Redakteursbrief: “Vals nuus” en ons belofte aan jou

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Susan Lombaard, uitvoerende hoof en redakteur van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Januarie voel net so dol en chaoties soos November verlede jaar, sê ʼn kollega nou die dag vir my.

ʼn Paar dae later sit hy weer in my kantoor, ʼn bietjie moedeloos. “Ek wens dit was weer so rustig soos November,” sê hy.

Kyk, die land sit nie stil wat nuus en vermaak betref in 2017 nie. Ook nie die wêreld nie. Daar is meer as genoeg om oor te skryf. As ons ons joernalistieke kapasiteit sou kon verdubbel, sou ons steeds die hele span voltyds – en daarmee sluit ek na-ure en naweke in – kon besig hou. Om te kies wat is nuuswaardig en hoe breedvoerig ons oor goed moet berig, raak al moeiliker.

Om met integriteit hierdie keuses te maak, is selfs moeiliker. “Die media” is deesdae self al te dikwels in die nuus, oor hul nuus. Wat is vals, en wat nie? Hoe onderskei jy tussen satiriese  webwerwe, vals nuus, verskuilde agendas en joernaliste se persoonlike of subjektiewe menings? En kan ʼn mens regtig subjektief wees? Skryf jy wat jy wil skryf; wat jy dink jou lesers moet weet; of wat jy weet jy moet skryf, al dink nie jy of jou lesers so nie?

Ons lag wel ʼn bietjie (met ʼn histeriese ondertoon) en skink nog ʼn beker koffie wanneer ons deur ander mediabronne beskuldig word van allerlei verskuilde agendas en betrokkenheid by samesweringsteorieë. Vir sulke duistere aktiwiteite is ons bloot te besig, dankie.

Gepraat van besig: Dis vyf en ‘n raps jaar later, en hier by Maroela Media noem ons ons self deesdae enigiets van ‘n nuuswebwerf tot ‘n digitale kuierplek tot ‘n internetnuustydskrif. Laat in 2016 het ons groei ʼn stewige hupstoot gekry wat ons in die eerste plek van alle Afrikaanse nuuswebwerwe geposisioneer het. (As jy wonder: Ons en ander webwerwe word gemeet deur Effective Measure, ʼn maatskappy wat marknavorsing doen en webwerwe se syfers reguleer en oudit, sodat almal oor dieselfde onafhanklike kam geskeer word.) Volgens Effective Measure het Maroela Media in Januarie vanjaar 1 351 755 unieke besoekers gehad (unieke besoekers verwys daarna dat ons elke leser net een keer tel, ongeag hoeveel keer en van hoeveel toestelle af hy Maroela Media besoek; dis dus 1.3 miljoen individue wat kom saamkuier het). Die aantal besoeke wat hierdie lesers verteenwoordig, is 4.9 miljoen; dié mense het almal saam 11.8 miljoen stories op Maroela gelees – net in Januarie.

Dis baie.

Een van die vrae wat die meeste gevra word, is hoe Maroela Media finansieel oorleef as ons nie lesers ʼn intekenfooi vra nie.

Dis ʼn goeie vraag. Ons verkoop advertensiespasie, maar dis nie naastenby genoeg om die reuse masjien se wiele aan die rol te hou nie. Ons het ook ʼn klompie ander besigheidsinisiatiewe aan die gang wat help om die joernaliste se koffie-begroting te laat klop, en ondersoek deurlopend nuwe moontlikhede. Ons het lank al tot die besef gekom dat ons nooit sal kan dink ons gaan uit media genoeg van ʼn inkomste genereer om Maroela as mediahuis winsgewend te bedryf nie; net soos McDonalds nie sy grootste inkomste uit die verkoop van hamburgers maak nie.

Dit daar gelaat (wees gerus – jou gratis nuus is veilig). Wat belangriker is, is om te vra: Hoekom hou ons hierdie Maroela-monster aan die gang?

