Om te aborteer, of nie

Argieffoto van ‘n ongebore baba

Deur Marna Reinecke

Liewe Elsabé*

Dankie dat jy my vertrou met jou bitter moeilike keuse – om te aborteer, of nie. Jou storie is nie net jóú storie nie, maar ook dié van duisende meisies en vroue daar buite. Ek beantwoord jou brief ʼn bietjie meer algemeen sodat dit jou vrae én ook ander vroue in dieselfde situasie se vrae en onsekerhede aanraak.

My hart breek soos ek hier sit en lees deur jou brief. Om per e-pos te kommunikeer is nie die ideaal nie, maar ek verstaan heeltemal dat dit vir jou moeilik is om enigiemand in die oë te kyk en hardop te sê wat die keuse is waarmee jy stoei: “Moet ek aborteer, of moet ek die baba hou?” Net om dit te moet skryf, moes moed geverg het. Ek is so jammer dat jy op so ʼn donker plek van jou lewe moes kom.

Jy vra die vraag of daardie fetus in jou al ʼn mens is, en of dit nie nog vroeg genoeg is om die besluit te neem om te aborteer nie. En jy is reg, dit is wettig.

Ek het vroeër vanjaar ʼn berig gelees oor ʼn pasgebore baba wat dood in ʼn asblik buite ʼn Woodmead-winkelsentrum gevind is. Omdat daardie kind se lewe ná die geboorte beëindig is, kan dit in sekere omstandighede gesien word as moord – dus onwettig. Indien daardie kind ʼn paar weke voor geboorte geaborteer was, sou dit moontlik wettig kon gewees het.

ʼn Meisie onder 18 jaar mag nie sonder die toestemming van haar ouers trou of selfs ʼn kontrak teken nie, maar sy mag self besluit of sy die lewe van haar baba kan neem, sonder om haar ouers selfs in te lig.

Word daar meer gewig geplaas op ʼn kontrak as ʼn lewe? Hoe kan ons daardie jong mamma los om alleen deur so ʼn intense proses te gaan? Kan hierdie regverdiging tussen lewe en dood slegs bepaal word deur ʼn geboorte?

So, die samelewing vra dieselfde vrae, maar onderdruk die werklikheid van lewe.

Ek verstaan jou wroeging en vrae oor hierdie fetus in jou liggaam, maar my vriendin, daardie fetus in jou liggaam is reeds ʼn mens.

Die wetenskap se verduideliking

Kan ek dit verduidelik deur iets so prakties en wetenskaplik soos bevrugting?

Voortplantingselle (eier- en spermselle) word haploïede (half-) selle genoem. Alle ander selle word diploïede selle genoem, wat elk twee stelle chromosome bevat. Die reproduserende selle bevat elkeen slegs een paar chromosome, wat wag om hul ander helfte te vind. Tydens bevrugting word daardie twee stelle halfselle een enkele sel, wat nou ook ʼn diploiëde sel genoem word. Op daardie oomblik is die DNS-string van die bevrugte eier reeds herkenbaar as menslik. ʼn Stukkie van jou, en ʼn stukkie van pappa.

En hoewel daai fetus afhanklik is van jou, is hy of sy biologies reeds ʼn onafhanklike individu.

Voor bevrugting het sowel die vrug as die saad onderskeidelik aan jou en pappa behoort. Maar tydens bevrugting kom ʼn nuwe sel tot stand wat glad nie identies is aan enige van julle twee nie. ʼn Totale nuwe eenheid is geproduseer.

Immunologies gesproke is jy en daai mensie afsonderlik. Julle weefsel is glad nie verenigbaar nie. Daarom leef die baba (fetus) in jou baarmoeder en ontvang voeding van jou af deur middel van die plasenta. Julle bloed en weefsel kan glad nie meng nie, anders sal die baba sterf.

Alle inligting wat nodig is vir ontwikkeling binne en buite die baarmoeder is reeds ná bevrugting in daai fetus se gene teenwoordig. Die kleur van die oë en hare, hoe hy of sy gaan lyk, sy of haar lengte en bou as volwassene is reeds ná die bevrugting teenwoordig.

Teen die vierde week ná bevrugting het die brein reeds begin vorm, en was daar reeds ʼn hartklop en bloedsirkulasie. Ná ses weke kon breingolwe reeds gemeet word.

