Joernalistiek beleef ʼn bestaanskrisis

fopnuus-02

Foto: Verskaf.

BREAKING NEWS: Jacob Zuma has resigned as president

CAPE TOWN —- The president of South Africa, Jacob Zuma has on Wednesday evening announced his resignation as President of the country following a protest by the opposition EFF.

Het sulke “nuus” jou ook al laat regop sit? Dan is jy een van ʼn baie groot groep mense wat al mislei is – en seker steeds mislei word – deur die magdom “nuuswebwerwe” wat soos paddastoele verrys het.

Die internet het, sedert sy ontstaan, ʼn ontsaglike bydrae gelewer tot die mens se kennisvlakke – die jongste nuus met die klik van ʼn muis. Maar dit het ook tot ʼn reeks nadele gelei, waarvan geloofwaardigheid die grootste slagoffer is.

ʼn Nimmereindigende stryd word gevoer vir mediavryheid, maar baie van die mense en instansies wat dit predik, is juis besig wat daar van hierdie hoeksteen van die beskawing oorgebly het, te misbruik. Facebook staan hier breed in die beskuldigdebank.

Die besware teen vals en misleidende nuus het tsoenamivlakke bereik met die onlangse Amerikaanse verkiesing, toe die volslae buiteperd, Donald Trump, eerste verby die wenpaal is, ondanks die propagandistiese en bevooroordeelde beïnvloeding en misleiding deur van die wêreld se meer gesiene en “betroubare” nuusbronne.

Wat in Amerika en elders gebeur, is dat joernaliste aktiviste geword het – pleks daarvan om nuusgebeure te weerspieël, word hul artikels met eie agendas gelaai.

Die joernalis, Christiane Amanpour, het in New York, waar ʼn internasionale persvryheidsprys aan haar oorhandig is, gesê die joernalistiek in sy geheel beleef ʼn bestaanskrisis. Sy het haar hartstogtelik daarteen uitgespreek en gesê joernaliste moet hulle herverbind tot robuuste, feitegebaseerde verslaggewing.

“Die media moet onderskei tussen balans, objektiwiteit, neutraliteit en die waarheid.”

Amanpour het die opkoms van fopnuus die “mees ongelooflike ontwikkeling nóg” genoem. Selfs gevestigde mediahuise wend hulle tot sensasionele en onwaar joernalistiek in ʼn poging om trefslae te kry.

ʼn Belangrike newe-effek is dat Facebook besig is om advertensie-inkomste van die tradisionele media af te keer.

Leonid Bershidsky, rubriekskrywer op Bloomberg.net, sê die ekonomiese konflik is besig om die nuusbedryf te vernietig. Facebook, Google en Twitter plaas stories met die doel om massaverkeer te lok en ʼn paar dollar deur Google AdSense te maak.

Om mee te begin, is daar groepe op die internet wat ʼn geweldige behae skep in die verspreiding van valse stories, terwyl baie van die skuldige webwerwe geld verdien met trefslae en advertensie-inkomste.

Daar is natuurlik ook die brigade betotteldes, wat allerlei “waarhede” in mooi kleertjies aantrek en sonder inkomste vir hul eie vermaak versprei.

‘n Leuen trek dwarsoor die wêreld voordat die waarheid die kans kry om sy broek aan te trek. – Toegedig aan Sir Winston Churchill

Koerante doen ewe rustig mee aan fiktiewe, sensasionele beriggewing. So het die Britse poniekoerant Daily Mail verlede jaar op die voorblad uitgeskree die premier, David Cameron, het ʼn seksdaad met ʼn dooie varkkop gepleeg. ʼn Paar uur later het dit soos ʼn veldbrand ook in gevestigde koerante en op Facebook verskyn. Die betrokke joernalis se kommentaar was dat sy net haar bron aangehaal het. “Die koerant het nie gesê of dit waar is of nie. Dis vir die lesers om te besluit.”

“Die probleem,” skryf Katherine Viner in The Guardian, “is dat die sakemodel van digitale nuusorganisasies op klikke gebaseer is. Daar heers ʼn koorsagtige fees van ʼn oordaad stories (binge publishing) om pennies en sente in te samel. In die eerste kwartaal van 2016, het 85 sent uit elke dollar wat aan aanlynadvertensies bestee is, na Google en Facebook gegaan.”

