Suid-Afrika: Die gras is toe nie groener elders

vlag suid-afrika

Argieffoto.

Deur Morné Malan

Ek wil in hierdie artikel ʼn ietwat gewaagde stelling maak, wat waarskynlik baie mense gaan ontstel: Dalk gaan dit nie heeltemal so sleg in Suid-Afrika soos wat ons dikwels meen nie. Trouens, ek dink dit gaan glad nie te sleg nie. Ondanks hoe ons almal dikwels voel, gaan dit eintlik nogal goed in Suid-Afrika – selfs beter as in baie Westerse lande. Om dit aan te toon verwys ek in breë trekke na elke aspek van die lewe, te wete: sosiaal, ekonomies en polities.

Sosiaal

Ons almal het seker al met iemand gesels wat sê dat hulle eintlik graag sal wil emigreer, maar dat hulle te sleg sal voel oor hul familie wat agterbly. Dit is vir seker een voorbeeld van ʼn sosiale motivering om in Suid-Afrika te bly, maar dis eintlik niksseggend. My punt is juis dat al kon jy saam met jou hele familie emigreer, sal jy steeds eerder in Suid-Afrika wil wees.

Een punt is rasseverhoudinge in Suid-Afrika: Deesdae is die nuus soortgelyk aan ʼn wandeling deur ʼn buurt, waar ʼn mens moeite doen om te let op elke gebreekte venster van al die huise. Tog, ʼn mens val dikwels dan in die lokval dat jy dink die hele wêreld is “gebreek”. Daar is soveel in ons metaforiese buurt wat ons almal miskyk en boonop mis ons die talle vensters wat nie stukkend is nie.

In ʼn omgewing waar “F*** White People” kuns verteenwoordig, Black First Land First gereeld publisiteit ontvang en skadelike idees soos witmonopoliekapitaal hoogty vier, is daar inderdaad baie stukkende vensters waarop ʼn mens kan let. Tog, sodra ʼn mens bietjie rondkyk, lyk die wêreld baie beter. Dit word keer op keer bevestig in peilings soos dié van die Instituut vir Rasseverhoudinge in 2016 sowel as een deur Ipsos vanjaar, dat die meerderheid Suid-Afrikaners voel dat verhoudings tussen die verskillende rasse goed is, of ten minste op ʼn opwaartse trajek is. Aksies en uitlatings deur politici, soos Jacob Zuma, en dié van die berugte Gupta-familie sorg daarvoor dat burgers van alle agtergronde ʼn gemeenskaplike vyand het.

Op voetsoolvlak gaan dit beslis baie beter as wat dit blyk uit die nuus. Tog, as jy daarop aandring om die nuus te volg, maak dan ook so met oorsese nuus om te sien of die VSA onder Trump of Europa met die krisis van immigrante uit veral die Midde-Ooste lyk of hulle geen spanning ervaar nie.

ʼn Ander sosiale punt wat min Suid-Afrikaners wil erken: Ondanks die feit dat Afrikaners hulself soms as Europees beskou, pas hulle eintlik glad nie meer kultureel by Europa in nie. Dit is vir seker so dat baie van ons gebruike, waardes en selfs geloof vanuit Europa afkomstig is, maar dit is dwaas om te dink dat ons kultuur sedert 1652 dieselfde ontwikkel het as diegene wat agtergebly het. Feitlik almal wat ʼn lang tydperk in Europa deurbring, kom vinnig agter dat hul waardes baie meer “AFRIKAans” is as wat hulle gedink het.

Ekonomies

Nog iets wat vele mense agterkom ná emigrasie is dat ons lewensgehalte in Suid-Afrika eintlik heel goed is. Ons is gelukkig dat die lewe in Suid-Afrika eintlik relatief goedkoop is. In terme van BBP (Bruto Binnelandse Produk) gegrond op koopkragpariteit is Suid-Afrika volgens alle metings ten minste in die top-30, en volgens die Wêreldbank 28ste. Dit is bo lande soos Switserland, Swede, Noorweë, Ierland, en ja, selfs Nieu-Seeland.

Die feit bly, die meeste van ons geniet ʼn hoër lewensgehalte in Suid-Afrika as wat die geval sou wees in die ekwivalente posisie in ʼn ander land. Dit wil sê, as jy dit kon regkry om jouself in presies dieselfde ekonomiese posisie te plaas in ʼn ander land, dan sou jy steeds slegter af gewees het omdat al jou normale uitgawes soveel duurder is. Verder, dit is feitlik onmoontlik, gegewe die geweldige koste verbonde aan emigreer, dat jy nie ʼn reuse-agterstand sal hê nie, en vir wat? Sodat jy amper so goed kan leef soos wat jy reeds doen?

Polities

Buiten dat ʼn mens kan sê dis ongelooflik opwindend, is dit dikwels moeilik om iets goeds te sê oor Suid-Afrikaanse politiek, maar dalk is selfs hierdie algemene siening gegrond op ʼn wanindruk.

Ons het op verskeie maniere met die huidige president en regering ons Afrika-oomblik gehad. Vir diegene wat bang was dat ons in die voetspore van ander Afrikalande, soos Zimbabwe, sou loop, behoort die vrees tot groot mate verlig te wees. Kyk na ons media, is daar enigeen wat bang is om die president of die regerende party te kritiseer? Ons waardeer dit nie altyd nie, maar ons geniet ʼn buitengewoon hoë vlak van vryheid van spraak in Suid-Afrika. Solank as wat jy besef dat ander ook die vryheid het om jou te kritiseer vir wat jy sê.