Vanaf 12 weke gaan daardie baba reeds ten volle ontwikkel wees, en van daar af slegs groei tot die volle termyn verby is en kraam plaasvind.

Ons kan meer detail gee oor die bewys vir en wonderwerk van lewe. Maar ons albei weet dit is nie jou werklike motivering nie. Want jou probleem is nie wetenskaplik nie.

Onthou jy die eerste sonar toe jy daai vinnige hartklop gehoor het? En jy sal binnekort die baba in jou voel beweeg.

Niks kan dit wegredeneer nie. Ek weet dit maak dalk nie nou vir jou sin nie, maar hierdie proses was een van die grootste wonderwerke in my eie lewe. Maar daar is soveel stemme wat jou probeer oortuig van die leuen dat lewe eers ná geboorte begin.

Ons moet kyk na die rede waarom jy dink dat jy nie daardie baba kan of wil hê nie.

Wat klop aan die deur van jou hart as julle daardie aborsiebrosjure deurlees, en wanneer die woorde van die dokter oor die implikasies deur jou hart maal?

Jy is reg. Dit is só ʼn moeilike besluit.

Emosionele benadering

Ek wil die vrymoedigheid neem om ʼn paar vrae te vra.

Wat is dit wat maak dat jy die skaal wil laat kantel in die rigting van hierdie besluit? Dit moet intens wees dat jy dit oorweeg.

As jy doodeerlik met jouself moet wees, wat is dit wat jy meer wil hê as die baba?

  • Aanvaarding?
  • Vrees?
  • Vryheid?
  • Jou toekoms?
  • Wraak?
  • Hartseer?

Ek wil jou net herinner aan die werklikheid dat die gevolge baie groter as die besluit is.

Kom ons sê jy gaan voort met daardie besluit.

Jou redenasies het jou dalk gehelp om die besluit te neem, en dit het die “tydelike probleem” van ʼn baba opgelos, maar dit veroorsaak altyd meer skade.

Ongelukkig bring aborsie die risiko van toekomstige miskrame, swangerskapkomplikasies en interne liggaamlike skade (na gelang van die manier wat julle gekies het om te aborteer). Buiten dit is daar meestal ʼn dieper seer wat onderliggend agterbly. Vloedgolwe emosies van hartseer en rou mag volg, met simptome van nageboortedepressie wat selfs jare later hul verskyning kan maak. Simptome soos  skuldgevoelens, spyt, eetversteurings, alkohol- of dwelmmisbruik, lae selfbeeld, hopeloosheid, herhalende drome oor jou geaborteerde kind, verhoudingsprobleme, diep gebrokenheid, en haat mag jou agtervolg.

Jy mag dalk wegstap met die tydelike verligting van omstandighede, maar daar is een ding wat so seker is soos ʼn hartjie wat klop: Hierdie besluit is ongelukkig nie afgehandel ná die aborsie nie.

Ek besef jou situasie het intense komplikasies wat ek nooit ten volle kan verstaan nie, selfs al loop ek langs jou en luister na jou hartsroep.

Maar dit bring ons terug na ons vorige gesprekke: kan jy weereens sien dat ons oplossings ons nie kan red nie?

Jy kan hierdie seer vermy. Jy vra vir hulp en jy soek na uitwegte en dink aborsie is die oplossing, maar die enigste werklik ewigdurende antwoord is redding.

Maar jy wil jouself red. Ons almal wil onsself red – ek sluit myself daarby in.

Jy voel dalk ʼn donker wolk wat oor jou hang oor die besluit wat jy wil neem, maar moenie een oomblik dink jy is alleen nie. Dit is die probleem van die mensdom.

Ek het byvoorbeeld ʼn rukkie gelede saam met ʼn jong meisie gesit wat stukkend is omdat sy haar seksuele verhouding met haar kêrel beëindig het, en nou is sy aan stukke. Sy het gestoei met die feit dat sy geweet het seks buite die huwelik is verkeerd, maar het tot die besef gekom dat dit nie gaan oor die feit dát sy in seksuele sonde was nie, maar eerder wáárom. Ons kon gesels oor die motief agter die verhoudings, en dit kon haar help sien dat sy gedink het sy is mooi en spesiaal wanneer iemand haar begeer het, maar dat dit nooit genoeg was en nooit gehou het nie.

