Zille-twiet: Politieke diskoers ly daaronder

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Daar is genoeg rede om weer na die sage rakende Helen Zille en kolonialisme terug te keer. Dit gaan naamlik om veel meer as die goeie en slegte erfenis van kolonialisme en die vraag of Zille polities verstandig was om dit in ’n twiet te probeer behandel.

Dit gaan om die breë narratief wat in Suid-Afrika toelaatbaar is. Toenemend word grense van politieke aanvaarbaarheid getrek wat nie oortree mag word sonder dat die “oortreder” gestraf word nie.

Dat die ANC en die EFF op die voorpunt staan van wat nie anders as ’n heksejag teen Zille genoem kan word nie, is te verwagte. Maar Mmusi Maimane, en selfs die akademikus en oudjoernalis prof. Christi van der Westhuizen sing nou met oorgawe saam in die koor.

Op die gevaar af dat ek lesers kan verveel, moet ek herhaal: Dit was polities uiters onverstandig van Zille om aspekte van die koloniale erfenis op dié manier te probeer verdedig. Maar die hele affêre het wel ’n onbedoelde positiewe uitwerking: Dit maak duidelik tot welke mate die ANC/EFF die politieke diskoers in die land gekaap het.

In ’n onlangse artikel in Media24 se dagblaaie skryf Van der Westhuizen dat die aspekte wat Zille noem, almal te make het met “moderniteit, byvoorbeeld die vervoer-infrastruktuur en gespesialiseerde mediese sorg. In ’n onderhoud noem sy intussen ook universiteite”. Die geagte professor gaan dan voort:

“Die denkfout hier is die gedagte dat Afrika nooit deel van moderniteit sou kon wees sonder kolonialisme nie. Dit suggereer ook dat geen elemente van modernisering in Afrika ontstaan het nie.” Zille neem “nie in ag dat mense se natuurlike prosesse van globalisering oor die eeue heen beteken dat geen ontwikkeling net op een plek geïsoleer bly nie. Afrika was van die begin deel van moderniteit. Maar deur die geweld van kolonialisme is Afrikane in ’n onderdanige posisie in die wêreldhiërargie gedwing en daarom smaak net sommige, in plaas van almal, vandag die voordele van modernisering (let wel, nié kolonialisme nie).

“Zille begaan dus ’n feitefout.”

Ek weet mense soos Van der Westhuizen en haar joernalistieke en politieke mentors gaan my nou beskuldig van heimlike rassistiese neigings, maar sy begaan self feitefoute. Jy kan nie so ongenuanseerd beweer dat Afrika “van die begin deel van moderniteit” was, maar dat hy slegs “deur die geweld van kolonialisme” in “ʼn onderdanige posisie” gedwing is nie.

’n Goeie illustrasie is die Wes-Afrikaryk van Mali, die opvolger van die koninkryk Ghana. Mali het die hele Wes-Afrika tussen die 13de en 17de eeu oorheers en was met sy ryk voorrade van gouderts en sout een van die rykste state ter wêreld.

In 1324, so lees ’n mens in die werk van die Middeleeuse Siries-Arabiese historikus Al-Oemari (1300-1349), het koning Mansa Moesa ’n pelgrimstog na Mekka onderneem. In sy karavaan was onder meer 100 kamele, elkeen belaai met sowat 150 kg goud.

Toe hy Kaïro bereik, het die koning dié goud só rojaal bestee dat die hele Egiptiese ekonomie weens hiperinflasie in duie gestort het.

Die geskrifte wat in sy hoofstad, Timboektoe, gegenereer is, wys ’n hoë beskawing, uiters modern vir die tyd.

Maar Mali was ’n taamlike uitsondering en bowendien heel erg deur die Islam (destyds met ’n aansienlik hoër beskawing as Europa) beïnvloed. En sedertdien het Mali, grotendeels weens sy eie tekortkominge, heeltemal agtergeraak. Kortpad gevat, was die ekonomie te eensydig en die fisieke en geestelike infrastruktuur nie voldoende om dit die hoof te bied nie.

In Suider-Afrika was ’n proses van vroeë staatsvorming (met ander woorde, verder gevorder as die tradisionele stelsel van stamme en familiegroepe) teen die vroeë 19de eeu aan die gang. Dit kon die Voortrekkers byvoorbeeld sien in hul kontak met die Zoeloes en die Matabeles. Dié proses is egter bruut deur die Westerlinge – Afrikaners en Britte – gestuit.

Wie sal kan sê hoe dinge sou ontwikkel het sónder die tussenkoms van die Westerlinge? Dis seker nie onmoontlik dat die Suider-Afrikaanse koninkryke tot moderne, ontwikkelde state kon blom nie. Maar ons sal nooit weet nie.

