Hoofstroommedia, Spur en Jacaranda FM: ‘Afvalliges’ moet luister en nie gehoor word nie

media-tv-kamera

Foto: Broadmark/Pixabay.com

Deur dr. Dirk Hermann en Jaco Kleynhans

Die onlangse Tumi-en-Jacaranda-polemiek het op verskeie vlakke foutlyne in die Suid-Afrikaanse diskoers uitgewys. Een so ʼn foutlyn was die hoofstroommedia wat eenvoudig beslis het dat Tumi se kritici verkeerd is, eerder moet luister en nie gehoor moet word nie.

Die hoofstroommedia het losgetrek met een meningsartikel na die ander en nie eers agtergekom hoe hulle, as voorstanders van vryheid van hul spraak, ander se vryheid van spraak onderdruk nie.

Hul ontkenning van die frustrasies van ʼn groep het die voorwaardes geskep vir die volgende Spur of Jacaranda.

Die afvalliges is na sosiale media verban. Sosiale media is ongereguleerd en bring dikwels rou emosie na vore. Die hoofstroommedia was totaal verstom oor die emosie van die gefrustreerde bannelinge.

Wat die hoofstroommedia nie besef nie, is dat hulle ʼn krokodil grootmaak wat hulle gaan verslind. Hulle kan nie meer hekwagters wees nie.

Die Tumi-debat is ʼn mikrokosmos van wat op reuseskaal in die wêreld afspeel.

Die een groot verskuiwing wat oor die afgelope paar dekades in veral Westerse lande begin posvat het, is die herdefiniëring van liberale waardes. Waar liberaliste eens die groot kampvegters vir vryheid van spraak was, is hulle vandag in lande soos Kanada, Nederland en Duitsland die politici wat deur middel van sogenaamde wette teen haatspraak vryheid van spraak begin inperk.

Lionel Trilling, die bekende 20ste-eeuse Amerikaanse kultuurkritikus, het eens die Britse liberale filosoof en politikus van die 19de eeu, John Stuart Mill, aangehaal waar Mill sy medeliberaliste aanmoedig om die werk van Samuel Coleridge te bestudeer. Mill het Coleridge, ʼn medestigter van die Romantiek-beweging in Engeland verpes, maar kon nietemin daarin slaag om medeliberaliste aan te moedig om Coleridge se briljante konserwatiewe werke te bestudeer.

In sy bekende werk, The Liberal Imagination, haal Trilling vir Mill soos volg aan: “Lord, enlighten thou our enemies…; sharpen their wits, give acuteness to their perceptions and consecutiveness and clearness to their reasoning powers. We are in danger from their folly, not from their wisdom; their weakness is what fills us with apprehension, not their strength.”

Vandag sal liberale filosowe, politici en akademici eerder hul medestanders aanmoedig om werk wat buite hul ideologiese raampie lê, te ignoreer of te verkleineer. Die gepolariseerde groepe neem mekaar net nie meer ernstig op nie.

Talle mense in stede soos Washington DC, Seattle en San Francisco het, nadat Donald Trump verlede jaar tot president van die VSA verkies is, heel verstom opgemerk dat hulle dan niemand ken wat vir hom gestem het nie. Om jou met mense en denke wat van jou eie verskil te omring, is nie meer ʼn kenmerk van liberalisme nie.

Die vernedering van veral konserwatiewe waardes en idees hou talle negatiewe gevolge in. Eerstens ontstaan daar ʼn persepsie van ʼn elitistiese en beterweterige regeerdersklas wat gevoelens van minderwaardigheid en selfs vervreemding onder veral landelike konserwatiewe mense kweek. Hierdie minderwaardigheid en vervreemding word dan maklik deur populistiese politici uitgebuit.

Nog ʼn gevolg van die vernedering van konserwatiewes is die ontwikkeling van nuwe kanale waardeur hulle (die konserwatiewes), baie soos wat liberaliste ook maar doen, hul inligting bekom. Van 1996 tot 2009 was die politieke besprekingsprogram Hannity & Colmes een van die gewildste televisieprogramme op Fox News in dier VSA. Die program is mede-aangebied deur Sean Hannity, ʼn vuurvreter, konserwatiewe nuuskommentator, en Alan Colmes, ʼn skerpsinnige, liberale joernalis. Waarin die program geslaag het, was om kwessie vir kwessie die liberale sowel as die konserwatiewe argumente vir kykers op die tafel te kon plaas. Teen 2009 het die behoefte aan so ʼn program heeltemal vervaag omdat konserwatiewe kykers slegs na Hannity wou luister en liberale kykers slegs na Colmes. Die liberale nuuskanaal MSNBC het ook by tye so ʼn formaat van debat probeer beoefen, maar vandag is Fox News eksklusief konserwatief en MSNBC eksklusief liberaal.

