Nederland: Rutte lag al die pad stembus toe

mark-rutte-vvd-nederland-facebook

Mark Rutte van die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) in Nederland. Foto: Facebook.

As ’n mens die Nederlandse verkiesingsuitslag in ’n enkele sin kan saamvat, is dit ’n verwerping van ekstremisme en terselfdertyd ’n matige verskuiwing na gematig regs.

In ’n land soos dié, waar 28 partye aan die verkiesing deelgeneem het, is dit nogal moeilik om ’n verkiesingsuitslag te vertolk, aangesien dit vele fasette omvat. Tog is die belangrikste nuusitem waarskynlik dat die populistiese Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders wel ietwat gevorder het (van 15 tot 20 setels), maar ver van ’n deurbraak is.

Voor die verkiesing het dit soms gelyk of die PVV die grootste enkele party kon word. Trouens, peilings het die party maande lank laat voorloop.

Uiteindelik het die liberale Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) van premier Mark Rutte 33 setels gewen. Dis ’n verlies van 8, maar hy het die PVV nietemin sleg ondergesit.

Die VVD is in die vorige paragraaf as “liberaal” beskryf, wat vir Suid-Afrikaanse lesers verwarrend kan wees. Wat op die Europese vasteland onder dié begrip verstaan word, is iets anders as wat die meeste lesers van dié artikel moontlik dink.

Liberaal beteken in Europa pro- vrye mark, die antitese van sosialisties. En dus is dit in sommige opsigte eerder konserwatief.

Dis terselfdertyd moeilik om die PVV onomwonde as regs te beskryf. As dit gaan oor sake soos etniese identiteit, nasionalisme en die binnekoms van Moslem-immigrante, is hy onbeskaamd regs; sosiaal-ekonomies is sy beleid eweneens onbeskaamd links-sosialisties.

Vir die res is dit juis partye in of rondom die politieke sentrum – die Christen-Demokrate, die Demokrate 66 (só genoem omdat die party in 1966 gestig is) en GroenLinks – wat beduidend steun gewen het. Die gematig-linkse Partij van de Arbeid (PvdA), wat die afgelope vier jaar saam met die VVD in ’n koalisie geregeer het, is dramaties gestraf: Sy seteltal het van 38 tot net 9 gedaal.

Dat die PVV die tweede grootste party geword het, sal hom op kort termyn nie help nie. Geeneen van die ander groot partye wil met ’n tang aan hom raak nie; almal het die PVV reeds voor die stemmery as potensiële koalisiegenoot uitgesluit.

Wat beteken dat die PVV gedoem is om weer langs die kantlyn te gaan staan en toe te kyk hoe ánder partye regeer.

Maar daar is nog ’n aspek van die uitslag wat vir Suid-Afrikaners interessant kan wees. Dit is die feit dat ’n nuwe party met die naam Denk drie setels gewen het.

Denk is interessant omdat dit ’n onbeskaamd etniese appèl tot sy natuurlike aanhangers gerig het. Dit is die Turke en in mindere mate die Marokkane wat hulle sedert die jare sestig as “gasarbeiders” in Nederland gevestig het.

Tradisioneel stem die Turke en Marokkane wat Nederlandse burgerskap verkry het vir die PvdA. Maar dié keer het hulle dié party massaal die rug toegekeer. Talle het vir Denk gestem, ’n party wat eksplisiet onderneem om die Turke se belange in die politiek te behartig.

Enersyds is dit ’n terugslag vir diegene wat hoop dat die Turke naatloos in die Nederlandse samelewing geïntegreer kan word, en dat etnisiteit geen rol in die politiek moet speel nie. Feit is egter dat die Turke (en Marokkane) – reg of verkeerd – op talle terreine diskriminasie teen hulle ervaar, en dat hulle nooit regtig deur die Nederlanders as volwaardige burgers aanvaar word nie.