Wat ons wel weet, is dat Afrika suid van die Sahara nooit ’n eie skrif of die wiel ontwikkel het nie. Ook dít sou in afsondering kón gebeur het, maar ons weet dit eenvoudig nie.

Beskawings kán sonder die wiel ontwikkel. Dit het byvoorbeeld in Sentraal- en Suid-Amerika met verskeie ryke – dink maar aan die Asteke en Inkas en hul voorgangers – gebeur. ’n Mens kan nie met sekerheid sê Afrika sou nooit verder gekom het nie.

Maar om te maak, soos Van der Westhuizen doen, asof Afrika voluit aan die ontwikkel was toe die nare kolonialiste dit afgekap het, is om die geskiedwetenskap geweld aan te doen.

Belangriker is ewenwel hoe die ANC en EFF die politieke diskoers in Suid-Afrika gekaap het.

Natúúrlik het kolonialisme baie negatiewe dinge vir ons land ingehou. Niemand behoort dit beter te weet as juis die Afrikaners nie.

Dis ook waar dat die liberalisme – of, akkurater, die Engelse vorm daarvan – ’n onheilige alliansie met die kolonialisme gevorm het. Daardie liberalisme was slegs die een kant van die Engelse munt, waarvan die Britse imperialisme die ander kant gevorm het.

Die Engelse het met oorgawe neergekyk op almal wat nié Engels was nie – op die Skotte, Franse en Afrikaners tot by die Indiërs en swartes. Hulle het dit soms dunweg verbloem, maar dit was altyd daar.

Dat die Afrikaners terselfdertyd op die swartes neergesien het, is ook waar, maar kanselleer dit nie uit nie. Die Afrikaners het in bepaalde opsigte hul eie minderwaardigheidsgevoelens teenoor die Engelse op die swartes geprojekteer – ’n onaangename waarheid wat nie ontken kan word nie.

Die waarheid is dus, soos altyd, genuanseerd, veelkleurig en met oneindig veel fasette. Dis in elk geval baie ingewikkelder as wat die ANC/EFF (en Van der Westhuizen, Maimane of selfs Zille) ons wil voorhou.

Dis soos Tafelberg. Na gelang van uit watter hoek jy na hom kyk – uit Blouberg, Bellville of Wynberg – lyk hy elke keer anders.

Dit beteken nie dat jy kan beweer Tafelberg lyk inderwaarheid soos Simonsberg by Stellenbosch nie. Dís wat die ANC/EFF en Maimane doen.

Meer nog: Hulle gee te kenne as jy anders as hulle dúrf praat, is daar iets baie verkeerd met jou. Dis ’n verarming van die politieke diskoers. En dis die ANC/EFF wat breed daaroor kan glimlag, nie die DA nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Frik Lotz ·

DA en ANC is maar dieselfde. Hul steun regstellende aksie, BBE en grondhervorming. Die EFF is natuurlik nog meer radikaal. Enigste oplossing is daadwerklike toepassing van minderheidsregte en selfbeskikking. Enigste party wat veg vir ons regte is VF Plus.

willie ·

nou praat jy! en wanneer alles misluk dan sal hulle almal weer die boere in die oë kyk en sê eish help asb!

CJ ·

Regtig, Leopold? Jy sê ons weet eenvoudig nie of Afrika suid van die Sahara onafhanklik die wiel en ‘n eie skrif sou ontwikkel het nie? Ek weet! Jy sê ons weet nie of Afrika sonder die wiel sou ontwikkel het nie? Ek weet! (Dink jou in: ‘n moderne staat sonder die wiel!). Jy sê ons jy weet nie of Suider-Afrikaanse koninkryke sonder die Westerlinge tot modern, ontwikkelde state sou blom nie? Miskien…. met die Oosterlinge se koms! Die realiteit is dat Afrika suide van die Sahara so vêr agter die res van die wêreld was, dat hulle dood eenvoudig nooit die kans sou kry om sonder invloed te ontwikkel nie – jy het nog nie die wiel uitgedink nie, terwyl andere al om die aarde vaar! Stem egter saam met jou kerngedagte dat die ANC/EFF weergawe van die waarheid op ons afgewing word. Die DA doen lustig daaraan mee.

