Afrikaanse boekemark groei sterk

afrikaanse boeke

Argieffoto.

Die Afrikaanse boek het die afgelope paar jaar ongekende hoogtes bereik en die bedryf is ook besig om sy vlerke in die buiteland te sprei.

Afrikaanse uitgewers het die boekmark in 2015 totaal oorheers en die toptienboeke, in die kategorieë fiksie en kinderboeke, was almal in Afrikaans. In die kategorie vir niefiksie, was daar ses Afrikaanse boeke in die toptien.

Daar is ander syfers wat die groei van die Afrikaanse boek dalk selfs beter aandui:

♦Volgens die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa) is 1 999 nuwe Afrikaanse boeke en e-boeke in 2014 uitgegee, teenoor 1 327 in Engels en 546 in Afrikatale.

♦Die getal titels van Afrikaanse boeke in druk het gestyg van 5 000 tot 8 500. Die totale omset het in randterme vermeerder van R190 miljoen tot R237 miljoen. Dit is ‘n toename van 25%, terwyl die internasionale daling tussen 2009 en 2015 ook ongeveer 25% was.

♦ Ingevoerde Engelse kinderboeke beslaan steeds 77% van die mark, maar plaaslike uitgewers se omset van kinderboeke het sedert 2009 met 69% vir fiksie en ‘n yslike 271% vir niefiksie toegeneem. Wat plaaslike publikasies betref, het Afrikaanse kinderboeke 90% vir fiksie en 63% van niefiksie beslaan.

Afrikaanse (en Engelse) koerante se verkope het drasties afgeneem, maar dit geld nie vir boeke nie. In 2004 was net 22% van die boeke wat plaaslik geproduseer word, Afrikaans. Dié syfer staan nou op 49%.

Die goeie nuus vir Afrikaans strek ook baie verder as boeke, soos die joernalis, Deon Maas, geskryf het: “Die beste Suid-Afrikaanse rolprente, sepies, tydskrifte en boeke is in Afrikaans.” (Hy kon straks kunstefeeste en akteurs bygevoeg het.)

Internasionale uitgewers soos Penguin en Random House het begin  om ook in Afrikaans te publiseer en doen dit baie suksesvol.

Die Afrikaanse uitgewers is ook nie besig om hul hande warm te sit nie en het ook uitgereik na die Frankfurtse Boekefees. Dit is die grootste en belangrikste van sy soort. Uitgewers van regoor die wêreld trek jaarliks in dié Duitse stad saam vir onderhandelings oor internasionale publikasieregte en lisensiëring. Meer as 7 000 uitstallers van meer as 100 lande vergader vyf dae lank en die fees lok digby 300 000 besoekers.

Miskien is die beste bewys dat Afrikaans, as gedrukte taal ’n rooskleurige toekoms het, die feit dat die grootste uitgewers in die wêreld – internasionale uitgewers soos Penguin en Random House – gedurende die laaste paar jaar begin het om ook in Afrikaans te publiseer en dit baie suksesvol en winsgewend doen.

Die gesiene dr Hans du Plessis (akademikus, skrywer, navorser e.d.m.) het op ‘n onlangse ATKV-simposium gesê hoewel Afrikaans oral onder druk is, is hy nie oortuig daarvan dat die toekoms in die amptelikheid van die taal lê nie, want daarsonder is hy besig om uitsonderlik te presteer op die gebied van boeke, musiek en kunstefeeste. Hy beskryf die boekbedryf dan ook as een van die moderne wonders van Afrikaans.

Dit bring mens by die vraag: Hoekom gebeur dit?

Een van die antwoorde is gehalte en verskeidenheid. Daar is baie meer suksesvolle Afrikaanse skrywers as ‘n dekade gelede en hul fokus is baie wyer. Waar letterkundige boeke, niefiksie en liefdesverhale – Ena Murray is loshande steeds die grootste verkoper nog – die mark dalk voorheen oorheers het, het dit deesdae uitgebrei na romans en misdaadfiksie.

Liefdesromans verkoop nog uitstekend, maar die Afrikaanse skrywers van misdaadfiksie en rillers is nou groot in getal en gehalte, anders as toe enkelinge, soos Kas van der Berg, die mark oorheers het. Daar is onlangs aangekondig skrywers soos Chris Karsten en Irma Venter se boeke gaan in Turks vertaal word, terwyl Deon Meyer se boeke met die laaste telling in meer as 20 tale vertaal is. Daar is baie ander skrywers wat die eer verdien en gaan kry.