Verder is die howe steeds betroubare vegters van korrupsie en blyk dit steeds of hulle die aansien van hul instansie wil verhoog. Ek is self dikwels krities oor die manier waarop die howe sake benader, maar ek vind selde iets om oor te kla wanneer hulle oor die staat se wangedrag moet beslis. Ondanks talle vrese, bevestig die howe deurlopend dat hulle steeds onafhanklik van die ANC hul sake beslis. Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) plaas Suid-Afrika se regstelsel 24ste in die verband, ook in die top-20 in ander gebiede.

Laastens, een onderwerp wat ek nie in hierdie artikel aanspreek nie, maar wat beslis belangrik is, is misdaad. Dit is nie onredelik om bang te wees daarvoor nie, veral as ʼn mens oor die welsyn van jou familie dink. Steeds, ʼn mens kan nie toelaat dat hierdie vrees jou in stilstand in vries nie. Probleme los nie hulself op nie. As iets jou pla, doen stappe om dit reg te stel. Die doeltreffendheid van buurtwagte moenie onderskat word nie. Studies toon dat buurtwagte moontlik inbrake in die betrokke gebied met tussen 32 en 80 persent laat afneem. Boonop is nog ʼn antwoord die woonkomplekse wat oral beskikbaar is. Daar bestaan reeds talle opsies om jouself in dié verband te beveilig.

Al voel ons almal soms sinies, Suid-Afrika is eintlik ʼn wonderlike plek om te lewe. Dis net nie so wonderlik soos die feetjieland, wat nie eintlik bestaan nie, wat ons in ons kop skets nie. Ons vergelyk Suid-Afrika se werklikheid met die veridealisering van elders en die feit is dat geen land kan meeding met daardie denkbeeldige elders nie. Soos enige goeie ding in die lewe verg dit egter harde werk om die land te laat werk.

Vind diegene om jou wat ook wil saamwerk, wat ook ʼn toekoms in Suid-Afrika sien en bou aan daardie toekoms, selfs al is dit net op ʼn klein skaal soos jou eie gemeenskap. Wees dan ʼn voorbeeld vir ander soos in die tweede brief aan die Tessalonisense: “Moenie moeg word om goed te doen nie” (vers 13); en vir diegene wat nie saamwerk nie: “Moet hom egter nie soos ʼn vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos ʼn broer” (vers 15).

  • Morné Malan is navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

74 Kommentare

techie ·

Goed en wel. Ek het ook al gehoor van Suid Afrikaners in die buiteland wat uitgevind het dinge is nie altyd so rooskleurig in die buiteland as wat mens wil glo nie. Die vraag is net… hoe volhoubaar is SA op sy huidige paadjie? En dis ‘n vraag waaroor ‘n magdom gepraat kan word.

Kom Ons Boks ·

Jong, my eks-baas het ‘n hele rukkie terug ‘n ope skrywe gerig aan sy werknemers net na ‘n kort vakansie in Australie. Die bestendige en uitgerekte skrywe het amper presies gelees soos die artikel hierbo en met tye selfs meer positief geklink oor prospekte in SA teenoor die van Australie. Twee weke later moes ons uitvind dat einste stil stil Oz toe ge-immigreer het… wonder of sy sal oorweeg om terug te kom nadat ek hierdie artikel vir haar aanstuur?

Piet Snot ·

Volhoubaarheid, inderdaad.
(ons moet Morné toegee, hy’s ‘n dapper man om so ‘n artikel te skryf)

Sebastiaan ·

Was Suid-Afrika al ooit “volhoubaar”? Ons dink terug aan die 1960’s en 1970’s, selfs 1980′ en 1990’s as goue jare, maar as jy boeke en koerante uit die tyd lees dan was dit ook een krisis na die ander volgens die mense van daardie tyd. Lees jy koerante uit Duitsland, Engeland, VSA of Frankryk, dan lyk dit ook asof die ondergang op hande is.

Mary ·

Totale snert. Woon al 17 jaar in Europa en is so bly ek en my gesin het destyds besluit om SA te verlaat!! Suid-Afrikaanse het gek geword……

Jordaan ·

Ek stem hoegenaamd nie saam nie – die abnormale hoe moordsyfer, misdaad is baie erger as in enige van die lande wat jy genoem het. Ja, daar is ook misdaad, maar die uitermate wreedheid en haat waarmee dit gepleeg word is baie skaarser, sowel as die waarskynlikheid dat jy of jou geliefdes daardeur getref sal word. Wat waardes betref, ek het tyd in Europa spandeer en sou enige dag terugkeer as ek kon (my ouderdom verhoed my), maar ek sou meer tuis voel daar as in hierdie land waar ek en my mense as minderwaardige burgers met minder regte hanteer word.

Standaarde ·

Moet jou nie meet aan die swakste standaarde om beter te voel of om jouself te flous nie. Meet jou aan die beste dekbare standaarde en streef na uitnemendheid!

