Redakteursbrief: Maroela Media, drie jaar later: “Hier bly drake”

Argieffoto

Argieffoto

Ons het vandeesweek Maroela Media se derde verjaardag gevier.

Toe ons drie jaar gelede Maroela Media se digitale deure oopgemaak het met ʼn gesprek oor protesmusiek waaraan onder meer Steve Hofmeyr en Deon Opperman deelgeneem het, het ek nooit kon dink dat dié inisiatief so vinnig so groot sou word nie. Ons het natuurlik groot drome gedroom, maar min het ons geweet hoe die media-omgewing in die volgende drie jaar ryp sal word vir ʼn alternatiewe mediaplatform. Ek onthou hoe ek, na afloop van die bekendstellingsfunksie, plat op die vloer van die restaurant gesit het en stom en verdwaas (en totaal uitgeput van die voorafgaande drie maande se werk) geluister het hoe my foon elke paar sekondes piep wanneer ʼn nuwe “like” op Maroela Media se Facebook-blad bykom.

Ons het in die eerste maand 7 000 besoeke op die webwerf gehad.

In die afgelope maand, Julie 2014, het Maroela Media 872 500 besoeke gehad, en meer as 2.5 miljoen bladsye is deur ons lesers gelees (Google Analytics).

Ek reken dis nogal iets om op trots te wees.

Ons het drie jaar gelede ʼn baie duidelike prentjie gehad van wie en wat Maroela sou wees: ʼn Afrikaanse kuierplek, met lekker ligte inligting en vermaak vir ʼn Afrikaanse gehoor op die internet. Nie nuus nie, nee. Ons sou fokus op stadige nuus: die nuus ágter die nuus, nuuskommentaar en gesprekke oor die nuus.

Dit het egter gou duidelik geword dat ons Afrikaanssprekende gehoor op soek was na ʼn nuwe plek waar hulle hul nuus kan lees, veral digitaal. Hoe meer die lesers op ons nuusafdeling geword het, hoe meer kapasiteit het ons in die genereer van nuus ingestoot, tot op ʼn punt waar die nuus die middelpunt van Maroela se webwerf én die span se funksionering is. Amper soos ons Afrikaanssprekendes se braaivleisvuur. Wat ons daarmee saam drink, en watter slaai die tannies opdis, en watter kleur die servette is, is bysaak – solank daar vleis is.

Maar net soos baie dinge verander het sedert ons drie jaar terug op die mediatoneel verskyn het, het baie dinge by Maroela Media dieselfde gebly.

Ons beskou onsself steeds heel eerste as ʼn Afrikaanse kuierplek op die internet. Mense verlang terug na die dae toe hulle op Sondagmiddae ongenooid by die bure kon opdaag vir tee, en toe die kinders oor die straat kon hol om by die bure se kinders te gaan speel, of bendehuise in die veld kon maak. Dis iets wat waarskynlik nooit weer in Suid-Afrika gaan moontlik wees nie. Maar op ʼn ander manier kuier onse mense nou weer lekker saam. Op Maroela kan hulle resepte deel, saam oor die rugby bespiegel en lekker kwaad word vir mekaar.

As ek een element van Maroela Media moet uitsonder wat die grootste bydrae tot ons sukses van die afgelope drie jaar gehad het, is dit waarskynlik die span agter die skerms. Nou kyk: as daar nou een bedryf is waar daar tans groot onsekerheid heers, is dit die mediabedryf. Die skuif van gedrukte na digitale media gee ooms oral grys hare, en vir die (enkeles) van ons wat uit die staanspoor ʼn digitale platform was, is ʼn volhoubare besigheidsmodel en ʼn klomp ander goed ʼn groot uitdaging. As ʼn geleentheid oor ons pad kom, moet ons dit aangryp. As ʼn adverteerder môre sy Engelse advertensie in pragtige kreatiewe Afrikaans op ons tuisblad wil hê, moet ons inspring en help vertaal. As ʼn kameelperd wat agterop ʼn vragmotor ry sy kop teen ʼn brug stamp, moet ons sorg dat ons eerste die foto én die storie in die hande kry – of dit nou Kersdag of jou oumagrootjie se verjaardag is. As daar nuwe neigings in die web- en digitale omgewing is, moet ons seker maak ons implementeer dit so vinnig en sinvol as moontlik.

Die Maroela-span wat hierdie uitdagings hanteer, is ʼn spesie op hul eie. Hulle kan selde vooruit beplan – dit maak gewoon nie sin nie. Hulle moet iets van alles kan doen. Net as hulle gewoond is aan een manier van doen, verander dit. Hulle moenie bang wees vir verandering nie. Hulle moet heeltyd op hul selfone, tablette en rekenaars wees om op hoogte te bly. Hulle moet áltyd beskikbaar wees. Hulle weet nooit presies wat môre gaan gebeur nie, en daaroor moet hulle opgewonde wees. Hulle moet floreer op krisisse en op hul beste presteer onder druk. Hulle mag nooit hul sin vir humor verloor nie, want dis dikwels hul behoud. Ek is geseënd om so ʼn span te hê.

Wat lê voor? Ons weet nie. Dit voel elke dag of ons maar ongekarteerde waters binnevaar, en soos die ontdekkingsreisigers van ouds ons roetekaart wil merk met “Here be dragons”, oral waar detail ontbreek. Dat ons egter dit wat ons nou doen, gaan aanhou doen, net meer en beter, is beslis so.

