Wapenbeheer bied nie oplossing vir geweld nie

Amerikaanse-vlag

Foto: pixabay.com

Meer as 40% van die wêreld se vuurwapens wat in privaat besit is, behoort aan Amerikaanse burgers. Amerika se bevolking van 323 miljoen mense besit meer as 300 miljoen vuurwapens. Hierdie getal styg jaarliks met sowat 10 miljoen. Die VSA het beperkte wapenbeheerwetgewing en dit is baie maklik vir ’n gewone burger om groot hoeveelhede wapens en ammunisie aan te koop.

Hierdie feite oor wapenbesit en beperkte wapenbeheer in Amerika is oor die afgelope paar dae oor en oor herhaal nadat Stephen Paddock vanuit ’n hotelkamer in Las Vegas 58 mense doodgeskiet en nog byna 500 beseer het.

Almal wil weet waarom Amerika nie strenger wapenbeheer kry nie. Die persepsie word geskep dat die VSA die moordhoofstad van die wêreld geword het. Die VSA het nog altyd ’n sterk kultuur van wapenbesit gehad. Amerikaners hou van hul vuurwapens, en hul reg om vuurwapens te besit word in die land se grondwet verskans. Oor die afgelope paar dekades voer mense, hoofsaaklik aan die linkse kant van die politieke spektrum, ’n verbete stryd om strenger wapenbeheer. Hul argumente is eenvoudig: Dit is te maklik vir individue wat graag geweld wil pleeg om ’n vuurwapen en ammunisie te bekom. Die feit dat 30 000 Amerikaners jaarliks weens vuurwapengeweld sterf, word gebruik as belangrikste bewys om hul argument te staaf.

Die waarheid lyk egter heelwat anders. Ja, Amerika het ’n probleem met vuurwapengeweld. Die per capita-sterftes weens vuurwapengeweld is heelwat hoër in die VSA as in die meeste ander Westerse lande. Wat die drywers agter hierdie argumente egter miskyk, is die feit dat wapengeweld oor die afgelope twee tot drie dekades skerp afgeneem het in Amerika. In 1993 is daar sewe sterftes weens wapengeweld vir elke 100 000 Amerikaanse burgers aangemeld. Teen 2013 het dit tot 3,6 gedaal. Terwyl dit waar is dat 30 000 Amerikaners jaarliks weens wapengeweld sterf, word dit maklik verswyg dat meer as 20 000 hiervan selfmoorde was. In lande met streng wapenbeheer en minder wapens beskikbaar, vind mense maar net ander maniere om selfmoord te pleeg.

Selfs die liberale veteraanjoernalis Glenn Kessler, het ná ’n maande lange ondersoek na wapengeweld in 2015 in die Washington Post erken dat geen voorgestelde wapenbeheerwetgewing in die VSA tot ’n afname in wapengeweld sal lei nie. Die direkteur van die Sentrum vir Navorsing oor Misdaad en Geregtigheid by die New York Universiteit, James Jacobs, bevestig onlangs in Time-tydskrif dat hul navorsing ook daarop dui dat wapenbeheerwetgewing nie noodwendig die oplossing is nie.

Volgens hom is die probleem grootliks verbind aan dwelmhandel en mense met ’n lang rekord van wapengeweld. Nou wat dan van voorvalle soos dit wat onlangs in Las Vegas plaasgevind het? Hierdie probleem kan saam met die toename in die selfmoordkoers in Amerika gegroepeer word. Indien iemand mense wil doodmaak, sal hy ’n manier vind om dit te doen. In Londen is die inding deesdae om mense met suur te gooi. Selfmoordaanvallers jaag met voertuie tussen mense in of plaas tuisgemaakte bomme op treine. Die vraag is: Hoekom wil mense geweld pleeg? Hoekom is daar ’n toename in mense wat kwaad, vervreemd, eensaam en sodanig sielkundig versteurd is dat hulle onskuldige mense in massas wil vermoor? Geen wapenbeheerwetgewing gaan hierdie vraag beantwoord of oplos nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Veritas ·

In Suid-Afrika is dit baie makliker om ‘n vuurwapen te koop as in die VSA. Die probleem is net dat jy groot moeilikheid het wanneer jy in besit van so’n onwettige wapen is. Die minister van polisie het sopas gevra dat die weermag moet hand bysit met die bekamping van bendegeweld in die Weskaap, aangesien bendelede beter as die polisie bewapen en opgelei is. Besef die minister nie dat die SAPS grotendeels verantwoordelik is vir die handel in onwettige vuurwapens nie ? Om hier vir ‘n lisensie te kwalifiseer, moet jy ‘n bevoegdheidssertifikaat verwerf en nie ‘n kriminele rekord hê nie. Dit, tesame met ‘n wapenkluis, is omtrent al vereistes om te kwalifiseer. Vir baie is die bietjie moeite óf te veel, óf hulle het geraamtes in die kas. Die oplossing vir hul probleem is om dan maar daarsonder te gaan of ‘n onwettige vuurwapen te bekom. Die probleem lê in die beskikbaarheid van onwettige wapens. Nou is die vraag: ‘Wie het só baie vuurwapens dat hulle die mark kan voorsien ?’ Sovêr my kennis strek is dit slegs die weermag en polisiediens. Dié ouens gaan mos nie teen hul kopers optree nie.

SkarrelKind ·

Hello Jaco, ek het jou skrywe geniet. Ek dink jy slaan die spyker op die kop en het weer eens bewys dat statistiek nie altyd die volle waarheid voorhou nie.

Kom Ons Boks ·

Statistiek is net nog ‘n vorm van lieg wanneer dit selektief aangehaal word of gekook word. Globale verwarming loop nou dieselfde paadjie…

Loeis ·

Vuurwapens maak nie mense dood nie. Mense maak mense dood. Met vuurwapens of op ander maniere.

