Goeie nuus: Behoeftiges ontvang oudio-Bybels

oudio-bybels-02

Twintig behoeftige vroue van ʼn Bybelstudiegroep in Elandspoort in die weste van Pretoria ook van dié oudio-Bybels ontvang. Foto: Twitter.com

Die eerste Afrikaanse Bybel is 83 jaar gelede op 27 Augustus uitgegee en GROOTfm 90.5 en Kerksondermure-gemeente van Pretoria het Vrydag die verjaardag van dié Bybel gevier deur 185 oudio-Bybels in die stad uit te deel.

Van die oudio-Bybels is aan die Prinshofskool vir gesiggestremdes oorhandig terwyl 20 behoeftige vroue van ʼn Bybelstudiegroep in Elandspoort in die weste van Pretoria ook van dié Bybels ontvang het.

“Ek kan nie meer so goed sien nie, maar nou kan ek weer die Woord hoor,” was die woorde van een van die verheugde vroue van Elandspoort nadat sy ʼn oudio-Bybel ontvang het. Nog ʼn vrou wat ʼn oudio-Bybel gekry het, het haar been verloor omdat sy diabetes het en is ook nou stelselmatig besig om haar gesigsvermoë te verloor.

Volgens Lindie Strydom van GROOTfm 90.5 was dit opmerklik hoe afhanklik hierdie groep vroue van die Woord van God is. “Hulle kom getrou elke week by ʼn houthuisie bymekaar en hoewel hulle ernstige materiële armoede ervaar, is hulle ryk omdat hulle ten volle op God vertrou vir hulle daaglikse brood en gretig is om uit sy Woord te leer. Die vroue is ryk aan passie en het ʼn opregte gevoel van gemeenskap.”

Die oudio-Bybels bestaan uit ʼn stel van 24 Afrikaanse CD’s in ʼn mooi drasakkie met die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke en is geskenk deur Kerksondermure-gemeente. Die kerk bied jaarliks die “Riana van Niekerk Run&Walk 4 Bibles” aan waartydens geld ingesamel word vir die vertaling, produsering en verspreiding van Bybels. In Junie vanjaar het 3 000 atlete aan die gewilde halfmarathon deelgeneem en R100 000 vir die doel ingesamel.

Volgens die navorsingsmaatskappy Ipsoso is daar in Suid-Afrika nog ʼn behoefte aan meer as 23 miljoen Bybels. “Volgens die navorsing besit 5,5% van Christene in ons land nie ʼn Bybel nie, terwyl 46,7% tussen een en drie Bybels vir lede van hulle huishouding benodig,” het ds. Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, gesê. “Ons Bybelgenootskap herdenk vandeesmaand sy 196ste bestaansjaar in Suid-Afrika. Hoewel ons die Here baie dankbaar is vir alles wat op die gebied van Bybelvertaling, -produksie en -verspreiding oor hierdie byna twee eeue bereik is, bly die uitdaging uiters groot om te verseker dat elkeen wat ʼn Bybel verlang, een kan kry.”

Net op die vasteland van Afrika is daar omtrent nog 800 tale wat wag dat die eerste vers van die Bybel in hulle taal vertaal moet word. Vir die Tonga-sprekers van Zimbabwe is die wagtyd egter verby, want die eerste Tonga-vertaling van die Bybel is ook nou ʼn werklikheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Georgie ·

Wonderlik!! Dis is werklik goeie nuus. Mag elkeen baie seën hieruit ontvang. Alle eer aan ons Koning!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.