Sy was altyd op soek na meer. Wat sy gekort het, was liefde en aanvaarding, en die manier hoe sy gedink het sy dit gaan kry, was in seksuele verhoudings. Maar dit is, en was nooit genoeg nie. Ons kan sê sy het haar redding probeer vind in verhoudings.

Ek help haar nou met die proses om te verstaan hoe Jesus genoeg is, en as sy werklik gaan sien wie Hy is en dat Hy haar reeds aanvaar het, het sy nie nodig om dit te gaan soek in verkeerde verhoudings nie.

Dit is alles maniere waarop ons onsself wil red. Jy wil jouself red van jou omstandighede deur jou eie oplossings. Ons almal wil! Maar die prys wat ons betaal, is nooit genoeg nie. Dit sal altyd vra vir meer. Ons kan nie onsself red nie.

Maar, die goeie nuus is, ons hoef onsself nie te red nie …

Bybelse benadering

Ek weet van iemand wat op dieselfde plek as jy was.

Sy was goed genoeg toe daar geen ander opsie was nie, maar toe omstandighede verander, is sy en haar kind verwerp. Sy het skielik alles verloor. Haar enigste opsie was om haar baba weg te gooi en haarself te distansieer van die kind. Net soos jy, wou sy nie werklik van haar baba ontslae raak nie, maar dit was asof daar geen ander opsie was nie!

Haar naam was Hagar, en sy het ʼn kind by Abraham gehad. Sy is verwerp en het haarself met die kind in die woestyn bevind (Gen. 21:15-20).

15 En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp 16 en geloop en op ’n afstand gaan sit so ver as ’n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op ’n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween. 17Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is. 18Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ’n groot nasie maak. 19Daarop het God haar oë geopen, en sy sien ’n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink.

20En God was met die seun …

Ek besef aborsie lyk soos die enigste oplossing, al wil jy ook nie werklik jou kind verloor nie.

Kan jy sien dat God jou gebed van hartseer hoor? Maar meer as dit, dat Hy jou kind hoor? Onthou, daardie fetus is reeds mens. Hy roep jou om jou kind op te tel en vas te hou … en Hom te vertrou, want Hy het jou gehoor.

Kan jy sien dat God vir Hagar voorsien het waar sy gedink het geen opsie is nie?

Daar is altyd ʼn uitweg.

Maar meer as dit. Hierdie keuse waarvoor jy staan, is ook simbolies van die mensdom.

Ons almal sit met die “kind” van ons sondige lewe in die baarmoeder van ons harte. Ons dink die lewe sal ons vervul, vir ons waarde en hoop gee, maar die wêreld sal ons ook net misbruik en verwerp, en daardie pad lei na die woestyn, na die dood.

Mag ek en jy ons oë oopmaak en besef dat ons ook in die “woestyn” is, dat niks wat ons doen of bereik ons ooit sal red nie. Dat daar geen ander uitweg is nie, en dat alle ander opsies ons lei na die woestyn van die lewe – die dood. Mag ek en jy dan werklik besef dat ons dood is sonder God, en mag ons Hom aanroep en sien hoe Hy, net soos met Hagar, deur die koers van die geskiedenis ingebreek het om lewe te bring; Ewige Lewe.

23Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here. (Romeine 6:23)

Sonde lei na die dood. Draai eerder na Hom toe en vind Ewige Lewe. En mag jy sien dat jy nie nodig het om jouself te red nie, maar dat jy ʼn Redder het.

Ek weet dit klink dalk nou asof ek die keuse waarvoor jy staan, probeer vermy, maar sodra ons besef hoe die hoop van Christus werklik die enigste oplossing is, kan ons saamwerk deur die praktiese implikasies wat jou na hierdie besluit wou dryf. Ek sal jou baie graag wil help. Daar is wonderlike alternatiewe en ondersteuningsnetwerke wat kan help.

Tot ons weer gesels, kan jy ʼn draai maak op die webwerf van die National Adoption Coalition – jy sal raad kry oor hoe jy te werk kan gaan om jou baba toe te vertrou aan ʼn gesin wat smag na ʼn baba, en wat mooi na hom of haar sal kyk.