Want met ʼn lesersgroei van 30% oor die afgelope jaar en 9 000% oor vyf jaar weet ons ons het iets beet. Afrikaanse mense soek wat ons bied: Eerlike nuus; stories met ʼn hart; ʼn gemeenskap waarvan hulle kan deel voel en waar hulle kan lees oor die goed wat vir hulle saak maak. Met byna elke storie wat ons publiseer, is ons in staat om ʼn opvolgstorie te publiseer bloot uit ekstra inligting wat ons van ons lesers in reaksie op die oorspronklike storie ontvang. Maroela het werklik ʼn gemeenskapsmedium geword. Dis jóú nuusplatform, waar ons skryf oor die goed wat met jou gebeur, en waar ons luister as jy nie van ons spotprent hou nie of as jy kla oor iemand anders lelik praat. Ons en jy is saam in hierdie ding, anders sou ons lankal ophou groei het.

So solank jy Maroela lees, en jou vrinne van ons vertel, en nou en dan in ons virtuele sitkamer kom saamkuier en saam huil en kwaad word en weer goed word, en ons vir mekaar askies kan sê en mekaar kan vergewe omdat ons weet ons het mekaar nodig, sal ons daar wees. Elke oggend, middag, en aand, gratis, met jou nuutste nuus en ʼn klomp ander lekkertes daarmee saam. Ons sal planne maak om te sorg dat dit gebeur – dis ons belofte aan jou.

Mag jy ʼn wonderlike 2017 beleef, en mag jy saam met ons groei.

Groetnis

Susan Lombaard

Redakteur: Maroela Media

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

Magaretha ·

Baie dankie vir Maroela. Ons woon al jare in England en die lees van Maroela elke dag, maak die verlange stil en ons voel steeds deel van die mense in SA. Ons waardeer die nuus.
Magaretha en Paul

Tina du Toit ·

Baie dankie vir jou mooi briefie Susan. Moet sê, my gevreetjie wys ook op Maroela nuus.,, Dankie aan almal by Maroela wat dit moontlik maak vir ons om gratis nuus te lees. Ek dink julle doen puik werk , al is dit soms moeilik. Ek deel altyd die nuus met my pa, want hy het nie internet toegang nie, en geniet om in die oggend eers gou Maroela toe te blaai.
Baie sterkte vir die toekoms

Hannelie Horn ·

Baie dankie Maroela Media. Ek kan nie my dag ingaan sonder jou nie !!! Vars nuus net met ‘ n druk van ‘n knoppie. Baie dankie Susan dat ons gratis aan ons nuus kan lees elke dag enige tyd. Sterkte met die toekoms en mag ons nog lank lekker saamlees.

Phillip ·

Baie dankie.
Ek lees graag al die nuus….
Goeie werk!
Hou so aan.

Tonie ·

Baie dankie, Susan. Dit is regtig baie lekker om eie oggend maroela media oop te maak, en dit te geniet. Baie dankie vir julle harde werk in die Afrikaanse gemeenskap. Ek dink nie mense verstaan altyd die goeie werk wat julle doen nie. Dankie ook dat die advertensie nie die skerm oor neem nie, soos sekere ander nuus webblaaie, N3ws2$

Basson ·

Baie dankie, goed om te hoor!
Dis ‘n noodsaaklike platform, en baie waardevol!

Chris Ws ·

Ek lees net Maroela Media koerant.NIKS anders nie want die res van die media koerante in ons land beskou ek as ‘n pot snot.Plat Afrikaans!Hulle is erg bevooroordeeld en versprei net snert.
Dankie Maroela Media vir ‘n puik nuusbron.Julle is tops!

Anton ·

…ek het Maroela begin lees nadat ek jul koerantkommentaar op die GrootOntbyt gesien en volg het…mis dit vir niks indie oggend…

Anel ·

Ek beskou julle nuus as geloofwaardig. Ek voel nie altyd dieselfde oor ander nuusgewers nie. Dankie vir die goeie werk. Het al tot my tegnologies gestremde Pa sover gekry om Maroela te volg.

