Oom Herrie se kerrie: Hier steek ’n lelike ding sy kop uit

Ja, ’n president wat so erg droogmaak, maar wat verseg om sy baadjie te vat en te loop, is sekerlik ’n liederlike ding wat sy kop uitsteek.

Maar dis nie wat oom Herrie vandag aan die dink gesit het nie.

Baie jare gelede was ouma Lita, haar dogter, Essie, en een van haar seuns, Rons, al drie lede van die befaamde oom Pietie le Roux se boere-orkes. Ouma het die klavier gespeel, tannie SC die banjo en oom Rons was ’n yster met die dromme. Selfs ’n slag met dié yslike orkes per trein gaan toer, en ook in die Kruger Wildtuin opvoerings gehou.

By geleentheid moes iemand in ’n spesifieke stuk net een noot met daai driehoekie gee. Dit was onnodig om iemand wat ’n ander instrument kan bespeel vir dié enkele noot op te offer, en hulle kry toe iemand wat geen instrument kan bespeel nie vir dié rol. Oom Pietie sou op die regte oomblik vir die man, wie se senuwees sleg begin lol het, wys hy moet laat waai.

En só is die noot op presies die regte oomblik geslaan, maar die arme kitsmusikant se senuwees knak en hy slaan daar op die verhoog neer.

Of die volgende storie by oom Pietie se orkes hoort, weet oom Herrie nou nie. Het dit van soveel kante gehoor. Dié slag moes iemand met die donkielong ’n stuk solo speel, en vir dié doeleindes kry hy sy sit op ’n riempiestoel heel voor die orkes.

Hy het skaars ’n paar note gespeel, toe kom daar fout. Sy broek se naat het meegegee, en sy juwele hang deur die riempies vir die ganse gehoor om te bewonder

Hy het skaars ’n paar note gespeel, toe kom daar fout. Sy broek se naat het meegegee, en sy juwele hang deur die riempies vir die ganse gehoor om te bewonder. Daar is ’n gedempte gelag, maar die donkielongman hoor dit, en meen dis omdat hulle nie met sy vertoning beïndruk is nie. Hy speel dus met nog meer oorgawe, maar die gelag raak al harder.

Uiteindelik kan hy dit nie meer uithou nie. Hy maak die donkielong stil en sê vir die gehoor: “Hier steek vanaand ’n baie lelike ding sy kop uit.”

Die vertoning moes eers gestaak word soos die gehoor toe aan die lag gaan. Die arme man besef eers wat fout is toe hy opstaan en die riempiestoel saam met hom opstaan.

Ja, ouma Lita had goue note in haar vingers. Sy het van sy ’n baie jong weduwee geword het in haar woonstel in Stellenbosch se middedorp privaat musiekklasse gegee. Dan het sy vir die plaaslike volkspele-laer hul begeleiding gedoen en elke nou en dan as orreliste in die kerk uitgehelp. In ’n stadium het sy vir ’n hele paar jaar as aflos-musiekonderwyseres op verskillende plattelandse dorpe gaan uithelp – dorpe soos Vredendal, Ceres en Heidelberg. Soms is sy sommer op slag ook as die kerk se orrelis aangestel.

Wanneer sy weer tuis was, is haar sosiale lewe ook hervat. Een aand per week is daar by ’n vriendin brug gespeel. Nog ’n aand was hekelaand, en so aan. Die kuiers is te voet aangepak, soms nogal ver. Dis eintlik vreemd, want ouma was ’n baie, baie bang mens, vir omtrent enigiets. Net op Stellenbosch, het sy geglo, skuil die bose nie in elke donker kol nie.

Haar kuiers by die Herries in Bloemfontein was vir haar ’n nagmerrie. Die hoë ringmuur het haar gepla, want nou kan ’n mens nie die gevaar sien aankom nie

Haar kuiers by die Herries in Bloemfontein was vir haar ’n nagmerrie. Die hoë ringmuur het haar gepla, want nou kan ’n mens nie die gevaar sien aankom nie. Maar as daar gevaar sou kom, was die muur weer nodig. En ag, die donderweer. Slaan die slag, hardloop sy die huis uit. Slaan die volgende slag, hardloop sy weer die huis in.

Soms het sy haar kinders moedeloos gehad. Een was ’n professor wie se hande ook vir min dinge verkeerd gestaan het, een was ’n biologie-inspektrise (die banjospeler), en een ’n senior administratiewe beampte (die tromspeler). Menige keer sou sy by al drie raad vra oor iets, en by al drie dieselfde raad kry. Maar dan gaan leen sy haar ore uit aan iemand anders, en klou aan daardie verkeerde raad, al is dit naderhand ’n yslike krisis.

Ouma was egter ook ’n groot bok vir sports. Met haar engtevrees en al is sy in die Kangogrotte deur die Duiwel se Skoorsteen. ’n Mens kon haar wel tot by die ingang hoor gil. Op 71 het sy die uitnodiging om saam tennis te speel aanvaar, maar dit was ’n fout – sy het haar been gebreek.

Nie baie jare later nie, het sy ’n stadige beroerte gekry. Sy was naderhand ook blind. In haar hospitaalbed, wat ook haar sterfbed sou word, het sy nog as daar gaste kom, met haar gebruiklike gasvryheid gevra of hulle tee wil hê.

Oom Herrie het dié week goeie nuus gekry. Volgens die jongste bloedtoetse het die hemoglobienvlak nie net opgehou daal nie, maar weer vanself gestyg. Oom Herrie is baie dankbaar teenoor die Here.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Rubrieke

4 Kommentare

Ella ·

Heerlik gelees aan die vertelling en kliphard gelag! So bly oor die goeie nuus! Mag elke nuwe dag nog meer positiewe tyding bring.

humor ·

Herman baie goeie nuus. Sterkte en ons bid regtig saam. Ek glo nie daai storie is volledig waar nie. Ja die naat wat geaan het, maar die stertjie wat aangelas is, is n baie lelike ding.

Johann cb ·

Dankie vir die lekker lag Oom Herrie! Ja, die ding wat kop uitsteek, is lelik maar tog lekker!
Baie geluk met die uitslae – ons bid en glo saam vir volkome herstel. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.