Zuri ·

Ek stem saam met jou Jordaan. Ons was vir ‘n maand in Europa die jaar en ek het orals baie veilig gevoel en nooit ooit bedreig gevoel nie. Ons het tot 2 uur in die nag in die stede rond gedrentel en nooit gevoel ons lewens is in gevaar nie. In Florence het ons 11 uur in die nag rondgeloop en orals het jy groepies van mense gekry wat besig was om musiek te maak. Ons het vir ure lank by die groepies stil gestaan en musiek geluister en dan weer aanbeweeg na die ander groepie. Ek kan my kultuur na hartelus daar uitleef sonder om bedreig te voel. Terug in SA word alles toegesluit en jy kan nie eers waag om in die nag rond te loop in een van ons stede nie. As ek kon en het ek die fondse gehad sou ek al jare terug geemigreer het na Europa. En dit is moeilik vir ons Suid Afrikaanse burgers om oorsee te gaan werk tensy jy ‘n goeie kontak het.

Eish ·

Goeie artikel met baie raakpunte met die waarheid. Dit is nou indien jy in n werksituasie sit en inkomste genereer en miskien ook nie onlangs die slagoffer van misdaad was nie. Dit verdiskonteer egter nie die trauma van BEE, rassedikriminasie en uitwerking van geweldsmisdaad en gewone misdaad nie. Die skrywer neig miskien te veel na die monetêre aspek van n lewe in die Suidpunt van Afrika asook die totale miskenning van die trauma van misdaad. Ek moet erken, ek betaal liefs meer vir alles en skaal my leefstyl af, as om my voortdurend in die muur van vrees vas te leef. Terwyl ons nou die Bybelverse so lustig rondgooi, sal ek maar Spreuke 17:1 ingooi:
” Beter is n stukkie droë brood en rus daarby as n huis vol offermaaltye met getwis. ”
Die beroep op betrokkenheid ten einde ons omstandighede veral betreffende misdaad, te verbeter, is in die kol.
Op die keper beskou, is dit tog nodig om optimisme te behou ten einde jou gees te laat oorleef. Dit is ook nodig om aanvaarding in die land te kan beleef. Anders is ons gereduseer tot n platform waar impulse uit die omgewing soos sosiale media word, en slegs dit waarvan jy hou, kom deur die filter en laat jou totaal in die donker met die werklikheid daarbuite. Sou ek jonger wees en oor die fondse beskik het, sou emigrasie ernstige oorweging geniet. Nou moet ons eenvoudig dit maak werk.

christo ·

Ek het n seun in Neu Zeeland en n dogter in Nederland ..Hulle is baie gelukkig en tevrede .hulle kinders het n toekoms en kan maklik universiteit toe gaan . Die veiligheids sitsioasie is wonderlik ,veral in N< Z Die deure word nie eers snages gesluit nie en die karre staan oop in die dorpe Geen probleme nie Ek het verlede maand aan my seun gevra of hy al ooit spyt was dat hy weg is uit S.A Sy antwoord was dat hy 10 jaar vroeer moes gewaai het ….Die ouens wat so kla in die buiteland is net oersone wat nie wil on kan werk nie te lui

A ·

My hart is so seer vir hierdie land van ons. Ek wil so graag glo dat dinge eendag beter sal word, en ja ek glo dit sal, maar nie baie vinnig nie. Misdaad en werkloosheid en korrupsie is ongelukkig daagliks deel van ons lewens en dit druis teen my waardes en geloof. Of ek wil emigreer – ek wil nie regtig nie. As ek fondse gehad het – ek sal dit baie ernstig oorweeg het. Ek het kinders wat nog moet studeer en self werk moet kry. Ek moedig hulle maar aan om eendag hulle lewens iewers anders te gaan begin, al gaan dit my hart breek.

not in wonderland ·

Gister, heel toevallig, nuus gekyk en op die program afgekom waar ‘n dame van my ouderdom (60+) vertel van haar ondervinding by die Dieretuinmeer waar sy seksueel aangerand is terwyl sy met haar hond gaan loop het so 2 jaar gelede. Geld is nie alles nie meneer. Watter Bybelversie gaan jy aan die betrokke dame voorlees?

fm ·

Die ontwikkelingsvlak van diegene wat in Europa woon kan nie met die ontwikkelingsvlakke van mense (alle bevolkingsgroepe) in SA vergelyk word nie. Europeërs van alle bevokingsgroepe is ligjare voor Suid-Afrikaners omdat hullle daagliks aan uitsonderlikheid en volwasse verdraagsaamheid blootgestel word. Die lewensstandaarde daar kan nie vegelyk word met wat ons hier het nie want dit word daar met holistiese doelgerigtheid dog sensitiwiteit benader. Baie Suid-Afrikaners besef nie eers hoe ver die gemiddelde Suid-Afrikaner se ontwikkelingsvlakke te kort skiet nie (nie almal nie). Inwoners van Europa en Noord Amerikaanse lande soos Kanada se bewustheid van kuns, kultuur en diversiteit is hoogs ontwikkeld. Gaan kyk gerus hoe diversiteit in ‘n land soos Ysland as ‘n bate beskou word en vry uitgeleef word. In Suid-Afrika is daar egter wel nog plek plek waar inwoners ‘n meer gesofistikeererde ontwikkelingsvlak, sensitiewe beskaafdheid en volwasse verdraagsaamheid het, sonder om dit waarin hulle glo of nie glo nie prys te gee, maar dit raak al hoe meer uitsonderlik.

Gerhardt O ·

Dan is daar natuurlik: Misdaad, belasting en onteiening… die grootse hiervan is misdaad.