Amerika se betroubaarste bronne

Volgens ʼn peiling deur Pew Research Centre, het nuusverspreiders, soos CNN en ABC News, waarskynlik die grootste gehore, maar die webwerwe wat konserwatiewe Amerikaners die meeste vertrou, is die Wall Street Journal en die Britse webwerwe BBC en The Economist. Huffington Post, wat nou ná ʼn ooreenkoms met Naspers se Media24 ook ʼn Suid-Afrikaanse uitgawe het, is maar laag op die lys.

Indy100 het onlangs ʼn lys geplaas van 133 webwerwe wat vals nuus versprei. Wikipedia sʼn het 65 name.

Vermy hierdie Suid-Afrikaanse werwe

In baie gevalle is die nuusbron een wat wettig lyk, maar met ʼn klein verskilletjie, soos die syfer 1 êrens in die skakel. Die aangehaalde Zuma-berig is afkomstig van news24-tv.com – ʼn webwerf wat nie op die geregistreerde lys is nie. In ander gevalle laat mense hulle mislei, omdat hulle nie satiriese webwerwe kan onderskei nie. Baie van hierdie satire word dan ook as feite soos veldbrande op Facebook en in e-posse versprei.

Watter plaaslike webwerwe moet vermy word? Bizcommunity het ʼn paar van hulle uitgewys:

T1mesLive

Let wel: Dit is nie TimesLive nie, maar T1meslive.
Hierdie webwerf kruip weg agter die “satire”-etiket, maar baie stories handel oor mense wat “dood” is. Onlangse artikels was die dood van Winnie Madikizela-Mandela en Desmond Tutu. Die SA Nasionale Redakteursforum (Sanef) sê webwerwe wat hulle as betroubare nuusbronne voorhou, veroorsaak groot hartseer en ontevredenheid by die mense wat betrokke is en hul families. Hulle skaad ook outentieke mediahuise en die bedryf in sy geheel. TheGuard1an probeer ook besoekers met vals stories lok.

African News Updates

Nog ʼn webwerf wat nie tussen satire en leuens onderskei nie. Daar was onlangs ʼn berig dat BMW werk aan die ontwerp van ʼn motor waarvan die vorm gebaseer is op Zuma se kop. Die meeste lesers sal dit sekerlik vroeg as satire of plein twak identifiseer. Maar dan is daar ook ʼn berig wat lesers straks sal lok om dit oop te maak, waarin Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, sê dat lobola in 2017 afgeskaf gaan word.

iMzansi

Hierdie webwerf het ook die lobola-berig gedra, asook ʼn berig dat Donald Trump sê hy sal Robert Mugabe gevange neem. Hy adverteer homself as ‘”n daaglikse dosis vars nuus wat jy nêrens anders sal kry nie” (behalwe op ander soortgelyke webwerwe). Die webwerf erken darem ook dat van sy nuus politieke satire en fiksie bevat.

Live Monitor

Hierdie webwerf gebruik ʼn mengsel van “eie beriggewing” en gesindikeerde inhoud van ander vals webwerwe. Van die stories is nogal taamlik geloofwaardig, soos die vier krokodille wat tydens die vloed uit ʼn Johannesburgse dieretuin ontsnap het.

News24-TV

Nog ʼn webwerf wat probeer om te assosieer met ʼn bekende nuuswebwerf, News24. Hy plaas stories soos dat die gewese SR-voorsitter van Wits geskiet is. Die webwerf maak aanspraak op ʼn groter internasionale fokus en sê hy het kantore in 17 lande.

Hoeveel gebruikers het Facebook?

 Facebook het in Februarie 2004 begin en is die omvangrykste sosiale medium.

Volgens Statista se syfer vir Mei 2016, is daar 1,71 miljard gebruikers. Hiervan is 195 miljoen in Indië, 191 miljoen in die VSA, 90 miljoen in Brasilië en 52 miljoen in China. Westerse lande, soos Brittanje, Frankryk en Duitsland, se gebruikers is om en by 30 miljoen elk.

Perfect Insider sê daar is 27 miljoen gebruikers in Egipte, 16 miljoen in Nigerië en 13 miljoen in Suid-Afrika.

Hoe maklik is dit om fopnuus te versprei?

Eric Tucker (35) het sowat 40 Twitter-volgelinge gehad. Hy het getwiet betogers teen Donald Trump se verkiesing word met busse aangery. Hierdie twiet is 16 000 keer op Twitter gedeel met foto’s van busse en meer as 350 000 keer op Facebook.

