Boereverneukery is weer hoog in die mode

sjokolade 4

Argieffoto.

Boereverneukery is een van die woorde wat ʼn lang pad met Afrikaans kom en ʼn praktyk wat deesdae weer hoogty vier in die kleinhandel.

Die woord het sy ontstaan by die 20ste-eeuse venters wat plaaswinkeltjies bedryf en ook van plaas tot plaas gesmous het. Hulle was meestal Jode, ook bekend as Boerejode danksy hul vlotheid in Afrikaans of omdat hulle ʼn Joodse pa en ʼn Afrikaanse ma gehad het. Hulle het goeie verhoudinge met die plattelandse boere gehad, maar jy moes glo ligloop vir hul gewoonte om so ʼn bietjie hand of voet by die skaal te sit as hulle iets afweeg. Daar is ook stories – dalk maar humoristiese versinsels – van die onderste stukkie in ʼn suikersak dikwels sand was. Ensovoorts.

Sulke onderduimsheid het die afgelope klompie jare weer hoogmode geword en ons betaal almal die prys in al wat ʼn winkel is.

Die sigbaarste bewys hiervan is die verpakkings wat dieselfde bly en lyk, maar met ʼn krimpende inhoud. Ons betaal al meer geld vir die lug in pakkies.

Sjokolade kom nog in dieselfde grootte omslag, maar die inhoud het eers van 100 g tot 90 g gekrimp en toe tot 80 g, maar al hoe duurder geword.  Kopers talm lank en maak sommetjies by die supermarkte se vleistoonbanke, maar slaan die oë grondwaarts verby die lekkergoedrakke.

Kopers het dalk nog simpatie met die boere wat vleis, groente en vrugte te midde van ʼn erge droogte produseer, maar die makers van sjokolade het geen rede om meer geld te vra vir meer lug in die verpakkings nie.

En dan dink ons dis net politici wat oneerlik is….

Geen verskoning

Die internasionale prys van kakao het drasties gedaal ná die rekordpryse van twee jaar gelede en die Europese suikerprys is op ʼn laagtepunt. Nietemin vind dit nie gestalte in die prys van konfyt of koeldrank nie.

Daar is nog ʼn vreemde ding aan die gebeur in die advertensiebylaes wat deesdae darem nog ʼn bietjie dikte aan koerante bied en nog ʼn paar van hulle op straat hou. “Spaar R8,” sê dit langs die prentjie van die produk wat geadverteer word, maar sonder dat die prys vermeld word!

Goed, ek “spaar” R8 op die sespak bier of die boks beskuit, maar wat kós hy? Hoe kan die koper A se prys met B s’n vergelyk as hy nie weet wat dit is nie? Of koop mense maar agter die “spaar” aan omdat dit goed klink?

Bye deel van die probleem

Dit is ook nie net die land se politiek en korrupsie en boereverneukery wat die lewe bitter maak nie, maar ook die land se byekrisis. Suid-Afrika se byebevolking, sê die mense wat bye tel, het die afgelope jaar of wat met 40% gedaal. Met 40%! Dis omdat ons nie meer genoeg blomme plant nie, en dan is daar die mode om uitheemse palmbome aan te plant en gombome (eucaliptus) uit te kap. Wie het al van palmheuning gehoor?

Dit gaan ook lank nie net oor ons eie genietinge nie en gaan veel verder as heuning vir jou ontbytpap of roosterbrood. Dis ook ʼn ernstige bedreiging vir vrugte-oeste, want sonder bye kan ons maar koebaai sê vir appels, pere en perskes.

Om blomme te kweek beteken natuurlik ook dat hulle gereeld water moet kry, en dis veral in die Wes-Kaap ʼn krisis, waar die damme minder as 20% vol is. Wat van tuintjies oor is, word nog skelm aan die gang gehou met gryswater.

Een van die redes vir die tekort is die versuim van die departement van waterwese en sanitasie, wat nagelaat het om slik uit kanale te verwyder wat water na damme gelei. Die Kaap verloor ook 36% van sy gebruikswater weens lekkende pype.

Die departement self is R4,3 miljard in die rooi wat beteken dat kontrakteurs vir tydperke van langer as ses maande nie betaal word nie omdat interne beheermaatreëls, projekbestuur en die bestuur van kontrakte in duie gestort het.

Hierdie deel van die land produseer die helfte van Suid-Afrika se landbou-uitvoere en is van die grootste werkverskaffers in primêre landbou.

Plantverskaffers in die Wes-Kaap voer ʼn moeilike bestaan, behalwe dié wat ook klippe en tuinklippies en boombas verskaf vir die ruimtes waar daar eers tuine was.

Maar klippies lok nie bye nie….

