Oom Herrie se kerrie: Die student en die Jaguar

Argieffoto (Foto: tpsdave, Pixabay)

Jare gelede, so verneem oom Herrie, het ’n Tuks-student elke dag deur die koerant geblaai om te sien of daar nie ’n billike tweedehandse motortjie te kope is nie. Sy geldjies was maar skraps, dus lewer die advertensies niks op wat bekostigbaarheid en rybaarheid bymekaar bring nie.

Tot op ’n dag lees hy van ’n splinternuwe Jaguar wat vir R10 te kope is. Hy aanvaar dis ’n drukfout, en ignoreer die advertensie. Maar die volgende dag is die advertensie weer daar, en die prys is steeds R10. Toe is hy erg nuuskierig, en versit na die tiekieboks om te hoor wat die prys eintlik is.

Die student kan sy ore nie glo nie. Die prys is R10. Hy sê vir die vrou wat geantwoord het hy is nou daar, en hy trap sy baiesukkel soos die wind na die adres.

En daar staan die blink ryding. Die bande is meer as R10 elk werd, en die petroltenk het meer as R10 se petrol in. Binne die kar is geen verdagte reukie nie – trouens, dis nog daai pure nuut-reuk wat potensiële kopers so laat kop verloor.

Net daar skaf die student die kar aan, en teken die papiere.

“Ek het my nou vasgeteken, en wil nou asseblief weet wat die vangplek is.”

Die vrou sê daar is nie eintlik ’n vangplek nie. Haar man is met die vliegtuig na ’n kongres in Durban, en toe hy daar is, bel hy en sê hy het met die sekretaresse weggeloop. Die vrou moet die kar verkoop en die geld vir hom stuur.

Voor oom Herrie dié storie opgeteken het, het hy eers gaan probeer naslaan om te kyk hoeveel waarheid hierin steek, want soos oom Herrie dit het, het die saak in die hooggeregshof gaan draai – ’n mens mag nie iemand anders se eiendom vir onder redelike markwaarde verkwansel nie. Hier het die regter egter beslis dat die provokasie groot genoeg was – of so het oom Herrie verneem. Maar oom Herrie kry nie so ’n hofsaak nie, en kan dus nie sê watter kleur die Jaguar was nie.

Feit is, elke keer wat oom Herrie aan die storie dink, geniet hy dit terdeë.

Onlangs was daar optogte onder die vaandel van “Men are trash.” Dit is na aanleiding van verskeie vroue wat deur mans mishandel en vermoor is. Maar soms was die moordenaars vroue.

Party het besonder bekend geword, veral vroue wat hul mans met gif uit die lewe gehelp het. Die bekende Daisy de Melker het sommer twee mans en haar seun so vermoor. Maria Groesbeeck het haar man se kos vergiftig, en kort daarna met haar minnares in die huwelik getree. Unita Green het rotgif op haar minnaar se toebroodjie gestrooi.

Nie almal het gif ingespan nie. Een man het, volgens die aangeklaagde vrou, met sy rug tien keer in haar mes ingehardloop. Soms is iemand gehuur om die man op wie die moordenares verlief was, se vrou uit die weg te gaan ruim.

Dis egter skrikwekkend om te dink dat so vreeslik soos die moordstories deur vroue klink, as dit saamgelees word, is dit statisties skaars merkbaar as die moorde waarvoor mans verantwoordelik is, gelys word. Van die reeksmoordenaars het tot by die 40 slagoffers gehad, en heel dikwels is die slagoffers van beide geslagte skaars uit die doeke. Maar hulle is verkrag voor hulle vermoor is.

Bestaan daar ʼn straf, binne of buite die regstelsel, wat erg genoeg is om sulke gevalle te straf? Geen wonder nie dat ’n hele paar vermeende oortreders (want hulle is nooit deur ʼn hof skuldig bevind nie) deur gemeenskapslede gejag en doodgemaak is.

As oud-hofverslaggewer kan oom Herrie rillerstories vertel van vroue wat tydens die verhoor van so ’n monster skoon nannas raak oor die man. En selfs wanneer hy in die tronk sit, met hom gaan trou. En as ta uitkom sit hy reguit af elders heen – en in een geval vermoor hy nog twee vroue voor hy homself uit die lewe help. Presies soos die sielkundige voorspel het.

Lees alle rubrieke deur Oom Herrie op Maroela Media.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos1 ·

Herman, laat my dink aan ‘n staaltjie wat my swear vertel het.
‘n Student erf sy ouma se kar, ‘n 19 voertsek onbekende kar, net goed vir die skroot werf. Hy vat toe die kar, kom ons se maar ‘n Chev 1942 model na die enigste skrootwerf. Die eienaar van die skrootwerf stel nie eens belang nie aangesien die onderdele nie verkoop nie, maar die student moet maar sy nommer los vir net in geval. Nou ‘n student het nooit geld nie en hier is die meevaller ook nou verby, sou ‘n mens dink, maar nee nie student se kind nie. Hy kry elke dag vir so ‘n week al sy pelle om die skrootwerf te bel op soek na parte vir ‘n 1942 Chev. Na ‘n week kry die student ‘n oproep van die skrootwerf eienaar, dat hy die 1942 Chev wil koop asb! En so genereer jy jou eie mark!

Ella ·

Herman, ek’s baie bly die vrou in jou storie het haar saak gewen! Puik vertel, soos altyd!

Vaalseun ·

Herman, ons kuier een keer in Bloemfontein en by ‘n vulstasie staan ek toe langs ‘n man met ‘n pragtige rooi 1978 Mercedes-Benz 280SE. Ek komplimenteer die man oor die goeie toestand van sy motor. Ja, sê hy, hy het hom vir R20 gekoop. Ek sê, natuurlik kan dit nie waar wees nie! Nee, sê hy, dit is waar. Hy het ‘n klein advertensie in Die Volksblad gesien vir dié kar met die prys R20. Hy dag toe dis seker maar bedoel om R20,000 te wees, wat vir hom steeds ‘n baie goeie prys was. Hy bel die nommer, en ‘n Boervrou antwoord. Ja, dit was haar oorlede man se kar. Hy kan maar kom kyk. Toe hy die transaksie wou beklink om die tjek uit skryf, sê hy toe, So dan is dit R20,000 nê, Mevrou? Nee, sê sy, die prys is R20. Nou hoekom dan so, Mevrou? Want my oorlede man het meer aandag aan die kar gegee as aan my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.