waar trek n mens die streep wat lewens beskerming aan betref – die padreels ens. is tog daar om lewens te beveilig en lyk my dit is die enigste wet wat TOEGEPAS word omrede dit n m@erse INKOMSTE is en dit is n realiteit die ander wette word afgeskeep omdat dit UITGAWES is – ek meen dit is MY keuse of ek n sitplekgordel wil da of nie – NIEMAND se lewe behalwe myne is in gevaar sou daar n ongeluk wees – n trurat lig is deesdae die ULTIMATE boete – n mens sal sweer jy ry permanent in trurat – belaglike padwette – maar soos ek se n GELDMAAK SKEMA op sy beste

Hendrik ·

Wel hier in Middelburg Mpumalanga, of jou nou hoe onskuldig of omgekrap is,…gee jy hierdie verkeersbeamptes net bietjie lip maw staan op vir jou regte of bevraagteken hulle gedrag of wat ook al die rede, dan rand hulle jou aan en arresteer hulle jou hardhandig en sit jy in die selle met geharde misdadigers. Dan is die skade klaar gedoen…. Daar is ontsettend baie klagtes teen veral nie-blanke verkeersbeamptes wat dink hulle kan maak en breek soos wat hulle wil en kom die meeste van die tyd stert in die lug terug van ‘n “tug verhoor”. Ek moet byvoeg, hulle “dink” nie meer hulle kan doen wat hulle wil nie…..hulle DOEN WAT HULLE WIL!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.