Uitslag van referendum in Turkye hou uitdagings vir Weste in

turkye-staatsgreep1

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Die president van Turkye, Recep Tayyip Erdogan, was suksesvol. Die ja-stem in Sondag se referendum het, hoewel ook maar net-net, gewen. Dit beteken dat die nodige grondwetlike wysigings in Turkye nou aangebring kan word om die parlementêre stelsel af te skaf in ruil vir ’n uitvoerende presidentskap.

Die realiteit in Turkye is dat die land sterk in twee verdeeld is. Erdogan se meer konserwatiewe, regse Party vir Regverdigheid en Ontwikkeling het sedert sy stigting in 2001 die politieke toneel in die land oorheers deur stedelike en suidwestelike liberales saam met die Koerdiese minderheid in die suidooste van die land te isoleer in ’n meesterlike konsolidasie van die meer konserwatiewe Islamitiese stem saam met dié van die armer werkersklas en laaggeskoolde massas van veral die oostelike dele van Turkye.

Die resultaat in Sondag se referendum is nie juis iets waarop Erdogan trots kan wees nie. Die ja-stem het met slegs 51% gewen en 18 grondwetwysigings sal ná die land se verkiesing in 2019 geïmplementeer word. Erdogan het gehoop vir ’n wegholoorwinning om sy sterk posisie as absolute leier van Turkye te bevestig. Dit het egter nie gebeur nie.

Erdogan en sy regering het elke magsmiddel tot hul beskikking ingespan om die verkiesing in hul guns te beklink. Joernaliste is in hegtenis geneem en media-instellings wat krities teenoor die ja-stem was, is gesluit. Een van die beste leiers van die nee-stem, die Koerdiese politikus Selahattin Demirtas, is weens kamstige terrorisme in die tronk gestop en kan ’n vonnis van tot 142 jaar tronkstraf opgelê word.

Die ja-stem is gelei deur Erdogan, sy eerste minister en die hele regering wat van elke regeringsmiddel gebruik gemaak het om die nee-stem te stoomroller. Enige besoeker aan Turkye sou die afgelope weke beleef het hoe die ja-stem die openbare domein gedomineer het. Regeringsleiers het op groot verhoë die ja-stem bevorder terwyl baniere en advertensies ten gunste van die ja-stem oral te sien was.

’n Studie van 168,5 uur se beriggewing op 17 nasionale televisiekanale wys dat die ja-stem meer as 90% van die dekking geniet het. Erdogan het verlede jaar se mislukte staatsgreeppoging deur pro-demokratiese groepe, insluitende ’n wesenlike deel van die land se weermag, misbruik om instellings wat die nee-stem kon bevorder, te vernietig.

Turkye was vir dekades ’n bondgenoot van Westerse lande soos die VSA en Europa. Sedert Erdogan in 2003 eerste minister van Turkye geword het, het die land egter groter Islamisering in ruil vir Westerse demokrasie toegelaat terwyl outokrasie en nasionalisme die moderne waardes van die Weste begin vervang het. Waar Turkye ’n paar jaar gelede nog lid van die Europese Unie wou word, is daar vandag min geesdrif daarvoor onder leiers soos Erdogan.

Turkye is ten spyte van Sondag se verkiesingsuitslag en alles wat die afgelope paar jaar gebeur het egter steeds een van die belangrikste lande in ’n streek met baie uitdagings. Westerse lande het Turkye nodig om massa-immigrasie te bekamp en vrede na die Midde-Ooste te bring, maar met ’n toenemend outokratiese regering staan die verhouding tussen die Weste en Turkye voor groot uitdagings.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rynhardt ·

Die rooi see wat deur Turkye beheer word, is n kort maklike deurgang vir handel met die Midde -Ooste en Europa.Ons sal in nabye toekoms sien hoe Turkye en Rusland nog gaan vassit oor bogenoemde.Turkye gaan nog sy ware kleure vir die Weste wys.

DewaldS ·

Dit maak nie mooi sin nie. Turkey grens aan die Swart See, die See van Marmara, die Egeïse see en die Middelandse See. Om van die Swart See in die Middelandse See te kom moet jy deur die Bosphorus oor die See van Marmara, deur die Dardanelle en dan oor die Egeïse See tot in die Middelandse See. Turkey het ‘n sterk invloed op al daai genoemde landmerke – dit sal ek toegee.

Maar die Rooi See is tussen Saudi Arabië en Egipte. Verduidelik dalk bietjie meer?

John ·

En nou het Turkye ook ‘n Hitler soos Duitsland (volgens Erdigan tans weer het). Die EU betaal Turkye om vlugtelinge te berg wat hulle nie wil he nie. Sy EU-lidmaatskap hang ook daarvan af en Turkye weet dit. Die Turke het in die antieke tye vrees gewek. Dit kan in die toekoms eerder weer slegter as beter gaan onder die’ tweegesig-leier met ‘n erge grootheidswaan. Rusland het al deurgeloop.

Knikkebollen ·

Solank as die posisie ingeneem word dat NET die Weste die beste weet hoe die wereld bestuur moet word, sal hierdie probleme vererger. Die val van die Ottoman Kalifaat, aktief teweeg gebring deur ‘n eeu lange veldtog uit Brittanje, het die deur oopgemaak vir die hedendaagse Islamitiese radikale waar elke jan rap en sy maat ‘n pseudo-Islamitiese posisie kan inneem. Met Erdogan, outokraties of nie, sal ‘n Islamitiese opperbevel identifiseerbaar wees en sal verstandhoudinge onder lande beter hanteer kan word. Turkeie is meer en meer ‘n sentrale fokus punt, selfs vir die Arabiese lande omdat die Ottoman geskiedenis na aanvanklike imperialistiese neigings, baie meer suksevol was om vrede met die Weste te handhaaf as enige ander volgende Islamitiese owerheid. ‘N Sterk sentraal regeerde Turkeie is baie belangrik vir die neutralisering van Iran want Israel sal nie meer baie langer daardie rol kan vervul nie.

Nico K ·

Skuus Rynhardt, maar ek moet met Paul saamstem. Turkeye is nie naby die die Rooi see nie en ek kan nie sien hoe hulle die Rooi see kan beheer nie. As jy egter bedoel die Swart see dan stem ek met jou stelling saam. Rusland is heeltemal afhanklik van die Swart see en die Bosperus wat deur Turkeye beheer word.

Rynhardt ·

Die rooi see se see-roetes vloei na Europa en Oos-Asie! Ek staan by wat ek se!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.