Redakteursbrief: Facebook – soms ʼn monster, dikwels ʼn engel

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Burger Meyer, Maroela Media

Die arme Facebook is deesdae die sondebok vir min of meer alles wat in ons wêreld skeefloop: Kinders wat ongewenste vriende maak, goedgelowiges wat val vir bedrogstories, ʼn kunsmatige, virtuele gemeenskap wat ʼn regte vriendekring vervang, kinders se gebrekkige interpersoonlike verhoudings en kommunikasievaardighede.

Ek sê glad nie sosiale media is onskuldig nie. Die meeste van ons het al die een of ander stel afgetrap met ʼn slenter of storie op sosiale media. Maar wat my die afgelope week opgeval het, is al die goeie goed wat op, en te danke aan, sosialemediaplatforms soos Facebook gebeur.

Sommige joernaliste uit meer tradisionele media-omgewings lig hul wenkbroue vir sogenaamde “Facebook-joernalistiek”. Ek stem saam dat ʼn nuusstorie wat laatnag saamgeflans is uit die gebrekkige feite op iemand se Facebook-profiel en die kommentaar van sy vriende en familie, net omdat die joernalis te lui was om ʼn kontaknommer vir die slagoffer op te spoor, allermins joernalistiek genoem kan word. Maar dat sosiale media ʼn ryk en skynbaar onuitputlike bron is van stories wat andersins by ons én ons lesers sou verbygegaan het, is ʼn feit.

Die afgelope paar weke volg Maroela Media die storie oor Jayvan Janse van Rensburg, ʼn driejarige kankerlyertjie wie se ma R500 000 in 16 dae moes insamel vir ʼn operasie wat sy been sou red. Jayvan se storie is wyd gedeel op sosiale media, en verskeie mense (Maroela-lesers en -joernaliste inkluis) het Jayvan se storie aangestuur na JakarandaFM se gewilde program Good Morning Angels. Woensdagoggend hierdie week het luisteraars die geleentheid gekry om Jayvan se ma te ondersteun, en binne ʼn oggend is R350 000 vir die operasie ingesamel.

ʼn Ander storie wat ons harte warm gemaak het, is dié van ʼn ma van Pretoria wat haar dogtertjie na ʼn hospitaal se ongevalle-afdeling moes neem nadat sy geval het. Die dilemma was dat die dogtertjie se ouers nie ʼn sent gehad het om die mediese rekening te betaal nie. Terwyl hulle probeer planne maak het, het ʼn onbekende weldoener in die hospitaal wat van hul dilemma te hore gekom het, hul volle rekening vereffen. Die dankbare ma het haar tot Maroela Media gewend om die onbekende weldoener te bedank, en haar storie is wyd op sosiale media gedeel. ʼn Paar dae later laat weet die ma ons dat ʼn personeellid by die hospitaal gesorg het dat die dankie-boodskap, wat sy op Facebook gesien het, by die regte persoon uitkom. “Ek bid vir jou ook ʼn onvoorsiene wonderwerk toe,” was die dankbare ma se woorde.

Die Binnelanders-ster Pascal Pienaar het haar onlangs tot sosiale media gewend om steun te kry vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) landwyd. In die selfie-foto wat sy op Facebook geplaas het, staan sy graaf in die hand in haar “vuilwordklere” voor die DBV se hondehokke, gereed om te begin werk, en nooi mense om by haar aan te sluit. Boodskappe van ondersteuning en mense wat hulp aanbied, het behoorlik ingestroom.

Internasionaal is daar baie sulke stories. ʼn Week of wat gelede het ons berig oor ʼn Chinese tweeling wat by geboorte geskei is, en ná meer as 60 jaar te danke aan Facebook met mekaar herenig is.

Soms span ons sosiale media in om sommer net mense se harte warm te maak. Die bekende Afrikaanse sanger Gerhard Steyn het onlangs op Facebook aangekondig dat hul babadogtertjie, Zardi, gebore is. Zardi is op 33 weke gebore, en die ouerpaar het drie weke gewag voor hulle die aankondiging gemaak het. Die storie wat Maroela Media oor hul aankondiging gedoen het, met ʼn pragtige foto van baba Zardi en haar trotse pappa, is derduisende kere gelees en gedeel.

Facebook speel soms selfs speurder. Drie weke gelede berig ons oor puik speurwerk van beamptes van die Wierdabrug-polisiestasie in Centurion berig wat ʼn gesteelde bromponie opgespoor het, deels te danke aan Facebook. Die wettige eienaar van die bromponie het op sosiale media vertel hoe die “koper” kamstig met die bromponie gery het om dit vir haar pa te gaan wys, en toe nooit teruggekeer het met die geld nie. Haar storie is wyd gedeel, en met wenke van die publiek en knap speurwerk is die bromponiedief én die bromponie opgespoor.

