Oom Herrie se kerrie: Die sleutel se skuld!

Foto: Herman Toerien

Die Herries se jongste, Jandré, is outisties en op 24 kan hy nog nie regtig praat of veel verstaan nie, en hy sal so lank hy of sy ouers leef, in die huis woon.

Nou die aand hoor oom Herrie ’n vreemde kraakgeluid, gevolg deur ’n ontstelde “Ag nee!” van Jandré af. Oom Herrie gaan stel ondersoek in.

Nou eers ’n bietjie agtergrond.

Jandré het ’n paar splintervermoëns, en hy is ’n goeie kunstenaar. Hy maak die mooiste voorwerpe van keramiek, en het ’n besondere kleuraanvoeling met sy skilderye.

Met die keramiek is hy nou besig om ’n reeks houers te maak met bekendes soos Mickey Mouse, Tweety en ander wat as “handvatsels” op die proppe kom. Hy het reeds die voltooide produk met Bugs Bunny huis toe gebring.

Die Spiderman-fles het ook al gekom, maar nog sonder die deksel. In dié fles sal die “candy” (sy – en die Yanks – se woord vir lekkergoed) gehou word. Spiderman gaan dit oppas. “En teen wie moet Spiderman dit oppas?” wil Ma weet.” “Teen Pa,” kom die antwoord pront.

Nou terug na die kraakgeluid. Die Herries het ʼn toesluitrak waarin lekkergoed gebêre word. Die sleutels sit permanent in die sleutelgat. Op ʼn manier het die sleutel uitgeval, en vir Bugs Bunny getref. ’n Oor is af en daar is nog skade.

“Dis die sleutels se ‘fault’,” beduie hy erg ongelukkig. Gelukkig het ma die regte soort lym, en ʼn ruk later kom wys hy my Bugs Bunny is nou weer piekfyn.

As dit kom by loodgieterswerk, het oom Herrie nie juis twee linkerhande nie. Maar eendag was die kettingreaksie onvoorsiens. ’n Tang val van die rak af waarop oom Herrie besig was om te werk, en val in die wasbak daaronder. Wasbak flenters. Die wasbak het in ’n presies uitgesaagde (met figuursaag) gat in ’n houtkas gepas. En, blyk dit, so ’n wasbak is nie meer in Bloemfontein te kry nie. Dus die naaste aan die oorspronklike, meet so goed mens kan en is die ou wasbakgat met die figuursaag aanpas. Die nuwe wasbak pas perfek, maar sit net ’n aks skeef. En dan is pype agter ’n wasbaklas ook nie kinderspeletjies nie.

En dit van ʼn tang wat van ʼn rak in die wasbak geval het.

Die skewe wasbak sit lankal nie meer nie. Mev. Herrie het “die regte mense” gekry en oom Herrie het self wyd gehou. Nou sit daar ’n mooi gelyk wasbak, en bokant is geen rakke meer nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ella ·

Herman, ek geniet jou vertellings terdeë, baie dankie! Die stories oor Jandré is so spesiaal!

Besigheidskonsultant ·

Die Maroela aanlynwinkel kort baie groter verskeidenheid produkte, veral wat gemaak word deur ons mede lesers. Dit sou baie gaaf wees om Jandre se kunswerke daar te sien, tesame met ander talentvolle mense van ons land. Ons is moeg vir die gewone produkte, ons soek ons eie mense se produkte, ons soek unieke skeppings, produkte met stories. Ek hoop Maroela lees hierdie voorstel.

Tina Buys ·

Altyd lekker om te lees. Ek stem saam met die kommentaar hierbo oor die ‘verskeidenheid’ of liewer gebrek daaraan wat aanlyn beskikbaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.