Talle mense van Turkse en Marokkaanse afkoms het dubbele paspoorte, en voel hulself steeds intens betrokke by dié lande. (Trouens, nes ek, synde ’n Afrikaner en Suid-Afrikaner, nooit my identiteit sal kan afweer nie, al sou ek ook hoe hard probeer.)

Die verwydering tussen Europa en Turkye, waar pres. Reçep Tayyip Erdogan ’n referendumveldtog voer om hom diktatoriale magte te gee, help ook nie juis nie. Dat Mark Rutte in die jongste tyd ruggraat gewys het deur Turkse ministers te verbied om hier steun vir die Turkse ja-stem te werf, is vandeesweek by die stembus deur die kiesers beloon.

Erdogan het die Rutte-regering as die “oorblyfsels van die Nazi’s” bestempel, waaroor Rutte ongetwyfeld baie bly was. Jy moet ’n Hollander nie ’n Nazi noem nie; dis by wyse van spreke ’n erger belediging as ’n pedofiel. En dus het Rutte al die pad stembus toe gelag.

Die onmiddellike toekoms is nou dat die voorsitter van die Tweede Kamer van die State-Generaal – die laer huis van die parlement – ’n “verkenner” sal aanstel wat moontlike koalisiekombinasies sal ondersoek. Daaruit gaan langdurige onderhandelings en uiteindelik ’n nuwe koalisie voortspruit.

In dié stadium lyk ’n sentrum-regse koalisie met vyf partye die mees logiese. ’n Sentrum-linkse koalisie is ook moontlik, maar dit sal dan sés partye moet bevat, wat veel moeiliker gaan wees om saam te stel en die volle termyn van vier jaar bymekaar te hou.

Hoe ook al, die PVV sal nie deel van enige koalisie wees nie. Dit beteken dus ook dat die Nederlandse demokrasie vir die afsienbare tyd buite gevaar is.

In die laaste leiersdebat voor die verkiesing op televisie was daar ’n tweegeveg tussen Wilders en Gert-Jan Segers, leier van die veel kleiner ChristenUnie, ’n uitgesproke Christelike party. Segers, wat ses jaar as sendeling in Egipte deurgebring het en die Islam baie goed ken, het die punt gemaak dat jy nie die bedreiging van die Islam kan neutraliseer deur die vryheid en regstaat in Nederland af te skaf nie.

Wilders se antwoord was veelseggend. Die Islam vorm ’n eksistensiële bedreiging vir Nederland. Dus moet jy nie alleen die grense vir alle Moslems sluit nie, jy moet moskees afbreek en die besit van die Koran verbied.

Belangriker nog: Daar is “geen ander keuse” as om die regstaat af te breek nie. Waarmee Wilders dit duidelik gemaak het dat die demokrasie met hom as premier nie moet verwag om ongeskonde te bly nie.

Op die keper beskou, was daar ’n netto swaai na regs in die verkiesing. Maar Wilders se soort regs het nie die deurbraak behaal waarop hy gehoop het nie.

Nederland bly in die geheel beskou ’n taamlik gematigde land waar ekstremiste moeilik ’n behoorlike vastrapplek kry.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

gerda ·

Ek is jammer Geert het nie gewen nie.Die imigrante hoort in hul eie lande. Nerens anders nie. Europa gaan nie soontoe nie en hulle hoef nie Europa toe te kom nie.

adriana ·

‘n Duitser hoort in Duitsland en ‘n Nederlander in Nederland, ens, anders sou hulle nie Duitsers of Nederlanders of wat ook al genoem geword het nie. Die imigrante hoort in hulle eie lande waar hulle Arabieers genoem word of Siriers of Nigeriers of wat ook al. Ek is ‘n Suid-Afrikaner en hoort in Suid -Afrika. Nie op ‘n ander plek nie. Hierdie imigrante hoort in hulle eie lande.
Ek hoop Wilders probeer weer en dat hy ‘n volgende keer meer stemme kry.