Die media is baie skuldig aan die ontwikkeling van inligtingsilo’s. In die meeste Westerse lande is dit ʼn algemene feit dat die media deur liberale joernaliste oorheers word. Deeglike navorsing deur Lars Wilnat en David Weaver, twee professore aan die Universiteit van Indiana, het in 2014 bevind dat slegs 7% van Amerikaanse joernaliste ondersteuners van die Republikeinse Party is. Navorsing tydens verlede jaar se verkiesingsveldtog het bewys dat 96% van joernaliste wat finansiële bydraes aan ʼn presidentskandidaat gemaak het, dit aan Hillary Clinton gemaak het.

Die probleem in die media lê egter nie net by die politieke voorkeur of selfs ideologiese agtergrond van joernaliste nie, maar eerder in die wyse waarop konserwatiewes en konserwatiewe idees met verloop van tyd deur die media misken en selfs verneder is. Die wyse waarop joernaliste in ideologiese veldtogvoerders ontaard het, het veroorsaak dat die hoofstroommedia sy geloofwaardigheid verloor het. Die Gallup-instituut, een van die mees gerespekteerde peilingsagentskappe in die VSA, het vroeg in 2017 sy jaarlikse navorsing oor die Amerikaanse bevolking se standpunt oor verskillende instellings bekend gemaak. Volgens die jongste statistieke dink slegs 32% van Amerikaners dat die hoofstroommedia se inhoud akkuraat en regverdig is. Die meeste Amerikaners kry deesdae hul nuus van nuwe media soos nuuswebwerwe, sosiale media soos Facebook en Twitter en van meer ideologies-gefokusde radiostasies.

ʼn Paar jaar gelede kon jy die rubrieke van konserwatiewe en selfs regse skrywers soos Ann Coulter en David Limbaugh in bekende hoofstroommedia lees. Deesdae publiseer baie min koerante nog hierdie skrywers se weeklikse rubrieke. Die gevolg hiervan is die opkoms van webwerwe soos Breitbart, TheBlaze en DailyCaller wat daagliks meer lesers as die groot hoofstroomkoerante het. Die konserwatiewe kommentator, Michelle Malkin, het tans 1,44 miljoen volgers op Twitter. Breitbart het 3,7 miljoen en Fox News 16 miljoen volgelinge op Facebook. Konserwatiewe kommentators het nie meer die hoofstroommedia nodig om gehoor te word nie. Met alternatiewe en sosiale media het hulle nou kanale met groot, gefokusde gehore.

Dit is geen wonder dat die Trump-veldtog erken het dat hulle die verkiesing verlede jaar danksy sosiale media en konserwatiewe en regse webwerwe gewen het nie. Wanneer jy met politici van die Partij voor de Vrijheid in Nederland, Front National in Frankryk en Alternativ für Deutschland praat, sal almal oor een ding eens wees en dit is dat die meeste van hul kiesers van die politieke en media-elite vervreemd is en daarom hulself toenemend tot sosiale media wend om nuus en politieke inligting te bekom. Hierdie politieke partye wen nie steun deur beriggewing oor hulle in hoofstroommedia nie, maar wel danksy slim sosialemediastrategieë.

Die onwilligheid van liberale instellings, insluitende die hoofstroommedia, akademie en staatsinstellings om werklike vryheid van meningsuiting toe te laat en die uiteindelike etikettering en verkleinering van konserwatiewe leiers en idees, het grootliks tot die hedendaagse polarisasie aanleiding gegee.

Die gevolge van hierdie polarisasie is dat iemand in San Francisco byvoorbeeld nie kan verstaan wie hierdie mense is wat vir Trump gestem het nie en dat iemand op die platteland van Texas of Oklahoma die inwoners van New York en Los Angeles as onamerikaans beskou. Nog erger is dat hierdie groepe mekaar begin haat en dat politieke debat, wat nog te sê politieke kompromie en samewerking, onmoontlik geraak het.

