Agter die skadu van die liedjieboer se rooi Ray Ban’s

Anton Goosen (Foto: Maroela Media/Cyril Blackburn)

Anton Goosen (Foto: Maroela Media/Cyril Blackburn)

Dis kort ná 21:00. Die flou ligte in die sinkdaksaal gooi skaduwees teen die sementvloer. In ʼn aparte vertrek, een vir slegs die belangrikes, sit Anton op ʼn bruin leerbank in die hoek. Hy drink salig aan ʼn whiskey, skoon – met net ys, terwyl hy telkens deur sy “publiek” oorval word – diegene wat nie in dié vertrek behoort te wees nie, maar met alle geweld ʼn oomblik in die liedjieboer se geselskap wil wees.

Hy sit dan sy whiskey op die koffieblad neer en staan op om hand te skud. Geduldig. Vriendelik. Warm. Elke keer. Soos ʼn mens amper nie van die “Vader van Afrikaanse rock” sou verwag nie.

Dan, in gesprek met sy aanhangers, is hy nog spitsvondig en skerp ook – maar dít weet aanhangers al jare.

Ten spyte van die dowwe lig in die saal, het hy vanaand ook sy rooi Ray Ban-sonbril en pet op. Hy dra dit seker al agt jaar of so, sou hy later opmerk. Dié bril en pet is al so kenmerkend van die sanger dat aanhangers onmiddellik wil weet waar dit is wanneer hy die dag daarsonder betrap word.

Hy moet dit ook nie waag om ʼn ander bril te dra nie – die vrae is dan te veel. Dan was daar natuurlik ook die keer dat die Ray Ban by die KKNK verlore geraak het en ʼn karwag dit aan hom terugbesorg het ná die storie op lamppale gepryk het.

Maar vanaand gaan nie oor sy bril en pet nie.

Die sanger, “oud gebore en 70 jaar jonk” soos Coenie de Villiers vroeër in ʼn toespraak sou opmerk, is vanaand wéér vir sy loopbaan vereer. Dié keer deur die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) – ʼn toekenning wat verseker dat die lysie duskant 20 draai.

Anton Goosen, sy verloofde Estie Geldenhuys en Lochner de Kock. Foto: Facebook via Lochner de Kock

Anton Goosen, sy verloofde Estie Geldenhuys en Lochner de Kock. Foto: Facebook via Lochner de Kock

Dit kon alles anders gewees het, vertel hy – die liedjieboer wat so byna nie ʼn stem gehad het nie. Hier waar hy vanaand sit, sy skouerlengte grys hare wat onder sy pet uithang, ʼn T-hemp van sy pasvoltooide toer uit Australië en ʼn gemaklike swart jean en sneakers, glimlag hy wanneer hy oor die beginjare vertel.

Hy was seker 17 jaar oud toe die skoolsielkundige vir hom gesê het hy moet liefs ʼn musiekloopbaan vaarwel toeroep. Die sielkundige het gesê dis net “groot name” wat ʼn bestaan in die musiekbedryf kan maak – en hy, ʼn jong bogsnuiter, het gʼn kat se kans nie.

Maar dit het die jong Anton nie van stryk gebring nie. Hy het ʼn “musiekbeheptheid” gehad, ʼn vuur wat ná 40 jaar steeds in hom knetter.

Ná skool het hy in die onderwys studeer, ʼn beroep wat hy ʼn paar jaar beoefen het. Selfs toe, “in die begintyd van rock en roll”, het hy nie ophou musiek maak nie.

In daardie selfde tyd het hy ʼn musiekrubriek vir Huisgenoot geskryf, en ná Sonja Herholdt ʼn treffer met “Ek verlang na jou” gehad het, moes hy ʼn onderhoud met haar vir dié tydskrif voer. Sy het lirieke gekort, hy was die liedjieboer, en ʼn jare lange samewerking, met liedjies soos “Mooi Griekeland”, het tussen hulle gevolg.

Toe maak Anton sy gróót deurbraak in 1979 met Boy van die suburbs en daarna was daar geen stop aan dié trein nie.

Anton Goosen en Sonja Herholdt (Foto: Facebook)

Anton Goosen en Sonja Herholdt (Foto: Facebook)

“Hoekom sou ek my aan die sielkundige steur? Ek het gesê ‘ag, whatever!’ en daarvan vergeet. Ek wou hom nooit verkeerd bewys nie, want dit wat hy gesê het, was nie my motivering nie. Ek wou sing, basta met die res,” vertel hy.

En hy hét gesing en later die onderwys gegroet, maar so ʼn bietjie van die onderwyser het tog in hom agtergebly. Wanneer ʼn vrou ons vir ʼn handtekening onderbreek waar ons langs mekaar op die leerbank sit, sit hy eers die koppeltekens in “Kruidjie-roer-my-nie” voor hy die plakkaat teken. Dan glimlag hy vir haar met die regtermondhoek wat skuins optrek en vra mooi om verskoning voordat ons die gesprek voortsit.