Desire ·

Ja, mense in die buiteland verlang na hulle familie, maar as hulle hul mense by hulle gehad het sal die gras belis groener wees. Dis menslik om te verlang na jou familie. Maar ja, ons regering dink die gras is so groen dat hulle sommer nog tax wil instel vir die werkende mense oorsee. Ek dink beslis die gras is groener in ‘n ander land. Waar ek darm kan buite die huis wees sonder om verkrag of vermoor te word en soos ‘n kluisenaar agter geslote deure hoef te sit met 20m hoë heinings nie. Dis groener want jy kan darm na die mall toe gaan sonder om bang te wees dat hulle die mall gaan beroof word en hoef nie online shopping te doen nie. Dis groener want ek kan seker darm in my kar klim as dit skemer is sonder om bang te wees vir smash en grabs, hi-jackings, ens. Die gras sal maar groener bly en as ek kon sou ek na die groen gras toe gaan.

Janus ·

Ek en my vrou(verloofde) toe, het so 8 jaar terug na NZ toe gekom, en dit was die beste besluit wat ons nog gemaak het, ons is net jammer ons het nie vroeer al gekom nie. Kan deur die dag en nag rondstap, sy kan gaan draf sonder dat ek hoef te worry dat sy moontlik gemug of verkrag gaan word, sit buite en kuier rustig sonder dat ons moet kyk of als nog oraait is, ons kinders, 2dogters en n seun, is vol NZ nou, en ons ook. Die mense is ook fantasties hier, mense gee nog om hier, jou bure is jou vrinne. Jou gemeenskap is jou trots.

Riaan ·

Indien hierdie mening op “navorsing” gebaseer is dan sê dit nie veel van Solidariteit se Navorsingsinstituut nie. Die skrywer lewe in sy eie droomwêreld, vêr verwyderd van Afrika realiteite.

Henry ·

Stem saam dat hierdie artikel nie ‘n goeie advertensie vir Solidariteit se Navorsingsinstituut is nie.
:-)

Therese van Schalkwyk ·

Riaan en Henry

Stem saam en wil byvoeg:
Hoewel daar groot begrip is vir die skrywer se goeie poging om moed in te praat in ‘n toenemend swaarmoedige atmosfeer, is die klem wat hy plaas op die hoë lewensgehalte van ‘n relatief klein groep in die Suid-Afrikaanse samelewing ietwat ironies, terwyl hierdie aspek júís die groot doring in die vlees van vyandiggesinde groepe soos die EFF en BLF is.

Die saak sal uit ‘n ander hoek bekyk/benader moet word, want te veel mense deel nie hierdie goeie lewe nie, veral nie die groot aantal slagoffers sedert 1994 en hul naasbestaandes nie.

“Vryheid van spraak” is niksseggend en hoogstens ‘n uitlaatklep wanneer jarelange kritiek op die president en regering géén verbetering of verandering tot gevolg het nie.

wollie ·

SA is eintlik spotgoedkoop in vergeleke met ander lande. Hier hoef jy net ‘n redelike salaris te verdien dan leef jy soos ‘n koning.

Wonder Sommer ·

Verduidelik vir my wat jy klasifiseer as “leef jy soos ‘n koning” …

Jack Russl ·

Terwyl jy besig is, klasifiseer sommer “redelike salaris” ook

Alco ·

Nee, dit is nie. Al wat spotgoedkoop is is lewens. Die enigste ander plek waar jy dalkies vir jouself ‘n koningslewe kan inpalm is as jy vir die staat werk in ‘n plakkerskamp woon.

Riaan ·

Net nog ‘n wolhaarstorie! Wat is nogal so spotgoedkoop? Ek sien voorts jy is so ingelig oor Aus – wat, afgesien van eiendom, koffie, wyn en biltong, is “spotgoedkoop” in SA in vergelyking met Aus?

tokkie ·

Ons bly om ‘n kleinhoewe buite die dorp. Sluit alles voor donker. As ons buite gaan is dit stuntgun en peperspray wat eerste gevat word. Of dit gaan help sal ons nie weet nie. Dis nie so lekker om so te lewe. En moenie sê verkoop ons probeer al 4 jaar en het prys al so verlaag dat ons min gaan uitkry. En ons kinders lewe lekker in Aussie land – geen bekommernis

Jack Russl ·

Groot verskil is ook dat jy in die ander lande die publieke dienste kan gebruik. Stem saam dat ‘n mens proaktief moet wees, maar hoekom moet ek myself hier beskerm (ten duurste) waneer die beskerming kan geniet in ‘n ander land. Medies, opvoeding val alles onder dieselfde, dis goed wat die regering met ons belasting geld moet doen, maar jou moet ons belasting betaal en dan ook die addisionele uitgawes aangaan omdat die regering nie in staat is om dit te voorsien nie. Gaan werk jou belasting koers weer uit en neem in ag watter ekstra uitgawes jy aangaan, dan sal jy sien waarop werk jou belasting eintlik uit

Vryheid van spraak en die gereg gaan ook net een kant toe, verskillende wette vir verskillende rasse. Sê iets vir die ander ras en dit is rassisties, sê die ander ras presies dieselfde dan is dit vryheid van spraak.

