Sensuur van Steve Hofmeyr dui op dieperliggende probleem

steve hofmeyr1

Steve Hofmeyr. Foto: Facebook

Maak jou oë toe en probeer ontspan. Neem ’n oomblik om weg te glip van die werklikhede rondom jou. Verbeel jou dat jy jouself bevind in ’n land met die “beste en modernste grondwet in die wêreld”. Verbeel jou dat jy ’n burger van ’n staat is wat só voortreflik is dat dit regoor die wêreld as ’n wonderwerk beskryf word; ’n land wat voorheen die vergestalting van onderdrukking was, maar vandag ’n land is wat vryheid verpersoonlik – die toonbeeld van liberale demokrasie en alles wat daarmee gepaard gaan.

Dit is ’n land waarin die reg op vryheid van spraak in artikel 16 van sy grondwet verskans word. Dit sluit die vryheid van die pers en ander media in, sowel as die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra, die vryheid van artistieke kreatiwiteit, akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing. Dit is ook ’n land waarin artikel 16(2) bepaal dat hierdie reg slegs die volgende tipe uitdrukkings uitsluit: propaganda vir oorlog, die aanhitsing van dreigende geweld en die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing uitmaak om leed te veroorsaak.

Natuurlik is dit die Suid-Afrikaanse Grondwet wat ek hier aanhaal. Die konstitusionele hof het ook by verskeie geleenthede verklaar dat daar nie sprake van demokratiese vryheid kan wees as die reg op vryheid van spraak nie gekoester word nie. Dié hof het selfs aangevoer dat spraakvryheid die “hoeksteen van demokrasie” is.

Die filosofiese argument vir vryheid van spraak is op die sogenaamde “mark van idees” gebaseer. Dit verwys na ’n spreekwoordelike mark waarheen enige mens kan gaan om idees te ontvang wat hy nog nie voorheen gehoor het nie. Daar word nie onderskei tussen slim idees en dom idees nie, en daar word nóg minder onderskei tussen idees waarmee jy saamstem en idees waarvan jy verskil. Die idee is juis dat jy gekonfronteer moet word met idees waarvan jy verskil – en selfs idees wat vir jou aanstootlik is – natuurlik (in die Suid-Afrikaanse konteks) mits daardie idees aan die bepalings van artikel 16 van die Grondwet voldoen. Die punt is dus dat ’n mens moet onderskei tussen uitsprake waarmee jy nie saamstem nie of stellings wat selfs blatant aanstootlik kan wees, teenoor misdadige kommentaar wat byvoorbeeld neerkom op aanhitsing om ’n misdryf te pleeg.

Die sensurering van Steve Hofmeyr kan gesien word as die vergestalting van dít wat fout is met spraakvryheid in Suid-Afrika. Natuurlik móét Hofmeyr se opmerkings – waarna ek sal verwys – binne die breër konteks van “aanstootlike kommentaar” in Suid-Afrika beskou word.

Hofmeyr is ’n selfverklaarde populis, maar ’n mens sou hom ook as ’n polemis kon beskryf. ’n Polemis is iemand met sterk, dikwels omstrede opinies en wat nie skroom om dié van wie hy verskil met geskrewe of gesproke woorde te striem nie. Die wêreld het polemici nodig, júis om die sogenaamde “mark van idees” te laat funksioneer. Dit is immers die plek waar jy met nuwe idees gekonfronteer moet word, idees waarvan jy verskil en idees wat jou ongemaklik maak.

As dit by omstredenheid kom, is Hofmeyr g’n skim nie. In 2011, gedurende AfriForum se Skiet-die-Boer-hofgeveg met Julius Malena en die ANC, het Hofmeyr gesê dat, indien die hof bevind die lied Dubula i’Bhunu (vertaal na Skiet die Boer) is nie haatspraak nie, hy ’n lied sal skryf wat die verwerplike k-woord bevat. Hy het by geleentheid gesê dat swart mense moet ophou sê dat hulle vir 300 jaar deur ’n klein minderheid onderdruk is, omdat dit meer aanduiding van hul eie onvermoë as ’n aanduiding van wit wreedheid is. Meer onlangs is hy vir bykans ’n jaar lank geteiken weens sy twiet dat swart mense eintlik die oorsaak van apartheid was, omdat hul ontwikkelingsvlak dit genoodsaak het … of so iets (ek loop nou die risiko om hom buite konteks aan te haal).

AfriForum word soms deur die media met sekere van Hofmeyr se uitlatings gekonfronteer. Soms stem ons saam met wat hy sê, soms nie. AfriForum deel Hofmeyr se frustrasie oor ’n hele reeks kwessies en AfriForum stem ook daarmee saam dat daar niks daarmee skeel om Die Stem by kultuurbyeenkomste te sing nie. AfriForum neem aktief aan die rassismedebat deel, maar dit blyk dat Hofmeyr meer geneig is om homself in rasseterme uit te druk as wat AfriForum byvoorbeeld doen. AfriForum se strategie is een van morele hoëgrond en die organisasie maak verseker minder uitlokkende uitsprake.

