Nasionale Gesondheids­versekering: SA het nie die ideale agtergrond

medies behandeling dokter

Argieffoto (Foto; DarkoStojanovic, Pixabay)

Deur Jeannette Gnade

Niemand kan die edel motief agter ʼn werkbare nasionale gesondheidsplan vir alle landsburgers ontken nie. Gesonde burgers lei immers tot ’n gesonde ekonomie. Dit is egter hier waar die knoop ontstaan.

Suid-Afrika is nie ʼn ontwikkelde land soos die grootmoondhede nie. Trouens, die verwagting dat die ekonomiese groeikoers nog laer gaan wees as wat voorspel is, maak die inwerkingstelling van die NGV onmoontlik. Of het die regering weereens ʼn soort kruissubsidiëring in gedagte? Die land se hoërinkomstegroep moet betaal sodat die werklose burgers gratis mediese dienste kan kry.

Die feit dat ʼn ANC-minister en lid van die party se hoogste besluitnemingsliggaam al klaar gesê het die regering oorweeg dit om die belastingverligting vir mediesefondslede te kanselleer, spreek boekdele. Die ANC kan net nie verstaan dat bestaande welvaart nie herverdeel kan word nie, die uitdaging is om nuwe welvaart te skep.

Sedert die party se bewindsoorname in 1994 is talle wette aanvaar en besluite geneem om gesondheidsorg vir almal toeganklik te maak. Hospitale en klinieke is aanvanklik met noodsaaklikhede toegerus, maar daar was toe reeds ʼn tekort aan behoorlik opgeleide personeel. Gemeenskapsdiens word ingestel om afgestudeerde studente te dwing om in die landelike gebiede te werk sodat dienslewering kan verbeter.

Nie lank nie, of dokters, verpleegsters en ander kundiges verlaat die land in groot getalle omdat standaarde in die staatshospitale so gedaal het. Toerusting word nie herstel nie, korrupsie vier hoogty en medisyne, kosvoorrade, formulemelk vir babas, hospitaallinne, babadoeke en seep word gesteel en teen ʼn groot wins in die afgesonderde gebiede verkoop. En nie lank nie, toe bied talle klinieke en hospitale slegs die basiese dienste en honderde pasiënte word weggewys. Hierna sak die inwoners van ander provinsies op die ryker provinsies soos Gauteng toe en hospitale kan baie gou nie meer in dié verhoogde aanvraag voorsien nie.

MIV/Vigs was al sedert die begin van die negentigerjare ʼn groot probleem in die land. Hoe meer die Verenigde Nasies gewaarsku het dat Suid-Afrika se infeksiekoers van die hoogste in die wêreld is, hoe minder is iets daaraan gedoen. Die Mbeki-regering was bekend vir sy ontkenning van die Vigsvirus en die destydse adjunkpresident, Jacob Zuma, was die hoof van die Nasionale Vigsraad. Hy het ook nie die geweldige omvang van die siekte besef nie – kortom, hy het niks aan die probleem gedoen nie.

Landsburgers is nie ingelig oor die aansteeklikheid van die siekte nie en duisende gevalle van moeder-na-kind-oordrag van die virus is aangemeld. Dit is ook opvallend dat gesondheidsvoorligting glad nie voorrang geniet het nie. Selfs geslagsvoorligting is geïgnoreer. Daar was geen duidelike beleid oor inentingsprogramme of algemene higiëne nie en die VN moes uiteindelik ingryp om die duisende gevalle van diarree in die land onder die knie te kry. En behandelbare tuberkulose het plek gemaak vir multiweerstandige tering omdat daar nie betyds voorsorgmaatreëls getref is nie.

Hierdie is nie die ideale agtergrond vir Nasionale Gesondheidsversekering nie. Dit help nie om die simptome te behandel nie – diagnoseer eers die siekte. Die land se gesondheidsprobleme het meer te make met gebrekkige opvoeding en voorligting as hospitalisasie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swartkat ·

Die ANC minister soek net nog ‘n manier om geld te kry wat hulle kan steel of wanbestuur en waarvoor die sukkellende belastingbetaler moet betaal. Lekker as daar melkkoeie is wat leeg gesuig kan word deur die regering.

Eish ·

Mnr. Mike Schussler praat net vanoggend oor die nuwe plan van die minister van finansies om die ekonomie weer aan die gang te kry. In dieselfde asem ook die hulpeloosheid daarvan, want met al die planne is nog nie een in werking gestel nie. Grootliks n kapasiteitsprobleem myns insiens. Soos ons Engelse vriende sê : ” There is many a slip, between the cup and the lip.”

Frans C ·

Die wegneem van enige korting lei tot hoër belasting en dus verloor die belastingbetaler
en hoes dubbel vir die ‘Nasionale gesondheidsversekering’ die regering kry belastingkortings van ongeveer 20 biljoen en hoër belastinginkomste,alles tot koste van die belastingbetaler

Ek wonder of die slime mense al daaraan gedink het dat dit ook kan beteken dat baie belastingbetalers dan nie langer die bydraes aan mediese fondse sal kan bekostig nie?

·

Ek wil graag ingelig word oor: Wanneer word ‘n mens geklassifiseer te wees in die ‘hoër inkomste groep’ en wat op aarde is die nuwe ‘radikale ekonomiese wat-ook-al’? Dit wat blykbaar veronderstel is om ons ekonomie weer [ha-ha] op standaard te bring. As iemand asseblief lig daarop kan werp sal dit soooo baie waardeer word.

j ·

Wat van die pensioenarisse wat elke jaar net mooi gelyk trek met die belasting betaal niks in nie en kry niks terug Vat nou die belasting krediet weg en elke huisgesin gaan R7000 -R8000 moet aan die cANCer regering betaal waar gaan die pensioenarisse dit kry ons gaan net meer verarm

Boerseun ·

Dink nie die kubane druk genoeg doktors deur vir die plan nie

piper ·

jy kan al die geld in die wereld in die plan ingooi maar as jy nie die regte bestuur het nie kan dit nie werk nie. alla SAL,ESCOM, ENS.

John ·

In die eerste sinsnede le die edele appelkar reeds omgegooi… gekoebaai-meraai…

Domvraag ·

Hoekom moet ek betaal vir vreemde, onwettige en mense uit ander lande wat hier kom werk omdat hul eie lande se ekonomie verwoes is en hoekom moet ek betaal sodat hulle verniet mediese sorg kan kry,
Ons plaaslike kliniek wat bedoel is vir ons wat hier woon word oorval deur mense wat met taxis aangery word en wat afkomstig is vanaf Zimbabwe, Mosambiek, Malawi ens.
Stuur die vreemdes en onwettiges terug en daar sal genoeg fondse en fasiliteite wees vir vry mrdiese sorg en opvoeding? Hoekom betaal vir die res van Afrika. Agt miljoen onwettiges???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.