Arno ·

Nog n mens wat in sy eie droom wereld leef en die pot duidelik mis sit. Jy werk seker vir die ANC en daarom dat jy al die bog kwyt raak. Hier is geen toekoms in die land nie. My velkleur, my kennis, en die van my kinders het julle mos nou al 22 jaar terug bepaal is verkeerd. Veilig is die land glad nie, of lees jy nie hoe n onskuldige wit mens soms twee drie per dag vermoor word. En dan steek julle dit as n inbraak gone wrong af. Newat, skryf nog so paar snert stories soos hierdie een. Daar is seker nog mense wat in die land met klappe oor hulle oe loop wat die strooi sal glo

tokkie ·

Wonder hoekom plaas julle nie skrywe. Glad nie rassisties net die waarheid

Pieter ·

Wel ek en my vriend is nou amper jaar hier in Pole en wat n fees. Ons loop rond in die nag klim op die bus of trem en ry die stad vol sonder om oor ons skouer te loer. Pole is die 2 de veiligste land in die hele Europa. Mense ry met oop vensters met goedere langs hulle vroue se handsakke le langs hullein die voertuig. Die woonstel blok staan die mense se motofietse buite in die straat in die nag. Besig om n blok woonstelle te bou die sement en gereedskap staan buite sonder n wag wat dit oppas. So ja ons bly lekker hier,en ja ons mis ons vriende en familie.

Meatloaf ·

Waaaaaat!!! Regtig, waarom sal iemand wat nog nooit in n ander deel van die Wereld gewoon het nie sulke strooi kwytraak. Maar ek sien ook vele lesers hier het nie oogklappe aan soos hierdie tjom nie. Kan jy nou meer!!

wollie ·

Ek het in Engeland, Dubai, Aus en NZ gewoon en gewerk so dink ek weet ietwat waarvan ek praat. Kom ek se gou -gou vir jou – there is no place like home. SA is fantasties, veral Kaapstad.

Bert ·

Ek stel voor die skrywer kom woon in Pretoria se oostelike voorstede wat elke aand onder ‘n misdaad beleg is dan praat ons weer.

Jakkals ·

Op 11 Junie 2017 begin die New Zealand Herald ‘n reeks artikels oor crime in NZ. Die artikel begin met ”Every year thousands of Kiwis become victims of crime. Burglaries, robberies, assaults, theft – you name it, it is happening in every part of the community each and every day”. Die artikels was geskryf deur ‘n senior police reporter for the NZ Herald en 2 medewerkers. Daar is crime in elke land in hierdie wereld. Dit is egter elke individu se keuse om te besluit of hy in daardie spesifieke land wil woon aldan nie. Die keuse hang seker af van wat vir jou aanvaarbaar is of nie en hoe dit moontlik ‘n impak kan he op jou en jou familie?

Jack Russl ·

Niemand stry dat daar nie in elke land misdaad is nie. Die verskil is die hoeveelheid en wreedheid daarvan. In SA word 49 mense per dag vermoor. Die nuutste wat ek oor NZ kon kry (net vinnige soek, nie in detail nie) was 66 mense in 2014. SA 49 per dag, NZ 66 in ‘n jaar.

Die verskil is ook die wreedheid.

Johanna Botha ·

Goed en wel , maar ek kannie verby die 50 moorde en die 4 verkragtings elke minuut in SA kyk nie …met watse mense leef ons om ons ! ! En dit word erger en die anc doen NIKS ! Lewensonkostes is dalk goedkoper in SA , maar oorsee is baie medies verniet en hoef mens nie ADT elke maand te betaal en karwagte al om jou wat geld vra. O ja en met aftrede kry jy n pension …nou vra ek jou watse pension kan mens in SA verwag ….dis n grap vir al die belasting wat mens betaal het oor die jare …..N GROOT GRAP !

Johannes van Staden ·

My PA is vermoor in die land ! Hoef mens meer te se ….

msp ·

Ek weet dit sal hartseer wees maar ek hoop al my kinders immigreer sodat daar darm vir my kleinkinders ‘n toekoms kan wees. Ek is maar bekommerd oor hulle veiligheid en toekoms. Kriminele is in beheer van Suid Afrika, niemand, wit of swart, voel meer veilig hier nie. Alle rasse voel bedreig behalwe die kriminele. Beskerm jy jouself is jy in die moeilikheid, in Suid Afrika is daar ‘n wet vir elke persoon en nie een wet vir almal nie. Sommige mag moor en dis ok, ander weer se net iets en dis tronksake. Hier is dit maar wie jy is en wie jy ken. daar is nog plekke wat redelik veilig is maar vir hoe lank.

Tiger ·

Ai die skrywer leef in ‘n droom wereld!Ons weet ook al iets van oorsese lande.Het vriende(al gaan kuier by hulle) wat bly in ‘n land waarmee Suid Afrika glad nie naastenby mee kan vergelyk nie.Ja ons ouderdom hou ons hier en niks anders in die ”feetjieland” nie!Droom maar rustig voort.

Delarey ·

Komaan wat het geword van “when the going gets tough, the tough gets going”! Wie wil nou regtig op ‘n rots in die see bly wat minder plantspesies as Tafelberg het!

Die Jode is oor al die eeue heen onderdruk, maar het aangepas en het in so ‘n mate floreer dat hulle keer op keer verjaag is omdat ander mense jaloers is op hulle voorspoed. Goud word gelouter in ‘n smeltkroes!