10 Kommentare

Dries ·

Baie interesant en puik gestel deur die skrywer. Daar is in SA ook tans n oor-aanbod van suiker. Vreemd dat dit enigsins bekend is. Soos n berig elders op MM dit sou stel , dis nou n Boere verneukery .

Eish ·

Die probleem is te min mededinging. Dertig jaar gelede was daar Cadbury, Wilson Rowntree( Toff o lux) Chapelat( Sweetie Pie) en n paar ander vervaardigers. Die voortdurende gejaag na groei en maksimalisering van wins, het tot gevolg gehad dat die maatskappye oorgeneem is deur groter maatskappye wat nie noodwendig in dieselfde bedryf was nie. Nou is daar feitlik geen mededinging in die mark nie en die vervaardigers kan eenvoudig die goedkoper grondstowwe aanwend om die wins opwaarts te bestuur en gevolglik die topbestuur ysingwekkende bonusse te betaal. Dit is n uit en uit n gebrek aan mededinging wat dit tot gevolg het.

Paul ·

Daar is wel heelwat ander sjokoladevervaardigers in Suid-Afrika, of klaarvervaardigde ingevoerde sjokoladeprodukte. Die probleem is net dat meeste mense dit nie wil koop nie. Suid-Afrikaners is vreeslik handelsmerkvas. Hulle sal eerder aanhou Cadburys koop en kla oor die hoë prys as om die goedkoper onbekende handelsmerk wat langsaan op die winkelrak is, te probeer.

Paul ·

Ek verstaan nog nooit hoekom mense kla oor die kleiner inhoud van ‘n soortgelyke (dis nie presies dieselfde nie!) verpakking nie.
Daar staan mos op die verpakking hoeveel dit bevat. Lees dit net. Jy hoef dit net een keer te lees, en volgende keer onthou jy mos.

Mense gaan op hol oor ‘n 11% krimping van 90g tot 80g, maar as die prys met 11% van R18 tot R20 styg, dan pla dit hulle baie minder, selfs al het dit dieselfde effek. Ek wonder hoekom?

Die stories oor die verdwyn van die bye is ook hoogs oordrewe. Lees gerus ook wat Ivo Vegter in 2015 daaroor geskryf het. Dis die tipiese groen-histerie wat deur die feite verkeerd bewys word.
En alle eucalyptus-spesies (bloekombome) is ook uitheems. Dit kom van Australië af en gebruik vreeslik baie water in Suid-Afrika. Daarteenoor is daar wel inheemse palmboomspesies en palmbome het wel blomme wat deur bye bestuif word.

Maar ja, hierdie kommentaar sal deur klomp afwysende kommentare begroet word. Mense hou, snaaks genoeg, nie daarvan om te hoor dat die slegte nuus wat hulle hul in verlekker, nie waar is nie.

John ·

Die woord het nie verniet sy naam gekry nie. Botter is nou glo so skaars (soos ertappels nou die dag maar nou R15 ‘n sak kos ~ glo ingevoer vanuit Antarktika) maar blokke kaas so groot so sementstene staan neffens op die rak. Hou ons boere nou kamele aan wat vir ons die kaas lewer en word ons beeste net vir lobola aangewend in “Boer soek ‘n vrou” (waar eva amper nooit goed genoeg is vir mompelende verwaande knaap nie). Dan praat ons nie eens oor die krokodiltrane wat so vloei oor die swak reenval op die plaas diep in die Kalahari nie… Of verwys ons na daai Griekse boertjie op die hoek wat hoeka….

roelfie ·

Paul – kyk jy elke keer hoe swaar of groot of vol die verpakking is?
Jy sê daar is buitelandse sjokolade, maar het jy al ooit gekyk wat iets soos Lindt kos?
Ek dink nie jy koop sjokolade nie.

Swartkat ·

Paul eet nie sjokolade nie want dit maak vet. Die probleem is nie die vervaardiger of die boer nie, maar die regering wat belastings op alles hef en almal wat geld maak voor dit by die verbruiker kom.

John ·

Buitelandse nuus is skaars. Die groot storie oor die vergiftigde eiers bv. Waar kan ons vra of ons land nog enige beheer toepas oor voedselproduksie? Wat gebruik ons produsente om luise op hoenderplase te beheer? Is ons voedsel veilig as ons drinkwater reeds ‘n groot kwessie is? Geen woord word gerep oor gm-produkte nie. Is dit ‘n heilige koei? Is SA soos die res van Afrika nou ook maar oorgelewer aan die genade en gewete van produsente met winsbejag as eerste prioriteit? Met meer onervare produsente wat nou die mark wil betree gaan ons hospitale ‘n toeloop sien?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.