Soms (maar net soms) bly iets ʼn raaisel, ten spyte daarvan dat sosiale media van ons ʼn piepklein wêreldgemeenskappie gemaak het. Vroeg in Mei het ʼn vrou ʼn foto op Facebook gedeel van ʼn pragtige diamantring wat haar man in die modder langs hul huis naby die Hole in the Wall aan die Wildekus opgetel het. Sy het die eienaar van die ring gevra om haar te kontak. Na wat verneem word, is die eienaar egter nooit opgespoor nie.

En as ons en ons lesers self betrokke is by so ʼn goedvoel-sosialemediastorie, is dit ekstra lekker. Op 3 Mei vanjaar doen ons ʼn storie oor Monique van Zyl van Vereeniging, wie se kleuterdogtertjie Winique deur ʼn onbekende “engel” van verstikking gered is. Monique was in die verkeer met haar dogtertjie toe Winique aan ʼn lekker begin stik. Monique het gestop en hulp probeer kry, maar niemand wou stilhou nie. Skielik het ʼn wildvreemdeling na haar toe gehardloop, vir Winique gegryp en iets gedoen wat die lekker in haar keel laat afglip het. Monique was so oorbluf dat sy nie eers daaraan gedink het om die man se inligting te vra nie. Eers ná die tyd het sy op sosiale media en met Maroela Media se berig oor die voorval vir mense gevra om haar te kontak indien hulle die man ken wat haar dogtertjie gered het. ʼn Omroeper by die Vaal-gemeenskapsradiostasie 90.6 FM het na Maroela Media se berig verwys, “toevallig” toe Manie Blignaut, die held, besig was om na dié stasie te luister. Hy het via Maroela Media met Monique kontak gemaak en sy kon behóórlik dankie sê – nie deur sosiale media nie, maar van aangesig tot aangesig.

Miskien is Facebook maar soos baie ander dinge in die lewe: Dis nie vanself sleg nie, dit hang af hoe ons dit gebruik.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fanie ·

Baie dankie vir die oulike artikel.
Dit is ‘n “bly-maak” artikel – wat ons almal nodig het.

Annette Meyer ·

Ek is geskok oor die advertensie van die “handgemaakte kettie”, waarmee ‘n “lastige kleinsussie” “reggesien” kan word. Watter onnosele mens dink so-iets uit? Moet die boetie sy sussie se oog uitskiet met die kettie, of haar net ‘n lelike kneusing toedien met ‘n klip?

Chris ·

Facebook is die mees persoonlikste netwerk wat bestaan. Elke mens ken jou en jou familie. Jou vriende. Wat jy dink en doen. Dit is niks anders as n gespog oor my. Ek. N soort van “kyk wat bereik ek in die lewe”. My lekker vakansie, my mooi begaafde kinders. Pragtige huis ens.

Daan ·

Ek dink as mens mooi Face Book ontleed gaan jy agterkom daar is meer negatief as positief. Die doel van stigting was goed en onskuldig, maar die misbruik ken geen perke nie. Daarby kan dit ‘n baie duur ding word, R4000.00 tot R5000.00 data rekening is nie uitsonderlik nie.

Skinder stories en vals berigte maak my bang, maar, Ja, soos in die artikel is daar ook baie mooi stories, wat sekerlik die doen van Facebook aanvangklik was.

Eliza-beth ·

Daan jy is SO reg. Die goeie goed is die minderheid en ek stel geensins belang om ooit in of met sosiale media soos dit betrokke te raak nie. My persoonlik lewe is presies net dit – persoonlik. Mens kan sekerlik op ander maniere as fb ook uitvind oor hulp wat nodig is vir een of ander saak of persoon (ekself doen dit dmv Maroela), want wat my betref is fb en Twitter en al daardie goed ‘n onding en net ‘n manier wat meeste mense misbruik om ander sleg te sê of lelike dinge dinge te sê ens. En hoevele mense het nie al in die sop beland agv sosiale media nie! Slegs vir sommige besighede of so is dit ‘n “tool” om te gebruik om hul produk bekend te stel of mense van dinge te vertel, maar wat het ons voor dit gebruik? Hoe is mense en instansies voorheen gehelp? Dmv die pers of “word of mouth” – so ek is totaal en al teen dit en sal of wil dit nooit gebruik nie. As ek wil hê iemand moet iets van of oor my weet sal ek dit sommer self vir hul sê en nie op fb verkondig vir al wat leef en beef en asemhaal nie. En moenie sê o jy kan mos mense blokkeer nie; die punt is hulle kan steeds vieslike onwaarhede oor jou verkondig en die wet is so swak dat mense wegkom met baie dinge in heirdie opset.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.