Direkte bemarking en jou regte

woman-1209855_1920Die koms van selfone het verbruikers toegang gegee tot kommunikasie en inligting wat hulle andersins nooit sou gehad het nie, maar daardie selfde stukkie tegnologie wat jy in jou hand hou, gee ook maatskappye toegang tot jou en jou geld. Direkte bemarking is ʼn groot bedryf en daarom is dit belangrik dat dit gereguleer word. Ina Opperman verduidelik wat verbruikers se regte oor direkte bemarking is in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Volgens die definisie van direkte bemarking in die Wet op Verbruikersbeskerming is dit die proses wanneer iemand jou kontak om direk of indirek iets te koop of geld te skenk. Die direkte bemarking moet dus van die onderneming of ander persoon, wat jou kontak, af kom. Wanneer jy op ʼn advertensie reageer of iemand help jou in ʼn winkel, is dit nie direkte bemarking nie.

Direkte bemarking is kortliks mense wat jou bel op jou landlyn of selfoon en vir jou teksboodskappe, e-posse of briewe en fakse stuur om goedere of dienste aan te bied of vir skenkings te vra.

Wet op Verbruikersbeskerming

Verbruikers se reg op privaatheid en hul reg tot keuse in terme van direkte bemarking word deur die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm. Artikels 11 en 16 en regulasie 4 en 12 van die Wet bepaal duidelik wanneer verbruikers gekontak mag word, wat verbruikers kan doen om ongewenste direkte bemarking te stop en dat verbruikers wat wel omgepraat word om iets te koop, ʼn afkoelperiode kry.

Jou reg om direkte bemarking te beperk

As deel van die beskerming van die verbruiker se reg op privaatheid, gee artikel 11 van die Wet verbruikers die reg om ongewenste direkte bemarking te beperk. Jy kan weier om direkte bemarking te aanvaar, eis dat die maatskappy ophou om jou te kontak en ook direkte bemarking blokkeer.

Direkte bemarkers, wat bemarkingsboodskappe na jou selfoon stuur, vra gewoonlik dat jy ʼn teksboodskap terugstuur wat lui “stop” sodat hulle jou naam van hul lys kan verwyder. Jy kan ook eis dat die maatskappy op skrif onderneem om nie meer met jou te kommunikeer nie, maar direkte bemarkers wat boodskappe na jou selfoon stuur, bevestig gewoonlik nie dat hulle sal ophou om jou te pla nie.

Direkte bemarkers se pligte

Artikel 11 bepaal ook iemand wat direkte bemarking magtig, beheer of uitvoer, moet gepaste prosedures implementeer om dit makliker te maak vir jou om te eis dat hulle ophou om jou te kontak en daarna mag hulle nie met jou kommunikeer nie. Direkte bemarkers mag jou ook nie laat betaal om kommunikasie te staak nie.

 “Geen kontak”-register

Die Wet maak voorsiening vir ʼn “Geen kontak”-register waar verbruikers met hul identiteitsnommers, adres of alle besonderhede kan registreer as hulle nie deur direkte bemarkers gekontak wil word nie. Volgens die Wet moet die blok binne 25 dae nadat jy geregistreer het, aktief wees.

Ondernemings moet dan, tensy hulle kan bewys dat jy ingestem het tot die direkte bemarking, aanneem dat alle ander verbruikers wel geregistreer het om direkte bemarking te keer, tensy hulle bevestiging op skrif kry dat dit nie die geval is nie. Direkte bemarkers moet teen ʼn fooi by die register registreer en hul besonderhede jaarliks opdateer.

Die Kommissie het ʼn projekspan aangestel en ʼn tender geadverteer vir ʼn adviseur om ʼn haalbaarheidstudie te doen, wat hopelik in Januarie volgende jaar sal begin, volgens Trevor Hattingh, woordvoerder van die Kommissie.

Instem op skrif

Die instem op skrif waarna regulasie 12 verwys, is wanneer jy byvoorbeeld aansoek doen vir krediet by ʼn bank en jy moet in ʼn blokkie aandui of jy inligting wil ontvang oor spesiale aanbiedings of nuwe produkte. Net die betrokke bank mag jou egter kontak en nie ander maatskappye nie.

Wanneer mag direkte bemarkers jou kontak?