Ek het baie empatie met mense wat swaarkry en slagoffers van misdaad is en was al self ook daar. My voorouers het egter ‘n baie duur prys betaal vir my kultuur wat vir my kosbaar is. So ek pas aan en floreer. Saam met meeste van my vriende wat besighede het kyk ons nie terug nie ten spyte van…

En Afrika wink! Ons kan die Jode van Afrika word volksgenote.

Die situasie vir Afrikaners is glad nie rooskleurig nie, maar ons kan aanpas, floreer en oorleef as ons wil. Sterkstaan Afrikaners en onthou waar julle krag vandaan kom. Ons is nog hier en waar daar ‘n wil is is daar ‘n weg!

wollie ·

Jy’s reg Delarey. As ek ‘n keuse het om weer “oorsee” te gaan dan verkies ek ‘n ander Afrika-land. Die mense is fantasties.

Hoopvol ·

Baie mooi gese, dankie daavoor. Dit is lekker om positiewe woorde te lees so tussen al die negatiewe kommentaar.

Therésa ·

Man Mornè, ek het nou vir jou ñ stukkie goeie raad en ek bedoel dit goed: Gaan sien jou dokter. Dringend. Want jy moet óf meer, óf minder medikasie gebruik, maar die dosis tans, is nie reg vir jou nie. Daarna die oftalmoloog. Want ek vermoed die ‘stukkende/heel vensters, het moontlik iets met jou bril te doen. Hulle moet sommer die rooskleur van die lense ook afhaal. Goedgaan en sterkte.

edward ·

Bly 10 jaar in Oz , baie gelukkig maar onthou
1. “Home is where the heart is”
2. Nie almal kan van families weg beweeg nie
3. Nie almal kan aanpas in n nuwe plek nie
4. Nie almal volg diedselfde ideologie nie

So as jy in SA positief en bly is , goed so. As jy oorsee bly en jy is bly,goed so. Niemand het nodig om iets te beaam nie , maar miskien wil die skrywer van die artikel homself oortuig …… “good on you”.
Maar terug gaan na n vrees vir my familie se veiligheid, om te beoordeel word oor ek wit is, om te sien hoe mense onder rassisme( swart op wit) seer gemaak word, om te weet dat daar n goeie kans is dat n ouer in SA se kind wel sal padvat oorsee eendag …… dan moet realiteit dalk die oorhand oor vals hoop he

Jules in Oz ·

Ons woon al amper 5 jaar in Australië. Ek sal dit vir niks verruil nie. Die lewensjwaliteit is ongetwyfeld hoër, daar is misdaad hier, maar niks in vergelyking met wat ons ervaar het voor ons gekom het nie. Daar is nie kapings, inbrake, verkragting en moord in jou eie huis waaroor jy snags wakker lê nie, ons vergeet soms om ons deure te sluit, en ons is nog almal hier.
My kinders het ‘n toekoms hier, hulle speel buite in die veld agter ons huis, niemand pla hulle nie. Hulle kan net kind wees. Dis finansieël soveel makliker om na ‘n universiteit te gaan, geen kwota stelsel nie, en selfs al sou jy nie verder gaan studeer nie, kan jy steeds ‘n goeie lewe vir jouself maak.
Dis ok om Afrikaans hier te wees, mense dink dis fasinerend om meer as een taal magtig te wees, ek leer almal by die werk ‘n Afrikaanse woord of twee. Hier word elkeen ‘n plekkie in die son gegun.
Ek verskil beslis van die skrywer, die gras is heelwat groener aan dié kant van die wêreld.
Aan hierdie kant van die wêreld lyk ons toekoms baie blink.

wollie ·

Ha, ha. Ek het in Aus gebly. Vrek duur. Baie bly ek is terug in SA.

Aussie ·

Waar in Aus het jy gebly wollie??? Dit hang ook af van waar in Aus jy bly. Nie alle gedeeltes is so duur nie. Perth is goedkoper as Melbourne, Sydney ens.
Ons gras is groener die kant want ons “water” elke dag ons gras.

Loeloeraai ·

Woon nou 22 jaar in ‘n wonderlike, eerste wêreldland. Sagte plek op soveel vlakke. My hart breek vir die ouens wat wil immigreer, maar nie kan nie.

Stefaans ·

Wat ‘n klomp onsin. Maar as jy soos ‘n volstruis met jou kop in die sand wil lewe, is die nuwe Suid-Afrika die plek vir jou.

Meatloaf ·

Hierdie berig word seker nou binnekort afgesluit. Net vir oulaas se. 25 jaar in Amerika, en nie eens n sekonde spyt nie. Ons lewe van die aankoms en nog elke dag fantasties. Ek sal nooit ophou dankie se vir hierdie pragtige land en sy mense nie. Suid-Afrika sal altyd my geboorte land wees verseker, maar daar stop dit.

Meatloaf ·

Moet gou byvoeg. Die mens van Suid-Afrika is pragtig, dierbaar, sout van die aarde. My mens. Iets afskuwelik het egter ingesluip die laaste 2 dekades, en die land omgekeer van n paradys na n euwel sonder enige gelyke.

