Die eerlikheid van broodbak

Niël Jonker.

 

ʼn Broodbakoggend begin vroeg op sy stoep langs die groot populierbos met ʼn loflied. ʼn Loflied aan suurdeeg. “Brood word in die emmer gemaak,” sê hy, “nie in die oond nie. Deeg word nie vervaardig nie, dit word geskep. Dit is meer van ʼn skeppingservaring, soos beeldhouwerk of tuinmaak”. ʼn Skeppingservaring met liefde, deernis, sorg, vol waarneming en respek.

Niël Jonker is ʼn multi-dissiplinêre kunstenaar en broodbakmeester. Hy is bekend vir sy bronsbeelde en in-situ landskappe waarin hy dikwels die verhouding tussen mens en natuur ondersoek. En sy broodbakkursus wat hy maandeliks aanbied doen juis dit – hy skep ʼn ruimte waar ʼn mens weer nader aan die natuur kom, waar jy leer om ’n nuwe waardering vir dié nederige grondstof te hê. Om met jou hande te werk, soos toe ʼn mens ʼn kind was.

“Dis soos die lewe self, ʼn voortdurende transformasie. Dis heerlik om jou hande in iets te bevind wat ʼn daaglikse praktyk kan word as jy dit toelaat om jou lewe te transformeer.”

Ongeveer ʼn dekade gelede het hy stelselmatig die 3 x 2 m bakoond tuis begin bou. “Broodbak het my gekies. Ek het my hart gevra om ʼn weg te wys na iets wat betekenisvol is vir my lewe. Nou die dag vra ʼn vriend vir my, wat is jou medisyne? Om iemand iets te leer, sê ek toe.” Dit is presies wat Niël wil doen: om mense te leer en te help, en om hoofsaaklik met hulle hande te werk. Dít is waar die towerkrag lê.

Dit is presies wat Niël wil doen: om mense te leer en te help, en om hoofsaaklik met hulle hande te werk. Dít is waar die towerkrag lê

Sy eerste leerlinge was twee oulike pare van Johannesburg wat gevra het om die broodbakkursus te kom doen. Hulle het George toe gevlieg waar hulle eers ʼn kaaskursus in Oudtshoorn gedoen het en toe so al langs die Tuinroete afgereis het tot by Niël. “Die werksessies vind op my stoep op Baardskeerdersbos plaas oor twee dae omdat die deeg oornag ingesuur moet word. Op dag een hou ons ʼn kompetisie wie die lekkerste pizza vir middagete kan maak. Almal ontspan, skud die stad af en kuier net lekker saam.” Die tweede dag is bakdag en deeghande word sommer al vroegoggend ingelê.

ʼn Paar groot baksels van basiese bestanddele (steengemaalde ongebleikte meel, water en sout) word gemeng en dié wat hul eie skeppings wil maak, kan hul verbeelding vlerke gee. Daar is ook ʼn meule om volgraanmeel te kan maal. Niël verduidelik dat die bakproses met indirekte hitte plaasvind, dus hitte wat van die stene afkom. Die dag eindig wanneer dié brode op die Stanford Sunset Market verkoop word.

Baardskeerdersbos se Plaasmark, wat ʼn klipgooi van Niël se huis is, is die volgende oggend ʼn besoek werd. Dis ʼn lekker kontreimark met ʼn mengelmoes: van die jongste kosneigings tot ou staatmakers soos afval, pannekoek en kweperkonfyt.

“Tydens die kursus verduidelik ek alles wat ek weet en maak dit toepaslik vir die mense wat daar is. Die beginsels van broodbak is universeel en behoort nie aan een skrywer of bakker nie. Die belangrikste vir my is dat mense ʼn glimlag het wanneer hulle met die deeg werk en volhoubaar goeie brode gaan bak. Solank as wat mense kom, sal ek die werksessies aanbied. Ek is net ʼn stuk gereedskap in die proses van brood wat gebak wil wees”.

Maar dit is meer as net broodbak. Die kern is die proses, benadruk Niël. “Daar is ʼn alchemie wat plaasvind as jy met jou hande werk – dan kom alles bymekaar uit. Al gaan iemand hier weg en bak nooit weer brood nie, maar pas die beginsel toe, die eerlikheid van menswees, is ek gelukkig”.

Besoek die webwerf www.nieljonker.co.za om meer uit te vind van sy broodbakwerksessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E.K. ·

Maroela, ek mag seker maar reghelp? Tweede paragraaf “bronsbeeRde” moet sekerlik bronsbeelde wees?

Janie Monsieur ·

Dagsê E.K.,
Dankie vir jou kommenataar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.