Leopold Scholtz ·

Beste Adriana, wat dan van ‘n Nederlandse immigrant in SA (soos dr Verwoerd)? Moet sulke mense weer uit SA padgee? En tot waar gaan dit terug? In 1720, toe Joachim Scholtz uit Pruise na die Kaap gekom het, was hy tog ook ‘n immigrant?

Kaas ·

Leopold, die wereld is vandag n baie ander plek. Vir die eerste keer het die mens die natuur heeltemal oorweldig en die wereld is nou amptelik oorbevolk. Ons is almal nou in direkte kompetisie met mekaar. Ek is nie lus om in my eie land uitgedruk te word deur nuwe inkomelinge wat allerande eiese stel nie, baie dankie.

Kaas ·

Ja dit is n sterk skuif na regs en die skuif gaan alsterker raak soos die libbies sien wat op grondvlak gebeur. Die skuif is nog net die begin.

Jan Jooste ·

Geluk Leopold. Jy maak die punt dat links en regs heeltemal verskillende betekenis het in Europa as in SA. Jou vorige hoefyster analogie (ekstremis – gematigd – ekstremis) geld ook. Verder moet ons almal oppas om nie die volle Wilders gifbredie te sluk net omdat hy teen immigrante is nie. Hy is duidelik geen Christen. Sou hy vandag die Koran verbied, gaan die Bybel volg sodra dit ook problematies word. Voorspoed.

Kaas ·

Dankie ons is nie lus vir julle PC nie, anders sou ons na george soros se CNN gekyk of gekaapte Beeld gelees het.

Verwonderd ·

Solank as wat daar meer seuns met die naam Mohamed as Johan in Nederland gebore word, stuur hulle tog wel af op islamietiese staat met sharia reg as medium in die toekoms. Al wil Nederland hoe gematig vandag wees. Wat kan ‘n mens dan nou anders sê as?: sterkte ouens, hoop dinge werk vir julle uit…

Paul ·

Ter interessantheid, daar was in 2010 ongeveer 800 miljoen Moslem-mans in die wêreld, en ongeveer 150 miljoen van hulle se naam was Mohammed (of enige ander spellingvariasies soos Mohamed of Muhammad of Moegamat). Dit is sowat 19% van alle Moslem-mans wat dus daardie naam het.

Dit teenoor ‘n naam, natuurlik eintlik van Hebreeuse oorsprong, soos Johan (of Johann, of Johannes) wat, hoewel gewild onder Nederlanders, nooit eers naastenby die gewildheid van Mohammed as naam onder Moslems bereik het nie. In 1961 in Nederland het slegs 2% van mans die naam Johan gedra.
Boonop het die naam Johan se gewildheid het afgeneem onder Nederlanders. Dit beklee slegs 224ste plek in babaname in Nederland op die oomblik, met die 20 gewildste seunsname soos volg: Sem, Max, Noah, Milan, Daan, Liam, Finn, Luuk, Lukas, Mees, Levi, Jesse, Bram, Thomas, Julian, Adam, Ruben, Sam, Thijs en Lars.

Leopold Scholtz ·

Beste Verwonderd, ek is self ‘n bietjie verwonderd – waar kom jy daaraan dat daar meer seuns met die naam Mohammed as Johan in Nederland gebore word? Lekker naweek.

Paul ·

Leopold, “Verwonderd” is waarskynlik korrek met daardie stelling. Volgens die webwerf vernoeming.nl, wat statistiek uit die Sociale Verzekeringsbank en die Meertens Instituut gebruik, is daar in 2016 slegs 72 seuntjies in Nederland gebore wat die naam “Johan” gekry het, indien die variasies van die naam, soos “Johannes” en “Johann” en dergelikes bygetel word, is dit 280 seuntjies in 2016 wat dié naam ontvang het, slegs . Die gewildheid is baie minder as voorheen, soos ek in my vorige plasing genoem het.
Wat “Mohammed” betref was daar in 2016 vir daardie spesifieke spelling alleen 210 babaseuntjies gebore in Nederland. Vir die spelling “Mohamed” was daar 230 babaseuntjies in 2016, “Muhammed” was 146, “Mohammad” was 55, en “Muhammad” was 46. Vir “Mohamad” was daar 17. Dis maar net die heel gewildste spellings, daar is nog talle ander, soos “M’hamed” en “Muhamet” en koppelname soos “Muhammad-Abdul” wat slegs aan 1 kind gegee is in 2016. Die gewildste ses spellings saam gee 704.
Dit maak dit een van die gewildste seunsname in Nederland, met andersins die gewildste naam in 2016 wat “Daan” was, met 681 seuns. “Daan” klop wel vir “Mohammed” indien “Daniël” se 165 bygetel word, maar net-net.
Dis egter nie verbasend nie, want byna 20% van alle Moslem-mans se naam is Mohammed of ‘n ander spelvorm daarvan, terwyl Westerse mansname nog altyd baie meer variasie toon.