Om van iemand te verskil en om iemand te sensureer is egter twee totaal verskillende goed.

Om die waarheid te sê, AfriForum is van mening dat die veldtog teen Steve Hofmeyr ’n politieke heksejag is wat aanduiding is van die growwe dubbele standaarde wat tans in Suid-Afrika geld. Die argument dat Die Stem en liedjies soos De la Rey dieselfde is as Kill the Boer, kill the Farmer, is ’n ooglopende getuigskrif van die dubbele standaarde waarvan ek praat.

Politieke kommentators en kunstefeeste is vinnig om sensuur- en sosialevervolgingsveldtogte teen Hofmeyr te dryf wanneer hulle nie met sy uitsprake saamstem nie, terwyl dieselfde soort optrede byna nooit konsekwent na “die ander kant” gevoer word nie. Verbeel jou byvoorbeeld dat die KKNK, wat Hofmeyr weens sy standpunte by hul fees verbied, ook ’n verklaring uitreik dat Jacob Zuma, die EFF of een of ander liberale kommentator weens húl uitsprake nie by die fees welkom is nie.

Dit is moeilik om kommentaar te lewer oor die Persklub se onlangse aflas van Hofmeyr se toespraak, aangesien daar berig word dat die klub dreigemente ontvang het. Oor die Persklub se optrede kan daar dus gedebatteer word. Die feit dat die klub “oorval” is met besware en selfs dreigemente van ontwrigting omdat Hofmeyr daar sou praat – en dit nogal oor spraakvryheid! – is weer eens aanduiding van ’n dieperliggende probleem.

Dit lyk vir ons of die praktyk in Suid-Afrika gevestig is dat wit mense deur kuberkrygers, sekere joernaliste en die sogenaamde progressiewe kommentators aan sensuur blootgestel word, terwyl ekstremistiese swart mense wat openlik verklaar dat wit mense verkrag en vermoor moet word, egter verdra en in sekere gevalle selfs beskerm word.

Suid-Afrika het inderdaad nie ’n mark van vrye idees nie. Dit is eerder ’n mark waar ’n handjievol bedenklike idees in jou keel afgeforseer word, terwyl alternatiewe idees verwerp word, soms met beledigende minagting. Hierdie praktyk sal noodwendig tot een of ander vorm van teenreaksie lei.

Suid-Afrikaners moet hulself ook vra of Suid-Afrika werklik die beste grondwet in die wêreld het en of Suid-Afrika werklik ’n wonderwerk is. Dit lyk of Suid-Afrika al hoe minder vry word hoe verder ons die “vrye, nuwe Suid-Afrika” betree.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Patrys ·

Hiermee stem ek 100 % saam. Ek is so keelvol vir swart arrogansie en beledigings teenoor al wat wit is, dat ek nie meer in hierdie totniet land wil bly nie. As ek net kon, sou ek lankal landuit wees.

Elizabeth Rule ·

Ons “wonderlike” grondwet beteken ongelukkig OOK niks as dit nie konsekwent toegepas en afgedwing word nie . . . dit blyk die Grondwet se mag bestaan ook deesdae net op papier en as die land se president hom nie daaraan steur nie, hoef die res van die bevolking seker ook nie . . . ? :-(

Johan Ferreira ·

Elizabeth, die mense maak maklik aanspraak op “die gevorderdste grondwet ter wêreld”. Dit mag so wees, ek is geen kenner nie, maar as die algemene bevolking en die regering nie die wil het om AL die bepalings van daardie grondwet konsekwent te eerbiedig nie, is dit minder werd as die volgende stuk toiletpapier. Veral met ‘n polisiediens wat die die vermoeë het om alle wette wat daarmee saamhang af te dwing nie.

Hendrik ·

Met al die magte gesentreer om die president word die grondwet bestempel, deur kenners, as die mees wettige ongrondwetlike grondwet in die wereld.

Leendert ·

Dit is nogal ironies, al het die Persklub dreigimente ontvang, dat die klub, juis hulle wat voor in die koor veg oor vryheid van spraak, Steve se toespraak afgelas het. Dit maak dat mens met nuwe oë na die Persklub kyk.

