Indië en Pakistan: 70 jaar sedert partisie en onafhanklikheid

indie-en-pakistan-pixabay

Indië en Pakistan. Foto: Pixabay.com

In 1947 is Brits-Indië gedeel in ʼn groter, hoofsaaklik Hindoe-deel, en ʼn hoofsaaklik Moslem-deel en al twee dele het as Indië en Pakistan onderskeidelik onafhanklik geword. Die partisie het met groot trauma en bloedvergieting gepaard gegaan en was die grootste etniese menseverplasing ooit wat nie as gevolg van oorlog plaasgevind het nie.

Brittanje se beheer oor Brits-Indië het op 15 Augustus 1947 geëindig, ná sowat 150 jaar van Britse beheer en ná ʼn onafhanklikheidstryd van sowat 30 jaar, veral gelei deur Mohandas (“Mahatma”) Gandhi. Die Tweede Wêreldoorlog en die oorwinning van die Britse Arbeidersparty in 1945 het ʼn beslissende rol gespeel om onafhanklikheid te bespoedig.

Aanvanklik was die plan, soos die vryheidsheld Mahatma Gandhi dit wou gehad het, om Brits-Indië as een land onafhanklik te maak. Die leier van die Moslem-liga, Mohammed Ali Jinnah, het egter gevrees dat sy mense ʼn minderheid in die groter Indië sou wees, en het daarom aangedring op territoriale verdeling tussen Hindoes en Moslems. Hoewel in elke stad Hindoes en Moslems (en ander geloofsgroepe) gewoon het, was die Moslems veral dominant in die Pandjab (die huidige Pakistan) en in Oos-Bengale (die huidige Bangladesj).

Die twee dele is uit die groter Indië uitgesny en het as Pakistan, met Jinnah as leier, onafhanklik geword, terwyl die res as Indië, met Jawaharlal Nehru as leier, onafhanklik geword het. Die grense is inderhaas getrek en is eers twee dae na onafhanklikheid aangekondig. Een deel van Brits-Indië, wat tot vandag toe ʼn onopgelosde vraagstuk is, is Kasjmir, ʼn prinsdom in die Himalajagebergte. Die meerderheid van die bevolking is Moslems, maar die destydse maharadja, ʼn Hindoe, het besluit dat Kasjmir deel van Indië moet wees. Kort ná onafhanklikheid het Indië en Pakistan oorlog oor die gebied gevoer en dit is op ʼn wapenstilstandslyn gedeel, sonder ʼn finale verdrag.

Omdat die onafhanklikheid van die twee state en die partisie so skielik gebeur het, het miljoene mense hulle aan die verkeerde kant van die grens bevind en het massas Hindoes en Sikhs na Indië gevlug, en nog meer Moslems na Pakistan. Sowat 12 miljoen mense het gevlug, en tot ʼn miljoen mense is dood in die konflikte tussen die geloofsgemeenskappe. Lang opgedamde haat en afkeur vir die ander geloof, wat deur die Britse bewind onder druk gehou is, kon nou skielik tot uitbarsting kom. Dit was nie net “spontane” uitbarstings nie –daar was ook georganiseerde groepe en militia betrokke. Dit was ʼn volksmoord, maar omdat dit van albei kante gekom het en omdat die twee lande nie hulle onafhanklikheid met bloed wou besmet nie, is dit dadelik onder die mat ingevee. Geen behoorlike navorsing, geen versoeningsproses en geen bestrawwing van skuldiges het plaasgevind nie. Daar is geen monument om dit te herdenk nie en ook bitter min eerstehandse getuienis wat opgeteken is (en min oorlewendes is nog oor). ’n Museum oor partisie is eers in 2016 geopen.

Die bloedige onafhanklikheid van die twee lande het wel meegebring dat hulle tot vandag toe vyande is. Skermutselings vind van tyd tot tyd op die grens plaas, wedersydse handel en kulturele uitreik is min. Min verkeer vind tussen die twee lande plaas. As daar die dag ʼn internasionale krieketwedstryd tussen die twee lande plaasvind, dan is dit meer as sport, dit is soos ʼn oorlog. Ook binne die lande is godsdienstige onverdraagsaamheid diep gewortel. In Pakistan word die klein Christelike minderheid asook Hindoes onderdruk, in Indië moet die Moslems, nog steeds 20% van die bevolking, lig loop en is ook ná onafhanklikheid dikwels aangeval in pogroms. Ook Christene en Sikhs loop in Indië deur.

Soortgelyke gevalle, waar etniese groepe wat oënskynlik vreedsaam langs mekaar geleef het en skielik, na ʼn bewingsverandering of ʼn magsvakuum mekaar aangeval het, was daar al dikwels gewees. Ons kan dink aan verskeie Afrika-lande ná onafhanklikheid (aanvalle op Indiërs in Tanzanië, aanvalle op wit mense in die Kongo, Angola en Mosambiek, byvoorbeeld), aan Ciprus in 1974, Viëtnam en Kambodja in 1975, Joegoslawië in 1992, Ruanda in 1994, Sirië en Libië in 2011, Mianmar in 2014 en nog talle meer.

Dit is natuurlik ʼn oop vraag of partisie destyds ʼn goeie besluit was of nie. Gandhi se droom van ʼn verenigde Indië, waar alle groepe vreedsaam saamleef, was naïef en heel moontlik sou dinge nog erger gegaan het as die Moslems nie ʼn heenkome in Pakistan gehad het nie. Dit is egter amper ʼn wonderwerk dat so ʼn geweldige groot en diverse land soos Indië nie na onafhanklikheid verder versplinter het nie, meer nog omdat dit ʼn (soort van) demokrasie is sonder ʼn diktator wat dinge met ʼn ystergreep bymekaar hou. Pakistan het op sy beurt in 1971 verder versplinter met die afskeiding van Bengale as Bangladesj. Hoewel die mense van Bengale ook Moslems is, het hulle geografiese afstand van die hoofdeel van Pakistan en hulle ander etniese afkoms gemaak dat hulle gevoel het hulle word afgeskeep en wil eerder op hulle eie wees. Ook dit het met trauma en bloedvergieting gepaard gegaan.

Suid-Afrika was in 1947 besig om in die teenoorgestelde rigting te beweeg. Jan Smuts, die destydse premier, wou die land groter maak deur gebiede soos Suidwes-Afrika, Rhodesië, Betsjoeanaland, Swaziland en Basoetoland by Suid-Afrika te voeg. Die idee is ná die NP se oorwinning in 1948 nie verder gevolg nie en direkte partisie volgens etniese of godsdienstige kriteria het eers heelwat later ter sprake gekom, maar was beperk tot akademiese debatte. In die 1980’s en in die aanloop tot die ANC se magsoorname in 1994 was dit ʼn opsie onder vele, maar weens die groot ontwrigtings en opofferings wat daarmee gepaard sou gaan, is dit nooit deur die hoofonderhandelaars oorweeg nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessant. “Trauma en bloedvergieting” en Islam gaan blykbaar hand aan hand.

Die fliek “Viceroy’s House” handel oor Lord Mountbatten, die onafhanklikheidswording van Indië en hierdie tragedie tussen Moslem en Hindoe.
Kan dit aanbeveel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.