Le Pen verskuif politieke landskap in Frankryk na regs

Emanuel Macron voorheen lid van die Sosialistiese Party en nou leier van sy nuutgestigte sentrumlinks-liberale party, het die eerste ronde van die verkiesing gewen.

Emanuel Macron voorheen lid van die Sosialistiese Party en nou leier van sy nuutgestigte sentrumlinks-liberale party, het die eerste ronde van die verkiesing gewen. Foto: Facebook.

Die Franse is kwaad, bekommerd en negatief oor hul land, sy toekoms en die Europese kontinent en sy instellings soos die Europese Unie, Navo en die Euro-geldeenheid. Die ongekende frustrasie van gewone Franse, saam met die feit dat ’n kwart van kiesers voor Sondag se verkiesing onseker was oor vir wie hulle sou stem, het baie kommentators laat dink dat die eerste ronde van die Franse verkiesing ’n verrassende of selfs skokkende uitslag kon hê. Niks daarvan het gebeur nie en die uitslag was grootliks in ooreenstemming met die afgelope twee weke se meningspeilings.

Die 39-jarige Emmanuel Macron, voorheen lid van die Sosialistiese Party en nou leier van sy nuutgestigte sentrumlinks-liberale party, het die eerste ronde van die verkiesing gewen. Hoewel Macron en sy party ’n vars aanslag het, verteenwoordig hulle grotendeels die gevestigde magsorde in Frankryk en sal Macron min doen om die kwessies wat Franse kiesers bang en onseker maak, aan te pak.

Maandagoggend, kort nadat die uitslag van die verkiesing bekend gemaak is, het televisiekanale, radiostasies en koerante reeds verkondig dat Macron die volgende president van Frankryk sal wees. Dit ten spyte daarvan dat die tweede ronde van die verkiesing eers op 7 Mei plaasvind.

In die eerste peiling ná Sondag se verkiesing loop Macron met 62% van die stemme voor. Alle peilings oor die afgelope paar maande het dan ook gewys dat Macron gemaklik ’n tweede ronde teen Marine le Pen van die Front National sal wen. Is die verkiesing van Macron as die volgende president van Frankryk dus nou net ʼn formaliteit? Beteken dit dat regse politiek in Frankryk verslaan is en dat die sentrum staande gebly het? Dit is vatbaar vir bespreking.

Die uitslag van Sondag se verkiesing is nie maar net ’n voortsetting van ou politieke patrone in Frankryk nie. Die twee groot, gevestigde partye in Frankryk, die Sosialiste en die Republikeine, sal vir die eerste keer sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog albei sonder ’n kandidaat in die finale ronde van die presidentsverkiesing wees. Indien die prestasie van die ekstreemlinkse kandidaat Jean-Luc Mélenchon saam met dié van die regse Le Pen getel word, dan het vier uit elke tien Franse vir ’n Euroskeptiese kandidaat buite die politieke sentrum gestem. Dit het nog nooit in die afgelope dekades gebeur nie.

Gedurende die presidentsverkiesing van 2002 het Marine le Pen se pa, toe leier van die Front National, tot die tweede ronde van die Franse presidentsverkiesing deurgedring. Hy is in die tweede ronde deur Jacques Chirac met 81% teen 19% van die stemme verslaan. Vanjaar sal dit nie weer gebeur nie. Die kans dat Marine le Pen meer as 40% van die stemme op haar kan verenig, is goed.

Hoewel Emmanuel Macron waarskynlik die volgende president van Frankryk gaan wees, moet die groot politieke verskuiwing in Frankryk, net soos in Oostenryk, Nederland en talle ander Westerse lande nie misgekyk word nie. Le Pen mag dalk nie op 7 Mei president van Frankryk word nie, maar soos wat Geert Wilders in Nederland, Nigel Farage in Engeland en Heinz-Christian Strache die politiek in Oostenryk na regs verskuif het, is Le Pen meesterlik besig om dieselfde in Frankryk reg te kry.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gerhard de V ·

Franse…n nasie bekend vir hul dom astrandheid. Mag hul die gevolge dra van hul besluite. Gaan n geval wees van n goeie tweede plek, is beter as n swak wenner, in eg Franse mentaliteit.

John ·

Die jongmense vind aanklank by Macron… hy is jong, aantreklik en sit op die draad, wat die groot Moslem-bevolking tot ‘n mate tevrede stel, maar Frankryk het groot politieke probleme wat Hollande telkens net verder terug gestoot het. Dit gaan weer opduik en Macron sal regs moet beweeg om die aggresiewe IS-ondersteuners die hoof te bied.

Jcwf ·

Macron gaan wen en daardeur sal ook die EU wen. Met Macron, Juncker, Tusk en Merkel of Schulz aan die mag en die Britse saboteurs uit die Unie sal die EU vinnig aan sy probleme kan werk en ook militêr vereen en sy grense beveilig. Die ekonomie is reeds sterker. Spanje groei nou twee keer vinniger as die VS. Dit gaan beter word in Europa.

Sê maar net ·

O ja? En die berig is deur ‘n erkende internasionale politieke kenner geskryf?
Ek suig maar swaar aan hierdie lekkertjie…

Avokado ·

Vertrou alweer die “peilings”…. Onthou van Brexit en Trump!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.