Altesaam 40 jaar in die bedryf moet ʼn mens darem iets leer, of hoe? “Ja,” sê hy. “Ek het geleer in die bedryf kry jy kunstenaars en jy kry kulkunstenaars. Die een kan sing, en die res maak bloot of hulle kan.”

Daarom het hy ʼn broertjie dood aan back tracks wanneer kunstenaars op die verhoog is. “Musiek kom nie uit ʼn computer nie. Dis in jou kop, dis in jou siel, dis iets waarmee jy lééf. Musiek kom uit jou hart uit. Daarom sê ek altyd solank daar houtinstrumente gemaak word, sal régte musiek bly voortbestaan.”

Maar hy baklei nie, dis nie in sy geaardheid nie. Elkeen moet maar sy dingetjies doen, sê hy. “Daarom woon ek op Gansbaai – ons baklei nie. ʼn Argument word sommer met ʼn sekere lelike woord beslis.”

Wat is die geheim van só ʼn suksesvolle loopbaan? “Respek. Respek is die grootste van alles. Vir jouself, vir musiek, vir ander. Musiek gaan oor alle grense heen en moet met sorg hanteer word. Wees geduldig. Wees getrou aan jouself.”

Hy lag weer, vat ʼn sluk van sy whiskey.

En wat van sy kritici?

“Wie gee om? Ek sê niks. Whatever. Ek’t nie ʼn saak met hulle nie.”

Hy het ook gʼn rede om hom oor ander te bekommer nie. Hy het immers vroeër vanjaar aan sy vriendin van agt jaar, Estie Geldenhuys, verloof geraak, en daar is nét tyd vir haar en sy musiek.

“Ons beplan om in die somer te trou. Daar is nog nie ʼn dag nie. Dit gaan sommer ʼn nice hippie-troue wees, niks fênsie en groot nie.”

Ons moet eers groet. Buite staan nog ʼn skare met ʼn enkele begeerte: om die liedjieboer se blad te skud. Hy vat ʼn groot sluk van die whiskey voor hy opstaan om elkeen individueel te groet.

“Ek wil net sê dankie. ʼn Toekenning soos dié deur die FAK is vir my ʼn geweldige eer. Nes musiek oor grense gaan, doen kultuur ook. Daarom is ʼn organisasie soos dié belangrik. En dankie vir 40 jaar se genot en ondersteuning in die bedryf.”

13 Kommentare

My tweesent bydrae ·

Hy is n regte musikant . Aspirant musikante kan by hom leer hoe die musiekwereld veronderstel is om te werk .

Rick ·

Ek vind dit altyd interessant hoe mense (gewoonlik die oningeligtes en onkundiges!) soms, soos dié hierbo, opmerkings kan maak sonder om die berig in aanmerking te neem. Anton Goosen se musiek en lirieke was sekerlik van die mees inspirerende. Die album van Sonja waarna verwys word het Jantjie en Hanoverstraat in gesluit en was sekerlik van die grootste wat in Afrikaans geskryf is. Die middel 70’s het sekerlik die luisterliedjie tydperk begin. Anton jou bydrae uit veral dié tydperk is van my beste herinneringe hoe Afrikaanse musiek moes klink en baie kunstenaars het heel waarskynlik ‘n bestaan gemaak uit jou legieu komposisies! Jou bydrae is ongekend!

Denise ·

Ella asseblief hoe vervelig sou dit nou gewees het as almal soos jy gedink het komaan ek is geregtig op my opinie !!!!

brenda ·

LOL; julle mense is skreeusnaaks!! Anton…ek like jou met daai bril en al…..en smile ek nou hier bymyself as ek dink aan jou liedjie DIK ZOL!!

TM ·

Hy is ‘n unieke karakter en is sinoniem met Afrikaanse musiek. Ek persoonlik is nie ‘n groot aanhanger van sy musiek nie maar ek respekteer hom vir sy talent en wat hy vir ons beteken het tot dusver en hy doen waarvoor hy ‘n passie het. Die bril en pet is deel van sy “image” net soos enige ander kunstenaar daardie iets het waaraan jy hulle kan uitken. Dit gaan nie oor of dit prakties is of nie. Mag hy nog lank musiek maak.

Nico K ·

Anton was in die verkeerde tyd. Toe ek op skool was in die sewintigs en tagtigs het jong mense nie Afrikaanse musiek geluister nie. En die ou mense het nie van sy musiek gehou nie. Hy sou vandag baie meer gewild gewees het.

Elna ·

Ek dink party ou mense het wel van Anton se musiek gehou, Nico K. My pa, wat toe so om en by 60 was (is dit oud, ek is nou 63?) het hom verkneukel aan ‘Begrafnistyd op Zeerust’, en het ook baie van sy ander liedjies gehou bv. ‘Spookmeisie van Uniondale’ Dit was vir my so lekker dat my pa saam met my na musiek luister waarvan ons altwee hou.
Anton Goosen was van die eerste Afrikaanse kunstenaars waarna ek geluister het en wat my beindruk het, en hy doen dit steeds.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.