Tyd vir herskikking van verhouding tussen Weste en Rusland

Amerikaanse president Donald Trump en Rusland se president Wladimir Poetin.

Amerikaanse president Donald Trump en Rusland se president Wladimir Poetin.

Watter bedreiging hou Rusland vir Wes-Europa en selfs Amerika in? Wat moet die Weste se reaksie op Russiese aggressie wees?

Dit is veral die Amerikaanse president Donald Trump se uitsprake en suggesties oor die afgelope twee jaar wat die vraag laat ontstaan of die Weste sy verhouding met Rusland moet herbedink.

Gedurende die Amerikaanse verkiesingsveldtog van 2012 het die Republikeine se kandidaat, Mitt Romney, Rusland as Amerika se grootste geopolitieke bedreiging beskryf. Barack Obama het daarop reageer deur Romney daarvan te beskuldig dat hy nog in die Koue Oorlog-tyd vasgehaak het.

Oor die vier jaar wat ná die 2012-verkiesing gevolg het, het die verhouding tussen Amerika en Rusland wesenlik verswak met die einste Barack Obama wat sterk uitsprake teen Rusland en president Wladimir Poetin gemaak het. Toe Rusland in 2014 die Krimgebied in die Oekraïne annekseer en stelselmatig sy militêre teenwoordigheid in Oos-Europa en veral teen die Baltiese State, begin opbou, het Obama en sy regering sonder erkenning eintlik die standpunt van Romney hul eie gemaak.

Met Russiese aggressie duidelik in Oos-Europa en Rusland se strategiese rol in die burgeroorlog in Sirië, sou niemand seker in 2012 of 2014 kon dink dat die Republikeinse Party in 2016 ’n kandidaat sou kies wat uitgesproke ten gunste van beter verhoudinge met Rusland sou wees nie.

Die opmerkings wat Donald Trump reeds tydens sy verkiesingsveldtog oor Rusland en Poetin gemaak het, het behoorlik die oë laat rek. Sou dit ’n paar jaar gelede gebeur het, sou sulke opmerkings vir enige van die partye verdoemend gewees het. Ná die mislukte oorloë in Afganistan en Irak en die Weste se rampspoedige demokratiseringspogings in Libië en Egipte het baie Amerikaners hulself begin afvra: Waarom moet ons betaal vir die een ná die ander mislukte poging om ander wêreldstreke se probleme op te los?

Wat is Rusland se ware agenda? Die bekroonde Ameikaanse joernalis, Josh Marshall, doen reeds vir baie jare navorsing oor Rusland. Volgens hom is Donald Trump se lang verhouding met Russiese sakelui en banke die hoofrede waarom Trump wil sien dat Amerikaanse sanksies teen Rusland afgeskaf moet word. Trump het oor die jare groot beleggers uit Rusland gewerf en sanksies benadeel sy sakeryk. Trump het dus ’n duidelik persoonlike agenda vir ’n beter verhouding tussen Amerika en Rusland.

Wat is die Russe se agenda? Marshall en ander skrywers wys toenemend daarop dat die Russiese gevaar nie oorskat moet word nie. Rusland het wesenlike ekonomiese probleme en armoede, ’n lae bevolkingsaanwas, korrupsie en heelwat ander uitdagings wat Poetin en sy span nog lank sal besig hou. Dit beteken nie dat Rusland homself nie internasionaal wil laat geld nie. Hy doen dit egter deur strategiese vennootskappe soos in Sirië en deur aggressie in die ooste van die Oekraïne waar hy ’n debatteerbare motief het.

Trump se motief is duidelik selfverrykend. Vir Poetin gaan dit oor mag. Die werklikheid is egter dat die tyd baie lanklaas so ryp was vir ’n gesonde herskikking van verhoudinge tussen die Weste en Rusland. As verkeerde motiewe vir eers oorgesien kan word, mag dit dalk juis Trump en Poetin wees wat hierdie herskikking kan bewerkstellig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anton ·

…nie Trump of Poetin is dom of onnosel nie…beide lande, en ander lande, sal voordeel trek uit n beter verhouding tussen die twee lande…en al bevoordeel so n verhouding vir Trump…”so what”…daar is baie beisghede wat ons nie van hou nie…maar tog koop jy by hul…

adriana ·

Dit is mode in Amerika om vir Trump aan te val. Wonder waarom het die filmsterre toe nie uit Amerika getrek soos hulle gese het hulle gaan doen nie. Natuurlik sal dit goed wees as die twee lande met mekaar oor die weg kom. Dis net die vorige establishment van Obama en Clinton en hulle aanhangsels wat teen dit is. En kyk waar is hulle vandag!

gatiep ·

Die Rusland gevaar klink al vir my soos hier by ons waar apartheid en witmense wat die skuld kry vir alles.