Artikel 12 en kennisgewing 34180, wat in die Staatskoerant gepubliseer is, maak dit duidelik dat direkte bemarkers jou nie mag kontak op Sondae en openbare vakansiedae nie. Op weekdae mag hulle jou net tussen agtuur in die oggend en agtuur in die aand kontak en tussen nege-uur in die oggend en eenuur in die middag op Saterdae. Hulle mag jou net op ander tye kontak indien jy op skrif daartoe ingestem het.

Direkte bemarkingsmateriaal wat elektronies uitgestuur word soos e-posse, mag ook nie buite die bepaalde tye gestuur word nie en die onderneming moet dit kan bewys dat dit nie buite die toegelate tye gestuur is nie.

Gemorspos in jou posbus

Regulasie 4 van die Wet gee jou die reg om op jou posbus aan te dui dat jy nie direkte bemarkingsmateriaal wil hê nie en dan mag niemand hierdie materiaal in jou posbus sit of dit selfs daar naby in jou hek druk nie.

Afkoelperiode

As deel van die beskerming van jou reg om ʼn keuse te maak, maak die Wet ook in artikel 16 voorsiening vir ʼn afkoelperiode as jy iets tydens ʼn direkte bemarkingstransaksie gekoop het. Dit beteken jy kan die transaksie op skrif kanselleer binne vyf dae nadat jy die transaksie gesluit het of wat die produk afgelewer is, wat ook al laaste gebeur het.

Die minister het nie die vorm waarin jy dit moet doen voorgeskryf nie, maar ʼn faks of ʼn geregistreerde brief is gewoonlik voldoende. Dit is net belangrik om te bewys dat dit binne vyf dae gedoen is. Jy hoef ook nie ʼn rede vir die kansellasie te gee of ʼn boete betaal omdat jy kanselleer nie.

Die onderneming moet dan enige geld wat jy betaal het, binne 15 werksdae terugbetaal as die produkte nog nie afgelewer is nie, of indien die produkte wel afgelewer is, binne 15 nadat hy die produkte terugontvang het. Indien die verbruiker al die produkte gehad het, kan die onderneming ʼn billike fooi hef vir die gebruik van die produkte.

Hierdie artikel is nie van toepassing op ʼn transaksie indien artikel 44 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies daarop van toepassing is nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor ondernemings wat hulle nie by hierdie bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming hou nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wiebo ·

Maroela, kan julle asseblief vir ons lesers n telefoon nommer of e pos adres gee wat ons kan kontak om sms bemarking na ons selfone te kanselleer. Dit is uiters frustrerend. Baie dankie vir die insiggewende artikel!

Landi Slatter ·

Dagsê Wiebo

Dankie vir jou navraag! Daar is nie tans so liggaam nie, maar die Verbruikerskommissie is besig om daaraan te werk.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Anoniem ·

Dit is hoogtyd dat daar iets gedoen word aan die etlike sms’e wat ‘n mens daagliks ontvang, om nie eers te praat van die hordes Telefoon bemarkers nie. Hulle is nog meer knaend en irriterend as die sms’e. Waar op dees aarde kry die mense jou telefoonnommer? Ek het eers die nommers geblok, maar dan skakel hulle eenvoudig net van ‘n ander nommer af, so deesdae beantwoord ek die oproep sonder om fisies te gesels en sit die foon neer dat hulle lekker met hulself kan gesels en hulle tyd en geld mors.

Genoeg!!! ·

Maroela, ek en my verloofde sit nou juis met ‘n problem van ‘n maatskappy met die naam van Loan tracers, hulle kry toegang tot jou bank en trek lekker elke maand geld af, ons het dit al gaan stop by die bank. Nou het ons ‘n sms ontvang van Lifestyle Legal wat se dat hulle ‘n “summons’ gaan uitstuur. Ons nog nooit enige geld ontvang van hierdie skamstige loan tracers nie, ek het lifestyle legal gdkontak by 086 000 22141 nommer op internet gekry, met Kim gepraat, ‘n baie arrogante dame, wou met haar bestuurder praat, maar blykbaar is sy nie bskikbaar nie, hoeveel mense besteel hulle so. ek dink maroela moet bietjie ondersoek instel lyk my die 2 maatskappy werk hand aan hand saam en besteel die mense lekker, en kom dan nog weg daarmee ook. Is daar enige iemand wat ons kan nader I..v.m dit?