Paul ·

O, ek het die variasie “Jan” vergeet. In 2016 is 354 seuntjies in Nederland die naam “Jan” gegee. Dit was die 31ste gewildste naam. So die naam “Johannes” se variasies is aan 634 seuntjies gegee in 2016. Dis steeds minder as die getal wat die naam “Mohammed” (en variasie-spellings) gekry het.

Daar bestaan argiewe van babaname in Nederland sedert 1880. Vanaf daardie datum, vir meer as 110 jaar, tot 1992 was die drie name “Johannes”, “Jan” en “Cornelis” die gewildste seunsname in Nederland. Die mode het toe verander en mense het meer “kreatiewe” name begin gee, soos nou dat variasies op die naam “Lucas” die gewildste is. Wanneer “Lucas”, “Lukas”, “Luuk”, “Luc” en “Luke” bymekaargetel word, was daar 1 594 seuntjies in 2016 wat dié naam gegee is.

John ·

Met ‘n koning wat onbeskaamd ateisties is kan mens enigiets in Nederland verwag… en koop en doen… net om die blok. ‘n Slappie-land wat nie ‘n vinger gelig het toe die Nazi’s duisende Jode weggevoer het om die ergste van ervarings deur te maak nie. Anna Frank se verhaal vertel hoe hulle met behulp van ‘n paar ‘goeie’ Hollanders moes wegkruip en selfs verrotte kos eet sodat hul eie polisie nie moes lont ruik nie en tog het een van hierdie helpers in ‘n verraaier uitgedraai. Dis ‘n verrotte spul op kammaland se weide.

Leopold Scholtz ·

John, waar op aarde kom jy daaraan dat die Nederlandse koning “onbeskaamd ateisties” is? Vir die rekord, hy is ‘n gelowige Christen en lidmaat van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN). Jou tirades oor “Slappie-land” s^e baie meer van jou as van die Nederlanders. As ek gedink het jy is in staat daartoe, sou ek jou aangeraai het om jou te skaam. Maar ek dink nie jy kan nie.

Frans C ·

Net soos die NP-politici van ouds staan en lag het toe hul doeltreffend die Afrikaner se ondergang bewerkstellig het, so staan die Nederlandse eerste minister en lag.Tans is die eg Nederlandse bevolking 78.6 van die totale bevolking 21,4% is dus vreemdelinge waarvan ongeveer 5.6% die Muslimgeloof aanhang.

Daar is dus reeds ongeveer 1miljoen Muslims in Nederland en is stede soos Amsterdam so verswart dat dit netsowel ‘n stad in Afrika kon gewees het. Hierdie tendens voorspel niks goed vir Nederland nie,maar soos plaaslik laat die publiek hul aan hul neuse deur slim politici rondlei onder die slagspreuk van liberalisme en menseregte.

Paul ·

Op ‘n meer grappige noot oor die babaname: wat eintlik erger vir die Nederlanders is, is die Amerikaanse name of Amerikaanse spellings van name soos “Noah” (2de gewildste enkele seunsnaam in Nederland in 2016), Jesse (5de gewildste), Finn (6de), Jayden (33ste gewildste), Mason (40ste gewildste) en Jax (59ste gewildste), wat almal meer gewild is in Nederland op die oomblik as beide Johan en Mohammed!