JC ·

Dankie Ernst, jy en Solidariteit/Afriforum is bevonk!!
Ek SAL julle ondersteun tot die dag dat ek my laaste asem uitblaas omdat ek ‘n Afrikaner (Boer) is met t(rotse) voorvaders en moeders en trots is om te wees wie ek is…Gen. De la Rey, (en Generaals Beyers, De Wet, Joubert en Viljoen ens.) die Stem, en Steve is bevonk en volkshelde! Ek voel jammer vir die liberale kwetsers rondom ons wat nie so voel nie en hul identiteit in werklikheid prysgegee het, Hulle is werklik, werklik verlore!! Hulle mis heeltemal die punt, om deernis vir jou mede Suid-Afrikaners te betoon en respek BETEKEN NIE JY MOET JOU EIE TROTSE GESKIEDENIS, HERKOMS EN KULTURELE IDENTITEIT VERFOEI OF PRYSGEE NIE!!

Jan ·

Die uwe JC,

Ek stem 100% saam jou hele stelling tot jy Steve se naam in gedruk het ” hy is geen Generaal of volksheld nie”

Sarel Strydom ·

Niks verkeerd met die Grondwet nie, word net nie toegepas nie. Mense en die Regering laat toe dat die Grondwet misbruik word en deur sommige mense vertrap word. Politieke amptenare en sommige resgeleerders. Wetstoepasers word aan bande gele en intimideerders en misdadigers word vrye teuls gegun.

Andre ·

Sarel. Daar is baie verkeerd met die grondwet. Die belangrikste is die legitimering van rasse diskriminasie (Artikel9), asook die ongelooflike magte wat aan die president verleen word.

Fred ·

Ernst is heeltemal korrek in sy siening. Dit het tyd geword dat ons van ons troontjies afklim,
begin betrokke raak by politiek op een of ander manier, hetsy dit ondersteuning van Solidariteit, Afriforum en Steve Hofmeyr is. Ten minste het die man die appels om sy siening van die skandalige en patetiese politiekery wat aan die orde van die dag is prontuit te stel, ongeag die siening en uitsprake teen dit van sekere liberaliste. Die weiering van sekere instansies en maatskappye om Steve sy sê te laat sê en ander negatiewe uitsprake omtrent sy aksies dui op die meelopende patetiese politiekery wat aan die orde van die dag is. Ons politieke onbetrokkenheid sedert KODESA baar nou vrugte.

Louis ·

Daar is baie mense wat teen Steve gekant is en ook wat hy sê. Dit is julle goeie reg. Net soos dit Steve se reg is om n opinie te hê, maar nog belangriker, ook dat hy sy opinie hardop kan uitspreek.

JC ·

Hoor, hoor Loeis!!
Ek sou dit nie beter kon stel nie!
NS: Dankie vir jou kommentaar Jan:-)

Justice ·

Steve is ten minste nie skaam dat hy blank is nie. Hy is wel belese, taalgebruik en algemene kennis is uit die boonste rakke. Sy vertonings se bywoningsyfers spreek vanself. Boonop alles het hy ‘n ruggraat van staal en redeneer feitlik. Definitief nie ‘n pampoen nie.

Otter ·

Ek meen dat die heksejag op Steve hom net meer gewild maak onder ons wat met hom saamstem. Jammer tog dat sy (ons) stem nie gehoor mag word nie.

Clipper ·

Dit word al hoe meer duidelik dat die swart mense in SA groter rassiste is as wat enige witman tydens die apartheidsjare ooit was. Dit is n gevaarlike mengsel van arrogansie, rassisme, ongeletterdheid en vernielsug wat SA tans ervaar en ons het nie leiers wat sterk genoeg is om enige aspek daarvan hok te slaan nie, hulle volg net hulle eie agenda en sodra iemand soos Steve sy mond oopmaak voel hulle bang dat hy dalk slimmer as hulle sal klink, en snoer hom baie gou. Dit is die grondslag van BEE, om die te help wat te sleg is om hulself te help

Leeutjie ·

Clipper: Jy is so in die kol met jou kommentaar! Uitstekend gestel! Ek stem 100% saam met jou!

Thys ·

Clipper, jy slaan die spyker presies op die kop. Ek kon dit nie beter gestel het nie.

Johan ·

As dit n goeie Grondwet is dan moes Zuma en sy trawante al lankal toegesluit gewees het .

Juan ·

Ek is so moeg vir wit mense wat nie kan saam staan nie !!!!!! Jan jy sal wat wil gee om half die mens te wees wat Steve is. Hy is dalk nie n generaal nie maar hy het baie meer wilskrag as wat j kan droom om te he. Hy kom op vir ons volk en baklei vir ons waar sulke lafhartige mense soos j hom probeer af kraak. Word groot en kyk wat om jou aangaan.