Bemarking speel ook ‘n groot rol en dinge soos boekbekendstellings en skoolbesoeke, kry baie aandag. Tafelberg Uitgewers het onlangs verder gegaan en die boek Vir die voëls op Huisgenoot se Facebook en YouTube bekend gestel met ‘n onderhoud met François Bloemhof (skrywer) en Simoné Nortmann (aktrise). Die roman is ‘n voorloper van die rolprent met dieselfde naam, wat op 25 November debuteer.

Leserskring en Leisure Books se herlewing, onder die vaandel van IMD Logistics, sal nog ‘n inspuiting vir Suid-Afrikaanse en Afrikaanse boeke meebring. Dit is ‘n gevestigde maatskappy met yslike kennis van verspreiding, wat sal lei tot flinker verspreiding van boeke, tot in Namibië. Dit was weens die verswakte posdiens een van die kringe se groot probleme, wat nou met koerierdienste opgelos sal word.

Uit die 525 000 volwasse fiksieboeke wat verlede jaar hier verkoop is, was 450 000 Afrikaans. Engelse boeke het ‘n skrale 3% van die totaal uitgemaak. Kortom: Afrikaans is ‘n onmisbare bate vir die land.

Bronne:

Sluit in ‘n artikel en syfers deur Nicol Stassen; ‘n ATKV-toespraak insluitende syfers en bronne deur Hans du Plessis; feite, statistieke en menings verstrek deur Michele Cooper van NB Uitgewers en huidige skrywers soos Francois Bloemhof en Amanda Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

E.K. ·

Nou moet mense tog net aanhou koop en meer en nog meer koop. SO ondersteun julle Afrikaans se groei!

JC ·

Baie dankie Johann, ek wat reeds so doen, en baie ander, is ek seker, sal definitief nog gaan loer.
Kraal Uitgewers het uitstekende boeke met interessante geskiedkundige onderwerpe van ons trotse Afrikanergeskiedenis. Die enigste negatiewe faktor waaraan ek kan dink is die feit dat hul in Verwoerdburg (Centurion) gelee is wat dit bietjie moeilik maak vir ons ouens wat ver gelee is deur ons land.
Verder dink ek Kraal Uitgewers gaan nog massief groot raak in die jare wat voorle.

Johann ·

Dankie vir jou reaksie JC. Die boeke kan almal op Kraaluitgewers se webwerf oor die pos bestel word, jy hoef dus nie fisies daar aan te doen nie. As jy op ‘n boek klik, sal jy ‘n opsie kry waar jy, nie net iets verder oor die boek kan lees nie, maar dit kan bestel. Groetnis.

Aan julle ander, kom, ondersteun Afrikaans!

Mien ·

Koop boeke vir Kersgeskenke. Dit veskaf soveel plesier en is tog iets wat die moeite werd is.
Boekwinkels se webwerwe is gebruikersvriendelik. My gunsteling is die een wat met ‘n G begin. Kan nie die voordele van lees genoeg beklemtoon nie. My kinders en gelukkig ook my kleinkinders, kry al stories saam met hulle moedersmelk in en word omring met boeke.

Johann ·

Terwyl ek sekere inligting hier bo gee, stuur dit gerus aan jul vriende, versprei die boodskap, dis maar ‘n klik ver om daar te gaan beloer.

Arno ·

Ek wens net Afrikaanse boeke was nie so besonders duur nie – anders sou ek veel meer gekoop het.

E.K. ·

Arno, ek moet jou sê ek dra met graagte PepStores se goedkoop klere sodat ek geld vir boeke het en om mense/diereprojekte wat hul nodig het te kan help. Ek koop gemiddeld drie Afrikaasne boeke per maand!

Roelfie ·

Vir ou boeke wat lank uit druk was: Loer in by Groenheide Boeke.

Org Potgieter ·

Vir skaars boeke wat lank uit druk is, loer in by Groenheide Boeke.

JC ·

Ja nee, PROBEER iets onderdruk, en DIT BLOM!!
AFRIKAANS BLOM!!!!!! (en hoogste bome vang die meeste [jaloerse] wind!)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.