Spraakvryheid: Kultuur kan gʼn heilige koei word

die-antwoord-xhosa

Die Antwoord se jongste album het sommige Xhosa-mense warm onder die kraag vir die vreemde uitbeelding van hulle kultuur. Foto: Twitter.com

Soortgelyk aan veral Westerse lande, is daar in Suid-Afrika tans ʼn felle stryd aan die gang tussen vryheid van spraak en politieke korrektheid vermom as kulturele sensitiwiteit en maatskaplike geregtigheid. Hoewel ek self my bes doen om respek vir alle kulture te toon, is ek en baie ander mense in die land onbeskaamd aan die kant van ʼn wye definisie van vryheid van spraak. Goed soos die aanhitsing van geweld is natuurlik nie aanvaarbaar nie. Maar eweneens is die stilmaak van stemme wat die draak steek met goed soos kultuur onaanvaarbaar.

Die rap-groep Die Antwoord is ʼn oneerbiedige en selfs vulgêre klomp beeldestormers wat al tonne hoon op laeklas-wittes, Afrikaners en ander Suid-Afrikaanse stereotipes uitgestort het. Hul musiekvideo’s is grafies en skokkend. Hulle het al werklike gevangenes daarin gebruik. Hul lirieke is in Engels, Afrikaans en Xhosa en hulle het ʼn liedjie en video saam met ʼn Xhosa-tiener opgeneem oor die druk wat hy weens sy kultuur se drang na besnyding en inisiasie-rituele beleef. Die video is kru en in talle opsigte aanstootlik – selfs obseen.

Die Antwoord se jongste herrie handel oor die foto vir hul splingternuwe album waarin hulle soos Xhosa-geïnisieerdes aangetrek is. Hulle is wit geverf, geklee in tradisionele Xhosa-klere en bloed drup by die hoofsanger se mond uit terwyl hy tradisionele wapens vertoon. Die Xhosa-musikant Ntsiki Mazwai het hulle na die SA Menseregtekommissie (MRK) gesleep omdat hulle oneerbiedig jeens die Xhosa-kultuur optree.

Die HuffPost Suid-Afrika was natuurlik ook voor in die koor met ʼn artikel deur sy blog-redakteur, Zimkhitha Mvandaba, oor hoe problematies Die Antwoord se hele bestaan is. Daarin sanik sy oor hoe hulle nie respek het vir die Xhosas se rituele nie en dat hulle geen reg het om kulturele praktyke te skaak nie. Volgens haar moet dit as heilig geag word. Daar was geen teenstrydige mening om die ander kant te stel nie. Bloot Mvandaba se swak verdedigde en ontoereikend geregverdigde betoog gee aanstoot en lei tot woede.

As politieke en sosiale kommentator is dit dan altyd interessant vir my om die leserskommentaar op Facebook oor sulke aangeleenthede te lees. Soos met baie kwessies was daar groot verdeeldheid. Soos gewoonlik is daar gevra vir boikotte deur sommige swart mense en verontwaardiging dat wit mense durf waag om swart kultuur enigsins uit te beeld, laat staan nog vir hulself toe te eien. “Whites at it again!” roep een uit en “White people being white people, ugh I’m so annoyed” sug ʼn ander. Sommige wit mense het dit ook afgekeur.

Sommiges het selfs sover gegaan om die Xhosa-kultuur as die heiligste van alle kulture in Suid-Afrika te beskryf, of as die “nasionale kultuur wat deur álmal as heilig geag word” en wat verhewe bo kritiek en hoon is.

Maar dan was daar ook die ander kant: ʼn Multikulturele groep wat dit nie net goedgekeur het nie, maar selfs aangemoedig en geloof het. ʼn Swart vrou het in ongeloof geskryf: “But it’s Die Antwoord!” Nog ʼn swart man het gesê slegs iemand wat nie kuns en kultuur verstaan nie, sal aanstoot neem. Volgens hom kan daar nie net oor sekere kwessies stilgebly word nie en daarom steun hy wat hulle doen. Ander mense het gesê oor die wêreld steek kunstenaars die draak met ander mense se kulture en dit is deel van artistieke vryheid (wat boonop in die Grondwet vervat is). ʼn Ander swart man het gesê kritiek hierop is dubbelhartig omdat baie swart mense heeldag Westers optree.