Nog ʼn negatiewe gevolg van die polarisasie is dat die hardste stemme soms dié is wat die beste gehoor word en dat een ideologiese groep die ander beoordeel volgens die mees ekstreme stem wat aan die ander kant opgaan. Gematigde, billike persone wat graag gesonde debatte wil sien plaasvind, word sleggesê of as draadsitters uitgemaak.

John Stuart Mill was ʼn geharde liberalis soos wat Russell Kirk sekerlik ʼn suiwer konserwatiewe denker was. Die era toe hierdie filosowe, denkers en kommentators graag persone wat van hulle verskil het se werk gelees en dit probeer debatteer het, is egter vir eers verby. Die era waarin die hoofstroommedia ʼn platform vir ware vryheid van spraak gebied het, is oënskynlik ook verby. Wat oorgebly het, is ʼn gevaarlik gepolariseerde Westerse samelewing waar mense met verskillende politieke standpunte mekaar diepliggend wantrou en waar die hoofstroommedia, ook in Suid-Afrika, sodanig kant gekies het dat sosiale en nuwe media mense se behoefte om vir dit wat hulle glo erken te word, bevredig. Die langtermyn gevolge hiervan kan nie goed wees nie. Dit vernietig geloofwaardigheid en ons gaan ons waardevolle hoofstroommedia verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Leopold Scholtz ·

‘n Goeie kommentaar deur twee mense wat ek goed ken en vir wie ek hoe agting het. In ‘n opbouende sin wil ek wel twee voorbehoude stel:
(a) Dit sou goed wees as Dirk en Jaco die hoofstroom-media wat na hul mening verkeerd gedoen het in die Tumi-saak by name identifiseer. Nou word almal oor een kam geskeer, terwyl nie almal skuldig is nie.
(b) Ek sou dit ook verwelkom het as die twee vriende die punt gemaak het dat die “nuwe” media in Amerika (Breitbart en andere) net so eensydig is as die hoofstroom-media.
Ek skryf dit in opregte vriendelikheid. Groetnis, Leopold

JC ·

Geagte Leopold, GELUKKIG is Breitbart EERLIK oor hulle VOOROORDEEL EN EENSYDIGHEID, en VERDRAAI hulle nie die FEITE om HULLE agenda te pas nie, terwyl die HSM ONEERLIK (bewese) IS, MAAK ASOF HULLE KAMTIG ONBEVOOROORDEELD IS (ha!!- dis die ergste van alles), NET die teenoorgestelde doen as Breitbart, en op subtiele, vals-emosionele -( lees- irrasionele ) en slinkse wyse probeer om lesers se gedagtegange, DENKPATRONE EN SIMPATIEE te manipuleer sodat dit inpas by HUL agenda.
DAARIN le die verskil liewe Leopold!!

Jaco Kleynhans ·

Beste Leopold
Dankie vir die terugvoer.
Wat punt A aanbetref stem ek saam dat so ‘n meer gefokusde verduideliking kan volg. Dalk in ‘n opvolgartikel. Ek sou wel hier wou verwys na die hoofartikels wat onder andere in Beeld, Die Burger en Volksblad verskyn het.
Jy is reg oor Punt B. Sonder om dit te genoem het, het ek in ‘n sin aangeneem lesers sal dit so verstaan. Die streng ideologiese fokus van nuwe media verskerp polarisasie eerder as om debat aan te moedig. Dit is maar die punt wat ek probeer maak het.

Nouja ·

Dankie. Ten spyte dat die twee here soos preutse engele klink, wil ek veral een kommentator bedank vir die waardige en volwasse wyse waarop hy van ‘n ander gerespekteerde kommentator verskil. Nou moet hy dit nog net doen teenoor jan en alleman wat soms van hom verskil.

Boerseun ·

nou ja , elke mens het n reg op sy opienie. Dankie dat jy aan ander dit ook toestaan

Kom Ons Boks ·

In opregte vriendelikheid: Mnr. Scholtz moet hom bepaal by sy eie skrywes. Hy kan wel baie leer by Mnre. Hermann en Kleynhans. Die artikel het geen opbouing nodig nie en ek sien Mnr. Schotlz se punte as ongevraagd en afbrekend. Sies vir jou.

