Goeie nuus oor baba Mia

Mia (Foto: Facebook)

Nadat ʼn jong ma van Polokwane haar vroeër vandeesweek tot die Child Medi-organisasie gewend het omdat sy gevrees het vir die lewe van haar pasgebore babadogtertjie in ʼn staatshospitaal, het dié organisasie Woensdag goeie nuus gedeel.

Maroela Media het Dinsdag berig die ma, wat anoniem wil bly, het in ʼn brief aan die organisasie geskryf sy is erg getraumatiseerd nadat sy op 7 Mei in vroeë kraam gegaan het. Volgens haar brief moes sy verskeie ure op ʼn houtbankie sit en wag en is sy verskeie kere deur hospitaalpersoneel gekoggel. Haar baba, klein Mia, is toe later in die wagkamer gebore en sy moes na bewering haar eie baba vang.

Die ma het ook gesê sy woon tans in ʼn vertrek in die hospitaal saam met 34 ander vroue sonder lopende water.

Die ma het sowat R100 000 benodig om klein Mia na die Mediclinic Polokwane oor te plaas.

Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi, het gesê weldoeners het intussen landwyd hul harte oopgemaak en genoeg geld geskenk sodat ʼn deposito betaal kan word en klein Mia na die private hospitaal oorgeplaas kan word.

Mia (Foto: Facebook)

“Sy is ongelooflik dankbaar dat ons genoeg geld kon insamel,” sê Schoeman. “Sy is nou totaal rustig en weet dat haar dogtertjie in goeie hande gaan wees. Sy is ongelooflik dankbaar dat daar soveel mense is wat werklik omgee.”

Mia word Woensdag om 17:00 per ambulans na die Mediclinic vervoer. Schoeman sê meer inligting oor haar gesondheid sal dan bekend gemaak word.

“Hier is nie baie pediaters in Polokwane nie, maar ons is gelukkig om nou ʼn pediater te kon kry. Ons sal teen môre weet of Mia ʼn operasie aan haar been moet ondergaan, maar ons is dankbaar dat sy nou ten minste na die private hospitaal kan oorskuif.”

Schoeman sê heelwat geld vir Mia se hospitaalverblyf word nog benodig. “Ons het nog net die deposito [van R100 000] betaal, maar ons gaan in die volgende paar dae nog geld benodig om haar in die hospitaal te hou en vir haar versorging te betaal. Ons is dankbaar en hoop dat mense ons verder kan bystaan.”

ʼn Trust is geopen vir diegene wat bydraes wil maak. Klik hier vir meer besonderhede oor die trust.

Besoek die Child Medi-organisasie se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Leonie ·

Wat van Jacaranda se “Good Morning Angels”. Hulle help altyd. Sterkte xx

Yolandi ·

So dankbaar vir di Mamma en kleinding se onthalwe…het daardie selfde paadjie gestap. Baie sterkte en spoedige herstel vir die poppie xx

Maria ·

Ons is saam met jou bly , Glo en Vertrou dat alles gaan regkom ons bid vir jou en klein Mia.

John ·

Baie bly en goeie nuus. Ek sal een van diegene wees wat sal bydra en al is dit min hoop ek meer help. Goeie nuus!

jean ·

En die privaathospitaal sal bankrot speel indien een klein baba gratis gehelp word. Hier in S A ken ons nie die woord “pro bono”

M ·

Die probleem is, sodra 1 gratis gehelp word, dan kom ‘n duisend om gehelp te word. Waar trek mens die lyn, daar is hordes mense wat nie mediese fondse het nie.

Doret ·

So bly ons kon baba Mia en haar Mamma help. As ons saamstaan en met God aan ons kant, wat sal ons vrees!!!! Dankie vir ELKEEN wat n bydra gemaak het, hoe GROOT of hoe KLEIN ookal. Elke druppel maak ‘n emmer vol! ALLE eer aan ons Hemelse Vader?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.