FAK vereer Herholdt en Bierman

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, oorhandig die FAK Prestige-toekenning aan Sonja Herholdt. Foto: Verskaf

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydag eretoekennings aan die bekende Afrikaanse sangeres Sonja Herholdt en die Afrikaanse komponis en musiekbeoordelaar, Bennie Bierman, gegee vir hul bydrae tot Afrikaanse musiek.

Johan Jansen van Vuuren, kommunikasiebeampte by die FAK, het in ʼn verklaring gesê Herholdt en Bierman is Vrydag tydens die Cantare Kinderkoor se koorfees met die FAK Prestige-toekennings vereer. Tydens die fees het ses kore opgetree en van Herholdt en Bierman se werke opgevoer.

Herholdt het bekendheid verwerf met liedjies soos “Ek verlang na jou”, “Harlekyn”, “Waterblommetjies” en “Skipskop”, terwyl talle kore en orkeste by Bierman aanklank gevind het wat hom deur die jare onderskei het as een van die land se top-musiekbeoordelaars.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, oorhandig die FAK Prestige-toekenning aan Bennie Bierman. Foto: Verskaf

Bierman kon weens mediese redes nie self die geleentheid bywoon nie en dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Vrydagmiddag sy toekenning aan hom in die hospitaal oorhandig.

“Die FAK oorhandig dié toekenning aan Bierman om dankie te sê vir ’n leeftyd se liefdeswerk,” het Langer gesê. Oom Bennie, soos hy bekend staan, was tussen 1981 en 1995 die hoof van musiek by die SAUK. Saam met mense soos Anton Hartmann het hy die 1979 FAK-Sangbundel saamgestel en die temamusiek vir onder meer Haasdas se nuuskas en Bart Nel geskryf.

“Hy was die komponis van Afrikaanse koorwerke wat ook internasionaal opgevoer is. Sy groot liefde is natuurlik die Albertonse mannekoor. Ná sy aftrede was hy tot 1999 steeds die samesteller en aanbieder van die program Knapskoot op RSG. Hy het hom deur die jare onderskei as een van die land se top-musiekbeoordelaars, onder meer van boeremusiek. In die nuwe FAK-Sangbundel is “Jagterslied” opgeneem waarvan hy die note en woorde gekomponeer het,” vertel Langner.

Oor Herholdt het Langer gesê lank voor Afrikaanse musiek groot was, was Herholdt deel van ʼn geslag sangers wat geglo het in die ideaal van ’n eie Afrikaanse musiekskat en dit met vasbyt verwerklik het. “Vandag staan ons nuwe Afrikaanse sangers op die skouers van die nalatenskap,” het hy gesê.

“Daar is twee bakens in Sonja se storie wat vir my uitstaan. Die eerste is nadat haar seuntjie in ’n ongeluk gehoorgestremd geword het, het sy besef in Johannesburg is daar geen skool vir Afrikaanse gehoorgestremde kinders nie. Sy het so ʼn Afrikaanse klas begin by Laerskool Bryanston en vir vyf jaar self gaan skoolhou. Tweedens is haar getuienis van hoop en opstaan ná ’n winterseisoen. Dit was inspirerend. ’n Getuienis van hoop is presies wat ons land nou nodig het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.