Stilbly beteken … jy stem saam

up-plakkate1

Foto: Fezekile Msimang/Facebook

Deur Jahni de Villiers

Dit het my ʼn hele paar dae geneem om my gedagtes te orden ná verlede week se gebeure by die Serrie-finaal by Tukkies. Ek het regtig gehoop dat ʼn obskure kunstenaar sou opstaan en sê die manstudente met hul plakkate is geplant om bewusmaking oor kampusverkragting te skep. Helaas, nee. Dit was glo bloot ʼn grap om die vrouedeelnemers se aandag af te trek.

Die insident waarin manstudente plakkate met seksueel eksplisiete, neerhalende opmerkings vir vrouestudente gewys het, het my laat dink aan ʼn studie wat onlangs onder 20 000 Harvard-studente gedoen is. Hierdie studie het getoon dat ʼn skokkende 88% van jong vroue tussen die ouderdom van 18 en 25 al slagoffers van seksuele teistering was.

Soortgelyke studies is nog nie onder Suid-Afrikaanse studente gedoen nie, maar ʼn studie in 2014 het getoon dat 77% van Suid-Afrikaanse vroue al in die werkplek onder seksuele teistering moes deurloop. As ʼn mens hierna kyk, word die prentjie vir vroue regtig donker.

Vrouestudente het voor die plakkaat-insident deelgeneem aan protesaksie om die kollig op kampusveiligheid en verkragting op kampus te gooi. Vrouestudente het verder ook deel aan die tradisie om hul mansopponente se aandag af te trek, maar die realiteit is dat die slagoffers van seksuele teistering en verkragting oorwegend vroue is. Die optrede van die manstudente is daarom baie meer problematies as enige optrede deur vrouestudente, want dit normaliseer bepaalde optrede teenoor vrouestudente.

Die Serrie-herrie was nie ʼn private insident, agter toe deure, tussen ʼn monster en sy slagoffer nie. Dit was in die openbaar. Dis openlik gedoen, in ʼn groep met getuies.  Voor joernaliste en lede van die publiek. Daar het vroue langs en rondom die mans met hul plakkate gesit. Die treffendste deel hiervan was die dawerende stilte. Nie een mens uit die groepie self het opgestaan en die mans met hul plakkate gekonfronteer of enige poging aangewend om beswaar te maak nie. Daar is ʼn naam vir daardie polsende stilte:  Verkragtingskultuur.

ʼn Video wat verkragtingskultuur verduidelik doen tans die rondte op sosiale media.  In een toneel word ʼn meisie teen haar sin betas en afgeneem. In ʼn ander word ʼn meisie se drankie gedokter. Elke keer draai die skuldige na die kamera en bedank die kyker vir sy of haar stilte. Die boodskap is ʼn hou tussen die oë: Bly stil, en jy help hom.  Praat, en jy help haar.

Die woorde wat ons teenoor mekaar gebruik, beteken iets. Ons het die keuse om op te staan en te praat wanneer ons sien dat onreg teenoor iemand gepleeg word, of om stil te bly. Ons het ʼn keuse om ʼn traan te pik oor die groot onreg dat ʼn kultuur-tradisie by die universiteit afgestel is weens enkele studente se swak gedrag, of om eerder die bul by die horings te pak en die gedrag (plakkate én stilte) onder manstudente te takel en die veiligheid van vrouestudente te help verseker.

  • De Villiers is sektor-koördineerder in die professionele bedryf by Solidariteit, sy is al 11 jaar aan die vakbond verbonde.  Sy het ‘n spesiale belangstelling in geslagsgelykheid-kwessies en is tans besig om haar LLM-graad in arbeidsreg te voltooi.  De Villiers se dissertasie handel oor die die wetlike aspekte rakende seksuele teistering in die werkplek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gemsbok ·

Treffend. Die standaard waarby mense verbystap is die standaard wat hulle aanvaar.

Zuquina ·

Dit sal vreeslik baie beteken dat dit nie slegs vrouens is wat kapsie maak nie, maar dat ‘n paar mans/seuns sal opstaan en protes aanteken. As MANS dit nie ook doen nie, dan kan ek as vrou ongelukkig nie anders as om mans te veralgemeen nie.

Jahni ·

Dis presies die probleem: Ek sien die stilte as goedkeuring, nie afkeuring nie. Ek wens ook mans wil opstaan en die tipe gedrag help bekamp. Ons moet net onthou dat die afwesigheid van ‘n manlike stem nie ons standpunt minder geldig maak nie, en ons moet praat, praat, praat hieroor!

Gideon du Plessis ·

Jahni dankie vir die meningstuk en ek stem volkome saam dit moet ten sterkste afgekeur word. News24 het die bewoording van al die plakkate gepubliseer en wat in die Afrikaanse media gebruik was, is die mak weergawes en res is nog meer walglik en oorskry alle morele perke. Die mansstudente se ouers weet wie hulle is en hopelik kry hulle hul laaste pakslae tot hul eie voordeel en die van die meisies en vrouens met wie hul nog gaan paaie kruis in die toekoms.

Basson ·

Absoluut walglik, maar ek nooi jou, kom stap een middag saam met my dogter na die Gautrain bus stop aan die noordekant van Tuks en jy sal verbysterd staan om te hoor watter absoluut bizarre aanmerkings sy moet trotseer van die mense wie verby drentel. Staan ek op daarteen word ek heel moontlik ge-etiketeer…

Jahni ·

Laat weet waar en wanneer en ek is daar. Dit maak my siek! As volwasse vrou ervaar ek gereeld dieselfde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.