Alco ·

Ons woon al 5 jaar in die buiteland en vind dat baie Suid Afrikaners nie bereid is om hul lewenswyse aan te pas in die nuwe land nie en verwag alles moet op hul manier gedoen word. Ek sien gereeld hierdie families arriveer met die idee van hul sal die mense kom wys hoe dinge gedoen word, en skielik hoor jy hul is terug in SA. Die gras is beslis groener, maar jy moet maar jou kant bring.

fm ·

Die navorser en skrywer van hierdie brief moet asseblief nie ontmoedig word om verdere navorsingswerk en skrywes te doen nie. Dit is miskien net nie ‘n goeie idee om denke oor lalaland en Sondagskoolbybelversieuitskryfwerk in een brief uit te skrywe nie. Goeie wense vir diegene wat in eerste werêldse lande woon en sterkte vir alle Suid-Afrikaners wat daagliks saam die realitieit van erge misdaad moet lewe.

Faan Ries ·

Baie van jou stellings is moontlik waar en kan seker so beskou word ek sien jou egter as iemand in n posisie waar jy veilig werk en bly en dat jy weliswaar n werk het. Die duisende wat nie werk het nie of wie se werk bedreig word en die duisende wie se kinders wil verder gaan studeer met die wete dat dit in elk geval nie vir hulle werk gaan verseker nie sal anders daaroor voel. Die meeste Suid Afrikaners voel en dink dat alles lyk na; “n gejaag na wind”
Onthou waar jy staan en n rubriek skryf uit n posisie van HET is dit baie maklik om positief te wees die van ons wat NIE HET NIE of bitter min het of geliefdes aan moord, roof, regstellendeaksie ens …ens… deurgaan sal gryp na strooi halms en as dit dan imigrasie is dan doen ons dit. Ek is egter te oud vir dit maar sit met kennis en ondervinding en sonder werk in n “tronk” en wag vir jou utopia

Nouja ·

Ongeag of ons voorsate 300 jaar, 200 jaar of ‘n 100 jaar gelede hier aangekom het nie, dit kon nie maklik vir hulle gewees het nie. Hier was nie verwelkomingspartye nie. Hier was niks. Families is opgebreek en sommige het nooit weer van mekaar gehoor nie. Dog het hulle gebly al was die gras nie hier noodwendig groener nie. Dit is nie maklik om te emigreer of selfs van een plek in SA na ‘n volgende te trek nie. Dit is en was nog nooit nie. Ten spyte hiervan raai en pols ek my kinders elke dag aan om hul sakke te pak. Hier is ongelukkig nie ‘n toekoms vir hulle nie. In teenstelling met ons voorouers het ons vandag tegnologie wat die afstande en kontak oor die aarde tot die van ‘n selfoon skerm voor jou laat krimp het. Dit is kontraproduktief om afsydig te wees teenoor iemand wat wil of reeds getrek het nie. Trek man, trek! Al is dit Orania of Wes-Kaap toe, maar moenie op ‘n hoe risiko plek bly en sterf ter wille van historiese bagasie wat jy op jou skouers dra nie.

Stella ·

Morne Malan, ons het uit SA geimmigreer, en ek mis die land met al sy tjol glad nie. Sorry pel, maar die Gras is wel groener. Moenie vir jou mense jok nie.

Stan ·

Hierdie artikel laat my hartseer omdat ek die idee kry dat dit poog om hoop te skep vir my hartsmense (‘n kultuur waarvoor ek onteindig lief is). Dit reflekteer egter nie wat ek waarneem nie. Ek en my family is al tien jaar op ‘n plattelandse dorpie in Australië. Ons kan aan al ons behoeftes gemaklik voorsien en voel ‘behore tot’ en voel ek skuldig dat meeste van my familie en vriende nie hierdie ervaring met my kan deel nie. Ek hoop regtig dat hierdie artikel ‘n profesie sal wees vir Suid Afrika en dat lewens kwaliteit vir die mense waarvoor ek lief is net beter sal raak.

MAMBANZA ·

Ek wil die skrywer uitnooi om by my in NZ te kom kuier en eerstehands te beleef wat vryheid, vrede en verdraagsaamheid is. Hy moet by ons gewone ouens in die “provinces”. kom kuier en met ons kinders kom gesels. Hy moet kom kyk hoe blom Afrikanerkinders wat in plaasskooltjies was en hier vir die eerste maal regtig Engels leer praat het. Kom kyk hoe suksesvol is hulle nou. Kom kyk hoe gewone mense bereid is om hul moue op te rol en weer van onder af te begin. Hier is Afrikaanse ma’s wat huise skoonmaak sodat hulle kinders ‘n goeie skoolopleiding kan ontvang. Geen diskriminasie en geen minderwaardige werk bestaan hier nie. Hier het almal gelyke geleenthede. Dit alles vir vrede. Wonder soms of ouens soos Wollie wat oral was, nie dalk maar bietjie skaam vir werk was nie. Delarey kan gerus hier kom hoe lyk “tough” en nie mense wat “comfortably numb” is oor wat om hul aangaan nie.

Vergelyk asb appels met appels. DelaRey niemand wil op ‘n rots in die see bly nie, maar ook nie op n plek waar die kinders dink potholes, diefwering en heinings is kunswerke nie.

Wonder net of die skrywer, Wollie en Delarey kinders het.

Kom kuier in Kiwiland, Morne. Ons help graag met jou navorsing.

wollie ·

Boetie ek het ‘n redelike hoe posisie beklee, veel hoer as die average KIWI. Maar, SA en Kaapstad spesifiek kan nie geklop word nie. In NZ het ek redelik gerieflik (weens my hoer as gemiddelde inkomste) geleef, nou leef ek soos ‘n koning. Ha, ha. Ons party nou nou net, natuurlik met al die geliefdes naderby….maar ek is bly dit werk vir jou daar in die vreemde.