Francis Linstrom ·

Baie dankie Maroela. Ons kry nie koerante op die plase ver van die dorpe nie en julle vul n groot leemte.

Susan ·

So dankbaar vir gratis Maroela Media en jul geloofwaardig berigte!! Netwerk 24 se inskrywingsfooi is nie die geld werd nie! Daar was ʼn WA nommer vir kort nuusbrokkies wat ek verloor het, bestaan dit nog?

Christa ·

Drie hoera’s vir Maroela!!! Mag julle meer en meer groei!!!

sharon ·

Dankie Susan… wardeer jul harde werk virons om lekr waarde vir AFRIKAANS te kan lees!! .. jul span is opreg en nie vals nie..

Pietman ·

Gratis nuus of betaalde propaganda? Dis maklik. Dankie Maroela

Marie vd Berg ·

Dankie Maroela! Hou so aan. Nuusdekking is waardevol en nodig. Wens julle alle sterkte toe! Groete.

Pietman ·

Moet as asb nie kommentare sluit nie, anders soek ek maar ‘n ander webblad waar vryheid van spraak geld, al is dit in engels.

Pietser ·

Maroela het ‘n konserwatiewe uitkyk op gebeurlikhede maar ons lees maar in elk geval want wat is daar nou anders in Afrikaans. Die kommentare van die verregse element met hul pro-apartheid menings is nogal oulik en amusant.

Santie ·

Aggenee Pietser, jy kan sakke vol erg liberale en anti-konserwatiewe Afrikaanse nuus elders kry. Weet nie van pro-ANC nie, maar liberaal beslis. Dis wat so interessant is van die liberale Afrikaners, hulle vind dit heel normaal om anti-alles te wees en pro-niks.

Genootskap van Ou Afrikaner Varkerasies ·

Na ons mening behoort die media en opposisiepartye alle staatstendervergaderings by te woon. Daar is ook baie ruimte vir ondersoekende joernalistiek na magsmisbruik en korrupsie. Streef altyd na die waarheid, geregtigheid en skoon humor en die lesergetalle sal styg. En elke SA burger kan met sy slimfoon en Internetverbinding ‘n wêreldwye ambassadeur en joernalis vir ‘n beter SA wees. Sterte, voorwaards en opwaards!

KM ·

Baie dankie vir jul GRATIS nuus! Maroela is nou my hoof- nuusbron al het ek vier jaar by Media24 gewerk. Ek betaal nie R99 per maand vir propaganda nie, ek is baie jammer. Baie dankie Maroela Media!

Pietser ·

Die propaganda is nou verniet, toekoms sal leer of dit beter of gevaarliker gaan wees.

humor ·

Ek is reeds by aftreeouderdom verby, woon op n heerlike klein dorpie. My dierbares kinders ens baie ver van my en ook so doof dat groepsgeselsskap baie moeilik is. Dus is Maroela vir my n baie spesiale geselsskap. Dankie vir jul sobere joeralistieke , konserwatiewe en Afrikaner – benadering. Ek vind hierin egtheid en eerlikheid.

Rln ·

Baie Dankie, hier in NZ weet ek baie keer voor van my familie van sommige nuus.
Ek is so dankbaar om darem iets gratis te kan kry.

popeye ·

Nee…dit NIE daar gelaat nie, hoe klop julke die koffie rekening van jul joernaliste? Baie vaag! Is dit hoe ons nuus kan verwag? Vaag? Omdat jul joernaliste ‘n 9-5 joppie elders het en terloops berig lewer? Komaan vertel ons reguit!!

Hennie Visser ·

Ek moet beaam dat Maroela Media n uitstekende bron van nuus is vir my. Ek het so honger gehaad om net n eerlike nuusbron te kry wat nie beheer word deur politiek en polietise korektheid nie. Dit is nou voor dat ek op Maroela af gekom het. Ek werk in die midde ooste en wardeer elke dag se nuus geskryf uit n eerlike oogpunt uit oor wat saak maak in Suid Afrika en wereld. Puik span, hou aseblief vol daarmee.

