[Foto’s] Lekker verjaar, ‘Intiem’

Foto: Verskaf

Die Intiem-span. Foto: Verskaf

Op 30 November het Intiem, die Afrikaanse huwelikstydskrif, sy tiende verjaardag gevier met ʼn Griekse tema-partytjie by Casa Toscana in Pretoria.

Onder die gaste teenwoordig was glanspare wat al op die tydskrif se voorblad verskyn het, onder andere Jakkie en Anel Louw en Dewald en Anel Wasserfall.

Volgens redakteur Annelize Steyn kan Intiem se sukses toegeskryf word aan verskeie faktore, onder meer die inhoud wat baie spesifiek gerig is op huwelike onder Afrikaanssprekende getroudes, binne ʼn Christelike raamwerk.

“Ons het ʼn baie spesifieke mark en daar is vasgestelde grense waarbinne ons inhoud geskryf word. Dit beperk ons ja, maar dit gee aan ons lesers antwoorde op ʼn gebied waar daar soveel grys terreine is. Hoewel ons mark spesifiek is, kan enigiemand waarde put uit die tydskrif.”

Steyn het ook die voorbladpare in haar toespraak bedank.

“Ons weet dit is ʼn waagstuk om jouself bloot te stel vir die publiek se kritiek op jou huwelik, maar ons paartjies word fyn uitgesoek volgens vasgestelde kriteria en daarom weet ons dat dié wat wel op ons voorblaaie verskyn, daar is as deel van ʼn groter plan.”

In ʼn mededingende tydskrifbedryf is dit, volgens die betrokkenes by Intiem, ʼn voorreg om steeds, ná tien jaar ʼn verskil in Suid-Afrikaanse huwelike te kan maak.

“Mense is dikwels geneig om die waarde van ʼn standvastige huwelik te onderskat. Deur in jou huwelik te belê bied jy ʼn nalatenskap en ʼn samelewing sonder egskeidings kweek ʼn nuwe generasie sonder bagasie. Ons voel geseënd en geëerd om in dié rigting te werk,” sê Liezel van der Merwe, die besturende redakteur.

Die geleentheid is op ʼn eg Griekse manier gevier met musiek soos die immergewilde “Zorba”, ouzo wat bedien is by aankoms, “opa!’s” wat kort-kort opgeklink het en borde wat deur die gaste op die dansvloer gebreek is.

“Ons vier vanaand want ons is trots,” het Liezel gesê. “Nederig trots op waar Intiem vandag staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Monique Declerq ·

Die nonsens wat onder die naam “Christen” besigheid doen is skandelik. Hierdie tydskrif met sy alewige seksuele temas is allesbehalwe Christelik; dit is pure wêreldse nonsens. Baie eenvoudig…al dra ‘n aap ‘n goue ring . Sug, sug, sug

Karin ·

O tog, Monique, ek is so bly daar is iemand wat oor die kamtige tydskrif voel soos ek oor dit voel. Daar is inderdaad weinig, indien enige, verskil tussen “Intiem” en die basiese pornografiese Cosmopolitan, Fairlady, Women’s Health, ens.
Moet asseblief nie jul geld of tyd op die goed mors nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.