Wat hou aandelemarkte vir 2017 in?

ekonomie-stockfoto-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Deur Hannes du Preez

Voordat ons die vraag kan beantwoord, is dit nodig om kennis te neem van die teleurstellende algehele opbrengs (sluit herbelegging van dividende in) van die binnelandse aandelemark die afgelope drie jaar. Vir illustratiewe doeleindes sluit die onderstaande tabel die kumulatiewe  en geanaliseerde (per jaar) opbrengste van die Indeks van Alle Aandele en die geldmark in.

aandelemarkte-01

Grafika: Verskaf.

Dit is duidelik uit die syfers dat geldmarkbates ʼn hoër opbrengs as aandele gelewer het oor die afgelope drie jaar. Wat kommerwekkend is, is dat die waardasie van  binnelandse aandelemarkte, soos verteenwoordig deur die p/v-verhouding, by historiese hoogtepunte is terwyl verdienstegroei traag is. Vooruitskattings van ekonomiese groei en verdienstegroei vir 2017 wys op ʼn klein verbetering, maar dit is nie groot genoeg om duur waardasies om te keer nie. Sien onderstaande grafiek vir die baie hoë waardasie van die Indeks van Alle Aandele soos verteenwoordig deur die p/v-verhouding van dié indeks. Die p/v-verhouding gee die ratio van die prys per aandeel oor die verdienste per aandeel en word uitgedruk in keer. Anders gestel, tans is die p/v-verhouding van die Alle Aandele Indeks 23,62 keer, wat beteken dat die prys per aandeel 23,62 keer een jaar se wesensverdienste is. Dit is baie duur.

aandelemarkte-02

Grafika: Verskaf.

In die loop van 2016 het die p/v verder gestyg van 20 keer na 23 keer. Die styging was nie te danke aan stygende aandelepryse nie (pryse het sywaarts beweeg in 2016), maar omdat maatskappye se verdienstegroei verder afgeneem het.

In onderstaande grafiek word die verdienstegroei (rooi stippellyn) en pryswaarde (soliede bloulyn) van die Alle Aandele Indeks geïndekseer. Vanaf 2015 het die verdienstegroei van genoteerde maatskappye ʼn afwaartse tendens getoon soos verteenwoordig deur die rooi stippellyn in die grafiek, terwyl die pryswaarde (soliede bloulyn) sywaarts beweeg het. So ʼn ontkoppeling is nie volhoubaar op lang termyn nie.

aandelemarkte-03

Grafika: Verskaf.

In die tabel wat volg, word die verdienstegroei per jaar vir die Indeks van Alle Aandele en onderskeie sektore op die Johannesburgse Effektebeurs oor die afgelope drie jaar getoon. Slegs verbruikersdienste het ʼn dubbelsyfer-verdienstegroei per jaar getoon oor die afgelope drie jaar. Hou in gedagte dat die historiese verdienstegroei van die Indeks van Alle Aandele op lang termyn ongeveer 15% per jaar was.

aandelemarkte-04

Grafika: Verskaf.

Die enigste sektore waar daar sprake van waarde te bespeur is, is die hulpbronsektor, die kleinmarkkapitalisasie-aandele en selektiewe aandele in die telekommunikasie- en gesondheidsektor. Vir die groot randverskansingsaandele moet die R/$-wisselkoers egter saamspeel deur ʼn verswakking in die rand, wat tans onwaarskynlik lyk omdat die rand onderwaardeer is teenoor die VSA-dollar. ’n Koopkragpariteitberekening (KKP), m.a.w. die koers waarmee jou land se geldeenheid moet verswak/versterk  teenoor ’n ander land, word bepaal deur inflasiedifferensiale tussen die twee lande. Volgens ’n KKP-berekening is die billike waarde vir die R/$-wisselkoers tans R11,50 vir een VSA-dollar soos verteenwoordig deur die middelste soliede lyn in die onderstaande grafiek. Sou die verwagte inflasiedifferensiaal vir 2017 tussen VSA en RSA ook in berekening gebring word, is die R/$ se billike waarde naby R12. ʼn Sterker rand sal kleinhandelsaandele-, bankaandele-, staatseffekte en genoteerde eiendomme ondersteun.

aandelemarkte-05

Grafika: Verskaf.

Buitelandse aandelemarkte ook kwesbaar

Vir die doeleindes van ontleding fokus ons op die aandelemark in die VSA. Die groei in kwartaallikse maatskappyverdienste in die VSA is tans 4,2% p.j. teenoor die  langtermyn-gemiddeld van ongeveer 10% p.j. Sien onderstaande grafiek. Maatskappyverdienste is besig om te herstel, maar in ʼn stygende rentekoers-omgewing gaan dit tyd vat om te herstel.

aandelemarkte-06

Grafika: Verskaf.

Die trae verdienstegroei in die VSA tesame met die hoë p/v-verhouding van die SP 500 (sien grafiek wat volg) maak dit onwaarskynlik dat aandelemarkte in die VSA hoë reëele opbrengste in 2017 gaan lewer. Die p/v-verhouding van die SP 500 is tans 26,17 keer gemeet teenoor die langtermyngemiddeld van 15,63 keer. Gevolglik is die risiko vir ʼn beermark in aandele ook in die VSA aanwesig.

aandelemarkte-07

Grafika: Verskaf.

Om terug te keer na die vraag wat aandelemarkte in 2017 gaan doen, blyk dit uit voorafgaande ontleding dat opbrengste van aandele nog steeds onder druk kan wees en beermarkte nie uitgesluit is nie. ʼn Aanbevole strategie sou wees om blootstelling aan alle aandelemarkte te beperk in 2017 sodat beleggers in die volgende twee jaar hul kapitaal kan beskerm sou ʼn beermark sy opwagting maak. Ná ʼn beermark sal koopgeleenthede in aandele voorkom.

Wat globale beleggings betref, moet beleggers nie halsoorkop fondse oorsee vat nie. Die rand is tans onderwaardeer teenoor die VSA-dollar en kan moontlik verder versterk in 2017. Randvlakke van R12,50 teenoor die VSA-dollar is nie uitgesluit vir 2017 nie. Ná so ʼn versterking van die rand kan beleggers hul blootstelling in globale aandele verder verhoog.

Blootstellings aan rentedraende bates soos geldmarkbates en kapitaalmark-effekte gaan die beter beleggingsopsie vir 2017 wees.

  • Hannes du Preez is verbonde aan Prima Batebestuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Genie ·

Baie dankie vir afrikaanse finansiële artikels op Maroela Media!

Alwyn ·

Dankie Maroela.Kan julle nie n finansiele kolom of aandele kolom stig nie.Belangrike inligting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.