Uitklop-hou ·

Ek het sommer geweet julle het iets briljant hier beet met die uitklop-houe tussen ons eie Steve H en Paul Kruger in julle aanvanklike bemarking. Die energie en passie vir wat julle doen is tasbaar. Baie dankie vir puik beriggewing. Ek sien elke dag daarna uit om julle raak te lees.

sproetjies ·

Dankie Susan, Maroela is ‘n puik koerant. Bou so voort. Julle maak ons TROTS.

Bert ·

Sterkte Maroela. Ek lees Beeld en Rapport van my kinderdae in die 80’s maar het ‘n week gelede my subskripsies gestaak. Ek kan eenvoudig nie meer sulke eensydige beriggewing hanteer nie. Sou nie omgee om daardie geld net so aan julle oor te betaal nie. Brei asb jul aanbieding uit want ek gaan van nou af op julle staatmaak vir my nuus in Afrikaans.

Jan ·

NET JAMMER ONS MOET DIE HARDE BERIGTE OOR ADV GERRIE NEL, EN EK PRAAT SPESIFIEK OOR DIE VRAE OOR OF JULLE MAG AANKLA EN DAT HY BEDUIE HET HY SAL DIT GRONDWETHOF TOE VAT. HY IS IN AFRIFORUM SE DIENS, MAAR ONS MOET DIT OP NEWERK24 GAAN LEES, WANT JULLE DRA MOS NIE HARDE NUUS NIE, AL GAAN DIT OOR JUL EIE MENSE. SO IS DAAR OOK ANDER BERIGTE, MAAR DIE MENSE HIER BO IS TE GEWILLIG OM NET HANDE TE KLAP. MENS KAN OOK NIE NET HEELDAG ‘N LEKKER KUIERPLEK WEES EN PIEKNIEK HOU NIE.

Chris ·

Net jammer jul het die funksie om die nuus te klik en aan te stuur gestaak.

Johann ·

Nee nie vals nuus nie, daar is net ‘n sekere kant wat voorgehou word, mens noem dit manipulasie.

Gjorg ·

Gelyk nuus? Gewoonlik ja….behalwe as dit met Trump te doen het. Ek stem saam Trump het sy goeie eienskappe maar deur vir julle blind te hou aan sy honderde tekortkominge maak julle julle skuldig aan media manupilasie? Wat van julle plaas bietjie ‘n artikel oor al die tientalle Keresley wat Trump sy naam vergat het, of die tientalle kere waar hou nou optree in teenstelling met wat hy tydens sy verkiesingsveldtog gesê het, of die tientalle kere wat hy vrouens al beledig het…..ag ek kan aanhou en aanhou maar hy is die grootste held in Maroela Media se oë. Al wat ek vra is neutrale beriggewing, asb. Moenie vir ons sê hoe ons moet dink nie, lewer verslag en laat ons dan self besluit.

Therese van Schalkwyk ·

Gjorg

Die wêreld wemel behoorlik van anti-Trump inhoud: waar, onwaar, skandes uit sy verlede en voorspooksels oor wat nog gáán gebeur. Jy kan kies en keur na hartelus!

Op Maroela gee dr. Leopold Scholtz ook gereeld ‘n ingeligte, gebalanseerde siening van sake. So, gun ons groot asseblief die mening van joernaliste wat nie daarop uit is om slegs negatief oor die President van die VSA te berig nie.
(Verwys Netwerk24)

Baie dankie aan Maroela vir die lekker, gratis lees en dat julle ons almal se menings duld. Hoe krom en skeef ook al!

Gjorg ·

Gelyke neutrale nuus behalwe as dit met Trump te doen het. Dis duidelik Maroela media het besluit om Trump te ondersteun en glad nie aandag te skenk aan sy tientalle tekortkominge nie. Al wat ek vra is Gelyke beriggewing asb. Moenie vir ons voorsê hoe om te dink nie. Lewer verslag en laat ons dan self besluit.