Ben Raubenheimer ·

Neem kennis voormalige Radio Pretoria, Maroela Media e. a.

JC ·

Baie, baie goeie rubriek.
Moet egter nie vir Townhall.com (KONSERWATIEF) uitlaat nie, hulle is “awesome!”!!
Die meeste skrywers van Townhall is uitstekende konserwatiewes, wat met goed beredeneerde en rasionele opinies en standpunte, die linkses/elites se verkrampte houdings, deugde-voorskriftelikheid, bodemlose hippokrasie, beterweterigheid, en ontsaglike agterbaksheid/onderduimsheid blootle en aanval.
Townhall is ongeloooflik oulik! (EN OOK FOX, behalwe vir een of twee “nuwe” bekrompenes- die “liberales”)

Chris ·

Baie goeie bydrae. Ek is nie betrokke by die hoofstroom media en is nie by/op die sosiale media ingeteken nie. Ek maak maar my eie afleidings en kom tot die gevolgtrekking dat die “hoofstroom” media bekommerd en of bedreigd voel. Vryheid van spraak is ‘n mite wat almal oor derms ryg. Wie kan ‘n mens sensor om te sê wat hy wil. Lees die grafitti op mure. Dit is die arm man se twitter of Facebook.

Israel ·

Dit kom alles terug na wat Upton Sinclair jare gelede gese het “It is difficult to get a man to understand something, when his salary depends upon his not understanding it!”
Die ANC en kamerade en aanhangsels en volgelinge en dissipels maak geld uit die gemors soos dit nou is , hulle melk ons en hulle weet dit , hulle speel dom want dit pas hulle en ons is dom want ons val daarvoor

Benito Odendal ·

Israel….dis nou in ‘n jaar verdien ‘n spyker op sy kop geslaan moet word…….POWER & MONEY CORRUPTS……..ALWAYS !!!!…….Politisie en die media is deel van ‘n ongelooflike web van lieg bedrieg en slinkse agendas….. GEEN parlementarier kan se hy is vir sy mense daar nie……hul selarisse bewys dit !!!!……As jy meer in ‘n maand verdien as wat die gemiddelde ous vir wie jy kastig ” staan ” in ‘n jaar verdien……IS jy deel van die web…..IS jy daar vir geld , IS jy daar vir mag, IS jy daar om jou eie sak VOOR jou mense se behoeftes te stel. …Die Ingelsman se met reg ” What an entangled web we weave when first we start to deceive “…..Die Westerse hoofstroom media is nou al soooooo blaze met NET ONS WEET wat reg en goed is vir ALMAL !!!…..Hul glo werklik hul is die opvoeder , die onderwyser , die polisieman , die aanklaer , die prokureur , die advokaat , die regter , die dominies……… en sommer ook God……..Iewers gaan die hoogmoed tot ‘n val kom…….Is dit dalk baaaaaie nader as wat ons dalk dink !!!

Therese van Schalkwyk ·

Skitterende uiteensetting van die stand van sake wêreldwyd wat die hoofstroommedia betref.
Kan net dankbaar wees vir die stemme/’penne’ van rede wat op Maroela Media geluister/gelees kan word!

Joernaliste uit alle oorde kan gerus self besluit of die skoen pas of nie.

Dries ·

Puik artikel. Ek hoop net dat ons “konserwatiewes” eendag egte , onafhanklike nuus op TV kan sien ,en nie soos die verwronge nuus wat op KYKNET se sogenaamde Afrikaanse nuus te sien is nie.

Eish ·

Sou ons die hoofstroommedia verloor, is dit jammer, maar dan is dit maar so. Hul bewerk hul eie ondergang deur die vervreemding van hul gehoor, deur n agenda te volg waarmee n deel van hul mark geen aanklank vind nie. Daar is soveel gelaaide, naakte emosie in die standpunte wedersyds wat debatvoering n saak van onmoontlikheid maak. Tydens n onderhoud op RSG onlangs waarby Kallie Kriel en die sekretaris van die Seunse Weenkoor, Max du Preez , by betrokke was, het dit baie duidelik uitgekom. Du Preez se standpunt se tydblootstelling was oordonderend en Mnr. Kriel het skaars kans gekry om standpunt te stel, of hy word in die rede geval. Die onderhoudvoerder se beheer oor die onderhoud was swak om die minste te sê.