By ʼn kongres oor die toekoms van media en die advertensiewese in Suid-Afrika wat ek vroeër die week bygewoon het, sê prof. Anton Harber van Wits die volgende: “In this climate, leadership is about leading your team to embrace uncertainty, unpredictability, failure and lack of control. The people who thrive in this atmosphere are those who say, I love the lack of control, the flux, the experiments, the uncertainty.”

In dié atmosfeer sal Maroela Media die drake verslaan.

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Grobbie ·

Baie geluk Maroela! Dit was die beste ding wat met my gebeur het toe ek Mareola ontdek het. Ek geniet elke oomblik wat ek hier kan kuier.

Theresa Papenfus ·

Baie geluk! Maroela Media het regtig ‘n sinvolle én lekker kuierplek geword. Ek haal my hoed af vir jou, Susan! Doen asseblief so voort.

Wilma Venter ·

Baie geluk weereens met jul 3de Verjaardag. Ekt al heerlik met Esté gesels in die ateljee oor PROJEK KOMBERSIE (Op Facebook) en het VERSKRIKLIK baie terugvoer gekry nadat die program uitgesaai was van die publiek wat deel wou hê aan die Projek…baie dankie daarvoor. Ek bid julle Jesus se sëenwense toe.

Malinda du Randt ·

Shalom Susan. Baie seen word julle toegewens. ek is baie bly dat ek jul ontdek het. ek hou van jul verskeidenheid en die feit dat ek kan kies wat om vinnig te lees. ek hou van jul taaltoffie. ek tuisskool my dogter en my gunsteling vak op skool was Afrikaans. nou kan ek haar aan al ons Pragtige woorde bekendstel. Dan hou ek ook van jul gereelde video van iets mooi of interessant. daar is soveel lelik daarbuite maar net soveel mooi. Dit hang van jou fokus af.
Nog n pluimpie – ek kon n engelse vriendin aan jul bekendstel nadat sy gekla het sy gaan nou die bietjie Afrikaans wat sy by my geleer het verloor nou dat hul na Engeland emigreer!
Dankie. Doet so voort.

Elizabeth ·

Beste Susan, Hoop jy sien hierdie raak! Nie tyd om te soek waar ek kan e-pos, maar ek wil jul tog net herinner, sover ek weet is 14 Aug Afrikaanse Taal Dag. Maak tog bietjie iets groots en lekkers daarvan daardie dag?! Wat van sommer ‘n paar mooi ou gedigte as ‘n lekker ekstratjie – soos mooiste Winternag van Eugene Marais (siende dit nog koud is!) ag en Np Van Wyk Louw en, en, en… en sommer allerhande lekkerlees dinge so tussen al die berigte van “doom” en “gloom” wat ongelukkig elke dag gebeur en geplaas moet word. Wil so graag hê mense moet daardie dag sommer elk 50 Afrikaanse boeke koop of iets anders wonderliks vir ons mooie taal doen! Ek groet en hoop die kom by jul uit siende hierdie al eintlik ‘n ouerige brief is. Groete

Susan Lombaard ·

Beste Elizabeth, baie dankie vir jou boodskap! Ons sal beslis op 14 Augustus iets spesiaals doen om ons mooie moedertaal te vier. Ons sal op Maroela Media se webwerf ‘n paar spesiale goed doen, maar sal ook op ons Facebook-blad ‘n bietjie ekstra lekker Afrikaanse dinge doen en weggee. Dankie vir die voorstel! Groetnis, Susan Lombaard

Elizabeth ·

Susan,
Bly jy het my boodskap gesien en nog blyer jul gaan iets doen. Ek is (uit eie keuse en omdat ek my privaatheid absoluut koester) nie op facebook, maar ek glo en hoop jul sal vir ons “ander” dan op die webwerf “sorg”! Dankie!

Petro Bezuidenhout ·

Ons is trots op hierdie mylpaal wat julle bereik het.Van harte geluk!Ons is opgewonde oor julle inisiatiewe om Afrikaans so tongklaplekker oor die eter te laat rol.Die span wat jy dirigeer ,Susan, dwing ons bewondering af.Die produk op my rekenaar is eietyds en julle span die nuutste tegnologie in,maar julle laat my hart warm klop wanneer julle ‘n hoë premie plaas op die eg-Afrikaanse kultuurgoedere wat ons koester en wil bewaar. Mag julle daagliks entoesiasties die uitdagings met volharding aanpak.

Danie ·

Hou so aan Maroela.Rome is nie in n dag gebou nie.Ek dink iets wat in Maroela Media se guns tel is dat dit deel is van n ware volksbeweging,Maroela is immers deel van die Solidariteit beweging.Soos wat meer en meer mense deel word van Solidariteit,so sal meer en meer mense bewus word van Maroela en sal Maroela net van krag tot krag gaan.

Thys Human ·

Donderdag 21 Aug.

Ek sien pas Naspers kondig met groot basuin aan dat hulle binnekort ‘n enkele webblad vir al hulle Afrikaanse media aanbied – en dit gaan jou slegs R99 per maand kos om toegang tot die webwerf te verkry!

Ek vermoed dat Maroela se leserstal sommer kwaai gaan spring!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.