Hendrik ·

Ja nee die gras is beslis groener by die woonplek van my keuse. Die bokke vreet gereeld jou plante omdat jou plante groener is as hule weiding vir die winter. Ja nee my fiets staan nou al vir maande op die stoep en ek dreig elke middag om hom te ry. Miskien as die lengte kom sal ek weer ry. Net na donker stap die vriende oor en ons kan rustig op die stoep sit en braai. Wel om te groepeer kan jou beslis baat veral in ‘n plek soos S.A.

Theresa ·

Dalk is die artikel geskryf om te sien wat die reaksies gaan wees? Sou graag eerstens wil noem: NIEMAND moet ooit hoef bly te wees oor ‘n venster wat nog nie gebreek is nie. ‘n Regering en stelsels moet hul plig doen en sorg dat wettige inwoners beskerm word teen misdaad en kriminele wat lewens negatief beïnvloed. Dis absurd om te sê wees bly jy het ‘n huis waarin ingebreek kan word/of nog nie is nie!!!! Basta!! Mens werk om ‘n woning/eiendom te hê en dis NIEMAND se reg om dit wederregtelik te betree of iets te vat of dit te beskadig nie. Die hele vergelyking van waarom ons moet runnik van vreugde oor als wat hier gebeur is nie vir my gemaklik om te sluk nie – jammer. En ja, daar is van ons wat sal wil weggaan na vrede (al is dit duurder) maar is dit nie noodwendig moontlik nie. Juis met ‘n swak regering wat ons rand laat bly swakker word en ook ons reputasie?!

fm ·

Ek gun diegene wat in eerste wêreldse lande woon die uitnemendheid, welvaart, vrede en die vryheid om te wees wie jy is. In daardie lande word menswees gerespekteer en daarom respekteer mense die wette van die land en ander mense wat in die land woon. En dit mag wees hoekom hulle so trots is om daar te bly. Wie gaan nou nie trots wees en veilig voel in ‘n omgewing waar almal mekaar respekteer nie? Baie oud Suid-Afrikaners skryf hier van hoe goed dit regtig gaan met hulle in hulle nuwe land. Nouja ek hou van wat jy sê hierbo: “maar moenie op ‘n hoe risiko plek bly en sterf ter wille van historiese bagasie wat jy op jou skouers dra nie”. Ek sluit om geforseerd onderontwikkeld te raak (in al sy fasette) hierby in want dit is vir my net soos om vroegtydig te sterf.

Wens ek kon gaan ·

Wens ons kon trek. Suid Afrika is besig om ‘n verotte land te word, Ons geen regte – kyk die arme ou wat sy lewe verdedig het en nou in die tronk sit. Ons wat agter tralies en geleektrifiseerde hekke sit. 6 uur sluit jy alles en gaan sit. Kan nie lekker na werk gaan loop of iets doen. Te bang. Ek glo baie mense wat kon sal wil trek, en ons kan ongelukkig nie. . Ek bid elke dag vir ‘n uitkoms.

SkarrelKind ·

Ons woon nou 3 maande in Ierland, Dis moeilik om aan te pas, Ierland is duur. Die weer is sleg. Die gras is lowergroen, die mense het respek vir mekaar, ons loop laat alleen op straat, ons het nie diefwering nie, ons ly nie honger nie, die bus en trein is skoon en veilig, kinders kan lees en skryf, niemand diskrimineer op enige gronde nie, Guinness is ‘n great bier, ons werk as housekeepers in ‘n hotel (maak beddens op en was toilette). Mis ek my mense? Vreeslik, en die son en 3 keer per week braai. Maar hier bly ek totdat ek ‘n Ierse burger word. Afrika sien my nie gou weer nie, behalwe as ek gaan kuier. Morne probeer homself oortuig, en die volk moed inpraat, maar sy bril se lense is rooskleurig. Sterkte aan julle almal, ons dink elke dag and aan ons mense in SA.

wollie ·

Die ouens wat emigreer is meerendeels die average joes wat dit nie in SA maak nie.

SkarrelKind ·

Wollie, daai is nou ‘n mooi voorbeeld van Suid-Afrikaners wat mekaar bemoedig en die son gun. Well done there!

Riaan ·

Ek sien jy was in “Engeland, Dubai, Aus en NZ” – praat van “average” – in jou eie terme is jy dus “below average”. Duidelik kon jy dit nie in die buiteland maak nie – dit is nie vir sissies nie!!

Kobus Smit ·

Klink my jy probeer jou self oortuig dat dit beter in SA is. Daar is nie so iets soos feetjies en dwergies nie

Gerhard ·

Ek sal maar weer kommentaar lewer met die hoop dat dit dalk die keer geplaas sal word. Soos dit duidelik is uit die meeste ander se kommentaar hier is dit duidelik beter om met mense wat oorsee woon te praat as jy wil weet of dit “groener” is oorsee. Om jou besluit te maak op grond van ‘n stuk inligting wat meestal statistieke is ‘n mors van tyd. Dit is so dat ‘n klein groepie mense terugkeer SA toe vir redes wat wissel van sukkel met aanpas, familie mis tot nie kan leef sonder jou goedkoop arbeider wat alles vir jou doen nie. Daar is egter min wat sal voel dat hulle standaard van lewe agteruit gegaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.