Jy kan hulle ook bel by 072 521 3429.

Ek wag om van jou te hoor. Sodra jy kans sien, wil ek graag saam met jou gaan koffie drink om verder hieroor te gesels.

Intussen bid ek vir jou.

  • Marna Reinecke is ʼn pastoor by Every Nation Tshwane se Southdowns-gemeente. Sy het dié brief geskryf aan ʼn fiktiewe vriendin vir wie sy die skuilnaam Elsabé gebruik het. Elsabé is verteenwoordigend van alle meisies en vroue wat swanger is en ʼn aborsie oorweeg.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

19 Kommentare

Quntin Clark ·

Ek en my vrou smag na n baba ons het al aanneming oorweeg sommige agentskappe se my vrou is te oud as daar n toekomstige mamma is wat nie die baba wil he ons wil die baba he

madels ·

Baie dankie vir hierdie wonderlike brief. Dit het my baie diep geraak. Wat jy egter nie genoem het nie is dat elke baba wat verwek word n GEES HET, daai gees gaan NIE DOOD NIE, daai baba SAL DIE VROU WEER SIEN! Dit word nie aan moeders vertel wat hul babas aborteer nie!! Ons is siel, liggaam en gees geskape. My huishulp het eendag vir my n storie vertel van haar buurvrou wat al baie babas ge-aborteer het, die een keer toe sy weer n baba aborteer het dit haar lewe gekos en met haar afsterwe het sy gevra hoekom hoor sy so baie babas huil en sy sien al die babas. Toe sien sy al die babas wat sy geaborteer het. Hoe tragies dat niemand hierdie konsep verstaan nie. Hierdie waarheid moet ook vir mammas vertel word wat hul baba wil aborteer asb.

Arno Visagie ·

Beste Marna,

baie dankie vir jou goeie meningstuk. Groot waarhede het die gewoonte om eerder in stilte te skree as in ‘n magdom woorde. In jou meningstuk van ongeveer 2500 woorde kon ek net twee skramse verwysings na die kindjie se Pappa raaklees:
1. ʼn Stukkie van jou, en ʼn stukkie van pappa.
2. As jy doodeerlik met jouself moet wees, wat is dit wat jy meer wil hê as die baba? Wraak?

In Suid-Afrika kan ‘n vrou ‘n man se ongebore kind wettiglik vermoor, en sy hoef hom nie eers daarvan te se nie. Hy het geen wettiglike reg om sy ongebore kind se lewe te probeer beskerm nie. Ek weet ons moet op die kinders konsentreer, maar as meningsvormers, soos jy, net moontlik hierdie verlammende hartseer vir die Pappa en sy familie kan begin raaksien – asseblief…asseblief

Arno

Elize C ·

Arno, om aan te sluit by wat jy sê, sowel as die berig en al die ander kommentare: ‘n dame in daardie onbenydenswaardige posisie waar sy swanger is met ‘n baba wat sy om welke rede nie op daardie stadium van haar lewe wil/kan hê nie: sy is geneig om te sê: “Dit is MY liggaam, ek kan daarmee maak wat EK wil.” Waarmee sy dan ook die pa uitsluit om ‘n sê te hê. Mag ek net sê: NEE dame, dit is NIE jou liggaam waaroor jy besluit nie, dit is ‘n BABA se liggaam waaroor JY (wil) besluit!! Ja, daar mag dalk skade aan jou liggaam ook gedoen word tydens ‘n aborsie, maar eerstens is dit die BABA se liggaam (om nie te praat van ‘n siel/gees nie) wat jy vernietig, sonder dat daardie KIND enige sê in sy eie voortbestaan het. Arno, ek dink ook dit is waar die netelige kwessie oor die pa se sê inkom tydens die vrou se swangerskap: want al sou daar ‘n wet wees wat hom regte gee oor ‘n ongebore kind, hoe gaan hy die vrou verhoed om op welke wyse ookal van daardie kind ontslae te raak as dit is wat sy wil doen? Haar 24/7 in ‘n ge-kussingde kamer toesluit….? Dit is hartseer, maar dit is ‘n praktiese probleem……