MCH ·

Kom ons gee net die feite gou weer. Ek het gou gaan kyk na die laaste 15 uitvindings waarvoor Suid Afrikaners die krediet voor kry. Dit kom so van 1940 af. Dit moet seker darem aanduidend wees van ontwikkeling.
Uit die 15 uitvindings is 13 hoogs gesofistikeerd. Dit is deur die bank deur voorheen bevoordeeldes uitgevind.
Die ander twee is as volg: Hertzogtertjies – Kaapse Maleiers.
Vuvuzela – Freddie Sadaam Maake beweer hy het dit uitgevind. Kaiser Chiefs ondersteuner. Dit dien gemeld te word dat die gebruik van Koedoe horings om gemeenskappe bymekaar te kry, n baie ou gebruik is in huidig bevoordeelde gemeenskappe.
Ek het ook gaan kyk na die biografie van Eugene Kasalis, n Franse sendeling tussen die Basotho in die 1800’s. Daar was geen geskrewe woord nie, niks, zilts. Die sendelinge het die taal begin boekstaaf. Die laaste 23 jaar…….

Leopold Scholtz ·

Beste CJ, ek is verskriklik bly dat jy soveel sekerhede in jou lewe het. Wat myself betref, ek is maar soos die antieke Griekse wysgeer Diogenes wat helder oordag met ‘n lantern deur die strate van Korinte gedwaal het op soek na ‘n wyse man. Ek soek hom met ‘n seer hart om iets van sy wysheid op te steek. Lyk my egter jy hoef nie te soek nie!

MCH ·

En net voor ons dalk te selfvoldaan voel:
1 Korinthiers 10:24 ” Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van n ander”
Sou ons so opgetree het, sou ons dalk nie die growwe geskuur tussen mekaar as Suid Afrikaners gevoel het nie.

Gerhardus Petrus Padda ·

Dit is eenvoudig Dr. Scholtz, die narratief MOET wees dat witmense die “sondaars” is, en dat swartmense “uitgebuit” was (is?). In terme van sosialistiese moraliteit gee dit die staat die reg om by witmense te steel omdat dit nou kwansuis “geregtigheid” is. As jy aan die narratief karring, karring jy aan die “geregtigheid” al dan nie van die huidige diefstal.

Kom ons gebruik n dink eksperiment: As daar buiteruimtelike wesens is, sal jy graag wil he dat hulle meer gevorderd of minder gevorderd as ons is wanneer ons hulle ontmoet? Hoekom, en hoe gaan jy bepaal of hulle meer of minder gevorderd as ons is?

Die eerste kriteria is vir my maklik. As hulle ons kry voordat ons hulle kry, moet hulle meer gevorderd as ons wees (wetenskaplik en tegnologies) . Daar is natuurlik baie ander kriteria, soos kultuur, moraliteit ens.

Ek sal baie graag eerder in aanraking kom met meer gevorderde buiteruimtelike wesens as minder gevorderde want dan kan my kennis vinnig verbreed. Ek dink dit is meer waarskynlik dat dit voordelig vir my gaan wees as nadelig om meer gevorderde wesens te ontmoet.

Eish ·

Dankie weereens vir n nugtere artikel wat die feite goed raakvat.

Leendert ·

Die artikel is, soos gewoonlik, baie goed uiteengesit. Wat die Zille-tweet aan beterf, die volgende. Rhoda Kadali skryf in haar artikel vandag oor die sage nav RSG se program, daar aan die einde van haar skrywe, haar broer wou na Maimane en Zille se media konferensie weet hoekom Maimane se sensitief oor ‘n twiet is.

“As ‘n twiet soos daardie aan hom krap, is hy nie geskik om die leier te wees as regte probleme opduik nie.”

Verder skryf sy:

“Daar is ‘n onteenseglike vendetta teen die premier (Zille).

Dat ‘n onskadelike twiet gebruik word om van ‘n magtige politikus ontslae te raak, is die hoogtepunt van lafhartigheid, en dit verraai liberalisme”.

John ·

Dinge verander so vinnig in SA dat Zille en haar twiets al agter die bult le. Daar is groter drama oppad wat twiets na twiets laat lyk. Of ons Afrikaners minderwaardig of meerderwaardig voel of gevoel het en of die Engelse op of af kyk is ou nuus… Brittanje se eie probleme haal haar in… Timboektoe se Arabiese geskrifte verander in stof en so sal Europa ook opeindig…

Rupert Ashford ·

Leopold, net twee opmerkings: 1.) Zille het blykbaar die twiet geskryf na ‘n besoek of gevallestudie van Singapoer. Geen hoeveelheid verontwaardiging of slaan op die borskas of wat ookal kan die storie van Singapoer laat verdwyn nie. As dit te veel is vir Afrikane (wit en swart “prof” vd Westhuizen) het die mentaliteit geen hoop behalwe om ‘n paar veldslaggies op bedenklike wyse te wen nie. Die oorlog van ontwikkeling SAL verloor word en die meesters se name sal net verander – tans lyk dit na China. 2.) Die Engelse sien nog altyd neer op die res.

Reinhardt ·

Dankie Leopold! Weereens goed deurdink en onpartydige. Ek sien weekliks uit na jou meningstukke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.