Jane Goodall bring Afrika-hoop

Jane Goodall en Bonné De Bod (Foto: Susan Scott)

Jane Goodall en Bonné De Bod (Foto: Susan Scott)

Dit is nie aldag dat ʼn mens een van die wêreld se grootste omgewingsheldinne ontmoet nie, so ʼn mens kan sê dat dit ’n redelike groot oomblik vol verwagting vir my was. Ek het al baie onderhoude in my loopbaan gevoer, maar ek kon die senuwees voel … miskien was ek so ietwat starstruck!

Ek was immers in dieselfde kamer as ʼn ware legende in die bewaringswêreld, dr. Jane Goodall. Ek is seker die meeste mense ken die naam, of miskien lui “die sjimpansee-vrou” ʼn klokkie?

Die 82-jarige ikoon het in die 1950’s saam met ʼn groep wilde sjimpansees in Gombe, Tanzanië, gebly waar sy ʼn spesie bestudeer het waarvan ons baie min geweet het. En deur die jare het sy nie net deel van hulle familie-struktuur geword nie, maar sover gegaan as om vir elkeen ʼn naam te gee. Dit was natuurlik ongehoord in die wetenskaplike gemeenskap … ʼn studie-onderwerp is ʼn nommer en het nie ʼn menslike naam nie.

Jane Goodall spreek 'n gehoor toe (Foto: Susan Scott)

Jane Goodall spreek ‘n gehoor toe (Foto: Susan Scott)

Wel, sy het geglo in wat sy doen, en sy het uiteindelik so persepsies verander en is vandag die wêreld se voorste kenner wat sjimpansees betref, bowenal vir die navorsing wat sy gedoen en ontdekkings wat sy gemaak het in daardie vroeë jare in Gombe.

Voor my paar minute met dr. Goodall was al haar aandag by ʼn groep nuuskierige en opgewonde kinders in die stowwerige Orange Farm in die suide van Johannesburg. Dit was ʼn wonderlike geleentheid om haar jeugprogram, Roots & Shoots, in aksie te sien. En ná vele passievolle toesprake deur leerders van plaaslike omgewingsklubs wat dit benadruk het dat ons grond, water en lug nodig het om ʼn gesonde lewe te lei, het die hoof van die Lesedi le Krestu Laerskool ons voorgestel aan die “wyse vrou wat hier is om haar kennis met ons almal te deel”.

Die tent waarin die kinders gesit het, het stil geraak. En ek het opgelet hoe baie vorentoe leun, op hulle hande sit, gereed om van hierdie bekende navorser van ʼn ander deel van Afrika te hoor, een met ʼn doktorsgraad van Cambridge … maar in plaas van wetenskap en statistieke het sy begin om te vertel van die rede van haar sukses, haar motiveerder, die een wat in haar geglo het … haar ma.

Ek kon die konneksie onmiddellik sien … hulle oë het geglinster, party het hulle koppe instemmend geknik, hulle kenne nou op hulle hande gerus. Ons almal het ma’s. Die een persoon wat, maak nie saak hoe vreemd ons drome klink nie, glo dat ons dit wel sal bereik.

Jane Goodall spreek 'n gehoor toe (Foto: Susan Scott)

Jane Goodall spreek ‘n gehoor toe (Foto: Susan Scott)

Ek was hier om ʼn gemeenskapsprogram in aksie te sien en te luister na een van die wêreld se groot geeste wat waarskynlik oor haar werk en prestasies sou praat, maar sy het my vasgepen toe sy praat oor hoe haar ma haar aangemoedig het om ʼn sekretariële kursus te doen omdat dit haar moontlik tot in Afrika sou kry om haar groot droom te verwesenlik … en dit het! ʼn Inspirerende storie waar jy in ʼn onwaarskynlike plek begin, maar uiteindelik eindig waar jy veronderstel is om te wees.