Annette Sartori ·

God het elke lewe verwek, maak nie saak hoe nie, bloedskande, verkragtig, tienerliefde, “one night stand” binne die huwelik in liefde gemaak, as iemand swanger is, het God daardie lewe daar geplaas met ‘n doel en as jy as moeder van daai baba gekies is, is dit jou verandwoordelikheid om daai kind te hê. As jy nie die baba wil hê nie, laat dit aanneem (ek was aangeneem) maar moet nie moord pleeg nie. Van die 1ste oomblik wat die selle begin verdeel, is lewe geskep. Daar is geen rede goed genoeg vir aborsie nie, nie eers al is jou lewe in gevaar nie, God het die lewe geskep, Hy sal sorg, Hy is in beheer.

Boeremeisie ·

MOENIE ABORTEER NIE!!! Onder GEEN omstandighede nie. Al is dit wettig. Daar is baie “wette” wat die mensdom ingestel het. MAAR dit is NIE God se WIL nie. Glo my! Ek was ‘n moordenaar – ek het ‘n aborsie gehad. Ek het daardie keuse gemaak. Maar dank die Here my “aborsie kind’ is amper 18 jaar oud! Ja, dit is ‘n absolute wonderwerk en getuienis! God se plan en hoe Hy dinge laat uitwerk is so ver van wat ons beplan. Maar steeds moet ek elke dag met my gewete saamleef, want of my “aborsie” gewerk het of nie – ek is steeds skuldig aan moord op ‘n kind van God!

Breytie ·

Dit klink alles vreeslik edel en opreg en dit lyk asof lewe een of ander wonderlike geskenk is wat nie eers van ‘n ongewenste swangerskap weggeneem behoort te word nie. Maar die een mens wat die heel meeste geraak word in die saak, word nie in aanmerking geneem nie – die baba wat besig is om gevorm te word. Waarheid is dat die blote feit dat hierdie meisie nie die swangerskap wil hê nie alreeds die bewustheid van verwerping in hierdie toekomstige mens ingebou het.

Ongelukkig is die bestaan van ‘n oulike babetjie met sy mooi ogies ‘n baie kortstondige verskynsel. Negentien jaar later sit iemand soos ek met daardie baba oorkant my lessenaar en ek weet dat ek weet uit hoeveel soortgelyke voorbeelde dat die verwerping nooit opgelos kan word nie.

“My pa het my verlaat”, of “My pa het ons gelos en my ma kon my nie bekostig nie” is die ware feite wat die bestaan van so baie jonges rig. Waarom moet die baba hieraan onderwerp word ter wille van die sentimente van mense wat in elk geval nie die verantwoordelikheid vir die volgende negentien jaar hoef te dra nie.

Lewe is kosbaar vir sommige, maar vir baie duisende is dit ‘n wroeging en hulle roep uit: “Waarom is my kant van die saak nie oorweeg nie?!!”

Eish ·

Aborsie is nie n kwessie van keuse nie. Dit gaan daaroor om die die gevolg te ontsnap van jou keuses deur die keuse van die heel onskuldigste onder ons se keuse te ontneem. Dis hartveskeurend, aborsie kan jy kry vir so min as R200 en n aanneming van R10 000 en op. Ons is siek om die goed te wettig. Vermoor een slagoffer om die ander een beter te laat voel. Om te verwag is tydelik, om te sterf, permanent. Ons het waaragtig gevaal as n gemeenskap indien die enigste wyse om n verwagtende moeder te help is deur haar kind te vermoor. Aborsie beëindig nie n swangerskap nie. Aborsie vermoor n baba gedurende swangerskap. Geboorte beëindig n swangerskap.

Liewe Jesus se kind ·

Dit is moord voor geboorte ook……vandat daar n hartkloppie is is dit lewe…..Daardie kind is geskape deur God……..

was ook daar ·

sjoe, hoe mooi is die brief nie gestel nie, ek was ook in so situasie, wou nie aborteer nie maar wou laat aanneem agv verkragtig. hoe oneindig dankbaar is ek nie vandag dat ek teen dit ook besluit het nie. ek het ‘n pragtige 3 jarige bekkige dogtertjie wat my net vreugde verskaf…. as ek moes voortgaan met die aannemingsproses sou ek vir die res van my lewe gewonder het waar sy is of sy na gekyk word en of sy gelukkig is….. maar aborsie? never nooit!