Speedguard ·

Genoeg! Die kans is baie goed dat jy ‘n slagoffer van identiteits diefstal is, gaan registreer ‘n saak by die SAPD, gaan na jou bank en gee hul skriftelik opdrag om die aftrekking te staak, as dit nie help nie verander van Bank, ek weet dit klink drasties, een van my kennise het die selfde probleem gehad, kla hul aan vir bedrog , stuur ‘n geregistreerde brief, fax of E-Pos aan die LEEN mense en gee hul opdrag om die aftrekking te staak, dring aan op die sogenaamde aansoek wat jy voltooi het met ‘n afskrif van u Id,

ig ·

Na karwagte is telebemarkers die mees iriterende spesie op aarde.

Jaco ·

Kyk gerus na die Truecaller app op die play store. Dit is gratis en werk regtig goed vir die probleem asook om te weet wie jou skakel al het jy nie hulle nommer op jou foonboek nie. n Reuse klomp “spammers” is standaard klaar gelys as jy hom installeer.

My tweesent bydrae ·

Ek is in die sekerheidsbedryf . As ek deur die nag gewerk het slaap ek deur die dag met my foon aan vir noodoproepe . Ek en direkte bemarkers is soos olie en water . Dit meng nie .

Neersit ·

Sit die foon dadelik neer, moet nie eers totsiens se nie. Los. Spaar jouself onnodige skade, maak nie saam hoe goed dit klink nie.

Sue ·

Ek betaal vir daardie “STOP” sms wat ek terug stuur…maklik 40 STOPS per maand.
Tweedens.. laat maatskappye en instansies ook ondersoek word wat julle inligting / databases verkoop aan ander maatskapye wat dit weer gebruik om hulle dienstes te adverteer!!

Jean ·

Afkoelperiode se woef. Hulle maak dit vir jou so moeilik as moontlik om enigiets om te ruil of te verander of terug te stuur as jy eers betaal het, of jy wag maande vir die geld, waarvan koerierkoste en adminfooie ook nog afgetrek is. Wat nog ERGER vir my is is mense wat nie wil luister as jy NEE sê nie. Ek kry daagliks oproepe van selfoonmaatskappye en mense wat ‘n Tablet aan jou wil afsmeer of een of ander versekering of begrafnisvoordeel by ‘n bank, alles gaan jou geld kos. Gister bel ‘n dame weer en wil ‘n tablet aan my afsmeer, hoe meer ek verduidelik ek het REEDS twee, se sy so wragtie maar die een is VERNIET, wel die ander was ook verniet, maar ek sit met ‘n twee jaar kontrak. Ek moet elke dag die foon in iemand se oor neersit omdat hulle met my wil redeneer NADAT ek nee gese het. Bemarking is een ding maar koppigheid iets anders.

Carel ·

Ek het al tot laat in die nag goed op my foon gekry wat regtig ‘n pyn is. Die reels dat mens net sekere tye boodskappe kry, werk nie, dit is agv die feit dat die selfoon netwerk boodskappe vertraag as daar ‘n groot volume is. ‘n Verdere probleem is ook dat mens se selfoon nie kan byhou met al die SMS boodskappe nie en gevolglik word jou eie persoonlike SMS boodskappe verswelg word deur gemors SMS pos. Ek dink die beste is om so ‘weerwraak’ aksie te doen. Kry die MD of hoof van bemarking of mense in bemarking van die maatskappye wat so pla se sel nommers. Dan as ‘n groep aksie stuur ons vir hulle sms’e en dan kyk ons of hulle daarvan hou as hulle paar 1000 sms kry !!

Die direkte bemarking is ‘n ander pyn. Van die mense het geen telefoon maniere. Daarby is daar van die persone wat jou kontak wat jou sommer op die voornaam noem asof hulle jou al jare lank ken. Mens sou hoop dat as dit jou beroep is om mense te skakel dat jy kan profesioneel optree. Verder luister van hulle met halwe ore, dan kry jy sulke foute soos dat jou naam word sommer jou van -Mr . Carel – . Verder weet hulle kastig alles van jou situasie , benodighede ens. ens. Ek kan nog baie bladsye skryf net oor die onderwerp. Keur hulle nie die mense wat die tipe werk doen nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.