Mvandaba se opskrif van haar artikel toon aan dat Die Antwoord aanhou om “Suid-Afrikaners” aanstoot te gee. Duidelik praat sy as selfaangestelde barometer oor hoe die hele land voel, nie namens almal nie.

Daar is ʼn paar knaende vrae wat hieruit voortspruit. Soos hoekom die mense wat teen Die Antwoord se uitbeelding van die Xhosa-kultuur gekant is, nie dieselfde verontwaardiging toon as jong mans vermink en beseer word tydens hierdie rites nie. Of hoekom hulle nie aanstoot neem as Afrikaans by universiteite en elders uitgerangeer word nie (en dit selfs aanmoedig). Of wanneer ander kulture bespot en ondermyn word, wat dan? Of hoekom hulle voel dat slegs swart mense ʼn sekere kultuur mag beoefen, of hoekom so baie swart mense Westerse kultuur vir hulself toegeëien het in hoe hulle aantrek, ensovoorts. Of hoe dan as wit mense as ʼn groep verguis word deur swart rassiste of gevra word dat ons uitgemoor word?

Almal is geregtig op hul mening en ook die gevolge wat daaruit voortspruit, soos onder meer kritiek of selfs aantygings van rassisme en boikotte. Die Antwoord is nie my soort musiek of groep nie en hulle sal waarskynlik grappe en uitbeeldings van my maak as hulle my al ontmoet het, maar ek gun hulle hul spraakvryheid al gee hulle my soms aanstoot. Hulle het in elk geval kritiek verwag en dit selfs uitgelok. En as jy nie van hul video’s en musiek hou nie, moenie daarna kyk en luister nie. As hulle nie mag doen wat hulle doen nie, behoort die gevaarligte vir Suid-Afrika se moeilik gewonne demokrasie te flikker.

Hulle steek boonop net die draak met ʼn deel van die Xhosa-kultuur en nie met swart mense in geheel of met die hele Xhosa-kultuur nie. Hoekom sal hulle dan in Xhosa rap en saam met Xhosa-kunstenaars werk? Myns insiens het hulle niks gedoen om haat of geweld jeens Xhosas aan te wakker nie en as jy aanstoot neem dat iemand jou kultuur negatief uitbeeld, is dit helaas jou probleem.

Geen kultuur of kulturele praktyk is verhewe bo kritiek en bespotting nie. Evelyn Beatrice Hall het daarom ʼn tydlose waarheid uitgespreek in The Friends of Voltaire: “I disapprove of what you say, but I will defend to the death your right to say it.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is die uitvoerende redakteur van die Solidariteit Wêreld, die vakbond Solidariteit se aanlynportaal. Hy het sy PhD in politiek verwerf en het ook grade in joernalistiek, kommunikasie en inligtingbestuur. Hy is daarbenewens ‘n navorsingsgenoot by die Solidariteit Navorsingsinstituut en lewer gereeld kommentaar oor onder meer die plaaslike en internasionale politiek en ekonomie, arbeidsake asook maatskaplike en kulturele kwessies.

Deel van: Meningsvormers

4 Kommentare

Helizna ·

Dit herinner aan hoe dit kultureel aanvaarbaar dit is om met Christene en Jesus te spot, maar arme ou sensitiewe Allah en Muhammed mag mos nie aangeraak word nie….

MissDemeanor ·

Dis nie waar nie. Nog elke keer wat ek die Christene spot word ek onder sensuur geplaas. Glo my ek het al baie teenkanting daaroor gekry. Dis ongelukkig gladnie kultureel aanvaarbaar soos jy beweer nie.

Reinhardt ·

Eugene, die hartseerste van alles is dat die meerderheid nie na jou argument gaan luister nie, maak nie saak hoe goed dit saamgestel is nie. En dit is wat my die meeste ontstel, ek is altyd bereid om debat te voer met enige kultuur, maar dan word mens gewoonlik doodgeskree en jou standpunt word eenvoudig nie begryp nie. O, die ironie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.