Koos ·

Ek weet ek gaan gestenig word maar nou ja. Ek verskil drasties hiervan. Meeste jongmense wat hulle in hierdie situasie bevind kan eenvoukdig nie vir daardie kind sorg nie. Van hulle eindig op waar ma maar weer n boyfriend kry en almal sommer saam in een vertrek slaap. Kos is min daardie kind word met die verkeerde waardes groot, eindig baie maal swakker op as wat die ma se omstandighede was.
Ek is nie verbaas dat hierdie artikel deur n pastoor geskryf is nie. Waarskynlik van n kerk wat goed opgevoede lede van middel tot hoer inkomste groep het. Mense wat so praat het nog nie die werklikheid van arm en mismoedig beleef nie. Weet nie wat deperaatheid aan die Ma en die kind doen nie. Sou God dan wou dat hierdie kind wat deur n mens se keuse om seks te he in sulke omstandighede grootword? Sal God dan nou die mens se verkeerde besluit om op so n jong ouderdom seks te he misbruik om die Ma se jongmens lewe te vernietig en n mens te skep wat in armoede en honger met grootword? Ek dink nie so nie. Die kinders wat onder hierdie omstandighede gebore word in bevooregte huise met genoeg geld ens is by verre in die minderheid. Sal God dan ander kulture se gebruike waar verkragtings daagliks gebeur misbruik.om nog n mens te skep wat maar net weer in dieselfde haglikke depresiewe omstandighede moet bly? Ek dink nie so nie.

Was ook daar ·

Mnr. Koos of oom, ek weet nie hoe oud u is nie……. ek stem glad nie saam met u stelling nie……. ek is as 27 jarige verkrag, ‘n dogtertjie is gebore uit dit uit, ek het my werk verloor, al my besittings, my huwelik is be-eindig en so kan ek aangaan, maar nie een enkele dag (al het dit hoe swaar met my gegaan, het my 2 kinders ‘n te kort koming gehad nie, die Here het vir ons op alle denkbare wyses gesorg, in die 2 en ‘n half jaar wat ek ‘n alleen mamma vir my 2 kinders was het ek nie nodig gehad om een keer vir haar klere te koop nie, weereens die Here het gesorg uit alle oorde sonder dat ek hoef bakhand te gestaan het by mense. vandag is ek weer getroud met ‘n wonderlike man wat my dogtertjie aangeneem het as sy eie. Aborsie al is dit in watter slegste omstandighede is beslis nie enigsins ‘n uitweg nie, maak nie saak wat die situasie was nie, daai kindjie het nie gevra om daar te wees nie en is ook geskape deur God se hand….. ons kan ure, dae, weke, maande, jare aan en aan gaan met hierdie gesprek maar steeds bly Aborsie MOORD.

Koos ·

Hoe kan dit toelaatbaar wees dat ons lewens kunsmatig kan verleng met suurstof, pille en ek weet nie wat alles nie. Hoeveel ou mense lewe net en het geen lewensvreugde nie omdat hulle aan die lewe bly met medisyne en dit is ok, maar dieselfde mense kan nie besluit dat die kind se omstandigede sal so sleg wees dat dit beter sal wees om te aborteer nie?

Frans ·

Ons almal op hierdie aarde het die mag gekry om ons eie keuse te maak. Goed of sleg. Gewoonlik het goeie keuses, goeie konsekwensies en slegte keuses, slegte konsekwensies. Ons kan nie ń verkeerde keuse regverdig deur die toekoms van daardie persoon te verdoem nie. Bly by die wil van God. Daar is soveel mensgemaakte wette wat jou in die afgrond kan inlei. Die Here het net tien wette gegee dat as jy by dit hou, jy sal lewe. Moenie moord pleeg nie.

Frans C ·

Dit is verkeerd om te sê dat dit alles God se wil (plan) is.Trouens seks buite die huwelik is nie deel van God se plan nie.Dit moet tog duidelik wees dat God se plan is dat lewe geskep moet
word binne die verordening wat hy aan die mens bekend gemaak het van die begin af,nl binne ‘n vaste verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou,wat saam een vlees word.

