MRK kan nie feite van Solidariteit se rassismeverslag betwis

rassisme mnn_com

Grafika: Mnn.com

Solidariteit het onlangs ʼn verslag getiteld Rassisme, haatspraak en dubbele standaarde: Geensins ʼn swart-en-wit saak nie bekendgestel. Dit is deur my en kollega Connie Mulder opgestel en dit het maande se kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing geverg. Die verslag is met uiterste omsigtigheid bejeën weens die omstrede aard daarvan. Dit vorm deel van ʼn groter veldtog wat Solidariteit tans oor selektiewe rassisme voer.

Soos die titel aandui het dit kortom ten doel gehad om die dubbele standaarde wat rondom rassisme en haatspraak heers, aan die kaak te stel. Ons het besluit om verskeie gevallestudies te gebruik en dit aan die hand van die omvang en aard van mediaberiggewing, die gevolge vir die oortreders en ook die Mensregtekommissie (MRK) – as die grondwetlike instelling gemoeid met haatspraak – se optrede, te ontleed. Die groepe is in onderskeidelik ʼn wit en swart groep verdeel om vergelyking te vergemaklik.

Die bevindinge behels in breë trekke dat onbekende wit rassiste se dade baie meer opslae maak as onbekende swart rassiste se veel erger uitlatings. Trouens, ʼn onbekende wit rassis soos Penny Sparrow maak omtrent net soveel opslae as iemand soos Julius Malema, wat basies gesê het wit mense kan geslag word. Swart rassiste, veral as hulle vir die staat werk, ly ook minder professionele gevolge vir hul dade en word minder veroordeel, veral deur die ANC. Die MRK is in die algemeen ondoeltreffend en ook inkonsekwent ten opsigte van rassistiese uitlatings en haatspraak.

Soos ons gehoop het, het die verslag taamlik groot opslae gemaak en is dit selfs in linkse mediakringe soos The Daily Maverick bespreek (en nogal verrassend met nie te veel negatiwiteit nie). En soos verwag was daar kritiek oor die keuse van gevallestudies terwyl min gedoen is om die feite in die verslag – wat almal tot uiting deur deursigtige metodes en ontledingskriteria gekom het –  te weerlê. Ewenwel, gaan lees gerus self die verslag.

Die MRK se reaksie

Ons het nie verwag dat die MRK op ons verslag sou reageer nie. Maar verlede week het die MRK by monde van sy woordvoerder Gail Smith (wat ook wyd in die verslag aangehaal word), sy stuiwer in die armbeurs in ʼn artikel op City Press se webwerf gegooi. Om eerlik te wees dink ek nie die MRK of enigiemand anders het ooit verwag dat iemand so ʼn studie soos ons sʼn sou aanpak nie. Dis polities ongewild en daag heersende dogma uit. Maar ons het en die feite jok nie.

As die MRK se afhandeling van haatspraaksake net so flink vermenigvuldig het soos Smith se strooipoppe, sou ons verslag waarskynlik onnodig gewees het. Sy beskuldig Solidariteit eerstens daarvan dat ons nie die konsep van strukturele rassisme begryp nie en dat dit tot ongelykheid (en dus outomaties ook diskriminasie) tussen rassegroepe bydra. Ons moet ook beter begrip vir die “ongeregtighede van die verlede” toon en hoe dit menseregte vandag skend.

Eerstens het die verslag nie oor strukturele rassisme gehandel nie, maar oor rassistiese uitlatings en haatspraak. En niemand ontken dat apartheid nie ʼn nalatenskap het nie, maar dit was nie die tema van die verslag nie. ʼn Mens kan strukturele probleme, soos swak onderwys in die townships, met oorgawe pak, maar dit spreek jou nie vry daarvan om ook teen haatspraak op te tree nie.

Volgens Smith is alle wit mense dus outomaties rassisties en skend hulle alle swart mense se menseregte net omdat hulle dalk ryker as swart mense is. En dan dig sy dit alles aan apartheid en kolonialisme toe, so asof dit alleenlik te blameer is vir swart mense se probleme en nie ook die huidige regering se mislukkings nie. Ons moet dus almal eers op die sosio-ekonomiese vlak wees voordat wit mense nie meer swart mense se menseregte skend nie. Dis absurd.

Sy sê egter niks van regstellende aksie, sportkwotas en taaldiskriminasie nie (wat as huidige menseregteskendings kwalifiseer) en fokus bloot op sosio-ekonomiese omstandighede. Ek is seker mnr. Zuma is in sy skik met Smith se napraat van sy retoriek. Hy betaal immers haar salaris omdat die MRK in wese ʼn staatsinstelling is.

Volgens haar moet Solidariteit ook nie wit mense as slagoffers uitbeeld nie omdat hulle aansienlike sosiale en ekonomiese voorregte geniet. Dus, net omdat die gemiddelde wit persoon ryker is as die gemiddelde swart persoon, moet hulle nie kla as daar gevra word dat hulle in stukke opgekap word of tot bemestingstof gereduseer moet word nie. Nee wat, dit is alles in die haak met Smith en die MRK! Wit mense mag mos nie op die regte in die Handves van Regte staatmaak nie ondanks dat hulle ʼn ongewilde en presterende minderheid is en direk deur swart politici en gewone swart mense in hul uitlatings en op ander maniere geteiken word – nes die Jode in Nazi-Duitsland in 1936, die Tutsi’s voor die volksmoord in Rwanda, die wittes in Zimbabwe en die Indiër-minderheid in Idi Amin se Uganda in 1972.