Kom Ons Boks ·

Groot waarheid – Dit is soos om te se dat ‘n lepel die ware sondebok is vir my vetrolletjies…

John ·

Pille in alle vorme en kleure is groot geld in die VSA. Dit word ingesmokkel, uitgesmokkel en wettiglik vervaardig. Antidepressante word op internet bestel sonder voorskrif. Pille word dikwels nie per mond geneem nie, maar fyngemaak, gesnuif of ingespuit. Die mensdom is diep depressief, vervaart, ongelukkig en ongelowig. Kombineer die moderne euwel met ‘n kas vol ammunisie… Sigarette en drank kan nie eers deur wette verbied word nie. ..

Johan de Lange ·

Dit help nie om die wet op vuurwapenbeheer strenger te maak nie. Vat ‘n persoon se wapen weg waaroor daar beheer is, en hy kry eenvoudig ‘n onwettige wapen waaroor daar hoegenaamd geen beheer is nie. Jy kan nie alles met net nog ‘n wet wil beheer nie; dit werk eenvoudig net nie. Iemand het eenmaal geskryf: “If guns are outlawed, only the outlaws will have guns.” Eek dink die skrywer was die bekende skrywer J.T. Edson. Dis my mening.

Gemsbok ·

Dit is duidelik dat die gemiddelde Suid-Afrikaner en die Suid-Afrikaanse samelewing nie met die van die VSA vergelyk kan word nie. Nie wat selfdissipline, werksetiek, innovasie of opvoedingsvlak betref nie.

Nico K ·

Neem nou ‘n ander voorbeeld. Diefstal is ook onwettig in SA. En?

Francois ·

Dis elke mens se reg om sy eie lewe, of die wat nie in staat is daartoe nie, se lewens te verdedig. In n idilliese land / wereld waar die owerhede hulle landsgenote in alle gevalle kan beskerm teen bose elemente voordat n misdaad plaasvind, sal dit nie nodig wees vir jan-publiek om homself of die wat nie in staat is daartoe nie, te verdedig. Ongelukkig is ons nie in n idilliese land/wereld nie en die werklikheid staar die meeste van ons n paar maal elke dag van ons lewens in die gesig. As jy jouself nie kan verdedig nie is jy prooi, punt! Dis net n geval van tyd. Ek kan my selfweer status opgradeer met vegkuns klasse, n knopkierrie, swaard of enige voorwerp wat my aanvaller sal weerhou of laat twee keer dink voordat hy my aanval. Jy is in lewens-gevaar waar die booswig n vuurwapen het, en jou swaard of kierrie of loodpyp sal jou niks help teen die vuurwapen in die booswig se hande nie. In my geval vir verweer kies ek n vuurwapen. Solank jy die wet ken, jou wapen ken, altyd verantwoordelik optree, gereeld oeffen en absolute wapenveiligheid toepas, kan ek nie sien dat daar n verskil is tussen n vuurwapen en van die ander verweer middele wat hierbo genoem is nie, dis n gereedskapstuk vir gebruik. Dis beter om wettiglik n vuurwapen te besit en nie nodig te kry nie, as om dit nodig te kry en jy besit nie een nie.

Vermeende ·

Reg deur die geskiedenis was wapenbeheer die voorloper van drastiese politieke skomeling of veradering wat n regering af forseer.

Natuurilk is wapenbeheer nootsaaklik, geen wetgehoorsame burger wil graag he dat n sielsieke persoon met n sapen moet rondloop nie maar die mag word misbruik.
Geen wapen kan mense doodmaak op sy eie nie, dis mense wat die sneller trek.
Die argument dat wapenbeheer ingespan word om misdaad te bekamp dra geen water nie want uit jou kombuis kan jy baie gevaarliker bomme maak as n .22 geweer.
Maar soos die skrywer se, wapenbeheer bevorder eerder die gebruik of verkrygi van onwettige vuurwapens en die bewys daarvoor le in die Ivoor handel, die krimenalieseering van Ivoor het nie potching gestop nie.

Jack ·

Die Australiese ervaring is net mooi die teenoorgestelde. Na die Port Arthur massamoord in 1996 waar 35 mense doodgeskiet is deur ‘n enkele swaarbewapende skieter, is streng wapenbeheer ingestel. Sedertdien het wapengeweld drasties afgeneem, en ook die selfmoordsyfer. Hier in Aus is maar ook mense wie se koppe soms uithaak, soos toe ‘n Asiatiese student wat nou die dag in Canberra by ‘n universiteit “on the rampage” gegaan het. Wat was die dodetal? Nul, want al wapen wat hy in die hande kon kry, was ‘n bofbal kolf!

As dit in die VSA was, was daar seker 10 dood, en dan sou die histeriese Gun Lobby natuurlik skerm dat die rede vir die sterftes was dat te MIN ander studente bewapen was.

Natuurlik probeer ek nie sê dat ‘n Suid-Afrikaner nie bewapen moet wees nie. Daarvoor is daar hopeloos te veel misdaad. Maar die berig is blykbaar geskryf om die VSA gun lobby te ondersteun en ignoreer die voorbeeld van ‘n vergelykbare land.

Gerhard ·

Die VSA het vele male die geweld misdaad van Australie. Jy kan nie die twee vergelyk nie. Boonop is die argument dat om vuurwapens weg te neem om geweld te verminder n drogredenasie. As die ouens wat in Australie kopuithaak regtig baie mense wou doodmaak sonder vuurwapens weet hulle klaar hoe om dit te doen. Die werklikheid is dat nie almal wat kopuithaak die befoeling het om klomp mense food te maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.