Dit is dus teen God se plan om kinders binne enige ander huwelik voort te bring of groot te maak.Ander huwelike is menslike instellings buite die plan van God.Daar staan tog duidelik in Genesis 2 vers 23. Die mens (Adam) het oorstelp van vreugde gesê:’Uiteindelik het ek iemand gekry wat net soos ek is en soos ek lyk.Iemand met ‘n liggaam soos myne.Ek gaan haar ‘vrou’ noem,want sy is deel van my.”
24.Dit is waarom ‘n man tot vandag toe sy ouerhuis verlaat om saam met die vrou van sy liefde te bly.Hulle liefde vir mekaar maak hulle een in liggaam en gees.Hulle behoort lewenslank aan mekaar.’

Dit was dus God se plan.Maar menslike hardkoppigheid ( verharding van die hart) het Moses genoem om iets soos die skeibrief in te stel,maar dit was van die begin af nie so nie.
Sien opvolg kommentaar.

Frans C ·

Vandag staan die mensdom onverskillig teenoor die wonderwerk van die lewe.Dikwels
word die vrouilike liggaam verlaag tot ‘n vat waarin die manlike saad onverskillig ,terwille van kortstondige genot gestort kan word.
Dit lei tot derduisende arborsies en tot ‘n sosiale ondersteuningssisteem wat die ekonomie
strem en uiteindelik teen die huidige tempo in duie gaan stort.Daarom is dit die manlike geslag wat tot verantwoording geroep moet word en moet die belastingbetaler sover as wat moontlik is tot verantwoording geroep word, by onderhoud en abortering.

Daar is tog ‘n spreekwoord wat sê: “if you cannot do the time don’t do the crime”.
So as jy nie vir die gevolge van jou plesiertjie kan betaal ,moet dit nie doen nie,want belastingbetalers is lankal gatvol om daarvoor te betaal.

Arborsie is dus ‘n instrument wat met oorleg gebruik moet word en moet uit die hande van kinders geneem word en oorgelaat word aan ‘n gekwalifiseerde mediese paneel,wat alle faktore en ook godsdienstige oorwegings inag neem.

Daan ·

Ek het al geluister na mense wat onder n operasie dood gaan en hulle het al vertel van al die kinders in die hemel wat die engele groot maak en strories lees en so aan.Dis meestal kinders van aborise – n kind is n mens in die oe van die Here

Susan ·

Damkie vir die stuk!! Moet asseblief nie aborteer nie da is plekke wat kan help! Daar is soveel pare wat smag na n kindjie wat met ope arms die babas sal ontvang en liefde gee. Ek weet my dogter en ha man is al deur alles en nogsteeds is da nie n bondeltjie nie. Maar Jesus is groot en hulle wag nou op aanneming. Daai mamma wat die besluit neem sal altyd in ons harte en gebede bly.

Santie ·

Ek is ‘n jong, ongetroude dame wat vir ‘n aborsie gegaan het. Ek wil net hê dat almal die moet hoor.

Ek en my ander halfte was veilig. Ek was op die pil en hy het ook beskerming gebruik. Toe ons agter kom die kondook het gebreuk het ek die plan B pil ook geneem. Maar steeds swanger geraak. Op 4 weke het my baba ophou groei.

So my keuses was gaan voort met die swangerskap en het geen standvastigheid in my lewe nie, en probeer hoop dat die baba weer groei of kry ‘n aborsie. Dit is wat ek gedoen het en ek is nie een oomblik spyt daaroor nie. My verhouding met God is sterker as ooit. Ek het gedink dat ek ‘n emosionele wrak gaan wees, maar ek hanteer dit soos dit kom.

Julle kan nie sê dat dit verkeerd is as jy nie self in die situasie is waar jy kan kies nie. My aborsie was vinnig en so te sê pynloos. Dit is deesdae veilig want jy kry die mediese aborsie wat jy die pilletjies inneem en hulle gee jou pynmedikasie sowel as antibiotika. Jy verloor jou sigoot by die huis met die mense van die kliniek op “bystand”. Hulle vra gereeld hoe dit gaan en hoe jou pyn is.

So aborsie is NIE so erg nie en dit maak my nie minder van ‘n mens nie. Ek studeer nou verder vir as dit weer gebeur dat ek my baba kan hou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.