DewaldS ·

‘As verkeerde motiewe vir eers oorgesien word.’ Ons maak vordering as ‘n ‘leier’ soos Jaco Kleynhans die presidente van die VSA en Rusland se motiewe uitspel en as verkeerd etiketteer. :-)

Dalk is Trump se hoof-motief maar die VSA se belang. En Putin s’n die Russiese Federasie se belan. In hedendaagse tye is dit nogal ongewoon vir politieke leiers – veral presidente- om hulle lande se belange eerste eerste te stel, maar wie weet, dalk is dit maar so eenvoudig.

Fanie ·

Stem saam dat nasionale belang meer weeg as persoonlike belange. Die linkses het in die Koue Oorlog vasgehaak. Die Weste word nie uit die Ooste bedreig nie, maar uit die Suide.

Henry ·

Ter aansluiting by DewaldS se raak waarneming dat beide Putin en Trump na alle waarskynlikheid twee leiers is, wat hul onderskeie state se belange op ondubbelsinnige wyse voorop stel – wil ek byvoeg dat die liberale wêreldbeskouinge wat sedert WO2 die internasionale politieke terrein oorheers het, algaande steun in die ontwikkelde state te verloor. En dankie tog daarvoor!

Die positiewe kenmerke van patriotisme en nasionale belang is dikwels ‘n vreemde en onbekende verskynsel vir “ontleders” – Jaco uitgeslote – wat naarstigtelik aan’t stoei is om verwikkelinge in ‘n snel veranderende politieke omgewing te begryp en andersyds, sinvol te ontleed.

skorra ·

Henry jy en DewaldS verwoord my eerste gedagte nadat ek driekwart van die artikel in 5 sekondes gelees het. Miskien wil ek julle tog ook net komplimenteer dat julle wel daarin slaag om die outeur met fluweelhandskoene terug te stuur regte skool toe.

John ·

Die crux van die saak is of Rusland die wereld bedreig en of dit a la 1984 die bedreiger moet speel om Navo en die wereld se wapenbedryf te dryf en om kiesers te wen. Indien Engeland of Europa of die VSA hul vriende in ander lande gaan help, lande beset, atoombomme gooi en leiers verbrysel, is dit oulik. En Duitsland kan ook weer ander Europese lande boelie via die EU, maar Rusland wat bloot die Siriese regering help en sy eie Krimskiereiland wat ‘n Russiese president sommer weggegee het, op versoek van die inwoners weer terugneem, op grond van die nuwe president van die Ukraine, wat steun op hope geld vanaf veral die VSA-Demokrate, onder Obama, as boef verklaar word. Navo en die Pentagon was gereed om Rusland aan te vat… en toe kom gooi Trump ‘n klip in hul rollende speke. Onthou ook hy is wettig verkies al klink CNN se neuroties-gefundeerde groot opskrifte of die Withuis-kat hom ingedra het.

gatiep ·

Carien Maroela hou nie van daai speling vir sy naam nie.toe herdoop hulle hom maar.

Paul ·

Die spelling “Wladimir Poetin” is die standaard Afrikaanse transliterasie vir sy naam uit die Sirilliese alfabet wat die Russe gebruik na die Latynse alfabet wat ons gebruik.
Die spelling “Vladimir Putin” is die standaard Engelse transliterasie vanaf Sirilliese skrif na die Latynse alfabet wat Engels gebruik.
Die Franse spel dit “Vladimir Poutine”. Die Spanjaarde skryf “Vladímir Putin”. So kan mens aangaan.

Aangesien sy “regte” naam in ‘n ander alfabet geskryf word, word daar in tale wat ‘n alfabet wat daarvan verskil, gepoog om so naby moontlik aan dieselfde klanke te kom. Dit kan op verskillende maniere gedoen word, nie een daarvan perfek nie.

Piet Snot ·

Paul, jy’s reg. Ons spelling is maar ten beste ‘n gebrekkige poging om iets heeltemal vreemds te laat reg klink.
In Afrikaans word ‘n “V” verder uitgespreek soos ‘n “F”, en ‘n “W” soos ‘n … wel, soos ‘n “W”.

Henry ·

Ag wat.
Is als bloot persoonlike smaak, soos keuse van wyne…
Bowendien. Putin lyk vir my baie meer Russies en sinister as Poetin. :-)

Christo ·

Selfveryking bedoel jy seker werk skep vir sy land en burgers?
Trump is n groot bedreiging vir die liberale pap handjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.