Lyk my die Nederlanders is maar net so Amerikaans-behep as dit by name kom soos die Afrikaners waar meens ook gereeld die “-ayden”-brigade raakloop, soos “Jayden van der Merwe”, “Kayden le Roux” en “Aiden Poggenpoel”. Is dit dan nie kulturele oorname of verarming of wat nie? Ai, die mensdom!

Paul ·

O wee! Dis nog erger as wat ek gedink het!
As mens die letters “Dj” intik in die naamlys-webwerf, is daar ‘n swetterjoel Nederlandertjies in 2016 gebore genaamd name soos: “Djayden” (35), “Djay” (25), “Djaylano” (17), Djayvano (10), “Djace” (9), “Djairo” (9), “Djayson” (9), “Djazz” (9), “Djevano” (9), “Djaxx” (9) en so gaan dit aan en aan en aan. Verskriklik!

Gerhard ·

Dit is iets wat ek ook lankal waarneem. Ek wonder of daar meer Afrikaner seuntjies gebore word met die naam Johann of met die naam Jayden. Ek wonder ook hoeveel word groot as Afrikaners.

Rupert Ashford ·

Die Erdogan insident het heel moontlik vir Rutte gered en baie mense op die laaste oomblik laat besluit hulle hoef nie PVV te stem nie. Sterkte vir Nederland daarmee. Sal interessant wees om te sien of Rutte sal volhard met sy nuutgevonde ruggraat en of hy slegs ‘n slim en tydige politiese skuif gemaak het om sy eie bas te red. Europa het ‘n Churchill mentaliteit en nie ‘n Chamberlain een nie nodig om met hierdie aggressiewe Islamitiese “inval” te handel. Immigrante wat bereid is om te integreer is nie ‘n probleem nie Leopold maar ouens wat hulle eie klein landjie vorm en al die probleme vsn hulle land van herkoms wil kom vestig (eintlik net ekonomiese parasiete) is ‘n reuse probleem.

Faan ·

Enkelkwessie partye soos Wilders se PVV sal nooit verkiesings wen nie, omdat hul eerder protesbewegings as alternatiewe regerings is en so gesien word. Maar in werklikheid hét die PVV gewen, want Wilders se strategie is om die hoofstroom partye na regs te druk. Só moet hul dan ‘n regse beleid uitvoer, want as hul afwyk wen hy steun.

Samrand ·

Een van die dae is die Nederlanders die minderheid in hulle eie land dan gaan hulle nie meer lag nie.

JC ·

Die Nederlanders gaan nog spyt wees, maar SPYT KOM ALTYD TE LAAT. DR VERWOERD HET AS 3JARIGE NA SA GEÏMMIGREER LEOPOLD. RIV DR VERWOERD. DR VERWOERD VERSKIL VD MENSE WAT JY NOEM, HY HET HOMSELF ‘N AFRIKANERHELD GEMAAK, WAT HET DIE PERSONE VIR HOLLAND GEDOEN.

JC ·

Was die Turkse insident ”n manipulerende toneelstukkie sameswering wat die Nederlanders vir gekke geneem HET, is die groter vraag wat almal mis. Jammer, vir die wat meen dis ‘n groot terugslag vir konserwatisme, maar Nederland beteken bitter min in die groter prentjie, FRANKRYK WEL.

JC ·

Was die Turkse insident ”n manipulerende toneelstukkie sameswering wat die Nederlanders vir gekke geneem HET, is die groter vraag wat almal mis. Jammer, vir die wat meen dis ‘n groot terugslag vir konserwatisme, maar Nederland beteken bitter min in die groter prentjie, FRANKRYK WEL!!

Therese van Schalkwyk ·

As die redelik ingewikkelde, tog regverdige “Electoral College”-stelsel in die VSA die ondemokratiese Hillary-ondersteuners al betogend strate toe kon dryf, sidder ‘n mens oor wat in Nederland kon gebeur as die Hollanders nie sulke beskaafde mense was nie.