Van die grootste vals berigte wat op Facebook versprei is, sluit in dat pous Francis Donald Trump ondersteun, dat Hillary Clinton wapens aan ISIS verkoop het en dat die FBI-agent, wat haar e-posse ondersoek het, dood aangetref is.

fopnuus-01

Foto: Verskaf.

Vals nuus maak groot geld

Baie skrywers en nuusbronne maak hulle ook skuldig aan bedoelde vooroordeel, soos wanneer hulle artikels plaas en dit net ondersteun met bronne wat hul standpunt pas. Die ontkenners en saamstemmers oor aardverwarming tel onder hierdie groepe. Die jongste voorbeelde is artikels waarin Fidel Castro ʼn held was en ander wat hom as ʼn misdadiger voorhou. Gebalanseerde artikels is skaars.

Van die gewildste en mees gelese artikels op die internet handel oor “bewyse” dat die eerste maanlanding in 1969 in ʼn ateljee geskep is. Meer onlangs het ritse “bewyse” – met foto’s en onderhoude met gesiene “kenners” – verskyn dat die 9/11-aanval op New York se Twin Towers en die Pentagon, deur Amerika self en nie deur terroriste nie gepleeg is nie.

Ouer stories, soos Prinses Diana se dood, die sluipmoord op pres. J.F. Kennedy en selfs die Roswell-insident van 1947 – met foto’s van die buiteruimtelike wese wat geland het – het steeds hul lesers en hulle huiwer nie om kommentaar te lewer nie.

Op 25 Mei vanjaar het die gewetenlose webwerf Superstation95 in ʼn artikel geskryf Parys is onder Moslembeleg en dat dit doelbewus deur Westerse media geïgnoreer word. Die meeste geweldsfoto’s by die berig was twee jaar oud en het niks met Moslems te doen gehad nie. Ander webwerwe het paniek gesaai oor die verspreiding van die ebola-virus.

ʼn Vals nuuswebwerf moet eg lyk

Daar is ook webwerwe wat openlik fopnuus versprei en daarmee spog, soos The National Report, wat homself adverteer as “Amerika se Nommer Een onafhanklike nuusdiens.”

Allen Montgomery (skuilnaam) het aan die BBC gesê sy fopwebwerf stimuleer hom geweldig. Een van sy topstories was oor ʼn Amerikaanse dorp wat weens die uitbreek van ʼn dodelike siekte gesluit is.

Montgomery sê dit skep oneindige plesier om te sien hoe mense die aas vat en die verkeer op ʼn storie styg. “Ons het die kuns bemeester en die hoofopskrif is die sleutel. Jy moet ʼn vals nuuswebwerf net eg en betroubaar laat lyk.”

Maar dit gaan oor veel meer as die opwinding: Montgomery sê hulle het al stories gehad wat R140 000 verdien het. ʼn Topstorie kan baie meer as dit maak.

Sosiale media veroorsaak dat die nuusbedryf vinnig beheer verloor oor nuus en die inkomste wat daarmee saamgaan.

Dit lyk of dit ongelukkig waar is wat Espen Egil Hansen van die Noorse koerant, Aftenposten, sê: Facebook word al hoe meer ʼn mediamaatskappy as die tegnologiemaatskappy waarop sy stigter gereeld aanspraak maak. Facebook het die globale beherende redakteur geword.

Maar ons kan darem nog self besluit wat ons lees en wat ons glo en versprei. Kyk ook na die datum bo aan ‘n plasing – party van hulle is tot vier jaar oud! Ons moet net baie wakker en ʼn bietjie agterdogtig wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Amanpour is een van die mees aggressiewe en dominerende joernaliste op tv en die koningin van verdraaiing. Sy gebruik onderhoude om haar opinie uit te dra. En sy word geprys? So waar is daar ‘n nuuskanaal sonder ‘n ideologie? By ons moet ann7 gerus dopgehou word. Ultra-reaksies en ‘Breaking News’ ten bate van die ANC en saamlopers en studente-griewe, oorheers glo alles. Sou daar so ‘n Afrikaanse tv-stasie gewees het, was dit al lankal gesluit.