En natuurlik het dit ons almal geraak … En terwyl ek daar gesit en na die kinders gekyk het, het dit herinneringe teruggebring van my ma wat in my geglo en nooit getwyfel het oor my drome nie, oor my pad. Baie van julle weet ek vertel stories oor die natuur op televisie en is baie passievol oor renosters, maar nie baie weet hoe ek op die kassie beland het nie. Dit is inderdaad ʼn anderste paadjie …

Kort nadat ek my BCom-graad in Industriële Sielkunde behaal het, is ek ʼn modelkontrak aangebied wat beslis iets opwindends en uitdagends was in my vroeë twintigs. Dit het egter beteken dat ek ietwat laat daarmee begin het en ek was heeltemal uit my gemaksone. Maar my ma het nie vir ʼn minuut in my nuwe loopbaan getwyfel nie.

Sy het nooit gesê ek is te oud om dit “te maak” nie, of om iets met my graad te gaan doen nie … sy het in my geglo, en dit het my die krag gegee om die beste te lewer in ʼn moeilike en mededingende bedryf. En ek het voortgegaan om ʼn suksesvolle loopbaan vir drie jaar te hê waarin ek geleer het om saam met fotograwe en regisseurs te werk, iets wat my geweldig gehelp het in my loopbaan vandag.

So, maak nie saak watter roete jy volg nie, daar is ʼn rede hoekom jou ma jou ondersteun. Sy weet jy sal jou drome wel waar maak, en dit het nie net aanklank by die kinders in Orange Farm gevind nie, maar ook by my!

Jane Goodall spreek 'n gehoor toe (Foto: Susan Scott)

Jane Goodall spreek ‘n gehoor toe (Foto: Susan Scott)

Toe dit aangebreek het vir my tyd saam met dr. Goodall, was ek bewus van die feit dat ek slegs die geleentheid gaan kry vir ’n paar vrae, so ek moes hulle goed kies. Natuurlik het ons oor renosters gepraat … die stropingskrisis, maar ook oor die eerste keer toe sy renosters in Afrika gesien het: “Nadat ons vir fossiele by Olduvai gegrawe het, is ons aan die einde van die dag toegelaat om op die Serengeti uit te loop en een aand het ons op ʼn renoster afgekom. Sy was baie naby en sy het duidelik geweet ons was daar, maar sy kon ons nie sien nie. Sy het vorentoe en agtertoe beweeg met haar stert in die lug en daardie snaakse geluidjies gemaak! Gelukkig het die wind van haar na ons kant toe gewaai … dit was ʼn spesiale oomblik! Ek is lief vir renosters. Maar ek dink nie daar is enige renosters oor waar ek hulle gesien het nie … dit is so hartseer, die arme bedreigde witrenoster.”

Maar so tragies as wat die huidige stand van sake van ons planeet is, is hierdie Verenigde Nasies-boodskapper van vrede ook in wese ʼn boodskapper van hoop. Ek het nog altyd haar onwrikbare geloof bewonder in die hoop dat ons steeds een kan wees met die natuur, maak nie saak waar ons woon nie: “Ek het al gesien hoe kinders wat in die stad bly en dan ʼn kans gegee word om uit te gaan en die natuur te verken se hele wese ophelder. Dit is bewys dat kinders groenigheid en die natuur nodig het vir behoorlike geestelike en sielkundige ontwikkeling. Dit is binne ons, ons is deel van die natuur. Ons moet net die geleenthede skep, ons moet die kinders en hul ouers die geleentheid gee om daardie konneksie te maak,” was haar boodskap.

Wat ek in my tyd saam met dr. Goodall gesien en gevoel het, was iemand wat werklik glo dat ons die toekoms van ons planeet kan verander. Sy glo in die mensdom, selfs ná al die skade wat ons berokken het. Om in die onmoontlike te glo is duidelik iets waaruit sy genot put … en wie weet, dalk is sy reg!

Besoek STROOP se Facebook-blad vir meer inligting.

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Bonné de Bod is ’n bekroonde televisieaanbieder en vervaardiger van die dokumentêre rolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat talle internasionale pryse verower het. Sy het nou haar visier op lugbesoedeling in haar volgende dokumentêr wat in 2021 vrygestel word.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.