John ·

Uitdagende/uittartende houdings gaan ons nerens bring nie. Ons moet slimmer wees as dit. Dis een ding om ‘n rol van ‘n held in ‘n fliek te speel, maar iets heel anders in die werklike lewe. Ons het nie ‘n wonderlike grondwet nie. Dis net wat die ANC en die patetiese onderhandelaars wil he ons almal moet bly glo. As ons verdere bloedvergieting onder Afrikaners wil voorkom, moet ons ernstig bid vir wysheid en ons wysneusige akrobatiese toertjies vir die voorblaaie om meer cd’s te verkoop, liefs staak. Tot nou toe het die sanger/akteur nog geen punte verdien as staatsman en ingetoe Christen- gesinsman nie. Hy verkies oproerigheid bo die rustige geborge troosvolle samesyn van sy volk. ‘n Stadion vol beserke Afrikaners wat rebelerend die ou vlae wapper en volksliedjies bulder gaan die Hemelvader, wat eintlik tog die oorwinnings bewerk, beslis nie tot aksie dwing nie.

Basson ·

Die ‘brein programmering’ vind alhoemeer plaas in Afr silabusse op skool. Afrikaanse gedigte en voorgeskrewe werke wat Afrikaanse kultuur en geskiedenis ondermyn word al van die laer grade af geinkorporeer, met Manaka dan in Gr 12. Groot deel daarvan is die psigiese afbreking van Afr identiteit ens.
(Ouers moet regtig moeite doen om die kinders se dept boeke / leerplan na te gaan, dis skokkend wat aan die gang is – alles deeel van die groot plan)

Basson ·

Wel John – het al die gebede in / vir Zimbabwe gehelp???

Dis tyd vir aktivisme,

pieter ·

AS JY SWART IS IS JY N AKTIVUS,AS JY WIT IS N RASSIS.KYK MAAR KOMENTAAR IN DIE MEDIA.

PJ ·

Ek het 8 jaar in die UK gebly en my land so gemis dat ek in die laaste 10 jaar hier gesien het hoe alles agteruit gaan en niemand staan op vir die dinge nie, ons mense word daagliks vermoor, verkrag en onder hewige druk geplaas. Die grondwet hier is nie vir ons nie en daarvoor maak die ANC elke dag seker ons verstaan dit so. Steve is een leier wat ons gerus meer ter harte kan neem, en hy is reg al wat ons oor het is ons kinders om te beskerm so ver n mens kan. Ek is al twee keer in my huis aangehou met 9mm`s en glo my iets moet gebeur en vining…So kan ons volk nie uitgewis word elke dag nie…

Denise ·

Wel PJ al wat ek kan se welkom in die land van moord .roof , kapings en verkragting en dit gebeur elke liewe dag en niks gebeur nie. Steve en die ander wat vir ons opstaan moet ons voor dankbaar wees net jammer dit is te min stemme en ons gewone mense wat kan ons doen deur net vir die wat omgee te ondersteun!!!!!!

Ruben ·

Steve kom op vir ons mense dan maak julle hom sleg,elke keer as n moord gepleeg word teenoor ons mense komentaar baie van julle swakkes hier en doen niks verder sit op jou rusbank en vreet julle self dikker.Knapgedaan Steve jys n leier en dankie dat jy baklei vir ons.

Theuns ·

Baie Dankie Ernst! Hierdie kommentaar was baie nodig en hier is ‘n paar kommentators wat hulle self ontbloot het as deel van die Afrikaner probleem en in hulle volle naaktheid voor onstaan as deurtrappte liberaliste. Ek is trots op jou JC en al die ander wat soos jy/ek dink maar terselfdertyd ander toelaat om hulle se te se! Vryheid van spraak beheld ook die Vryheid om te” LUISTER”. Sonder laasgenoemde Vryheid word jou besluite beinvloed en tree jy soos ‘n dwaas op! En dit geld vir al die ouens wat nie vir ouens soos Steve Hofmeyer kans wil gee om sy opinie te lug nie! Vir Almal wat teen Vryheid van spraak is is daar net een uitweg om die verlies aan hulle bas te voel en doen die volgende: Gooi jou android selfoon, jou I Pad, jou rekenaar, jou televisie, jou landlyn en al jou koerante weg!! Dan kan jy mos met niemand gesprek voer nie want jy weet niks! En as jy niks hoor nie dan kan jy maar met jou duime speel en gou die tydelike met die ewige verwissel. Groete aan al die Demokrate!

Andre ·

Die groot deel van die lede van die persklub (lees “Oorval met besware”, mens moet aanneem die besware kom uit die geledere, hoekom sal buitestaanders besorg wees oor wie dat praat ) is dus voorstaanders van “muilband”. Dus wanneer die staat eendag die “muilband” wet implementeer, sal die persklub se lede geen beswaar mag maak daarteen nie. Hulle is mos pro muilband! Dit is voorwaar ‘n flou verskoning dat hulle bang vir ontwrigting. Van wanneer af is die pers so bang daarvoor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.