Dan voer sy boonop aan dat “Suid-Afrika ʼn deelnemende demokrasie is, nié ʼn oppasserstaat nie”. Dit beteken volgens Smith dat die MRK dus menseregte moet bevorder en beskerm en nie soos ʼn “Net Nanny” mense se private sosialemedia-rekeninge polisieer nie. Min mense, en beslis nie Solidariteit nie, verwag dat die MRK alle Suid-Afrikaners se Facebook-rekeninge dophou. Dis outoritêr en buitendien nie haalbaar nie. Die probleem is dat die MRK bevooroordeeld optree as hulle met klagtes en bewyse van haatspraak op sosiale media gekonfronteer word. Hoekom vir Matthew Theunissen swaar straf, maar nie vir Tlou Molele vir soortgelyke oortredings op sosiale media nie? Hierdie uitlatings van Smith weerspreek dit wat sy en nog ʼn MRK-woordvoerder, Isaac Mangena, die afgelope jaar kwytgeraak het: Dat die mense hul haatspraak-klagtes na die MRK toe moet bring en dat die sosiale media ʼn hutspot van haatspraak en rassisme is. En terwyl niemand verwag dat hulle almal moet monitor nie, moet hulle darem sekerlik klagte oor haatspraak op sosiale media wat by hulle aangemeld word of heelwat media-aandag geniet, ondersoek en ernstig neem en dit nie summier verwerp nie? Anders duld die MRK mos klinkklare en bewysbare rassisme terwyl hulle behep is met die uitroei van die meer amorfe strukturele rassisme?

Die verslag wys ook nie net wat in die sosiale media gesê is nie. Malema se uitlatings is buite ʼn hof voor ʼn skare gemaak. Zuma sʼn by die ANC se 103de verjaardagviering gemaak waar baie mense na hom geluister het. Xingwana sʼn op ʼn Australiese nuuskanaal gemaak.

Ons verslag en Smith se reaksie daarop laat duidelike rooiligte flikker oor die hantering van haatspraak deur die MRK. Jaco Schoeman, voorsitter van die Afrikanerbond, het in Januarie verlede jaar ʼn artikel in Business Day geskryf oor die MRK se mislukkings op hierdie gebied ná verskeie klagtes wat hulle by dié instelling ingedien het. Lees dit gerus. So ook ons verslag. Smith kon nie met die feite stry nie en toe stel sy strooipoppe op en doen ad hominem aanvalle op Solidariteit omdat ons ongemaklike werklikhede uitlig. Dit is uiters skynheilig om groot konferensies oor rassisme te hou – soos die MRK in Maart gedoen het – en dan niks tasbaars doen om rassisme aan te spreek nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Angs en frustrasie klink oraloor op, maar word nie so verdraai en misbruik soos dit by die ANC en sy aanhangers nou al tweede-natuur geword het nie, want rassisme/apartheid was die towerwoorde wat die wereld se beursies vanself ge-sesame het. Die geykte dooie rubberslange begin verbleik in die venster van die ANC-tjor. En oraloor speel vlugtelinge/immigrante ook dieselfde vervelige speletjie sonder veel impak. Post-waarhede en gephotoshopte-drogbeelde kom nou hul moses tee teen waarheidsoekers en wiki-lekke en ontmaskering is selde pynvry.

Anoniem ·

Ek hou van die verbeeldingryke manier waarop jy jouself uitreik…

Pietman ·

Dankie vir die goeie werk. Draai die skroewe stywer. Internasionale blootstelling. Moenie los nie.

Pietman ·

Rapporteer die tipe haat by die VN. Die ergste van als is dat die MRK niks dooen nie en dus sulke praatjies goedkeur. Daar is dus ‘n beroep op ‘n volksmoord. Dis ernstig. Witmense moet vlugtelingstatus hê weens die openlike volksmoord praatjies goedgekeur deur die staat.

Henry ·

Soos gewoonlik ‘n uitstekende artikel deur mnr Brink vanuit Solidariteit se geledere, oor die MRK se benoude bokspronge.

Mynsinsiens en vir wat dit ookal werd mag wees :-), is die inhoud van Solidariteit se verslag in die kol. Met die gevolg dat die MRK gedwing is om na strooipoppe te gryp, in ‘n vrugtelose poging om hul rooi gesigte – vir die wat nog kan bloos – te kamoefleer.

Dit is net ‘n plesier om die deurdagte, OORSPRONKLIKE en prikkelende skryfsels vanuit Solidariteit en Afriforum geledere, hier te lese kry.

Leendert ·

Interessant, Brig Sally De Beer by die polisie en Gail Smith by die MRK.

Willie ·

Tans Genl Majoor Sally De Beer. Sy pluk alreeds die vrugte vir die uitverkoop van die blanke lede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.