Wanneer die PVV van Wilders, tans die tweede grootste party, nie deel van enige koalisie is nie behoort daar van die Nederlandse “demokrasie” geskryf te word. In aanhalingstekens, soos graag met President Trump se “oorwinning” gedoen word.

Mabel Berezin, professor in Sosiologie aan die Cornell-Universiteit in die VSA, sê: ” ‘n nederlaag vir Wilders moenie beskou word as ‘n teken dat die Europese populisme kwyn nie. Hy is deel van die politieke landskap en sy party se uitslae sê nie veel oor Europese populisme nie.” Sy sê Marine le Pen is die een om dop te hou.

“Deel van die politieke landskap”, maar sy kiesers se wense word minagtend eenkant toe geskuif?

Paul ·

Is elke keer grappig om te sien hoe die Electoral College nou skielik “regverdig” is, nadat dit voorheen erg bekla is.

Therese van Schalkwyk ·

Paul

Bly iets verskaf jou plesier.

Het jy dalk ‘n mening oor die Nederlandse “demokrasie” wat nie plek maak vir die tweede sterkste party in die land nie?

Sarie ·

Ek wil Geert Wilders se ondersteunings gelukwens dat hul nie strate toe gehardloop het soos die Hillary ondersteuners. Hulle het die uitslae met grasie aanvaar.

Kaas ·

As Wilders sou wen was daar n legio planne in plek om dit wel te doen, veral dat die media sou ingryp. Vryheid van spraak slegs geldig vir die wat n new age agenda bevorder.

Catryn ·

Spyt gaan nog te laat kom vir die EU lande wat dink dat immigrante daar is vir iets anders as om die lande oor te neem – kyk wat word hierdie mense in euro’s betaal? om daar te wees, laat mens regtig wonder. Gaan koop die boek van Martin Bosma, of kyk sy video daar is verskeie, hy dit oor SA geskryf en ons, maar binnekort is hulleself daar …

1. Bij pauw over zijn nieuwe boek
2. Begroting Buitenlandse Handel Ontwikkelingssamewerking (2016) .. ..

hoeveel burgers van Nederland steun terrorisme en tereur? julle het bloed aan jul hande.

Jef ·

Die afgelope paar jaar is daar n uitstroom van Nederlanders wat imigreer na ander lande, plus minus 140 000 per jaar, daar word nie gevra hoekom al die mense weggaan nie maar nou onlangs het statistieke uitgewys dat vele Turke en Marrokane wil teruggaan na hul land van herkoms, toe wil politici weet waarom hulle weg wil gaan, wel belangstelling toon in immigrante en vlugtelinge maar eie volk kan maar verdwyn.
Hier staan Nederlanders op n waglys van n woningbou vereniging vir talle jare en kry niks terwyl ander bevolkingsgroepe binnekom n huis toegewys kry medies word vir hulle betaal en huis word vir hulle ingerig.
Ek gee Nederland nog 8 jaar dan is die land n mekka vir alle nie-Nederlanders.
Gaan lees bietjie die weggesteekte geskiedenis van Nederland tydens die tweede wereld oorlog en net daarna en hoe polisie en belastingdiens omgegaan het met hul eie mense wat die konsentrasie kampe oorleef het,barbaars.

Henry ·

Groot dankie aan Paul wat die interessante gegewens verskaf het oor al die verskillende Hollandse Mohammed’s wat deesdae in dykeland gebore word.

Daar’s 704 spiksplinternuwe Kasies wat gedurende 2016 eerste lig – weliswaar maar ‘n flouerig ene – in Holland te siene gekry het.

In die Hollanders se liberale jimmil en coffeeshops, sal dit nie verras indien daar eersdaags selfs van die ouer garde sal wees wat naamsveranderinge ondergaan om hul VlugtelingsKorrektheid (VK) wyer te adverteer.