Op grond van ons waardestelsels neem ons standpunt in. Word ons veroordeel daarvoor en verban tot sosiale media, dan is dit nou maar so.
Laat die prinse van verligtheid maar die rekening kry van dit wat hul self bewerk.

Puik artikel, baie dankie.

Louw ·

Een verdere voorbeeld in Suid Afrika is natuurlik Helen Zille. As liberalis het sy die liberale agenda goed gestel in die pers en so haar buiging in die politiek gemaak, maar toe uitgevind dat sy nou omring word deur ‘n nog meer liberale bestuur wat haar party onder haar uitgesteel het.

Henry ·

‘n Goeie samevatting van die onafwendbare verval van al die ou liberale boelies wat hand-oor- hand hul rakleeftyd en geloofwaardigheid verloor.
Sonder om in besonderhede te verval, is dit koddig om te sien hoe snel die waarheids-skoen van menere Hermann en Kleynhans oorgevoelige toontjies aan’t knyp laat gaan.
:-)

knor ·

Wat het geword van behoorlik opgeleide media skrywers? Hoe kan daar geskryf word “Eskom sê sus of so”, of “die presidensie sê sus of so”?
Wie is Eskom? Daar moet ‘n persoon wees wat so sê. Koerant berigte het so baie verswak.

m.d.r. ·

Ek wil twee sake hier aanhaal—-omstreeks 1783 verwys die Britse Eerste minister,Edmund Burke, in ‘n toespraak na die “three Estates of the Realm, the Royalty, the Clergy and the commoners…….hy draai toe in die rigting van die persbanke en se:” and yonder sits the Fourth Estate , more powerful than them all…” dus 234 jaar gelede het Burke die gevaar van die Media (van destyds) besef.
My geskiedenis onnie in matriek het hierdie aangehaal–“die pen is wel magtiger as die swaard, maar hy wat die mag van die pen misbruik, sal uiteindelik in die mag van die swaard vaskyk..”
Ek dink dit is waarheen die media in die algemeen oppad is—-mens kan net solank soveel snert aan jou lesers -of kykers–opdis voor jy tot verantwoording geroep gaan word……

Jacques du Toit ·

Ek vind dit komies dat daar na die media altyd as een van die “elite” verwys word.
Op grond waarvan?
Beslis nie op grond van die intellek wat benodig word om ‘n graad in joernalistiek te voltooi nie.
Tydens my jare op US was joernalistiek studente nie juis as akademiese reuse beskou nie, in elk geval nie deur ons chemiese ingenieurs studente nie.

Franco ·

Goeie artikel. Maroela media moet egter ook waak dat hulle nie sensuur so toepas om die kommentaar in ‘n sekere rigting te stuur nie. Ek het dit al opgemerk in ander berigte.

Theunie Pretorius ·

Ai ,hoofstroommedia is veronderstel om nuus uit te dra ,onpartydig met geen verkragting van ware feite nie ,geen wegsteek van ware toedrag van sake nie ,geen wegsteek van ware kriminele nie .Beriggewing oor alle sake ,nie net liberale weghardlopers nie…….As die hoofstroom media dag selfmoord pleeg ,moet ons n traan stort?

alwyn burger ·

Dit is tog so duidelik soos daglig : die hoofsroommedia(eensydig) is verouderd. Dit word vevang deur die sosiale media(meersydig). Die kollektiewe intelligensie van die sosiale media verdwerg die van die uitgediende , sogenaamde hoofstroommedia.

DewaldS ·

Ek stem 100% met jou saam en ek het dit self al so verwoord. Die hoofstroom-media (HSM) het oor ‘n baie lang tydperk die narratief totaal oorheers en niemand kon hulle juis teengaan nie. Saam met dit is die HSM deur ‘n baie lang proses van seleksie waar hulle onafhanklike denkers (of enigiemand wat nie bereid was om beginsels in te ruil vir geld nie) uit hulle geledere gewerk het.

Die media en die heersende narratiewe gaan in die volgende paar jaar onherkenbaar verander, En daar gaan baie vrae gevra word en dalk ook verantwoording ge-eis word van die bekende media-groepe en -mense. Ek hou met interessantheid die spasie dop (dis natuurlik ook ‘n spasie waarbinne voormalige Radio Pretoria en Maroela Media hulle-self bevind).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.