Nico K ·

Die internet het die moontlik gemaak dat dit makliker is om ‘n klomp nonsens te versprei. En mense glo dit. Proffesionele joernaliste sal nie sommer sulke stories skryf nie. Nee, hulle doen dit baie meer subtiel. Maar ek dink nie daar is ‘n joernalis wat nie skuldig is aan propaganda nie. En almal probeer maar om hulle mening te verkoop onder die vaandel van rasionele kommentaar. En ‘n proffesionele joernalis moet die politieke propaganda verkoop van die persoon wat hom betaal. Ons baklei baie teen die ANC gebasseerde SAUK, maar in die ou SA moes SAUK joernaliste en die meeste Afrikaanse koerante die Nasionale Party steun. Dit is maar hoe dit werk in die lewe.

Pinnochio ·

My eerlike opinie oor die media is dat hulle gebruik word om onmin te saai en emosies op te werk. Daar is altyd ‘n ander ‘force’ agter die media. Of sindikate, of ‘n politikus, of ‘n politieke party of ‘n baie korrupte indiwidu. Die media is te bang om enigiets oor die regering te publiseer of oor plaasmoorde .. want dit gaan die ANC in ‘n slegte lig stel. Hulle is en bly puppets.

Nell Weyer ·

Ek is dankbaar dat die liberale media op hulle laaste bene is. Hoe gouer hulle val hoe beter. Of die alternatiewe media veel beter sal wees is ook te betwyfel, maar dit mag dalk veroorsaak dat mense weer vir hulle self begin dink en meer uitgebreid lees.

JC ·

Dankie Nell :-)
Jy neem die woorde uit my mond! Goeie kommentaar!

JC ·

BREITBART NEWS NETWORK (BNN) -DIE BESTE!!!!!!
NEE DANKIE CNN, MAAK MY NAAR, KAN NIE EERS MEER DAARNA KYK SONDER OM BEWUSTELIK TE VOEL HOE DAAR GEPOOG WORD OM MY TE MANIPULEER MET IDEOLOGIES LINKS GEINSPIREERDE POLITIES KORREKTE DRYWING NIE!!
SELFDE VIR FOX, CBS, ABC, BBC, NBC EN DIE HELE LOT!! WAT NOG TE SE VAN SA SE HOOFSTROOM MEDIA ESTABLISHMENT!
BREITBART “FOR LIFE”!!
EK HOOP BREITBART MAAK ‘N TAK OOP IN SUID-AFRIKA. DRUDGE REPORT IS OOK HEEL SKAFLIK.

chris ·

Jy het van Praag se webwerf vergeet. Hulle versprei mos ook wolhaarstories.

JC ·

Ja,sjoe, PRAAG is die beste !!
7 hoera’s vir Dan Roodt en PRAAG en hul alternatiewe, realistiese, konserwatiewe en on-geindroktineerde stem!!!
Baie jammer vir al die liggelowige skapies wat nog hoofstrrom media volg.
Hopelik sien jul eendag die lig ne?

Henry ·

Dankie vir ‘n interessante artikel.
Verstommend dat daar sovele siele is wat hul tyd op Facebook en werwe vermors wat van weinig nut vir mens of dier kan wees.
Die joernalistieke bedryf het in talle gevalle en mettertyd agteruit gegaan soos die kompetisie vir lesers/kykers/ luisteraars alhoe groter geword het. Feite wat in wol toegedraai word om ooreen te stem met die opdraggewer(s)/betaalmeester(s) se benepe politieke vooroordele, die dryf van eie agendas ens ens ens is ‘n alledaagse verskynsel en word in alle vorme aangebied – internetwebwerwe, radio, koerante, tydskrifte, tv…
Sommige van die arme joernaliste en kommentatorre teem alhoe meer oor die probleem dat hul teikengehore nie meer hul pogings klakkeloos aanvaar nie. In die proses word die spreekwoordelike onderrokke dikwels aan’t sleep en raak getrap, wanneer produkte nie voor die voet gekoop en verorber word nie.
:-))
Gelukkig is daar nou soveel meer bronne van inligting beskikbaar, dat enige ernstige leser, luisteraar, kyker nie meer aangewese is op een bron van inligting nie. In die ou dae was die gesegde hoeka dat sus of so die waarheid sou wees, want dit staan so in die of daardie koerant geskryf!
Dankie tog dat daardie tye vir goed verby is en kan die leser soveel ander inligtingsbronne moeiteloos opspoor, in ‘n poging om tussen die perde kuttels en vye te onderskei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.