HemelBesem en Internasionale Woordeboekdag

HemelBesem (Foto verskaf deur die WAT)

Internasionale Woordeboekdag word vandag gevier en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het bekend gemaak dat HemelBesem, die Afrikaanse rymkletser, die nuwe Beskermheer is van sy Borg ʼn Woord-projek vir 2017 – 2018.

“Slegs met woorde maak die lewe sin: Jy kan my woord neem daarvoor. Neem eienaarskap van jou taal en borg ʼn woord!” sê HemelBesem aan Afrikaanssprekendes.

Een persoon wat aan die projek deelneem, kan R25 000 wen wat deur Sanlam geborg word.

Hoe neem jy deel?

Woorde kan teen R100 per woord geborg word en elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook ‘n woord vir R5 000 koop en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie. Besoek www.wat.co.za en klik op “Borg ‘n Woord” as jy wil deelneem.  Almal wat woorde borg of koop, kwalifiseer outomaties vir die prystrekking van R25 000.

Deelnemers wat woorde borg, kry ook ses maande gratis toegang tot die Aanlyn WAT en indien jy ʼn woord koop, kry jy gratis toegang vir vyf jaar.

Jy kan nou ook R20 000 belastingvry skenk vir ʼn woord van jou keuse.  Skenkers kwalifiseer uiteraard nie vir die prystrekking van R25 000 nie, maar ontvang ook ʼn sertifikaat waarop aangedui word dat hulle R20 000 geskenk het vir ʼn bepaalde woord.

16 Oktober is die verjaarsdag van Noah Webster en Woordeboekdag word internasionaal ter ere van hierdie beroemde Amerikaanse woordeboekmaker gevier. Webster is in 1758 gebore en was ʼn briljante student wat op 15-jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en hy word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie.

Volgens dr. Willem Botha, hoofredakteur van die WAT, moet ons op Woordeboekdag onsself afvra of ons woordeboeke nog relevant is. “Mense raak gefrustreerd omdat hulle verouderde woordeboeke gebruik wat nie rekenskap gee van die duisende nuwe woorde en nuwe betekenisse van ou woorde nie,” sê hy.

Volgens Botha is daar op HemelBesem as beskermheer besluit omdat die WAT reeds ʼn gevestigde verhouding met hom het en omdat hy ʼn sterk en vars stem in die Afrikaanse musiekwêreld is.  Sy lirieke dra ʼn sterk boodskap oor en hy is baie betrokke by opheffingswerk onder die jeug.

HemelBesem en sy vrou Yoma, ook ʼn rymkletser, het reeds verskeie kere by die WAT opgetree.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.