Mohammed van Riebeeck, Mohammed Skols, Moegamat Van der Plank ens ens ens.
:-)

Henry ·

Ek’s sooo versigtig om nie op toontjies te trap nie, met gevolg dat ek oorhaastig kom plak.

Tweede paragraaf moet as volg begin:
“Daar’s 704 spiksplinternuwe Kasies genaamd Mohammed wat…”

Maria Van Dieweeck ·

hiehiehie Henry! Holland was een van die groot anti-apartheids kampvegters! Wag maar, julle sal nog uitvind hoe dit voel om saam ander in n mislukke blik gedruk te word.

Daan D ·

Ons kry genoeg van Leopoldt Scholtz in die anti-Afrikaner hoofstroommedia. Waarom op die aarde wil Maroela se Redakteur hom nou ook nog hier met ons gal laat werk? Sekerlik is daar soveel ander mense met eerstehandse kennis oor Nederland en die onhoudbare situasie daar met
die vreemdelinge? Gee tog maar vir ‘n slag een die VF+ se mense wat gedurig in kontak is, die geleentheid!

Kaufman ·

Ek wonder selfie. Maroela dalk ook in proses om gekaap te word?

gatiep ·

Toemaar Daan D ons gaan nog vir Leopold aan ons kant kry.
Hy sal wel eendag besef hy is aan die heeltemal aan die verkeerde kant.

DewaldS ·

Die agtergeslotedeurenadatalmalgaanslaaphet-organisasie-gom wat hierdie mense aanmekaar hou is iets ongelooflik. Broederbonders, Vrymesselaars, Rotariërs, Tafelrondte, Iluminati, Knights of Malta, watookal – daai gom van ons het jou reeds ge-inkrimineer (haha – jou ego’tjie was aan die brand toe jou fantasieë realiseer, nê) en dinge sal vir jou uitwerk as jy saamwerk is ‘n BAIE sterk gom.

Wonder ·

Hierdie nuuskanaal promofeer die fliek Sink en leopold se stories, klink my ons eie mense draai nou teen ons.

Henry ·

Agge nee wat.

Om skryfsels soos hierdie te lees, kan werklik geen skade aanrig nie. Ons Afrikaners is mos nie volstruise, oftewel struisvogels, soos die Kase ons droewe land se groot gevogeltes beskryf nie. :-)

Ons is nog minder sku vir ander piete en pietinne se vertolkinge, al is dit dikwels stokoud en oorbekende “wyshede”. Danksy die internet en DSTV, wat ons instaat stel om daagliks na die wye wêreld se media te loer en meehelp om ons eie beskouinge te vorm, is meeste van die “ontledings” ‘n blote herhaling van standpunte wat reeds langs verskeie kanale onder ons neuse gevryf is. Selde of ooit dat daar ‘n oorspronklike gedagte kom, wat nie reeds in die media van ons alhoe kleiner wordende planeetjie verskyn het nie.

Soms interessant en dikwels vervelend om dieselle ou gesang via ‘n ander wysie te hoor, maar uiteindelik heel onskadelik vir mens of dier.

:-)

Stephan ·

Leopold nav jou antwoord op Adriana: Dr Verwoerd het in terme vn jou eie woorde homself volkome geintegreer met Afrikaners. Maar dit is totaal nie waar tov die mense onder bespreking in haar kommentaar.

Sarie ·

Die invloed wat Wilders gehad is dat selfs Rutte in sy optrede teen Turkye meer konserwatiewe geluide gemaak het en sodoende van die konserwatiewes se stemme kon wen. Al weier hul om met hom in ‘n koalisie te gaan sal sy stem nog hard en duidelik in die parlement gehoor word

chrisp ·

Rutte lag verseker.Die Nederlanders gaan egter huil binne twee jaar.
Tyd sal leer se die gesegde en net soos in Suid Afrika sal dit ook vir hulle en die skrywer duidelik word in die nabye toekoms.
Of hulle(liberale in RSA terme) dit sal erken is ‘n heel ander vraag natuurlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.