Oom Herrie se kerrie: Die groot onreg, die leeus en die komiteeklerk

Argieffoto (Foto: designerpoint, Pixabay)

Die leeus wat aan die Wesrand soek is, lei tot die herlewing van ’n baie ou grappie. Eintlik twee, wat oom Herrie sommer saamklits.

’n Leeu van die Krugerwildtuin loop weg en trek op Meintjieskop agter die Uniegebou in. Daar vertoef hy ’n jaar voor hy spekvet weer sy opwagting in die wildtuin maak.
“Waarvan het jy geleef?” wil sy maters weet.
“Ak het vir my alke dôg ’n lekker vet ômptenôôr gevang,” beduie hy in sy aangeleerde oostelike Pretoria-aksent.
“En hulle het dit nooit agtergekom nie?”
“Nee, môr ak het eendag die fout gemôk om die komiteeklerk te vông.”
“Nou wat vir ‘n belangrike ding is ’n komiteeklerk dan?” wil die maats weet.
“Nee kyk, hy dwôl maar so in die gônge rond, tot hy die teetrollie sien aankom, en dan roep hy uit: “Hier kom ʼn tee mônne!”
Toe word hy dadelik uitgevind.

Die storie lei tot die verhaal met die grootste staatsdiensonreg wat oom Herrie ken. Ter wille van anonimiteit klits oom Herrie weer twee stories in een. ’n Vroulike staatsaanklaer is jare gelede swanger, en sit naderhand swangerskapsverlof in. Erg teensinnig word die verlof toegestaan. ’n Fris seuntjie bring baie vreugde na haar en haar man se huis, maar ’n jaar later is daar groot hartseer toe die seuntjie sy laaste rusplek onder bosse en bosse blomme vind.

Gelukkig, nie lank daarna nie, is die vrou weer swanger, en later stel hulle vas dis weer ’n seuntjie. Sy sit weer kraamverlof in. Die keer is die antwoord negatief. Die saak waarmee sy nou besig is, is gans te belangrik, en dit word as onverantwoordelik beskou dat sy nou weer swanger is. Die swangerskap word daarom as ’n “self inflicted injury” gereken en die kraamverlof afgekeur.

Oom Herrie se maag maak sulke draaie toe hy dit lees.

So gaan die saak waarmee sy besig was voort, tot op ’n dag, tydens die verhoor, breek die vrou se water net daar in die hofsaal. Dis ʼn geskarrel van ’n ander wêreld. Al beskikbare ryding vir die twee ure lang rit na die naaste hospitaal is ’n ou Volla. Sy word in die passasiersitplek ingehelp, tesame met ’n tikmasjien. Agter neem die hooflanddros sy sitte in, en moet maar as vroedvrou optree. Die verhoorlanddros is agter die stuur, en hy dikteer ’n hele rits branders aan die prokureur-generaal. Die kraamgeval moet uithaal om by te hou met die tikwerk.

Die hospitaal word sonder verdere drama gehaal, maar later, tydens die geboorte, is daar komplikasies, en die vrou is naderhand in ’n koma waaruit sy eers tien dae later ontwaak. ’n Babaseuntjie wag vir haar, maar ook nie baie lank nie, moet dié baba sy ma hof toe vergesel. Eenkant sit of staan die ma, dan die baba, en aan die ander kant ’n hofordonnans wat moet hande bysit as kinderoppasser.

Al wat oom Herrie weet, is as dit nou sou gebeur, en die vrou was ʼn lid van Solidariteit, was iemand van onder meer poging tot moord aangekla. Of op Meintjieskop gelos.

En terwyl ons op die onderwerp is, as jy vir iemand werk, al is dit hoe ’n goeie baas, sluit tog by Solidariteit as vakbond aan. Oom Herrie het die laaste ruk twee keer paaie gekruis met mense wat dit nie breed het nie, waar werkgewers die vreeslikste onregte teenoor hulle gepleeg het. Nie een was lid van ’n vakbond nie. Oom Herrie, wat darem in arbeidsreg gekwalifiseer is, gaan sit op een van die vergaderings in om die man by te staan, maar word summier uitgejaag omdat oom Herrie nie ’n vakbondverteenwoordiger of prokureur is nie. En daarna toesien hoe onreg op onreg gepleeg word, want die mense het selftrots en wil nie aanhou vra nie.

Dis leeuwêreld daarbuite. En dan kla werkgewers dat hulle ongeveer 85 persent van die sake voor die KVBA verloor. Oom Herrie het al verskeie dienskontrakte onder oë gehad van groot firmas wat werkgewers verteenwoordig, maar wat doodgewoon onwettige bepalings in het.

’n Werker moet ook nie by sy werk sit en droogmaak, en as hy teenspoed kry, vakbond toe hol nie. Die idee bly darem van in die sweet van sy aanskyn sy brood verdien, en dan is die arbeider sy loon (en verlof / teetyd) waardig.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.