Justice ·

Maroela indien julle net kan weet hoe ‘n belangrike kommunikasie rol julle speel in iemand se lewe wat alleen op ‘n groot wildsplaas bly ver in die afgelee bosveld – baie dankie. Ek kyk nie graag TV nie omdat my dag te kort is en julle so ver soos my selfoon of rekenaar met die nuutste nuus en goeie beriggewing is. Ek geniet ook die lesers se skerp kommentaar en sienswyses terdee. Julle altyd beleefde antwoorde op somtyds sarkastiese kommentaar is vir my verstommend en ek het groot respek daarvoor – julle doen ‘n groot eer aan die joernalistieke beroep in alle aspekte. Doen so voort!

Gerda Albasini ·

Baie dankie vir Maroela!!! Mag julle geseende wees met wat julle doen

Mariana ·

Wat ek die meeste geniet is dat Maroela Media altyd vinnig is met nuwe vars nuus, teen die tyd wat die Radio Nuus uitgesaai word, het ek dit reeds op Maroela gelees. Baie dankie vir julle harde werk om te sorg dat ons eerstehands al die nuus kry, en nogal gratis ook, wat n groot voorreg. Maroela Media….duisende dankies!

Henry ·

Solank kommentare wat wel aan julle voorwaardes voldoen, maar oënskynlik nie aan die lukrake oordele van julle spietkoppe/spietkoppinne voldoen en dus nie geplaas word nie, is die kommentaargedeelte – veral by nuusberigte – ‘n oefening in futiliteit.
Verwyder die kommentaar funksie. Eezy peezy.
Dit kan meer ruimte en geleentheid laat vir wyer dekking en om meer volledige nuusberigte te plaas wat almiskie kwantitatief en kwalitatief van groter nut van julle nuusfunksie mag wees.
Wonder dikwels of die bestaan van ‘n kommentaar/kommintaar gedeelte van meer belang vir ‘n beduidende deel van julle lesersvee is, as die inhoud van julle berigte en meningstukke. Wil julle dit nie op die proef stel nie?
:-)

Hennie Blom ·

Maroela, ek waardeer die harde werk en moeite wat julle insit met elke berig wat gepubliseer word, die kwaliteit van die artikels en professionele manier waarmee julle te werk gaan met kommentaar, maak die besluit maklik wie om te volg en te lees wanneer dit by aanlyn beriggewing kom!

NS. Is Susan nie n Redaktrise nie? ;)

Lena Jonk ·

Ek is ook n gereelde leser van Maroela media, lees dit al vir n paar jaar. Ons bly in New Zealand en het die koerant al aan baie van ons vriende hier bekend gestel wie dit nou ook gereeld lees. Baie lesers se menings verskil, dis mos maar mens.
Daar was op n stadium net negatiewe nuus oor Donald Trump, moet se laaste paar was beter. Mense wil maklik vinger wys na hom wat onwaar is, hy was ook jonk maar dat hy baie vir jong mense, kinders en behoeftige mense gedoen het word nie van gepraat nie. Mense sal op hul rug val as hul al die nuus oor Obama en Hillary sien. Ongelukkig gebruik die ander koerante net CNN se nuus, baie dankie Maroela Media dat julle bietjie verder as dit sien.
Ek wens julle BAIE voorspoed en Seenwense toe, lief julle koerant asook hardwekende personeel daar. Ons hier sal ALTYD VIR S.A. BID

Bernice ·

Nadat een van die land se gewildste koerante al hoe minder in Afrikaans berig het ek na Maroela gedraai en ek is nie een keer spyt nie. Dit is waar dat false nuus orals is en ons vertrou die Maroela Media groep. Dankie dat julle nuus gratis is vir almal en as ons kan bydrae maak – sal ons dit doen.

Julle is al so gewild dat ek my mede vriende en vriendinne oorsee , aanbeveel om hier in Afrikaans te kom lees.

Landie ·

Ek let elke dag op dat vandag se Maroela nuus more op Beeld se Koetant hooftrekke langs die pad, oppad werk toe is. Dankie vir die puik diens wat julle- gratis- verskaf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.